Die Mauryaryk (Sanskrit: मौर्य) was 'n geografies uitgebreide mag in die Ystertydperk in Suid-Asië met sy magsbasis in Magadha. Dié ryk is in ca. 320 v.C. deur Chandragupta Maurya gestig en het tot 185 v.C. los bestaan. Die hoofbronne oor die Mauryaryk se skriftelike rekords is veral Romeinse tekste deur Megasthenes etlike eeue later wat egter verlore gegaan het en die Edikte van Asoka. In argeologiese opsig behoort die Mauryaryk in Suid-Asië aan die tydperk van "Noordelike Swart Gepoleerde Ware-kultuur".
duimnael|links|Die Leeukolom van Asoka by Sarnath is die voorbeeld van Indië se staatsembleem en die Wiel van Dharma is die sentrale kenmerk op die vlag van Indië Chandragupta Maurya het deur middel van militêre veroweringe en diplomatieke verdrae die Nandaryk verslaan en sy susereiniteit in 'n westelike rigting na die huidige Afghanistan suid van die Hindoekoesj en suid tot in die noordelike Deccanhoogland uitgebrei; buite die Magadha-kerngebied was die heersende vlakke van tegnologie en infrastruktuur egter beperkend om die samelewing volledig en volhoubaar te deurdring. Onder Chandragupta se kleinseun, Asoka (ca. 268–232 v.C.), het die ryk vir 'n kort tydperk die stedelike hoofsentrums en slagare van die Indiese subkontinent behalwe vir die uiterste suide beheer. Die Mauryahoofstad (die huidige Patna) was geleë in Magadha; die ander kerngebiede was Taxila in die noordweste, Ujjain in die Malwahoogland, Kalinga aan die Golf van Bengale en die edelmetaalryke laer Deccanhoogland. Buite sy kerngebiede was die ryk se geografiese uitbreiding afhanklik van die lojaliteit van militêre bevelvoerders wat die bewapende stede daartussen beheers het.
Die Mauryaryk se ekonomie is ondersteun deur die vroeëre opkoms van beide Boeddhisme en Djainisme – geloofsbelydenisse wat geweldloosheid bevorder, pronkery of oorbodige offers en rituele verbied en die koste van ekonomiese transaksies verminder het – deur muntstukke wat die gebied se ekonomiese netwerke versterk het, en deur die gebruik van skryfwerk wat dalk meer ingewikkelde saketransaksies kon bevorder het. Naas die winsgewende, gevestigde landbou in die vrugbare oostelike Gangesvlakke het hierdie faktore handel op see en langs riviere ondersteun wat noodsaaklik was vir die verkryging van verbruikersgoedere sowel as metale van 'n hoë ekonomiese waarde. Om mobiliteit en handel te bevorder het die Mauryaryk paaie gebou, waaronder 'n belangrike, maar hoofsaaklik winterpad – die Uttarapath – wat gedurende dié seisoen, wanneer die watervlakke van die kruisende riviere laag was en hulle maklik oorgesteek kon word Oos-Afghanistan met hul hoofstad Pataliputra verbind het. Ander paaie het die Gangesbekken met die Arabiese See in die weste en edelmetaalryke myne in die suide verbind.
Die bevolking van Suid-Asië tydens die Mauryaryk word op tussen 15 en 30 miljoen geskat. Dié ryk se bestaanstyd is gekenmerk deur 'n uitsonderlike kreatiwiteit in kuns, argitektuur, inskrywings en vervaardigde tekste, maar ook die vestiging van die kastestelsel in die Gangesbekken en die afname van vroueregte in die Indo-Ariese streke van Indië. Ná die Kalinga-oorlog, waartydens Asoka se troepe baie geweld in die streek gesaai het, het hy hom tot Boeddhisme toegewend en sy beginsels in edikte begin verwerk wat hy regdeur Suid-Asië laat versprei het, veral in gemeenskappe langs die goed besoekte padnetwerke. Hy het Boeddhistiese sendelinge na die huidige Sri Lanka, Noordoos-Indië en Sentraal-Asië befonds, wat 'n belangrike rol gespeel het in die vestiging van Boeddhisme as 'n wêreldgodsdiens, waarmee hy ook self 'n figuur in die wêreldgeskiedenis geword het. Aangesien Asoka se edikte beide die doodmaak van wilde diere en die afkapping van woude verbied het, word hy deur sommige huidige omgewingshistorici as 'n vroeë beliggaming van dié etos beskou. In Julie 1947 het die tussentydse eerste minister van Indië, Jawaharlal Nehru, in die Konstituerende Vergadering van Indië die Leeukolom van Asoka by Sarnath as die Staatsembleem van Indië en die 24-puntige Boeddhistiese Wiel van Dharma op die kolom se abakus as die sentrale kenmerk van die vlag van Indië voorgestel. Dié voorstelle is in Desember 1947 goedgekeur.
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Geskiedenis van Afghanistan Kategorie:Geskiedenis van Bangladesj Kategorie:Geskiedenis van Indië Kategorie:Geskiedenis van Nepal Kategorie:Geskiedenis van Pakistan