Die Fraser-saak was ‘n lastersaak waarin ‘n afgedankte skoolinspekteur, ene W. Fraser, van die Oranjerivierkolonie, skadevergoeding van die minister van onderwys, JBM Hertzog, ontvang het en waaruit die Hertzogprys gespruit het.

Die invoering van tweetaligheid in die Vrystaat in 1907 het gelei tot ‘n bekende en uitgerekte lastersaak. Die verweerder was Hertzog, toe die minster van onderwys. Die eiser is ontslaan as inspekteur van skole weens sy beweerde weiering om aan die nuwe wetgewing gehoor te gee.

In ‘n toespraak op 26 Augustus 1910 in Fauresmith verwys Hertzog na hierdie saak op ‘n wyse wat deur Fraser as lasterlik ervaar is. Die saak het op 25 Augustus 1911 in die Hooggeregshof in Bloemfontein voorgekom. Veel tyd is gegee aan die verduideliking van Hertzog se enigsins ingewikkelde en dubbelsinnige uitlatings.

Die uitspraak van die hof was in die guns van die klaer. Slegs £25 vergoeding is aan hom toegeken en die verweerder moes boonop die regskoste van die klaer dra. Fraser het egter aanvanklik £1000 vir gelede smaad geëis.

Afgesien van die regsaspek het die hofsaak ‘n nasleep op ‘n heeltemal ander terrein gehad. Ondersteuners van Hertzog het geld ingesamel om die vergoedingsbedrag en regsonkoste namens hom aan die klaer te betaal. So groot was die vergaarde bedrag dat daar ‘n aansienlike oorskot was. Die surplus is uiteindelik gebruik om die Hertzogprys in te stel.

Hierdie saak het dus bekendheid verwerf nie om die regsaspekte wat ter sprake was nie, maar weens die publiek se ondersteunening van ‘n politikus wat verkeerd opgetree het.

Bibliografie Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 3. Kaapstad: Nasou, 1971

Kategorie:Afrikaanse letterkunde Kategorie:Skandale Kategorie:Misdaad Kategorie:Regte