Toc H is ‘n internasionale Christelike welsynsorganisasie.

Doel Om vereensaming teen te werk en Christelike kameraadskap tussen mense aan te wakker, verskaf lede maatskaplike dienste aan die minderbevoorregtes in die samelewing. In Suid-Afrika is dit ‘n bekende nie-regeringsorganisasie en is dit betrokke by onder andere ‘n teringhospitaal, bloedoortappingsveldtogte, kleuterskole, terapiesessies vir serebraalgestremdes, kinderwelsyn, blinde- en bejaardesorg en voedselbanke.

Geskiedenis Tydens die Eerste Wêreldoorlog is deur eerw. Tubby Clayton in Poperinge in België op 11 Desember 1915 vir soldate ‘n klub en kerk in ‘n voormalige brouery geopen. Dit is Talbot Huis genoem na Gilbert Talbot, ‘n soldaat wat kort tevore gesneuwel het. Die organisasie wat hieruit ontwikkel het, is Toc H genoem na aanleiding van die tans verouderde seinkode vir Talbot Huis. Op 25 Februarie 1925 is die eerste tak in Suider-Afrika in Keiskammahoek gestig op die inisiatiefvan eerw. Harry Ellison en H.V. Oldfield. Kort daarna is daar takke in Johannesburg, Port Elizabeth, Grahamstad, Somerset-Oos, Cradock en Oudtshoorn geopen.

Bibliografie toc-h.co.za www.theoldhouse.co.za toch-uk.org.uk/ourstory talbothouse.be

Kategorie:Internasionale organisasies