duimnael|Duitse plakkaat vir Internasionale Vrouedag, 8 Maart 1914. Hierdie plakkaat is in die Duitse Keiserryk verbied. Internasionale Vrouedag word jaarliks op 8 Maart gevier en herdenk vroue se stryd vir gelykheid en bevryding saam met die vroueregtebeweging. Internasionale Vrouedag plaas die fokus op kwessies soos geslagsgelykheid, voortplantingsregte en geweld teen vroue. Aangespoor deur die beweging vir algemene vrouestemreg het Internasionale Vrouedag ontstaan uit arbeidersbewegings in Europa en Noord-Amerika gedurende die vroeë 20ste eeu.
Die vroegste weergawe waarvan berig is, was ’n "Vrouedag" wat deur die Sosialistiese Party van Amerika op 28 Februarie 1909 in New York City georganiseer is. In solidariteit met hulle het die kommunistiese aktivis en politikus Clara Zetkin die viering van "Dag van Werkende Vroue" voorgestel, wat by die Internasionale Sosialistiese Vrouekonferensie van 1910 in Kopenhagen goedgekeur is. Die eerste Internasionale Vrouedag is in 1911 gevier met betogings en byeenkomste in onder meer Oostenryk-Hongarye, Denemarke, Duitsland en Switserland. Deelnemers het gelyke regte, insluitend stemreg en toegang tot openbare ampte, geëis en teen diskriminasie in werk geprotesteer.
Aanvanklik was daar geen vaste datum vir die viering nie. In Rusland het vroulike tekstielwerkers op 8 Maart 1917 (23 Februarie volgens die Juliaanse kalender) in Petrograd betoog met die eis vir "Brood en Vrede". Hierdie betoging het die begin van die Februarirewolusie gemerk, deel van die Russiese Rewolusie. Kort daarna het die voorlopige regering vroue stemreg verleen. In 1921 is 8 Maart formeel vasgestel as die datum vir Internasionale Vrouedag deur die internasionale kommunistiese beweging. Daarna is dit op dié datum deur sosialistiese bewegings en kommunistiese state gevier.
Vanaf die 1960’s ook wyer ingang gevind deur die tweedegolf-feminisme. Aktiviste het die dag gebruik om te mobiliseer vir gelyke betaling, gelyke ekonomiese geleenthede, voortplantingsregte en die voorkoming van geweld teen vroue.
Die Verenigde Nasies het Internasionale Vrouedag in 1975 begin vier tydens die Internasionale Jaar van die Vroue. In 1977 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies lidlande uitgenooi om "in ooreenstemming met hul historiese en nasionale tradisies en gebruike enige dag van die jaar as 'n Verenigde Nasies-dag vir vroueregte en internasionale vrede uit te roep".
Internasionale Vrouedag is ’n openbare vakansiedag in verskeie lande. Die Verenigde Nasies vier die dag jaarliks in verband met ’n spesifieke kwessie, veldtog of tema wat met vroueregte verband hou.
Amptelike status
Internasionale Vrouedag is 'n amptelike vakansiedag in baie lande wêreldwyd, insluitend Angola, Armenië, Aserbeidjan, Belarus, Burkina Faso, Kambodja, die Volksrepubliek China (slegs vir vroue), Kuba, Georgië, Duitsland (slegs Berlyn en Mecklenburg-Voorpommere), Guinee-Bissau, Eritrea, Kasakstan, Kirgisië, Laos, Madagaskar (slegs vir vroue), Moldowa, Mongolië, Montenegro, Nepal, Rusland, Tadjikistan, Turkmenistan, Oeganda, Oekraïne, Oesbekistan, en Zambië.
Geel mimosa is die simbool van Internasionale Vrouedag in Italië, sowel as in Rusland, Oekraïne en baie ander voormalige Sowjet-republieke.
In sommige lande, soos Australië, Kameroen, Kroasië, Roemenië, Bosnië, Bulgarye, Viëtnam, Chili, en Ghana, is Internasionale Vrouedag nie 'n amptelike openbare vakansiedag nie, maar word dit tog wyd gevier.
Verskeie lande, insluitend Algerië, Frankryk, Italië, Spanje en Uruguay, het pleine of ander openbare ruimtes wat na 8 Maart vernoem is, ter herdenking van Internasionale Vrouedag.
Ongeag die wettige status, is dit in baie dele van die wêreld gebruiklik vir vroue en mans om hul vroulike kollegas en geliefdes blomme en geskenke te gee op hierdie dag. In sommige lande (soos Bulgarye en Roemenië) word dit ook as 'n ekwivalent van Moedersdag gevier, waar kinders klein geskenke aan hul moeders en grootmoeders gee.
In Italië word die vakansiedag gevier deur mans wat geel mimosa aan vroue gee.. Dit het ontstaan by die kommunistiese politikus Teresa Mattei, wat in 1946 die mimosa as simbool van Internasionale Vrouedag gekies het op versoek van Luigi Longo. Mattei het gevoel dat die Franse simbole van Internasionale Vrouedag, viooltjies en lelies van die vallei, te skaars en duur was om in arm, landelike Italiaanse gebiede te gebruik, en het dus die mimosa as alternatief voorgestel.
Iran
Op Internasionale Vrouedag in 1979 het ’n vrouemars in Teheran in Iran plaasgevind. Die optog was oorspronklik bedoel om Internasionale Vrouedag te vier, maar het in massabetogings verander teen die veranderinge wat tydens die Irannese Rewolusie aan vroueregte aangebring is, veral die invoering van verpligte hijab (sluiering), wat die vorige dag aangekondig is.
Die betogings het ses dae geduur, van 8 Maart tot 14 Maart 1979, met duisende vroue wat daaraan deelgeneem het. Die betogings het gelei tot ’n tydelike terugtrekking van die besluit oor verpligte sluiering. Toe die linkse groepe en die liberales egter uitgeskakel is en die konserwatiewes alleenbeheer verkry het, is sluiering op alle vroue afgedwing.John Foran, Theorizing Revolutions
In meer onlangse tye het Internasionale Vrouedag ook tot geweld gelei in Teheran. Op 4 Maart 2007 het die polisie honderde mans en vroue geslaan wat beplan het om ’n betoging te hou. ’n Vorige betoging vir die geleentheid is in 2003 in Teheran gehou. Die polisie het dosyne vroue gearresteer, waarvan sommige ná verskeie dae van eensame aanhouding en ondervraging vrygelaat is. Shadi Sadr, Mahbubeh Abbasgholizadeh en verskeie ander gemeenskapsaktiviste is op 19 Maart 2007 vrygelaat, wat ’n vyftiendae-hongerstaking beëindig het.
Sien ook Nasionale Vrouedag op 9 Augustus Internasionale Mansdag op 19 November. Moedersdag op die tweede Sondag van Mei.
Verwysings
Kategorie:Feesdae Kategorie:Feminisme