Kaapse Vlek (Caabse Vlek) is die naam wat die Nederlandssprekende bevolking en die amptenare van die VOC vir die nedersetting aan Tafelbaai (dus Kaapstad) vir die hele bestuurstydperk deur die VOC gebruik het. Eers tydens die eerste Britse besetting het die naam Kaapstad meer in algemene gebruik gekom.
Grense Die oudste vier strate was Zeestraat, Reijgerstraat, Oliphantstraat en die Heerengracht. Toe die Engelse die Kaap oorneem, is die stadsgrense vasgestel as die Buitengracht aan die westekant, Buitenkantstraat aan die oostekant en Strandstraat aan die noordekant.
Strate In die historiese stadskern is die volgende strate: Heerengracht, Strandstraat, Bergstraat (nou St. George’s-straat), Burgstraat, Langstraat, Loopstraat, Breëstraat, Buitenkantstraat, Kasteelstraat, Houtstraat, Kortmarkstraat, Langmarkstraat, Kerkstraat, Waalstraat, Keeromstraat, Dorpstraat, Leeuwenstraat, Bloemstraat, Roelandstraat, Buitenkanstraat, Ziekestraat (nou Korporasiestraat), Ziekedwarsstraat (nou Barakstraat), Mostertstraat, Spinstraat, Bouquetstraat, Pleinstraat en Gravestraat (nou Parlementstraat).
Pleine Die vernaamste dorpspleine was: Wapenplein of ook bekend as Exercitieplein (tans die Parade), Groentemarkplein, Boerenplein (nou Riebeeckplein), Hospitaalplein (nou Caledonplein), Kerkplein, Stalplein, Looyersplein (nou deel van Stalplein).
Geboue In die Nederlandse bewindstydperk was die bekendste geboue die Kasteel (aan die Wagenplein), Groote Kerk, Slawelosie, hospitaal, Burgerwaghuis en die “Lusthuis des Gouverneurs” (op Stalplein en nou bekend as Tuynhuys).
Oorblyfsels Van die Kaapse Vlek met sy dubbelverdiepinggeboue en swierige ingang na die Kompanjiestuin is daar weinig oor wat ons kan herinner aan die invloed wat die VOC op die Kaapse nedersetting tot aan die einde van die 18de eeu gehad het.
Naam Die Nederlandse woord vlek kan ook verwys na ‘n groot dorp.
Bibliografie de Wet, Con en Leon Hattingh en Jan Visagie (reds.): Die VOC aan die Kaap, 1652-1795. Pretoria: Protea Boekhuis, 2016.
Kategorie:Kaapstad