thumb|260px|Een van die Ica-klippe, wat verskeie soorte dinosourusse uitbeeld.

Die Ica-klippe is ’n versameling andesietklippe met gegraveerde motiewe wat in die 1960’s as kunswerke geskep is deur die Peruaanse boer Basilio Uschuya en ander in die Ica-provinsie. Die artefakte, waarvan baie opvallend nievlieënde dinosourusse en moderne tegnologie uitbeeld in ’n styl wat Meso-Amerikaanse kuns naboots, is aanvanklik verkoop asof hulle ’n egte pre-Columbiese oorsprong het. Later het Uschuya en ander boere egter erken hulle het die klippe vir wins geskep., ook aanlyn by skepdic

Klippe met gegraveerde kunswerk is in die middel van die 16de eeu vir die eerste keer in Peru aangemeld tydens die Spaanse verowering. Daaropvolgende argeologiese vondste was feitlik niebestaande, hoewel grafrowers in ’n stadium voor die 1960’s begin het om klippe soortgelyk aan die Ica-klippe te verkoop. Die moderne stel klippe is vir die eerste keer in die 1960’s en '70’s gewild gemaak. Die bekendste versameling, wat sowat 20 000 individuele voorwerpe bevat het, het aan die geneesheer Javier Cabrera Darquea behoort. Cabrera het die meeste van sy klippe by Uschuya gekoop voordat laasgenoemde die vervalsing erken het, en het geglo dat hulle bewys lewer van ’n antieke interstellêre beskawing wat honderde miljoene jare gelede in Peru bestaan het.

Ten spyte daarvan dat die vervalsing aan die lig gekom het en die kunswerke dinosourusspesies uitbeeld wat nie sover bekend in Suid-Amerika voorgekom het nie, met verouderde opvattings oor hulle anatomie, het sommige groepe, soos jong-aarde-kreasioniste en voorstanders van antieke ruimtevaarderteorieë, die klippe as bewys vir hulle aansprake aangehaal. Dit is moontlik dat sommige van die Ica-klippe sonder fantastiese uitbeeldings wel egte pre-Columbiese artefakte is, ’n moontlikheid wat hoofsaaklik waar kan wees van klippe wat nie deel van Cabrera se versameling is nie en wat konvensioneler pre-Columbiese motiewe ophet.

Geskiedenis Agtergrond Argeologiese ontdekkings toon bewyse van Peruaanse kulture wat oor etlike duisende jare terugstrek. In latere fases is die hele hedendaagse Peru verenig in ’n enkele politieke en kulturele eenheid, wat ’n hoogtepunt bereik het in die Inkaryk, gevolg deur die Spaanse verowering. In ander tydperke het streke soos die Ica-vallei, ’n bewoonbare gebied wat deur woestyn van ander streke geskei is, hulle eie kenmerkende kulture ontwikkel.

Gegraveerde klippe is reeds lank voor die aanmelding van die Ica-klippe in die streek bekend. Die vroegste bekende verslae van soortgelyke artefakte is opgeteken deur die Jesuïet-sendingpriester Padre Simón, wat in die vroeë en middelste 16de eeu tydens die Spaanse verowering van die Inkaryk deur Peru gereis het. Voorbeelde van hierdie klippe is glo in 1562 na Spanje gestuur.

Vroeë argeologiese opgrawings in die Ica-provinsie in die laat 19de en vroeë 20ste eeu deur navorsers soos Max Uhle, Julio C. Tello, Alfred Kroeber, William Duncan Strong en John Howland Rowe het nie gelei tot enige verslae van die ontdekking van gegraveerde andesietklippe nie. Nietemin het gegraveerde klippe wat in ’n stadium deur grafrowers geplunder is, begin om te koop aangebied te word aan toeriste en amateurversamelaars.Pezzia Assereto, A (1968) Ica y el Perú Precolombino. Tomo I. Arqueología de la provincia de Ica. Empresa Editora Liberia, Ojeda, Venezuela. 295 pp.

’n Buitengewone aantal Ica-klippe is vandag bekend, met die totale getal wat op ongeveer 50 000 tot 100 000 geraam word.

Cabrera se versameling thumb|260px|’n Versameling Ica-klippe omring ’n portret van Javier Cabrera Darquea.

Die bekendste versameling Ica-klippe is dié van die geneesheer Javier Cabrera Darquea (1924-2001). Volgens Cabrera se eie weergawe is sy belangstelling in die klippe vir die eerste keer geprikkel op 13 Mei 1966, toe hy een van die gegraveerde klippe as verjaardaggeskenk van sy vriend Felix Llosa Romero ontvang het. Met ’n sterk belangstelling in die Peruaanse voorgeskiedenis, het Cabrera die motief op die klip geïdentifiseer as ’n soort prehistoriese vis. Hy het nooit verduidelik watter visspesie hy geglo het die klip uitbeeld of waarom hy dit as prehistories beskou het nie.

Om sy versameling uit te brei, het Cabrera die broers Carlos en Pablo Soldi, versamelaars van Peruaanse artefakte van voor die Inkas, genader. Volgens berigte het die Soldi’s ’n groot versameling soortgelyke gegraveerde klippe gehad wat, volgens hulle, in die Ocucaje-streek ontdek is, en hulle het 341 daarvan aan Cabrera verkoop. Die Soldi’s het beweer hulle het in 1961 met die versameling van die gegraveerde klippe begin toe ’n groot aantal glo tydens ’n vloed van die Ica-rivier blootgelê is.

Verdere klippe is deur Cabrera verkry deur aankope van die boer Basilio Uschuya, wat hom van etlike duisende voorsien het. Benewens die klippe wat hy self gekry het, het Cabrera ’n versameling soortgelyke klippe gehad wat glo in die 1930’s deur sy vader, Bolivia Cabrera, op hulle plantasie ontdek is. Teen die laat 1970’s het Cabrera se versameling meer as 11 000 gegraveerde klippe bevat. Terwyl hy as mediese praktisyn gedien het (insluitend ’n termyn as hoof van die Universiteit van Lima se departement geneeskunde), het Cabrera aanvanklik sy versameling en belangstelling geheim gehou. Teen 1970 het die klippe en Cabrera se idees daaroor egter wyd bekend begin raak.

thumb|200px|links|Cebrera in 1976. In 1996 het Cabrera sy mediese praktyk toegemaak en ’n museum geopen, die Museo de Piedras Grabadas (“Museum van Gegraveerde Klippe”), om sy versameling ten toon te stel. Die museum is volgens motiewe georganiseer en die klippe is teen die mure uitgestal. Teen die einde van sy lewe het Cabrera se versameling glo sowat 20 000 klippe bevat, waarvan baie steeds in sy museum uitgestal word. Peru se kamer van toerisme lys die museum as ’n toeristebestemming en laat die vraag oor hulle egtheid oop.

Cabrera het na die klippe as “gliptoliete” verwys en sy eie hipotese oor hulle oorsprong voorgestel, gepubliseer in sy boek The Message of the Engraved Stones of Ica. Volgens hom is die klippe gemaak deur ’n antieke soort mens wat hy die “Gliptolitiese Mens” genoem het, wat groter breine as moderne mense gehad het en hulle psigiese energie kon gebruik om gebeure in die buiteruim te beïnvloed. Die Gliptolitiese Mens het glo minstens 405 miljoen jaar gelede op Aarde verskyn en die planeet 66 miljoen jaar gelede, voor die Kryt-Paleogeen-uitwissing, verlaat om na ’n planeet in die Plejades te reis.

Die uitwissing is glo veroorsaak deur 'n botsing van twee van die Aarde se drie mane met die planeet en het ook die ondergang van Atlantis veroorsaak. Cabrera het voorgestel dat die Gliptolitiese Mens aan boord van elektromagnetiese ruimteskepe vertrek het vanuit die gebied wat die Nazca-lyne insluit, wat hy as ’n “antieke ruimtehawe” beskou het. Voor hulle vertrek was hulle glo ’n wêreldwye beskawing wat onder meer verantwoordelik was vir die bou van die piramides van Egipte. Weens ’n gebrek aan bewyse het Cabrera se interpretasie min aanvaarding gevind, selfs onder skyngeskiedkundiges.

Calvo se versameling Ica-klippe is ook versamel deur die argitek Santiago Agurto Calvo, rektor van die Nasionale Universiteit vir Ingenieurswese in Lima. Benewens die aankoop van baie sulke klippe van plaaslike inwoners, het Calvo soektogte in antieke begraafplase georganiseer en in Augustus 1966 die vonds van ’n gegraveerde klip in die Toma Luz-sektor, Callango-distrik, in die Ica-vallei aangemeld. Die konteks van die vonds het glo ooreengestem met die Tiwanaku-kultuur. Calvo het geglo die gegraveerde klippe was deel van ’n antieke begrafnisritueel.

Calvo het sy ontdekking aan die streekmuseum van Ica gerapporteer en is tydens verdere ekspedisies vergesel van die kurator daarvan, die argeoloog Alejandro Pezzia Assereto. In September 1966 het hulle glo in die Uhle-heuwelbegraafplaas, De la Banda-sektor, Ocucaje-distrik, ’n gegraveerde klip in ’n graf van die Paracas-kultuur gevind. Op die klein klip, slegs ’n paar sentimeter breed, was ’n ontwerp gegraveer wat as abstrak beskou of as ’n blom met agt kroonblare geïnterpreteer kan word. Calvo het die ontdekking in ’n Lima-koerant gepubliseer.Santiago Agurto Calvo. “Las Piedras Mágicas de Ocucaje”. El Comercio. Lima, 11 Desember 1966 Pezzia het die soektog voortgesit. In die San Evaristo-begraafplaas in Toma Luz het hy die vonds van ’n gegraveerde klip van soortgelyke grootte as die vorige een aangemeld wat ’n vis uitbeeld. In ’n nabygeleë graf in dieselfde begraafplaas het Pezzia die vonds van ’n klip wat ’n lama uitbeeld, aangemeld. Pezzia het sy bevindings in 1968 gepubliseer, met tekeninge en beskrywings.

In 1968 het Calvo sommige van die klippe uit sy versameling aan die streekmuseum van Ica geskenk en ook, sonder sukses, probeer om die gebied waar hulle ontdek is tot ’n spesiale reservaat te laat verklaar sodat antieke voorwerpe nie onwettig verwyder kon word nie. Die klippe is in die museum uitgestal en as “voor-Inka-begrafniskuns” gemerk, totdat hulle in 1970 verwyder is toe Cabrera se versameling en idees oor soortgelyke klippe bekend begin raak het, waarna die museum dit as bedrog begin beskou het.

Ontwerpe Die Ica-klippe is met verskillende soorte beelde gegraveer. Sommige beelde is direk ingesny, terwyl ander gemaak is deur die agtergrond te verwyder en die beeld in reliëf te laat. Die beelde wissel van eenvoudige prente aan een kant van ’n klippie tot ontwerpe van groot kompleksiteit. Sommige van die ontwerpe is in style wat herinner aan die historiese Paracas-, Nazca-, Tiwanaku- of Inka-kultuur.

Dinosourusse thumb|260px|'n Steen wat ’n mens uitbeeld wat ’n souropode doodmaak, terwyl hy aangeval word deur ’n stertslepende teropode.

Verskeie van die klippe is gegraveer met uitbeeldings van verskillende uitgestorwe diere, meestal verskillende soorte dinosourusse. Onder die dinosourusse wat uitgebeeld word, is verskillende teropodes, souropodes, seratopsiërs en stegosouriërs. Daar is ook uitbeeldings van pterosouriërs onder die klippe. Die klippe beeld slegs uitgestorwe diere uit wat reeds aan die wetenskap bekend was ten tyde van hulle “ontdekking”. Die diere wat uitgebeeld word, stem nie ooreen met fossielvondste in die streek rondom Ica nie; geen dinosourusoorblyfsels is uit die gebied bekend nie en verskeie van die groepe wat uitgebeeld word (soos seratopsiërs) is glad nie uit Suid-Amerika bekend nie.

In sommige gevalle word die dinosourusse uitgebeeld asof hulle gejag word of deur mense getem word. Sommige jagtonele toon na bewering mense wat kritieke senuwees in die dinosourusse se ruggraat afkap, wat glo gevorderde kennis van hulle anatomie aandui.

Baie van die dinosourusse wat uitgebeeld word, weerspieël nou verouderde idees oor hulle voorkoms, wat bevestig dat die klippe vervalsings is. Een van die klippe toon byvoorbeeld ’n Tyrannosaurus-agtige teropodedinosourus met ’n byna regop houding en ’n stert wat agter hom oor die grond sleep; dit stem ooreen met uitbeeldings van Tyrannosaurus in die 1960’s, maar weerspieël nie die huidige wetenskaplike begrip van die dier nie. Daarbenewens wys sommige uitbeeldings van teropodes op die klippe dat hulle vyf vingers en vyf tone het, wat onversoenbaar is met fossielbewyse.

Sommige van die beelde lyk asof hulle ’n dinosouruslewensiklus uitbeeld waarin larwes uit dinosouruseiers uitbroei voordat hulle ’n vorm van metamorfose ondergaan om tot die verskillende volwasse vorme te groei; dit is hoogs onversoenbaar met werklike dinosouruslewensiklusse. Een van die klippe toon ’n mens wat op ’n pterosouriër ry wat waarskynlik nie die gewig van ’n mens in vlug sou kon dra nie.

Mense en tegnologie thumb|260px|'n Steen wat na bewering breinchirurgie uitbeeld.