James Alexander Philip Theo Mountbatten-Windsor, Graaf van Wessex (gebore 17 Desember 2007; van 2007 tot 2023 bekend as burggraaf Severn) is lid van die Britse koninklike familie. Hy is die jongste kind en enigste seun van prins Edward, Hertog van Edinburg, en Sophie Rhys-Jones. Hy is die jongste kleinseun van koningin Elizabeth II en prins Philip, Hertog van Edinburg, en die jongste broerskind van Charles III. Hy is tydens die bewind van sy ouma aan vaderskant gebore en was toe agtste op die lys van Britse troonopvolgers. Hy is tans 16de.
Kinderdae James is op 17 Desember 2007 in Surrey gebore. Sy pa, prins Andrew, Hertog van Edinburg, is die jongste kind van koningin Elizabeth II en prins Philip, Hertog van Edinburg. Sy ma, Sophie, het 'n werk in openbare betrekkinge gehad voordat sy in 1999 in die koninklike familie ingetrou het. Sy volle naam is op 21 Desember aangekondig. Hy het 'n ouer suster, Louise.
Amptelike optredes James het sy eerste amptelike verskyning in 2016 gemaak in die koetsoptog op die Vaandelparade en het ook in 2022 in die Vaandelparade verskyn.
In September 2020 het hy en sy ouers deelgeneem aan die Great British Beach Clean op die Southsea-strand in Hampshire.
Ná die gedenkdiens op 29 Maart 2022 vir sy oupa, prins Philip, het James die Platinum Jubilee National Service of Thanksgiving bygewoon, en in Junie 2022 die Platinum Party at the Palace.
Op 17 September 2022, gedurende die tyd van rou vir sy ouma, koningin Elizabeth II, het James, sy suster en ses neefs en niggies 'n nagwaak om haar kis gehou terwyl sy in Westminster Hall in staatsie gelê het. Op 19 September het hy en ander familielede haar staatsbegrafnis bygewoon.
Op 6 Mei 2023 het James, wat toe die Graaf van Wessex was, sy oom, Charles III, se kroning in Westminster-abdy saam met die res van die koninklike familie bygewoon. Die volgende dag het hulle die kroningskonsert in Windsor-kasteel bygewoon.
Titels, aanspreekvorme en eerbewyse Titels en aanspreekvorme Die titel burggraaf Severn verwys na die Walliese herkoms van sy moeder se familie. James het dié beleefdheidstitel met sy geboorte gekry as die regmatige erfgenaam van sy pa se graafskap.
James het met sy geboorte outomaties 'n Britse prins (prins James van Wessex, nou prins James van Edinburg) geword danksy die patentbrief van 1917 wat die titel "prins"/"prinses" en die aanspreekvorm "Koninklike Hoogheid" aan alle kleinkinders van 'n monarg in die manlike lyn toegeken het. Toe sy ouers trou, het Buckingham-paleis egter aangekondig hulle kinders sou die titels van 'n graaf se kinders hê, en nie dié van prins en prinses nie. In 2020 het James se ma herbevestig dat hy en sy suster die reg voorbehou om hulle koninklike titels en aanspreekvorme te begin gebruik wanneer hulle 18 word.
Toe sy pa in Maart 2023 die Hertog van Edinburg word, het James die beleefdheidstitel Graaf van Wessex gekry. Omdat Hertog van Edinburg 'n nieoorerflike titel is, sal dit by sy pa se dood wegval, maar James bly die regmatige erfgenaam van sy pa se oorerflike adeltitels Graaf van Wessex, Graaf van Forfar en burggraaf Severn.
Eerbewyse In Junie 2008, ter erkenning van prins Edward se besoek aan die Kanadese provinsie Manitoba, is 'n meer in die noorde van die provinsie die Jamesmeer genoem. Sy suster is ook benoem met die Louisemeer in dieselfde provinsie.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Huis van Windsor