Konrad Paul Kujau (27 Junie 1938 - 12 September 2000) was 'n Duitse illustreerder en vervalser. Hy het in 1983 beroemd geword as die skepper van die sogenaamde "Hitler-dagboeke", waarvoor hy 2,5 miljoen Duitse mark (DM) gekry het van 'n joernalis, Gerd Heidemann, wat dit op sy beurt vir DM9,3 miljoen aan die tydskrif Stern verkoop het. Kujau het vier en 'n half jaar tronkstraf vir die vervalsing gekry.
Biografie Vroeë lewe "Konny" Kujau is in Löbau, Nazi-Duitsland, gebore as een van ses kinders van Richard Kujau, ’n skoenmaker, en sy vrou, wat albei in 1933 by die Nazi-party aangesluit het. Kujau se vroeë lewe was een van voortdurende armoede, en sy moeder was verplig om haar kinders vir tydperke in weeshuise te plaas. Die seun het grootgeword met geloof in die Nazi-ideale en het Adolf Hitler verafgod. Die seëviering van die Geallieerdes in 1945 en Hitler se selfmoord het nie sy entoesiasme vir die Nazi-saak getemper nie.
Hy het ’n reeks eenvoudige werke verrig en het tot in 1957 as kelner by die Löbau-jeugklub gewerk, toe ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is in verband met die diefstal van ’n mikrofoon. In Junie het hy na Stuttgart, Wes-Duitsland gevlug, waar hy gou tydelike werkies verrig en by klein misdade betrokke geraak het.
In 1959 is hy beboet vir die steel van tabak; in 1960 is hy tot nege maande tronkstraf gevonnis nadat hy betrap is toe hy in ’n stoorkamer ingebreek het om konjak te steel; in 1961 het hy weer tyd in die tronk deurgebring nadat hy vyf kratte vrugte gesteel het. Ses maande later is hy weer gearresteer nadat hy in ’n geveg met sy werkgewer beland het terwyl hy as kok in ’n kroeg gewerk het.
In 1961 het hy ’n verhouding begin met Edith Lieblang, een van die kelnerinne in die kroeg waar hy gewerk het. Die paartjie het na Plochingen verhuis en ’n danskroeg oopgemaak, wat ’n beskeie sukses was. Kujau het begin om vir hom ’n fiktiewe agtergrond te skep, en mense vertel sy regte naam is Peter Fischer. Hy het sy geboortedatum met twee jaar verander en die geskiedenis van sy tyd in Oos-Duitsland vervals.
Teen 1963 het die kroeg finansiële probleme ondervind en het die paartjie teruggetrek na Stuttgart, waar Kujau werk as kelner gevind het. Hy het ook sy loopbaan as vervalser begin, deur bewyse vir etes ter waarde van DM27 te vervals; hy is betrap en tot vyf dae in die tronk gevonnis. Ná sy vrylating het hy en sy vrou die Lieblang-skoonmaakmaatskappy gestig, maar die besigheid het min inkomste vir hulle ingebring. In Maart 1968, tydens ’n roetinekontrole by Kujau se woonplek, het die polisie vasgestel dat hy onder ’n vals identiteit woon, aangesien die naam, adres en geboortedatum wat hy aan die polisie gegee het van dié op die dokumente wat hy by hom gehad het, verskil het. By die polisiekantoor het hy ’n derde stel besonderhede gegee, met ’n vals verduideliking waarom hy ’n vervalste identiteit gehad het, maar die daaropvolgende vingerafdruktoets het bevestig dat hy Kujau is. Hy is na Stuttgart se Stammheim-gevangenis gestuur.
Ná sy vrylating in die laat 1960’s het die skoonmaakbesigheid winsgewend genoeg geword dat die paartjie ’n woonstel in Schmieden naby Stuttgart kon koop. In 1970 het Kujau sy familie in Oos-Duitsland besoek en ontdek dat baie van die plaaslike inwoners Nazi-aandenkings besit het, ten spyte van die wette van die Kommunistiese regering. Kujau het ’n geleentheid gesien om die materiaal goedkoop op die swartmark te koop en dit in die Weste teen 'n wins te verkoop, omdat die aanvraag na sulke items daar toegeneem het. Pryse onder Stuttgart se versamelaars was tot tien keer hoër as die pryse wat Kujau betaal het. Die handel was onwettig in Oos-Duitsland en die uitvoer van items, wat as kulturele erfenis beskou is, was verbode. Albei Kujaus is aangekeer en beslag is op die ware gelê.
In 1974 het hy ’n winkel gehuur waarin hy sy Nazi-aandenkings geplaas het. Die plek het ook ’n plek geword vir laatnagdrinkery saam met vriende en medeveramelaars. Benewens notas deur Hitler, het hy dokumente vervaardig in die handskrif van Martin Bormann, Rudolf Hess, Heinrich Himmler, Hermann Göring en Joseph Goebbels. Hoewel die handskrifte ’n aanvaarbare nabootsing van die eienaars s'n was, was die res van die werk grof: Kujau het moderne skryfbehoeftes gebruik, dit met tee verouder en briefhoofde geskep met behulp van Letraset. In baie gevalle was die spelling en grammatika verkeerd, veral wanneer hy dokumente in Engels vervals het.
In die middel- tot laat 1970’s het Kujau, ’n bekwame amateurkunstenaar, begin om skilderye te vervaardig wat hy voorgegee het deur Hitler geskilder is, wat self as jongman ’n amateurkunstenaar was. Nadat hy ’n mark vir sy vervalste werk gevind het, het Kujau onderwerpe geskilder waarin sy kopers belangstelling getoon het, soos spotprente, naakfigure en mans in aksie: onderwerpe wat Hitler nooit geskilder het nie. Dikwels is dié skilderye vergesel van klein notas wat glo van Hitler afkomstig was, maar deur Kujau vervals is.
Nadat hy sukses hiermee behaal het, het Kujau ambisieuser geraak en die teks van albei dele van Mein Kampf met die hand gekopieer, selfs al was die oorspronklikes op ’n tikmasjien voltooi. Kujau het ook ’n inleiding tot ’n derde volume van die werk vervaardig. Hy het hierdie manuskripte verkoop aan een van sy gereelde kliënte, Fritz Stiefel, ’n versamelaar van Nazi-aandenkings. Kujau het ook begin om ’n reeks oorlogsgedigte deur Hitler te vervals, wat so amateuragtig was dat Kujau later erken het "’n 14-jarige versamelaar sou dit as ’n vervalsing herken het".
Hitler-dagboeke Dit is onduidelik wanneer Kujau sy eerste Hitler-dagboek vervaardig het. Stiefel sê Kujau het hom in 1975 ’n dagboek aan hom geleen. Schulze meen die datum is 1976, terwyl Kujau sê hy het in 1978 begin. Hy het een van ’n stapel notaboeke gebruik wat hy goedkoop in Oos-Berlyn gekoop het, en per abuis die letters FH (in plaas van AH) in goud voorop geplaas; hierdie letters uit Hongkong is in ’n afdelingswinkel gekoop en was van plastiek. Om dit eg te laat lyk, het hy die swart lint van ’n werklike SS-dokument gevat en dit met ’n Duitse wasseël aan die omslag vasgemaak. Vir die ink het hy twee bottels Pelikan-ink gekoop, een swart en een blou, en die twee saam met water gemeng sodat dit makliker kon vloei uit die goedkoop moderne pen waarmee hy geskryf het.
Kujau het ’n maand lank geoefen om in die ou Duitse Gotiese skrif te skryf waarin Hitler self geskryf het. Kujau het dit aan Stiefel gewys, wat beïndruk was met die werk en dit wou koop, maar toe die vervalser weier om dit te verkoop, het hy gevra om dit te leen. Die versoek is toegestaan.
In 1978 het Kujau sy eerste “Hitler-dagboek” aan ’n versamelaar verkoop. In 1980 is hy gekontak deur die joernalis Gerd Heidemann, wat van die dagboek gehoor het. Heidemann het ’n ooreenkoms met Kujau gesluit vir “die res” van die dagboeke. Oor die volgende twee jaar het Kujau nog 61 volumes vervals en dit vir DM2,5 miljoen aan Heidemann verkoop. Heidemann het op sy beurt DM9 miljoen van sy werkgewers by Stern ontvang.
Toe hulle in 1983 gepubliseer is, is die dagboeke vinnig as vervalsings ontmasker, en Heidemann en Kujau is gearresteer. In Augustus 1984 is Kujau tot vier en ’n half jaar gevangenisstraf vir vervalsing gevonnis en Lieblang tot een jaar as medepligtige. Heidemann is aan bedrog skuldig bevind en het die volgende jaar nog ’n vonnis van vier en ’n half jaar gevangenisstraf gekry.
Na sy vrylating uit die tronk na drie jaar het Kujau effens beroemd geword, as ’n “kenner in vervalsings” op TV verskyn en ’n besigheid begin waarin hy “egte Kujau-vervalsings” verkoop het. Hy het in 1996 in die verkiesing vir burgemeester van Stuttgart gestaan en 901 stemme gekry. Kujau is in 2000 aan kanker oorlede.
Verwysings
Bronne
Skakels Kujau-argief
Kategorie:Swendelaars