240px|thumbnail|Die mashoof van die tydskrif Stern, wat die dagboeke gekoop en die ontdekking gepubliseer het.
Die Hitler-dagboeke (Duits: Hitler-Tagebücher) was ’n reeks van sestig volumes joernale wat glo deur Adolf Hitler geskryf is, maar wat tussen 1981 en 1983 deur Konrad Kujau vervals is. Die dagboeke is in 1983 vir 9,3 miljoen Duitse mark (DM) deur die Wes-Duitse nuustydskrif Stern gekoop, wat publisiteitsregte aan verskeie nuusorganisasies verkoop het. Een van die publikasies wat betrokke was, was The Sunday Times, wat sy onafhanklike direkteur, die historikus Hugh Trevor-Roper, gevra het om die dagboeke se egtheid te bevestig. Hy het dit gedoen. By die nuuskonferensie om die publikasie van die dagboeke se ontdekking aan te kondig, het Trevor-Roper egter gesê hy het ná oorweging van mening verander. Ander historici het ook vrae oor hulle egtheid geopper. Streng forensiese ontleding, wat nie voorheen gedoen is nie, het vinnig bevestig die dagboeke is vervalsings.
Kujau, wat in Oos-Duitsland gebore is en grootgeword het, het ’n geskiedenis van klein misdade en bedrog gehad. In die middel 1970’s het hy begin om Nazi-aandenkings te verkoop wat hy uit die Ooste gesmokkel het, maar hy het ontdek dat hy die pryse kon opstoot deur vervalste notas by te voeg om gewone aandenkings aan Nazi-leiers te koppel. Hy het begin om skilderye deur Hitler te vervals, asook ’n toenemende aantal notas, gedigte en briewe, totdat hy in die middel tot laat 1970’s sy eerste dagboek vervaardig het. Die Wes-Duitse joernalis by Stern wat die dagboeke “ontdek” en by die aankoop betrokke was, was Gerd Heidemann, wat ’n obsessie met die Nazi’s gehad het. Toe Stern die dagboeke begin koop, het Heidemann ’n aansienlike deel van die geld gesteel.
Kujau en Heidemann het tyd in die tronk deurgebring vir hulle rolle in die bedrog, en verskeie koerantredakteurs het hulle poste verloor. Die verhaal van die skandaal het die basis gevorm vir die rolprente Selling Hitler (1991), die Duitse prent Schtonk! (1992) en die televisiereeks Faking Hitler (2021).
Konrad Kujau Konrad Kujau is in Löbau, Nazi-Duitsland, gebore as een van ses kinders van Richard Kujau, ’n skoenmaker, en sy vrou, wat albei in 1933 by die Nazi-party aangesluit het. Kujau se vroeë lewe was een van voortdurende armoede, en sy moeder was verplig om haar kinders vir tydperke in weeshuise te plaas. Die seun het grootgeword met geloof in die Nazi-ideale en het Adolf Hitler verafgod. Die seëviering van die Geallieerdes in 1945 en Hitler se selfmoord het nie sy entoesiasme vir die Nazi-saak getemper nie.
thumb|180px|Kujau in 1992. Hy het ’n reeks eenvoudige werke verrig en het tot in 1957 as kelner by die Löbau-jeugklub gewerk, toe ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is in verband met die diefstal van ’n mikrofoon. In 1959 is hy beboet vir die steel van tabak; in 1960 is hy tot nege maande tronkstraf gevonnis nadat hy betrap is toe hy in ’n stoorkamer ingebreek het om konjak te steel; in 1961 het hy weer tyd in die tronk deurgebring nadat hy vyf kratte vrugte gesteel het. Ses maande later is hy weer gearresteer nadat hy in ’n geveg met sy werkgewer beland het terwyl hy as kok in ’n kroeg gewerk het.
In 1961 het hy ’n verhouding begin met Edith Lieblang, een van die kelnerinne in die kroeg waar hy gewerk het. In 1970 het Kujau sy familie in Oos-Duitsland besoek en ontdek dat baie van die plaaslike inwoners Nazi-aandenkings besit het, ten spyte van die wette van die Kommunistiese regering. Kujau het ’n geleentheid gesien om die materiaal goedkoop op die swartmark te koop en dit in die Weste teen 'n wins te verkoop, omdat die aanvraag na sulke items daar toegeneem het.
In 1974 het hy ’n winkel gehuur waarin hy sy Nazi-aandenkings geplaas het. Kujau het dokumente begin vervaardig in die handskrif van Martin Bormann, Rudolf Hess, Heinrich Himmler, Hermann Göring en Joseph Goebbels. In die middel- tot laat 1970’s het Kujau, ’n bekwame amateurkunstenaar, begin om skilderye te vervaardig wat hy voorgegee het deur Hitler geskilder is, wat self as jongman ’n amateurkunstenaar was. Die skilderye is dikwels vergesel van klein notas wat glo van Hitler afkomstig was, maar deur Kujau vervals is.
Nadat hy sukses hiermee behaal het, het Kujau ambisieuser geraak en die teks van albei dele van Mein Kampf met die hand gekopieer, selfs al is die oorspronklikes op ’n tikmasjien voltooi. Kujau het ook ’n inleiding tot ’n derde volume van die werk vervaardig. Hy het dié manuskripte verkoop aan een van sy gereelde kliënte, Fritz Stiefel, ’n versamelaar van Nazi-memorabilia. Kujau het ook begin om ’n reeks oorlogsgedigte deur Hitler te vervals, wat so amateuragtig was dat Kujau later erken het "’n 14-jarige versamelaar sou dit as ’n vervalsing herken het".
Gerd Heidemann Gerd Heidemann is in 1931 in Hamburg gebore. Sy ouers was apolities, maar Heidemann het, soos baie ander jong seuns, by die Hitlerjugend (Hitlerjeug) aangesluit. Ná die Tweede Wêreldoorlog is hy as 'n elektrisiën opgelei en het hy begin foto's neem. Hy het 'n vryskutfotograaf vir die Deutsche Presse-Agentur en Keystone-nuusagentskappe geword. In 1951 is sy eerste werk in Stern gepubliseer en vier jaar later het hy as 'n voltydse lid van die tydskrif se personeel aangesluit.
Van 1961 af het hy oorloë en vyandelikhede in Afrika en die Midde-Ooste gedek en obsessief geraak oor die konflikte en ander stories waaraan hy gewerk het. Hoewel hy 'n uitstekende navorser was (sy kollegas het hom die Spoorhond, der Spürhund, genoem), het hy nie geweet wanneer om op te hou navors nie. Die uiteinde was dat ander skrywers stories vir hom moes klaarmaak uit stapels aantekeninge.
Stern, The Sunday Times en Newsweek 180px|thumb|Rupert Murdoch, eienaar van The Sunday Times, in 2007.
Stern (Duits vir "Ster") is 'n Duitse weeklikse nuustydskrif in Hamburg wat in 1948 gestig is om oor skandes, skinderstories en mense te skryf. Dit was bekend vir sy ondersoekende joernalistiek. Van 1981 af het Stern drie redakteurs gehad: Peter Koch, Rolf Gillhausen en Felix Schmidt.
The Sunday Times is 'n Britse nasionale koerant, die Sondagsusterskoerant van The Times. In 1968 was die koerant betrokke in 'n onderhandeling om die Mussolini-dagboeke te koop, maar dit was op die ou end vervalsings. In 1981 het Rupert Murdoch, wat verskeie ander koerante in Australië, Nieu-Seeland en die VK besit het, Times Newspapers Ltd gekoop wat beide The Times en The Sunday Times besit het. Murdoch het Frank Giles aangestel as redakteur van die Sondagkoerant.
Newsweek, 'n Amerikaanse weeklikse nuustydskrif, is in 1933 gestig. In 1982 is die joernalis William Broyles as hoofredakteur aangestel, terwyl die redakteur Maynard Parker was.
Vervaardiging en verkope van die dagboeke Vevaardiging Dit is onduidelik wanneer Kujau sy eerste Hitler-dagboek vervaardig het. Stiefel sê Kujau het hom in 1975 ’n dagboek aan hom geleen. Schulze meen die datum is 1976, terwyl Kujau sê hy het in 1978 begin. Hy het een van ’n stapel notaboeke gebruik wat hy goedkoop in Oos-Berlyn gekoop het, en per abuis die letters FH (in plaas van AH) in goud voorop geplaas; hierdie letters uit Hongkong is in ’n afdelingswinkel gekoop en was van plastiek. Om dit eg te laat lyk, het hy die swart lint van ’n werklike SS-dokument gevat en dit met ’n Duitse wasseël aan die omslag vasgemaak. Vir die ink het hy twee bottels Pelikan-ink gekoop, een swart en een blou, en die twee saam met water gemeng sodat dit makliker kon vloei uit die goedkoop moderne pen waarmee hy geskryf het. Kujau het ’n maand lank geoefen om in die ou Duitse Gotiese skrif te skryf waarin Hitler self geskryf het. Kujau het dit aan Stiefel gewys, wat beïndruk was met die werk en dit wou koop, maar toe die vervalser weier om dit te verkoop, het hy gevra om dit te leen. Die versoek is toegestaan.
thumb|180px|Die voorletters wat Kujau per ongeluk op die omslag gebruik het, was FH (bo) in plaas van AH (onder). Albei stelle is van die Engravers Old English font. In Junie 1979 het Stiefel ’n voormalige Nazi-partyargivaris, August Priesack, gevra om die egtheid van die dagboek te verifieer, wat hy toe gedoen het. Priesack het die dagboek aan Eberhard Jäckel van die Universiteit van Stuttgart gewys, wat dit ook as eg beskou het. Nuus van die dagboek se bestaan het gou begin versprei na versamelaars van Hitler-aandenkings. Teen die einde van 1979 het Jakob Tiefenthaeler, 'n versamelaar van Nazi-aandenkings en voormalige lid van die SS, Heidemann gekontak en gesê Stiefel het hom deur sy versameling geneem, wat ’n Hitler-dagboek ingesluit het – die enigste een wat Kujau tot op daardie punt vervals het. Volgens Hamilton het “die ontdekking Heidemann byna tot waansin gedryf”, en hy het hom aggressief begin beywer vir wat ’n joernalistieke scoop sou wees.
Stiefel het die dagboek in Januarie 1980 aan Heidemann in Stuttgart gewys en gesê dit kom uit ’n vliegtuigongeluk in Oos-Duitsland, hoewel hy geweier het om die joernalis die naam van sy bron te vertel. Die versamelaar het met Kujau gepraat om te sien of hy bereid sou wees om Heidemann te ontmoet, maar die vervalser het byna ’n jaar lank herhaaldelik Heidemann se versoeke geweier. Heidemann het na die Stern-kantore teruggekeer en met sy redakteur gepraat, maar dié het geweier om die moontlike storie met hom te bespreek en hom aangesê om aan ander artikels te werk. Die enigste persoon wat belanggestel het, was Thomas Walde, hoof van eietydse geskiedenis van die tydskrif, wat saam met Heidemann gewerk het om die bron van die dagboeke te vind. Hulle soektogte na Kujau was vrugteloos.
In Januarie 1981 het Tiefenthaeler vir Heidemann Kujau se telefoonnommer gegee en gesê hy moet vra na "mnr. Fischer", een van Kujau se aliasse. Tydens die daaropvolgende telefoonoproep het Kujau aan Heidemann gesê daar is 27 volumes van Hitler se dagboeke, asook die oorspronklike manuskrip van die ongepubliseerde derde volume van Mein Kampf, ’n opera deur die jong Hitler getiteld Wieland der Schmied, talle briewe en ongepubliseerde dokumente, en verskeie van Hitler se skilderye – die meeste steeds in Oos-Duitsland. Heidemann het DM2 miljoen vir die hele versameling aangebied en geheimhouding gewaarborg totdat alles oor die grens gebring is. Hoewel die twee nie op ’n finale ooreenkoms besluit het nie, het hulle volgens Harris ooreengekom op “die grondslag van ’n ooreenkoms”; Kujau se voorwaarde was dat hy slegs direk met Heidemann sou onderhandel as ’n manier om ander lede van Stern van die storie af weg te hou.
Heidemann en Walde het ’n vooruitsigstuk vir interne bespreking opgestel, waarin uiteengesit is wat beskikbaar was vir aankoop en wat dit sou kos. Die dokument, wat deur Heidemann onderteken is, het geëindig met ’n bedekte dreigement: "As ons maatskappy dink die risiko is te groot, stel ek voor dat ek ’n uitgewer in die Verenigde State nader wat die geld kan voorsien en verseker dat ons die Duitse publikasieregte kry." Die twee het die vooruitsigstuk nie aan iemand by Stern gewys nie, maar dit eerder aan Jan Hensmann en Manfred Fischer van Gruner + Jahr, Stern se moedermaatskappy, voorgelê; hulle het ook ’n deposito van DM200 000 by die uitgewer versoek om die regte by Kujau te verseker. Ná ’n vergadering wat net langer as twee uur geduur het, en sonder om ’n deskundige of historikus te raadpleeg, is die deposito goedgekeur. Ná die vergadering het Heidemann dadelik met die depositogeld na Stuttgart gereis om Kujau te ontmoet.
Aankope