Op 7 Augustus 2024 is die liggaam van Deveney Nel, 'n 16-jarige leerder van Hoërskool Overberg in Caledon, Suid-Afrika, in 'n geslote skoolstoorkamer gevind. Sy is noodlottig gesteek. Daar word geglo dat sy nie in die stoorkamer vermoor is nie, maar van 'n toilet daarheen gesleep is. 'n 17-jarige seun, wat 'n medeleerling en vriend van Nel was, is op 16 Augustus in hegtenis geneem in verband met haar moord en is aangekla. Hy is in Oktober 2025 tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy in ‘n pleitooreenkoms gebieg het hoe hy haar aangerand, doodgesteek en haar lyk weggesteek het om die moord te verberg. Maygene de Wee (17 Oktober 2025). 25 jr. Tronkstraf: Hy mik met opset na Deveney se hoofslagare. Netwerk24. Besoek 18 Oktober 2025.
Agtergrond Nel was 'n 16-jarige graad 10-leerling aan Hoërskool Overberg in Caledon, Suid-Afrika. Sy het in Grabouw gewoon. Op die dag van haar moord het Nel as lid van die noodhulpspan gedien tydens die skool se sportbyeenkoms.
Voorval Nel was vermoor in die omgewing van Hoërskool Overberg in Caledon op 7 Augustus. Haar liggaam is in 'n geslote skoolstoorkamer gevind. Sy is as vermis aangemeld nadat sy haar saamrygeleentheid verpas het en nie by die huis in Grabouw opgedaag het nie.
Nel is glo sewe keer met 'n skerp voorwerp in haar rug, bolyf en nek gesteek, wat noodlottig was. Daar word vermoed dat sy nie in die stoorkamer vermoor is nie, maar daarheen gesleep is nadat sy gesteek is, moontlik vanaf 'n toilet.
Nasleep 'n 17-jarige medeleerling, wat 'n vriend van Nel was, is op die aand van 16 Augustus in hegtenis geneem en van haar moord aangekla.
Die polisie het ook die resultate van 'n lykskouing en patologiese toetse afgewag om te bepaal of sy verkrag is.
Die moord is wyd as "sinloos" beskryf en het skok en verontwaardiging in die gemeenskap veroorsaak.
Nel se troosdiens was op 16 Augustus by die NG Kerk Caledon Moedergemeente gehou.
Aanklagte Die beskuldige het sy eerste verskyning in die Caledon-landdroshof op 18 Augustus 2024 gemaak waar hy van moord aangekla was. Die saak is verskeie kere uitgestel vir verdere ondersoek, op 24 April 2025 het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) verklaar dat die saak uitgestel is vir 'n forumbesluit. Die saak is oorgeplaas van die landdroshof na die Wes-Kaapse hooggeregshof. Die beskuldigde het sy eerste verskyning in die hooggereshof op 12 September 2025 gemaak.
Die NVG het bevestig dat die beskuldigde nie tans borgtog sal aanvra nie, en die NVG sal borgtog teenstaan indien hy wel aansoek doen.
Gemeenskapslede en betogers het tydens hofverskynings buite die hofgebou bymekaargekom en geregtigheid vir Nel geëis.
Beskuldigde Die beskuldigde se identiteit word weerhou omdat hy 'n minderjarige is en kan nie genoem of gefotografeer word nie. Die verrigtinge is agter geslote deure gehou as gevolg van sy minderjarige status.
Hy is in 'n plek van veiligheid aangehou en het 'n 30-dae psigiatriese evaluasie by die Valkenburg-hospitaal ondergaan. Die assessering het bevestig dat hy geskik is om verhoor te word.
Vorige verkragtingsaak Die beskuldigde se geskiedenis van seksuele aanranding teen 'n 11-jarige meisie in 2020 het 'n groot rol gespeel in die publieke gesprek rondom die hofverrigtinge en eise vir geregtigheid. 'n Mosselbaaise landdros het destyds die 2020-verkragtingsaak geskrap, ten spyte van waarskuwings van 'n psigiater en kliniese sielkundige van Valkenburg-hospitaal dat die beskuldigde 'n "hoë risiko vir herhaaldelike oortreding [en] voortgesette gebruik van fisieke geweld" gehad het.
Vonnis Die beskuldigde is in Oktober 2025 tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy in ‘n pleitooreenkoms gebieg het hoe hy Nel aangerand, doodgesteek en haar lyk weggesteek het om die moord te verberg.
Verwysings
Kategorie:Moord in Suid-Afrika Kategorie:Hofsake