Die Drakensbergse Nasionale Botaniese Tuin is ‘n reservaat vir hoogliggende flora.

Hierdie gebied is 5 km oos van Harrismith, 114 ha geleë aan die voet van die Platberg en 350 ha op die kruin van die berg. Dit het ‘n gemiddelde hoogte van 1700 m bo seespieël, ondervind ‘n jaarlikse temperatuurspeling van tussen die 14º en 36º C en ‘n gemiddelde reënval van 750 mm.

In die beskermde gebied word gekonsentreer op die flora van die Drakensberge vanaf die bergagtige dele van die Oos-Kaap tot in die verre noordoostelike dele van die land. Die Brunsvigia natalensis en die bedreigde kroonaalwyn is hier te sien.

Die gootste aangeplante gedeelte van die Drakensbergtuin is in die berggordel (1200 tot 1800 m bo seevlak). Hier is al 100 voëlspesies waargeneem en grysduikers en dassies kom volop voor. Verskeie wandelpaaie o.a. deur digte ouhout (Leucosidae sericea), verby mooi rotsformasies en stroompies is uitgelê. In ‘n herbarium is 2000 Drakensbergse plantspesies uitgestal. Daar is ‘n bouval van ‘n Engelse blokhuis wat die watervoorsiening aan Harrismith tydens die Tweede Vryheidsoorlog moes beskerm.

In Mei 1967 is hierdie botaniese tuin gestig.

Bronnelys Dove, Darien: Blomjuweel van die Oranje-Vrystaat. Drakensberg Nasionale Botaniese Tuin. In: Custos. Deel 14, nr. 12, Maart 1985. ISSN 0379-9921

Verwysings

Kategorie:Suid-Afrikaanse nasionale botaniese tuine Kategorie:Vrystaat