WISE 0855-0714 (volle naam WISE J085510.83-071442.5, of W0855 vir kort) is 'n bruindwerg van spektraaltipe Y wat sowat 7,4 ligjare van die Aarde af in die sterrebeeld Noordelike Waterslang lê. Dit is die vierde naaste ster of bruindwerg van die Son af en is in 2013 ontdek van data van die Wide-field Infrared Survey Explorer (WISE).
Teen 285 kelvin is dit die koudste bruindwerg wat nog ontdek is. Dit het 'n geraamde massa van tussen 3 en 10 Jupitermassas, wat dit 'n planetêremassavoorwerp maak wat kleiner is as die 13 Jupitermassas wat nodig is om deuterium te verbrand.
Waarnemings Omdat WISE 0855-0714 'n geïsoleerde voorwerp is, kom sy ligsterkte hoofsaaklik van termiese bestraling. Die voorwerp se temperatuur is rofweg so laag soos kamertemperatuur, wat beteken sy ligsterkte is baie laag en dit straal hoofsaaklik infrarooi lig uit. WISE 0855-0714 is uiters dof, met 'n skynbare magnitude van 26,3. Sy helderheid neem af met afnemende golflengtes en dit is dus prakties gesproke onsigbaar in sigbare lig.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Bruindwerge Kategorie:Noordelike Waterslang Kategorie:Weesplanete