Hans Walter Hugo Busch (27 Februarie 1884 in Jüchen, Noordryn-Wesfale, Duitsland – 16 Februarie 1973 in Darmstadt, Hesse) was 'n Duitse fisikus. Hy was 'n pionier van elektronoptika en het die teoretiese basis vir die elektronmikroskoop gelê.
Vanaf 1904 tot 1905 studeer hy fisika in Straatsburg, van 1905 tot 1906 in Berlyn en van 1907 tot 1911 fisika en toegepaste fisika in Göttingen. Hy was toe assistent vir toegepaste elektriese ingenieurswese in Göttingen. Hy het sy doktorsgraad in 1911 aan die Universiteit van Göttingen ontvang. In 1920 het hy op kampus gebly en was 'n privaatdosent van fisika en toegepaste fisika. In 1921 was hy Privatdosent in Jena. In 1922 het hy medeprofessor in Jena geword. In 1929 word hy professor aan die Technische Hochschule (TH) in Charlottenburg (nou Technische Universität Berlin). In 1930 word hy professor in Elektriese Ingenieurswese aan die TH Darmstadt (nou Technische Universität Darmstadt) en van 1933 tot 1934 was hy die rektor van die universiteit. Van 1937 tot 1939 en 1944 tot 1947 was hy die Dekaan van die Departement Elektriese Ingenieurswese van die TH Darmstadt. Busch het 'n beskermlid van die SS geword. In 1940 het Busch en sy span begin werk aan data-oordrag in die Peenemünde weermag-navorsingssentrum. Vir hierdie werk het hy in 1942 die Oorlogsverdienste-kruis ontvang. Van 1944 tot 1945 was hy terselfdertyd dekaan van die Departement Meganiese Ingenieurswese. In 1952 word hy emeritusprofessor.
Ernst Ruska het 'n referaat deur Busch in die akademiese joernaal Archives Elektrotechnik gelees waar Busch voorgestel het dat magnetiese velde gebruik kan word om strale elektrone te fokus soortgelyk aan hoe lig deur optiese lense gebreek word. Sy bewys dat 'n elektronstraal met 'n klein hoek na 'n punt gefokus kan word deur 'n silindriese magnetiese lens was die basis vir die ontwikkeling van die transmissie-elektronmikroskoop deur Ruska en Knoll.
Ter erkenning van sy werk in die veld, is Busch eenparig verkies as 'n eregenoot van die Duitse Vereniging vir Elektronmikroskopie op sy eerste vergadering in 1949.
Verwysings
Kategorie:Sterftes in 1973 Kategorie:Geboortes in 1884