Anne Frank (12 Junie 1929 – Maart 1945) was 'n Joodse meisie, gebore in Frankfurt am Main in Duitsland. Sy het postuum internasionale bekendheid verwerf met die publikasie van haar dagboek, waarin sy haar ervaringe tydens die Duitse besetting van Nederland tydens die Tweede Wêreldoorlog aangeteken het. Die boek is later tot ’n toneelstuk en rolprent verwerk.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013,
Anne het in 1933 saam met haar familie na Amsterdam verhuis, na die Nazi's se gesag in Duitsland versterk het. Met die Duitse besetting van Nederland, wat in 1940 begin, was hulle daar vasgevang: siende dat die vervolging van die Joodse bevolking toegeneem het, het die familie in Julie 1942 ondergronds gaan skuil in 'n weggesteekte kamer van 'n kantoorgebou van haar vader, Otto Frank. Na twee jaar is hulle, saam met ander mense wat geskuil het, verraai en weggevoer na 'n konsentrasiekamp. Anne Frank het sewe maande ná haar arrestasie aan tifus gesterf in die Bergen-Belsen-konsentrasiekamp in Nedersakse, slegs enkele dae ná die dood van haar suster, Margot Frank. Haar vader, die enigste oorlewende van die groep, het ná die oorlog na Amsterdam teruggekeer, waar hy ontdek het dat haar dagboek behoue gebly het. Sy pogings het in 1947 tot die publikasie daarvan gelei. Dit is uit die oorspronklike Nederlands deur Lina Spies vertaal en vir die eerste keer in 2007 in Afrikaans uitgegee as Die Agterhuis.Frank, A (vertaal deur Lina Spies). Die Agterhuis. Proteaboekhuis, 2000,
Die dagboek, wat Anne op haar dertiende verjaarsdag ontvang het, beskryf haar lewensloop van 12 Junie 1942 tot 1 Augustus 1944. Dit is reeds in baie ander tale vertaal en is een van die wêreld se mees gelese boeke, asook die basis vir verskeie rolprente en toneelstukke. Die kwaliteit van Anne Frank se skryfwerk is ook erken en sy het deur die jare ontwikkel tot een van die bekendste en mees bespreekte slagoffers van die Joodse volksmoord.
Vroeë lewe Sy is op 12 Junie 1929 as Annelies Marie Frank in Frankfurt, Duitsland gebore, as die tweede dogter van Otto Frank (1889–1980) en Edith Frank-Holländer (1900–1945). Margot Frank (1926–1945) was haar ouer suster.Müller, Family tree, preface to Chapter One Die Frank-gesin was liberale Jode wat in 'n geassimileerde gemeenskap van Jode en nie-Jode gewoon het: hulle kinders het saam met Rooms-Katolieke, Protestantse en Joodse maats grootgeword. Die gesin het ook nie al die gewoontes en tradisies van Judaïsme nageleef nie.Van der Rol and Verhoeven, p. 10 Edith Frank was die meer gelowige ouer, terwyl Otto Frank, 'n gedekoreerde Duitse offisier van die Eerste Wêreldoorlog, geïnteresseer was in akademiese studies en 'n uitgebreide biblioteek besit het; beide ouers het hulle kinders aangemoedig om te lees.Lee, p. 17
'n Verkiesing vir die munisipale raad is op 13 Maart 1933 in Frankfurt gehou, wat Adolf Hitler se Nazi-party gewen het. Antisemitiese (anti-Joodse) betogings het gou daarna begin plaasvind en die Frank-gesin het gevrees oor hul uiteindelike lot, indien hulle in Duitsland sou vertoef. Later daardie jaar het Edith en die kinders na Aken, op die westelike grens van Duitsland, verhuis, waar hulle saam met Edith se moeder, Rosa Holländer, gebly het. Otto Frank het in Frankfurt gebly, maar na hy 'n aanbod ontvang het om 'n besigheid in Amsterdam te begin, het hy daarheen verhuis om die besigheid te organiseer en blyplek vir sy familie te reël.Lee, pp. 20–23 Die Frank-gesin was deel van sowat 300 000 Jode wat tussen 1933 en 1939 uit Duitsland gevlug het.Van der Rol and Verhoeven, p. 21
duimnael|Die woonstelgebou op die Merwedeplein waar die Frank-gesin van 1934 tot 1942 gewoon het. Otto het by Opekta begin werk, 'n besigheid wat die vrugte-ekstrak pektien (plantjellie) verkoop het, en 'n woonstel gekry op die Merwedeplein in Amsterdam. Teen Februarie 1934 was Edith en hul kinders ook in Amsterdam. Die twee meisies is by skole ingeskryf: Margot by 'n publieke skool en Anne by 'n Montessori-skool. Margot het vaardigheid in rekenkunde getoon en Anne 'n aanleg vir lees en skryf. Anne se vriendin Hannah Goslar het later onthou hoe Anne van jongs af reeds dikwels geskryf het, maar haar werk met haar hande toegehou het en geweier het om die inhoud van haar werk te bespreek. Margot en Anne het duidelik verskillende persoonlikhede gehad: Margot was goedgemanierd, terughoudend en leergierig,Müller, p. 131 terwyl Anne meer openhartig, energiek en ekstrovert was.Müller, pp. 129–35
Otto het in 1938 'n tweede bedryf begin: Pectacon, 'n groothandelaar in kruie, pekelsoute en gemengde speserye, wat gebruik is in die vervaardiging van wors.Müller, p. 92Lee, p. 40 Herman van Pels, wat later saam met die gesin sou wegkruip, was 'n werknemer by Pectacon, waar hy advies gegee het oor speserye. Hy was 'n Joodse slagter wat saam met sy gesin uit Osnabrück, Duitsland, gevlug het. In 1939 het Edith se moeder by die Frank-gesin ingetrek en by hulle gebly tot en met haar dood in Januarie 1942.Müller, pp. 128–130
Duitsland het Nederland in Mei 1940 binnegeval en die besettingsregering het begin met die vervolging van Jode deur die implementering van beperkende en diskriminerende wette, verpligte registrasie en rasseskeiding het gou gevolg. Margot en Anne het in hulle studies uitgeblink en baie maats gehad, maar 'n edik is uitgevaardig waarkragtens Joodse kinders slegs Joodse skole kon bywoon en die kinders is by die Joodse skool (of Lyceum) ingeskryf. In April 1941 het Otto, in 'n poging om te keer dat Pectacon as 'n Joodse besigheid gekonfiskeer word, sy aandele in die bedryf aan Johannes Kleiman oorgedra en bedank as direkteur. Die besigheid is gelikwideer en alle bates oorgedra aan Gies & Co, onder leiding van Jan Gies. Otto het in Desember 1941 'n soortgelyke proses gevolg om Opekta te red. Die besighede is met min merkwaardige veranderinge voortgesit en hulle voortgang het vir Otto Frank 'n klein inkomste beteken, waarmee hy vir sy gesin kon voorsien.Müller, pp. 117-118
Met die ingebruikneming van 'n Duitse wet uit 1941 is alle Jode wat uit Duitsland gevlug het, insluitende die Frank-gesin, van burgerskap ontneem. Anne Frank sou die res van haar lewe staatloos bly.
Tydsverloop in haar dagboek aangeteken
Voor onderduiking Anne het op 12 Junie 1942 'n dagboek vir haar dertiende verjaardag ontvang; dit was 'n boek wat sy 'n paar dae vantevore aan haar vader in 'n winkelvenster uitgewys het. Dit was in werklikheid 'n handtekeningboek, gebind met rooi-en-groen geruite wol en met 'n klein slot op die voorkant, maar Anne het besluit om dit as 'n dagboek te gebruikLee, p. 96 en byna onmiddellik haar eerste inskrywing gemaak. Alhoewel baie van haar vroeë inskrywings die meer alledaagse aspekte van haar lewe beskryf, bespreek sy ook sommige van die veranderinge wat in Nederland plaasgevind het sedert die Duitse besetting. In die inskrywing van 20 Junie 1942 noem sy baie van die beperkings wat op die lewens van die Nederlandse Joodse bevolking geplaas is en vertel sy ook van haar smart rondom die dood van haar ouma, vroeër daardie jaar.Frank en Massotty, pp. 1–20 Anne het daarvan gedroom om 'n aktrise te word. Sy was mal oor rolprente, maar toegang tot rolprentteaters is die Nederlandse Jode op 8 Januarie 1941 verbied.Müller, Melissa. Anne Frank: The Biography Macmillan, 1998. pp. 119-120
In Julie 1942 het Margot Frank 'n mededeling van die Zentralstelle für jüdische Auswanderung ("Sentrale departement vir Joodse emigrasie") ontvang, waarin sy beveel word om te rapporteer vir verplasing na 'n werkkamp. Otto het aan Anne vertel dat die gesin sou wegkruip in 'n kamer bo en agter die Opekta-gebou in Prinsengracht, 'n straat langs een van Amsterdam se kanale, waar sommige van sy mees vertroude werknemers hulle sou help. Die rapporteringsbevel aan Margot het beteken dat hulle 'n aantal weke vroeër moes verhuis as wat hulle verwag het.Müller, p. 153
Lewe in die Achterhuis duimnael|Heropbouïng van die boekrak wat die ingang na die geheime solder verberg het. Die gesin het op Maandagoggend, 6 Julie 1942, na die geheime skuiling te Prinsengracht 263 verhuis; Anne was 13 jaar oud.Müller, p. 163 Hulle woonstel is in wanorde agtergelaat, om die indruk te skep dat hulle skielik weggegaan het. Otto het 'n nota agterlaat waarop daar geïnsinueer word dat hulle na Switserland gevlug het. Die behoefte aan geheimsinnigheid het genoodsaak dat hulle Anne se kat, Moortje, moes agterlaat. Siende dat Jode nie toegelaat is om van openbare vervoerstelsels gebruik te maak nie, het hulle etlike kilometers ver moes loop. Elke lid van die gesin het 'n aantal lae klere gedra, aangesien hulle dit nie kon waag om met bagasie gesien te word nie.Lee, pp. 105–106 Die "achterhuis" was 'n drieverdieping ruimte, met die ingang op 'n soldervloer bo die kantore van Opekta. Twee klein kamers, met 'n aangrensende badkamer en toilet, was op die eerste verdieping; bo dié kamers was 'n groter oop ruimte, met 'n klein kamer langs dit. 'n Klein leer het vanuit die kleiner kamer tot die solder gelei. Die deur na die agterhuis is later deur 'n boekrak verberg, om seker te maak dat dit nie ontdek word nie. Die hoofgebou, ongeveer 'n blok vanaf die Westerkerk, was onmerkwaardig: 'n ou gebou, tipies soos die ander geboue in die westelike dele van Amsterdam.Westra, pp. 45 and 107–187
Victor Kugler, Johannes Kleiman, Miep Gies, en Bep Voskuijl was die enigste werknemers wat geweet het dat die gesin daar geskuil het en was, saam met Miep se man, Jan Gies, en Voskuijl se vader, Johannes Hendrik Voskuijl, die gesin se "helpers" tydens hul onderduiking. Hierdie kontakpersone was die enigste verbinding tussen die bewoners van die agterhuis en die buitewêreld en hulle het die Frank-gesin ingelig oor oorlogsnuus en politieke ontwikkelings. Daar is aan hulle behoeftes voorsien, hulle is veilig gehou en van kos voorsien, iets wat mettertyd al hoe moeiliker geword het. Anne het oor hulle toewyding geskryf en oor hulle pogings om almal in die huis op te beur tydens die gevaarlikste tye. Almal het geweet dat, indien hulle gevang word, hulle die dood in die gesig sou staar: die verskuiling van Jode was strafbaar met die dood.Lee, pp. 113–115
duimnael|links|200px|Die huis (links) in Prinsengracht in Amsterdam. Die Pels-gesin het op 13 Julie 1942 by die Frank-gesin aangesluit; Hermann, Auguste en 16-jaar oue Peter van Pels. In November het Fritz Pfeffer, 'n tandarts en vriend van die familie, ook daar skuiling kom soek. Anne het geskryf oor haar genoeë rakende nuwe mense om mee te gesels, maar dit het nie lank geduur voor daar spanning ontwikkel het tussen mense wat geforseer word om in sulke beperkte ruimtes te woon nie. Na Anne haar kamer met Pfeffer moes deel, het sy hom as onuitstaanbaar geag en 'n hekel gehad aan sy indringing.Lee, pp. 120–21 Sy het ook rusies gehad met Auguste van Pels, wie sy as dwaas beskou het. Sy het Hermann van Pels en Fritz Pfeffer as selfsugtig beskou, veral ten opsigte van die hoeveelheid voedsel wat hulle geëet het.Lee, p. 117 Alhoewel sy aanvanklik nie ten gunste van die skaam en lomp Peter van Pels was nie, het sy later 'n affiniteit vir hom ontwikkel en die twee het 'n romantiese verhouding begin. Sy het haar eerste soen van hom ontvang, maar die kalwerliefde het gekwyn namate sy haarself afgevra het of haar gevoelens vir hom eg is, of bloot ontstaan het vanweë hul gedeelde gevangenisskap.Westra, p. 191 Anne het 'n noue band met elk van die helpers ontwikkel en Otto Frank het later onthou hoe sy hulle daaglikse besoeke met ongeduldige entoesiasme afgewag het. Hy het genoem dat Anne 'n besonders gehegte vriendskap met Bep Voskuijl gehad het, "die jong tikster... die twee van hulle het dikwels in die hoekie gestaan en fluister".Lee, p. 119