Die Olimpiese Somerspele 2012 (Engels: 2012 Summer Olympics), amptelik bekend as die Spele van die XXXste Olimpiade, is tussen 27 Julie en 12 Augustus 2012 in Londen, Verenigde Koninkryk, aangebied. Tydens die geleentheid het 10 568 atlete uit 204 nasies aan 302 items in 26 verskillende sportsoorte deelgeneem. Danksy die insluiting van vroueboks was daar vir die eerste keer in alle sporte vroulike deelnemers. Saoedi-Arabië, Katar en Broenei het vir die eerste keer vroulike atlete gestuur, sodat elke land wat tans in aanmerking kom, 'n vroulike mededinger na minstens een Olimpiese Spele gestuur het.

duimnael|links|Die Olimpiese Stadion in Londen Dit was die dertigste aanbieding van die Somerspele sedert 1896. Dit was ook die derde keer dat Londen die spele georganiseer het na hulle eerste spele in 1908 en daarna in 1948. Daarmee het Londen die eerste stad geword wat driemaal Olimpiese Somerspele aangebied het. Naas Londen was Parys, Madrid, New York Stad en Moskou kandidate vir die organisasie van die 2012-Somerspele.

Die opening- en sluitingseremonies het in die Olimpiese Stadion plaasgevind. Soos gebruiklik het die lande in alfabetiese volgorde die stadion ingestap met Griekeland die eerste en die gasheer die Verenigde Koninkryk die laaste, maar aangesien die plaaslike taal Engels is, is dié taal se alfabet gebruik om die volgorde te bepaal. Caster Semenya, atleet en Wêreldkampioen tydens die Atletiekwêreldbeker in 2009, het die Suid-Afrikaanse vlag ingedra.

Vir die Olimpiese Somerspele 2012 is die 200 ha Queen Elizabeth Olympic Park in Stratford opgerig. Die Spele het ook gebruik gemaak van plekke wat reeds voor die bod bestaan het. Hierdie Olimpiese Somerspele word algemeen as 'n groot sukses beskou, met stygende standaarde van kompetisie onder nasies regoor die wêreld, verpakte stadions en gladde organisasie. Verder is die fokus op nalatenskap en na-wedstryd-volhoubaarheid as 'n bloudruk vir toekomstige Olimpiese Spele beskou.

Die Paralimpiese Somerspele 2012 is tussen 29 Augustus en 9 September in Londen gehou.

Toewysing duimnael|links|upright|Sebastian Coe, hoof van Londen se bod-komitee duimnael|400px|Kaart van die kandidaatstede vir die Olimpiese Somerspele 2012: Londen is op 6 Julie 2005 in Singapoer deur die Internasionale Olimpiese Komitee gekies as die gasheer vir die Olimpiese Somerspele in 2012. Ander kandidate was: Parys, New York, Madrid en Moskou. In die eerste ronde het Moskou uitgeval, in die tweede ronde New York, in die derde ronde Madrid, en uiteindelik ook Parys.

Die stemming het as volg verloop: Stemming vir gasheer van die Olimpiese Somerspele 2012 Stad Land Rondte 1 Rondte 2 Rondte 3 Rondte 4 Londen 22 27 39 54 Parys 21 25 33 50 Madrid 20 32 31 — New York 19 16 — — Moskou 15 — — —

Akkommodasie duimnael|Wembley-stadion, waar die meeste sokkerwedstryde plaasgevind het duimnael|Lord’s Krieketgronde duimnael|Die O2 duimnael|Centre Court by Wimbledon duimnael|Engelse Kanaal by Weymouth Terwyl die beplande besteding aan die Spele in sommige kringe kritiek uitgelok het, het ander die herontwikkeling van baie stadsdele in Londen, waar Olimpiese wedstryde sal plaasvind, verwelkom – veral omdat die meeste infrastruktuurprojekte volgens die konsep van volhoubaarheid verwesenlik is. news.bbc.co.uk: London plan at-a-glance, 5 Oktober 2005 Byna 90 persent van alle nuwe geriewe en die benodigde infrastruktuur was reeds in Julie 2011 voltooi – een jaar voor die begin van die Spele en sonder dat die beplande begroting oorskry is. www.london2012.com: Building London 2012 Die laaste skatting van die totale koste in 2007 was egter aansienlik hoër as die oorspronklike beplande begroting.

Die hooffokus van die Spele was nuwe Olimpiese Park met 'n oppervlakte van 200 hektaar wat op 'n voormalige nywerheidsterrein in Stratford oos van Londen ontstaan het. Vir die Spele is ook verskeie sportgeriewe gebruik wat reeds voor en onafhanklik van Londen se kandidatuur bestaan het.

Akkommodasie Funksie Queen Elizabeth Olympic Park Die hoofligging van die Spele geleë in Stratford met 'n getal nuwe sportsentra, die Olimpiese dorp en die sentrale Olimpiese Stadion. Die openbare vervoernetwerk rondom die naasliggende Stratford-stasie, is uitgebreid om die groot getal reisigers effektief te kan vervoer. Olimpiese Stadion Hoofligging waar die begin- en eindseremonie opgevoer en veldatletiek beoefen is. Basketball Arena Basketbal en handbal (eindstryde en halfeindstryde) Copper Box Handbal, moderne vyfkamp, skermsport en skyfskiet London Aquatics Centre Sierduik, gesinchroniseerde swem, swem en die eindstryd van waterpolo London Velopark BMX en Baanfiets Olympic Hockey Centre Veldhokkie Earls Court Vlugbal ExCeL Exhibition Centre Boks, gewigoptel, judo, skermsport, taekwondo, tafeltennis en stoei Greenwich Park Ruitersport (dressuur, eventing en springconcours) Hadleigh Country Park Bergfiets Horse Guards Parade Strandvlugbal Hyde Park Driekamp, swem (oopwater) Lord’s Krieketgronde Boogskiet Regent's Park Padfietswedrenne Royal Artillery Barracks Skyfskiet The O2 Arena Basketbal (eindstryde) en gimnastiek Wimbledon Tennis Wembley-stadion Sokker (eindstryde) Wembley Arena Pluimbal Lee Valley White Water Centre Kanovaart (slalom) Dorney Lake van Eton-kollege Kanovaart (sprint), Roei Engelse Kanaal by Weymouth Seilvaart

Die "Olympic Park" is ná afloop van die Spele, in 2013, na koningin Elizabeth genoem en staan nou bekend as Queen Elizabeth Olympic Park. Games site renamed the Queen Elizabeth Olympic Park, BBC, 7 Oktober 2010

Vervoer duimnael|'n Olympic Javelin-pendeltrein in St. Pancras-stasie Die uitbreiding van Londen se openbare vervoerstelsel was 'n belangrike element van Londen se kandidaatskap. Transport for London (TfL) het met die oog op die Olimpiese Spele 'n verskeidenheid verbeterings aan die vervoerinfrastruktuur aangebring, waaronder die verlenging van die East London Line, wat deel uitmaak van die bogrondse spoornetwerk, asook die uitbou van die Docklands Light Railway en die North London Line. Op die hoëspoed-spoorweglyn High Speed One sal 'n pendeldiens bedryf word wat as Olympic Javelin bekend staan. Volgens Network Rail is tydens die Olimpiade 4 000 bykomende treinverbindings asook langer treinstelle beskikbaar gestel.

Sowat 240 000 besoekers per uur kan na die twee nuwe treinstasies in die Olimpiese Park, Stratford International en Stratford, vervoer word. Ook alle ander wedstrydplekke word deur spoorvervoer (treine, moltreine en Docklands Light Railway) met ander stadsdele verbind. 'n Sweefspoor tussen die O2 Arena en die ExCel Exhibition Centre, die Emirates Air Line, is op 28 Junie 2012 in bedryf gestel.

Die meeste wedstrydplekke is binne kort ryafstande geleë. Reistye na wedstryde het vir 80 persent van alle atlete minder as 20 minute beloop, en 93 persent van deelnemers kon hul oefenterreine in minder as 'n halfuur bereik. Ook padvervoer is vir deelnemers en amptelike verteenwoordigers vergemaklik – 'n Olympic Route Network met 'n totale lengte van 170 km is geskep waarvolgens rylane op belangrike hoofroetes tussen die Olimpiese dorp en wedstrydplekke vir Olimpiade-deelnemers gereserveer is.

Veiligheid duimnael|'n Rapier-vuurpyllanseerder Die streng veiligheidsmaatreëls, wat deur die Britse polisiediens getref word en waarvoor 10 000 polisiebeamptes en 13 500 weermaglede ontplooi is, is as die grootste vredestydse veiligheidsoperasie in die Britse geskiedenis beskryf. Spele: Britte reg vir enige konflik. In: Beeld, 6 Junie 2012 Vloot- en lugmageenhede is ter beskerming van die Spele aangewend, en terwyl vlootskepe in die Teemsrivier gestasioneer is, is Eurofighter-vegvliegtuie, helikopters en lugafweermissiele (waaronder Rapier-vuurpyllanseerders) ontplooi om moontlike lugaanvalle af te weer.

Vanaf 14 Julie is 'n gedeeltelike lug-spersone oor Londen ingestel. Die amfibiese aanvalskip HMS Ocean, wat in die Teems voor anker lê, het as helikopter-landingsblad, logistiese basis en verblyfplek vir 800 soldate gedien. Die koste vir hierdie veiligheidsoperasie het van 'n oorspronklik beraamde £282 miljoen gestyg tot £553 miljoen.

In Julie 2012 het nuus oor die probleme, wat die privaat veiligheidsmaatskappy G4S by die werwing van geskikte personeel ondervind het, bekend geword. Die leemte moes met 3 500 Britse weermaglede gevul word.

Medaljes duimnael|Die Sloweense atleet Urška Žolnir wys haar goue medalje Vir die Spele is sowat 4 700 medaljes deur die Koninklike Munt te Llantrisant in Wallis vervaardig. Hulle is deur David Watkins (Olimpiese Spele) en Lin Cheung (Paralimpiese Spele) ontwerp. Feitlik alle goud, silwer en koper wat in die vervaardiging gebruik is, is in Salt Lake County in die Verenigde State ontgin.

Elke medalje weeg tussen 375 en 400 gram (13,2–14,1 ons), het 'n deursnee van 85 mm (3,34 duim) en is 7 mm (0,27 duim) dik. 'n Gravure op die rand verwys na die betrokke sport en dissipline. Volgens 'n ou tradisie is Nike, die Griekse godin van oorwinning, op die voorkant uitgebeeld. Sy stap uit die Atheense Panathinaiko-stadion, waar die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 gehou is, met die Parthenon-tempel in die agtergrond. Die agterkant toon die kenteken van die Spele, die Teemsrivier en 'n reeks lyne wat "die energie van atlete en 'n saamstaan-gees" versinnebeeld. Die medaljes is op 2 Julie na die Londense Tower se gewelwe geneem waar hulle tot die aanvang van die Spele bewaar is.

Elke goue medalje is uit 'n legering van 92,5 persent silwer, 1,34 persent goud asook koper saamgestel. Die silwermedaljes is van silwer (92,5 persent) en koper gemaak. Die bronsmedaljes is uit 'n legering van koper (97 persent), sink (2,5 persent) en tin (0,5 persent) saamgestel. Die goue medalje se materiële waarde word op $644 beraam (volgens markpryse wat op 30 Julie 2012 vasgestel is), dié van die silwermedalje op $330 en dié van die bronsmedalje op $4,71.

Simboliek Kenteken duimnael|Die Londense Tower Bridge met die Olimpiese ringe Die Olimpiese Spele se kenteken is deur die konsultasieonderneming Wolff Olins ontwerp en op 4 Junie 2007 aan die publiek bekend gestel. Die kenteken, wat teen 'n koste van £400 000 ontwikkel is en op glasskerwe lyk, is 'n abstrakte weergawe van die jaargetal 2012 waarby die Olimpiese ringe in die nul-syfer en die woord London in die syfer 2 bo-aan ingebed is. Hierdie kenteken sal met klein wysigings ook vir die Paralimpiese Spele 2012 gebruik word. Die standaardkleure is groen, magenta, oranje en blou, maar enige ander kleurkombinasie kon ook gebruik word sodat borge die kenteken maklik aan hul spesifieke behoeftes kon aanpas. BBC: London unveils logo of 2012 Games

Kort na sy bekendstelling het die kenteken negatiewe reaksies by die publiek uitgelok. Binne enkele ure het tienduisende Britte 'n petisie onderteken waarin beswaardes die organiseerders versoek het om 'n nuwe kenteken te ontwerp. 'n Getal dagblaaie het hul eie kompetisies gehou waartydens lesers hul ontwerpe kon indien.

In Februarie 2011 het ook Iran se Nasionale Olimpiese Komitee beswaar teen die kenteken aangeteken wat volgens hulle baie op die woord "Zion" sou lyk en dus as rassisties beskou kon word. Zion ist überall. In: taz, 1 Maart 2011

Gelukbringers duimnael|Wenlock en Mandeville Wenlock en Mandeville is as amptelike gelukbringers vir die Olimpiese en die Paralimpiese Spele gekies. Die twee figuurtjies is op 19 Mei 2010 aan die publiek bekend gestel.

Wenlock en Mandeville beeld twee staaldruppels in 'n menslike gedaante uit en word met die staalbedryf in Bolton in Groter Manchester verbind. Hul name gaan terug op die klein nedersetting Much Wenlock in die graafskap Shropshire naby die Walliese grens, waar reeds in 1850 die Wenlock Olympian Society Annual Games as voorloper van die moderne Olimpiese Spele gehou is, en Stoke Mandeville, 'n nedersetting in Buckinghamshire wat as gasheer van die eerste Paralimpiese Spele opgetree het. Dr. Brookes en die gelukbringer, in: Beeld, 21 Julie 2012