Teheran (Persies: تهران, Tehrān, ), die hoofstad van Iran, is in die gelyknamige provinsie in die noorde van die land geleë. Met 'n bevolking van meer as 15 miljoen in die metropolitaanse gebied is dit ook die grootste stad in die land en een van die grootste metropole ter wêreld.

Die stad, wat teen die hellings van die Elboers-bergreeks en aan die voet van die rustende vulkaan Damavand geleë is (hierdie piek op 'n hoogte van verrys sowat 80 km noordoos van Teheran), en in die noorde deur die hellings van die bergpiek Towchal (byna bo seespieël) begrens word, is eers sowat twee eeue gelede tot die hoofstad van Iran verhef. Intussen het die stad tot die land se belangrikste ekonomiese en wetenskaplike sentrum gegroei.

Die huidige stadsgebied beslaan sowat 730 km². Vanweë hul ligging temidde van berghellings is Teheran se stadsdele teen verskillende hoogtes geleë. Die suidelike stadsdele grens aan die Dasht-e Kevir-soutwoestyn en is sowat bo seevlak geleë, die stadsentrum ietwat hoër teen sowat bo seevlak en die welvarende noordelike voorstede, waar tradisioneel die meeste regeringsgeboue en ambassades geleë is, teen bo seevlak. Teheran het 'n klimaat met vier seisoene – warm somers, koue winters, en relatief kort lentes en najare.

duimnael|links|Teheran – 'n metropool temidde van berge Die meeste arm Teherani's, soos die hoofstadbewoners in Iran genoem word, is in die suidelike stadsgebied saamgetrek wat in vergelyking met die noordelike stadsdele deur 'n warmer, minder aangename klimaat gekenmerk word. Die noorde was van ouds die gewildste woongebied vir Teheran se welgesteldes.

Teheran is die administratiewe, ekonomiese, kulturele en vervoermiddelpunt van Iran wat met sy stedelike leefstyl en die groot verskeidenheid werkgeleenthede steeds meer nuwe aankomelinge lok. Sodoende het die stad van 'n beskeie nedersetting met 'n bevolking van omstreeks 15 000 in 1800 tot die middel van die 19de eeu reeds tot 'n belangrike stad met meer as 100 000 inwoners gegroei. In die 1930's het die inwonertal die kwartmiljoenkerf verbygesteek, en volgens die sensus van 1997 was dit in dié jaar al een van die wêreld se grootste metropole met meer as tien miljoen inwoners.

Hierdie ongekende proses van verstedeliking het met ekonomiese vooruitgang en motorisering van groot dele van die bevolking gepaard gegaan, maar het naas sosiale ook ernstige omgewingsvraagstukke veroorsaak. Die uitlaatgasse, wat deur nywerhede en miljoene voertuie in die atmosfeer ingestuur word, belemmer nie net die uitsig op die berge van die omgewing nie, maar lei jaarliks tot duisende sterftes.

Geografie Ligging Teheran is in 'n depressie teen die suidelike hellings van die Elboers-bergreeks en rofweg halfpad tussen die grens met Afghanistan in die ooste en die grense met Turkye en Irak in die weste geleë. Die vrugbare Warāmīn-vlakte suid van Teheran se middestad is 'n belangrike landbougebied wat die stad tradisioneel van graan voorsien. Die klein nedersettings, wat noord van die stad teen die berghellings ontstaan het, soos Qulhak, Tajrīsh en Shamirān, is gesogte somerwoonplekke vir Teherani's.

duimnael|links|Die Amir-Kabir-dam aan die Karadj-rivier is noordwes van Teheran geleë Teheran is by die bouvalle van die bekende antieke nedersetting Rey (soms ook Ray of Rhages genoem) gestig. Tabriz en Mashhad is respektiewelik 550 en 750 kilometer van Teheran af geleë, terwyl Isfahan, die vroeëre hoofstad in die tyd van die Safawiede-bewind, 350 km ten suide lê. Khazar aan die Kaspiese See lê net sowat 100 km noord van die hoofstad. Die Elboers- en Emâmzâdeh Hâshem-bergpasse (meer as 2 700 m bo seevlak) verbind die metropolitaanse gebied met streke noord van die Elboers-bergreeks.

Die meeste van Teheran se varswatervoorraad word deur twee riviere voorsien: die Karadj in die weste van die Teheran-vlakte, en die Djadjroed wat oos van die hoofstad vloei. In die afgelope dekades is langs albei riviere damme opgerig. 'n Besondere kenmerk van Teheran is die djoeb, klein oop kanale wat langs die meeste groot strate en lane loop en deur vars bergwater gevoed word. Teheran se drinkwater kom eweneens uit die omliggende berge en is van hoë gehalte. Mahmoud Rashad: Iran. Geschichte, Kultur und lebendige Traditionen – antike Stätten und islamische Kunst in Persien. Ostfildern: DuMont 2008, bl. 99

Alhoewel Teheran ver van Iran se ander groot stede geleë is, is die stadsgebied van oudsher 'n kruispunt van strategiese handelsroetes wat Anatolië in die huidige Turkye langs die Elboers-reeks met Indië en China asook die suide van Iran met die westelike landsdele en Mesopotamië verbind het. Teheran is tans die grootste metropolitaanse gebied tussen Istanboel in Turkye en Karatsji in Pakistan. Dit strek oor 'n afstand van 250 km in wes-oostelike en van 50 km in noord-suidelike rigting.

Klimaat duimnael|Teheran op 'n sneeuerige dag duimnael|Groen ruimtes in Shahrak Omid Die Iranse hoofstad is in 'n halfdroë kontinentale klimaatstreek geleë. Teheran se klimaat word grotendeels deur sy geografiese ligging tussen die Elboers-bergreeks in die noorde en die sentrale woestyn in die suide bepaal. Sy hoofkenmerke is matige lentes en najare, lang, baie warm en droë somers en kort, maar koue winters. Aangesien die stadsdistrikte op verskillende hoogtes bo seevlak lê, varieer die mikroklimaat van stadsdeel tot stadsdeel. So het die bergagtige noorde van Teheran 'n koeler en aangenamer mikroklimaat as die suidelike stadsdele wat in 'n uitgestrekte plat terrein geleë is.

Somers is algemeen warm tot baie warm met baie min reënval, relatief lae humiditeit en koel nagtemperature. Ligte neerslae val veral tussen laat herfs en midlente, maar geen van hierdie maande is betreklik nat nie. Die gemiddelde jaarlikse reënval is nie hoër as 230 millimeter nie. Die gemiddelde temperatuur in Julie is 30 °C in Suid-Teheran en 25 °C in die noordelike stadsdele, met uiterstes van 40 °C. Die hoogste temperatuur, wat ooit aangeteken is, was 43 °C.

Januarie is die koudste maand van die jaar met 'n gemiddeld van 2 °C in die noorde en 5 °C in die suide. Die laagste temperatuur ooit was -15 °C. Dikwels varieer weerstoestande volgens stadsdele en val nog sneeu in die noorde en weste van Teheran, terwyl bewoners van die suidelike distrikte reeds sonnige weer geniet. Sneeuvalle varieer eweneens van jaar tot jaar. Ná enkele jare met min sneeuval is Teheran op 5 en 6 Januarie 2008 deur 'n kouegolf getref en in 'n dik sneeu- en yslaag gehul sodat die Raad van Ministers op 6 en 7 Januarie 'n noodtoestand moes verklaar.

Die voggehalte van die lug en jaarlikse neerslae het sedert omstreeks 2000 'n opwaartse neiging getoon wat heel waarskynlik aan bebossingsprojekte en die uitbreiding van groen ruimtes, parke en mere in die stadsgebied te danke is. Tans is die welvarende noorde nog aansienlik groener as die suide van Teheran.

Lugbesoedeling duimnael|'n Verkeersopeenhoping by die kruising van Mirdamad- en Valiasr-straat Lugbesoedeling is 'n baie ernstige probleem in die Iranse hoofstad. Teheran is op baie dae in digte rookmis gehul wat skadelike uitwerkings op die gesondheid van sy inwoners het en jaarliks duisende sterftes veroorsaak. Motorvervoer dra 80 persent van die koolstofvrystellings by, die res word aan industriële besoedeling toegeskryf. Jamal Jokar Arsanjani: Dynamic land use / cover change modelling. Springer 2011, bl. 50 Om lugbesoedeling te verminder en die gebruikmaking van openbare vervoer aan te wakker, het die Iranse regering in 2007 met die rantsoenering van petrol begin en pryse aansienlik verhoog.

Lugbesoedeling in Teheran word aan geografiese, ekonomiese en infrastrukturele oorsake toegeskryf. So beperk die massiewe Elboers-bergreeks, wat Teheran in die noorde begrens, die invloei van vogtige lug en winde uit die Kaspiese Seegebied van Noord-Iran. Die kombinasie van ultraviolette straling en skadelike stowwe in die lug dra by tot die verhoging van osoonvlakke.

Terwyl byna die helfte van Iran se groot nywerhede aan die stadsrand van Teheran saamgetrek is, voldoen talle motors nie aan huidige omgewingstaandaarde nie. Vliegtuie op Teheran se besige lughawens is 'n ander belangrike bron van lugbesoedeling in die metropool. Die gebrek aan 'n doeltreffende openbare vervoerstelsel het eweneens nadelige uitwerkings op die luggehalte. Die huidige bus- en moltreinnetwerk dek nie die hele stadsgebied nie sodat baie Teherani's genoodsaak is om òf huurmotors te gebruik òf privaat motors te koop. Verkeersopeenhopings is aan die orde van die dag.

Geologie duimnael|'n Lugfoto van Teheran (2008). Seismiese aktiwiteit is 'n konstante bedreiging vir die stadsgebied Teheran is op die tektonies aktiewe Iranse Hoogplato geleë waar die Indies-Australiese en die Arabiese Plaat teen die Eurasiese Plaat aanstoot. Ligte aardskuddings word gereeld in die stadsgebied gevoel wat op sowat eenhonderd seismiese breuklyne sit. Op 27 Maart 1830 is byna alle geboue in die hoofstad deur 'n hewige aardbewing vernietig wat 7,0 op die Richterskaal gemeet het. Na ramings het 45 000 mense hul lewens in dié ramp verloor. Ander swaar aardbewings het die gebied in 300 v.C. (7,6 op die Richterskaal), 743 (7,2), 855 (7,1), 958 (7,7), 1177 (7,2), 1383 (7,0), 1665 (6,5) en 1815 (7,1) geskud. Laboratoire de Géophysique Interne et Tectonophysique: Microseismicity in the region of Tehran Seismoloë het bereken dat daar gemiddeld elke 150 jaar 'n hewige aardbewing in Teheran te wagte kan wees. Aangesien die laaste groot bewing meer as 150 jaar gelede aangeteken is, is die waarskynlikheid hoog dat die gebied in die nabye toekoms deur só 'n ramp getref kan word.

Vir jare reeds word daar debatte oor die verskuiwing van die regeringsetel gevoer. In 2010 het die Iranse regering bekend gemaak dat die plan om Teheran "om veiligheids- en administratiewe redes" as hoofstad te vervang gefinaliseer is. Die Majlis, die Iranse parlement, het Shahroud, Isfahan en Semnan as die drie hoofkandidaatstede vir só 'n verskuiwing genoem.

Daar is planne om 163 staatsondernemings na ander provinsies van Iran te verskuif, net soos 'n aantal universiteite, om die skade, wat deur 'n potensiële aardbewing berokken kan word, te beperk. Die vroeëre president Mahmoud Ahmadinejad het voorgestel dat vyf miljoen hoofstadbewoners in ander landsdele hervestig word. Iran Moots Shifting Capital from Tehran, 22 November 2006 Die Iranse owerheid het reeds begin om alle verdedigingverwante nywerhede na ander gebiede te verskuif, alhoewel hierdie stap oorwegend om militêre redes onderneem word. presstv.com: Iran relocating defense industry, 7 Augustus 2010

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Teheran se bedrywige basaar in 2016 duimnael|Die Golestan-paleis, regeringsetel tydens die Kadjare-bewind Die eerste verwysing na Teheran kom in geskrifte van die geleerde Abu Abdallah Muhammad ibn Hammad at-Tehrani ar-Razi († 874/875 of 884/885) voor. Teheran was destyds nog 'n nederige dorpie naby die stad Ray wat swaar op vrugtebou gesteun het. Die bewoners was gedeeltelik in ondergrondse grotte of gewelwe gehuisves. Ibn Balchi se Fars-nama, wat tussen 1108 en 1116 ontstaan het, bevat 'n regstreekse verwysing na Teheran, en – soos talle latere dokumente – na die uitstekende gehalte van plaaslik verboude granaatappels.

Teheran het deel uitgemaak van die Boejiede- en Seldjoeke-ryke waar Ray tydelik as regeringsetel gedien het. Hierdie stad met sy belangrike mark is in die 13de eeu onder meer deur die Arabiese aardrykskundige Yaqut beskryf. Nadat dit in 1220 deur Mongole verower en vernietig is, het Teheran se ondergrondse gewelwe as skuilplek vir die bewoners van Ray gedien. Gaandeweg het Teheran nou self tot 'n groter nedersetting ontwikkel wat in 1340 deur die Persiese geograaf en geskiedkundige Hamdallah Mustaufi (1281–1344) beskryf is.

Safawiede- en Zand-prinse