Willem Abraham de Klerk (7 Maart 1917 – 18 Julie 1996) was 'n Afrikaanse skrywer en dramaturg.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Willem_Adriaan_de_Klerk Sy oeuvre bestaan uit eenbedrywe, ander dramas, romans, joernalistieke prosa, jeuglektuur en reisverslae. Sy belang as skrywer word veral gesien as literatuurhistories, alhoewel sy bydrae tot die realisme ook nie ontken moet word nie.
Hy word bekroon met die Scheepersprys vir Jeugliteratuur in 1958, die Nasionale Boekhandelprys vir historiese romans in 1964, die D.F. Malanmedalje en die Hertzogprys (vir Drama) in 1958.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/deklerkwa.html
Saam met Anna Neethling-Pohl skryf hy die briefroman, Van Willem en San onder die skuilnaam Anna Heymans.
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe Willem Abraham de Klerk is op 7 Maart 1917 op Marquard in die Oranje-Vrystaat gebore as seun van die prokureur en later senator Daniël Petrus de Klerk en Anna Sophia Aletta Hamman. Hy het ’n ouer suster, Marie, en ’n jonger broer, Guy. Op jong ouderdom verhuis die gesin na Kaapstad, waar sy vader die eerste Afrikaanse prokureursfirma onder die naam De Klerk en Van Gend open. Sy eerste skooljare bring hy deur in ’n Engelse laerskool in Kaapstad en hy gaan dan na die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad vanaf die eerste dag in 1926 wat hierdie skool sy deure open. Hier toon hy die eerste tekens van sy skryftalent en ’n Engelse opstel oor Travel word jare lank deur die onderwyseres as model gebruik. Die huwelik tussen sy ouers verbrokkel in hierdie tyd. Sy suster word na ’n kosskool gestuur en hy en sy jonger broer bly na die egskeiding by sy vader in die huis, waar ’n bejaarde Duits-Afrikaanse vrou, weduwee van ’n geneesheer, tydelik vir hulle huis gehou het. Weens egskeidingsreëlings moet hulle uit die huis trek en gaan woon die vader en twee seuns in ’n hotel in Seepunt, waarna hulle na ’n ruk weer ’n eie huis by die see betrek.Storiewerf: http://www.storiewerf.co.za/cvs/cv_wadeklerk_ph.htm
As kind is hy baie siek aan ’n longkwaal, maar ’n besoek by die weduwee Anna C. de Klerk van die plaas Kingsdale in die distrik Fort Beaufort tydens die Junie-vakansie van 1928 (waar hy nog ’n ruk aanbly na afloop van die vakansie), genees hom permanent. Vanaf 1930 gaan hy skool aan die Grey Kollege in Bloemfontein, waar hy in 1934 matrikuleer. In sy matriekjaar doen hy maagkoors op en spandeer 6½ weke in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein. Hierna gaan hy terug Kaap toe om volkome te herstel en keer eers drie maande later terug na Bloemfontein. Hy slaag steeds daarin om matriek te slaag met ’n reeks B-simbole. In 1932 trou sy vader met Anna C. de Klerk. Aan die Universiteit van Stellenbosch studeer hy vanaf 1935 in die regte. Hier is hy bestuurslid van ’n aantal verenigings, studenteraadslid en redakteur van die studentetydskrif Stellenbosse Student. In hierdie tyd ontwikkel hy ’n groeiende belangstelling in bergklim (wat later uitloop op die skryf van Die berge in die Boland) en fotografie en gedurende sy laaste twee jaar aan die universiteit bekwaam hy hom ook as loods in die Suid-Afrikaanse Lugmag. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog besluit hy egter om nie betrokke te raak nie en laat vaar sy vlieglisensie.
Loopbaan Na sy studentejare is hy registrateur vir die regter-president H.S. van Zijl en daarna vanaf 1941 advokaat aan die Kaapse Balie. Sy skryfwerk floreer en as Uit die goeie aarde binne maande na publikasie suksesvol opgevoer word, besluit hy om vryskutskrywer te word. Hy trou in 1943 met Johanna Magdalena (Ena) Smith van Robertson, ’n huwelik waaruit drie kinders gebore word, naamlik die seun Daniël Petrus en die dogters Johanna Magdalena en Anna Catharine. Hulle vestig hulle aanvanklik in Pinelands in Kaapstad. Teen die einde van 1945 aanvaar hy weer ’n permanente betrekking, hierdie keer as omroeper-regisseur by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) in Kaapstad. Na ’n Europese reis in 1950 (waar hy onder andere ’n jaar lank vir die BBC werk), keer hy in 1951 terug na die SAUK.
Hertzogprys polemiek Daar is in 1952 groot polemiek oor die toekenning van die Hertzogprys aan De Klerk en Gerhard J. Beukes vir drama.Nienaber, P.J. (red.) Rapier en Knuppel. Nasionale Boekhandel Kaapstad 1965 bl. 188-260 In ’n artikel in Die Huisgenoot van 24 Oktober 1952 laat W.E.G. Louw hom sterk uit teen hierdie bekroning en meen die Akademie het in hierdie geval “die bewys gelewer dat hy self nie in staat is om literêre waardes te onderskei nie”. Intussen lewer Rob Antonissen ook skerp kritiek oor die toekenning, sodanig dat F.E.J. Malherbe, wat Antonissen gevra het om vir Ons Eie Boek oor die twee bekroondes te skryf, die stuk geweier het. Antonissen se kritiek verskyn toe in Standpunte van Oktober 1952. In Die Huisgenoot van 28 November 1952 het F.C.L. Bosman geantwoord op W.E.G. Louw se kritiek en ’n persoonlike aanval op Louw se gedig “Adam” gedoen. In Die Burger van 17 November 1952 reageer Bosman op Antonissen se kritiek en noem hom “’n jong uitlander” wat nog nie die Afrikaanse kultuur en waardes onder die knie gehad het nie. Hierop het D.J. Opperman in Die Burger van 18 November 1952 vir Antonissen verdedig en ook die Akademie se aanprysing gekritiseer. Verskeie ander mense het tot die gesprek toegetree, onder andere ook W.A. de Klerk, maar onder ’n skuilnaam.
Latere lewe en sterfte In 1953 gaan boer hy met vrugte op die plaas Saffier in die Klein-Drakenstein naby Paarl. Hier ontwikkel hy ’n groot belangstelling in omgewingsbewaring. Hy is medestigter van die Vereniging vir die Beskerming van die Omgewing, is gemoeid met die herstel van Dal Josafat as nasionale kultuur nalatenskap en is ook medestigter van die Heemkring Drakenstein. Hoewel hy lid is van die Broederbond, bedank hy in die vroeë jare sestig uit hierdie organisasie uit protes teen die weiering om die Kleurlinge ook as deel van Afrikanerdom te aanvaar. Hy kry twee beurse, ’n persbeurs na Duitsland in 1961 en die Leader Exchange-beurs na die Verenigde State van Amerika in 1965. Sy vrou ontval hom op 19 Junie 1978 en op 9 Januarie 1982 trou hy met die weduwee Finnie Malherbe. In 1971 lewer hy die referaat Wat is tydgenootlike letterkunde? by die jaarkongres van die Afrikaanse Skrywerskring, terwyl hy in 1985 die D.F. Malherbe gedenklesing by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat aanbied onder die titel D.F. Malherbe: die volgehoue allegorie. Aan die einde van 1990 verkoop hy die plaas Saffier aan Thomas van Graan en verlaat die plaas om hom op sy dorpshuis in Courtrai in die Paarl te vestig. Hy het onder sy kennisse algemeen as Bill de Klerk bekend gestaan.
Hy is op 18 Julie 1996 in sy huis in Courtrai in die Paarl weens ’n hartaanval oorlede en in die Klein Drakenstein-begraafplaas naby sy plaas, Saffier, begrawe.Korrespondent. Skrywer Bill de Klerk sterf aan hartaanval. Beeld, 19 Julie 1996
Skryfwerk
Drama De Klerk skryf enkele gedigte en die gedig Materfamilias, wat in Augustus 1974 in Tydskrif vir Letterkunde verskyn, word in die versamelbundel Digters en digkuns opgeneem. Sy grootste waarde vir die Afrikaanse letterkunde lê egter in veral sy meer ernstige dramas. Hierin ondersoek hy telkens sterk dramatiese gebeure en die impak daarvan op die mens, gereeld gebaseer op ’n goed gefundeerde en gemotiveerde idee en dramatiese situasie. Meeste van die dramas gaan egter steeds mank aan sekere minder en meer ernstige gebreke. Van hierdie gebreke sluit in dat die dramatiese gebeure nie konsekwent volgens die noodlot ontwikkel nie en karakters (onwaarskynlik) tydig tot insig kom en sodoende die tragiese vermy; die spreektaal van die karakters onvoldoende is of te onnatuurlik is om die handeling en onderliggende bedoeling te ondersteun; en karakters draers is van ’n spesifieke boodskap of verteenwoordigend van ’n tipe eerder as ’n geloofwaardige mens. Tog slaag hy daarin om in sommige werke van hierdie swakhede te ontkom.
Sy debuut is met Uit die goeie aarde, wat handel oor die arm student Emile wat in sy strewe na akademiese sukses alle ander waardes negeer. Om meer eer te verwerf sal hy enigiets doen om eerste te kom in die finale eksamen en hy pleeg dan ’n oneerlike daad, wat ontdek word. Na ’n selfmoord-poging leer hy dat om sterk te wees nie beteken dat jy oor ander moet heers nie en dat sterkte daarin geleë is om jouself te oortref en die kleinlik-selfsugtige ambisies neer te lê. Anna Neethling-Pohl voer hierdie drama binne ’n paar maande na publikasie by die Volksteater in Pretoria op, nadat sy verskeie wysigings aanbring om die drama meer opvoerbaar te maak. Dit was die begin van ’n lang en vrugbare samewerking tussen haar en die dramaturg.
Drie dramas bestaan uit Die verterende vuur, Nag het die wind gebring en Hellersee. Die verterende vuur handel oor ’n idealistiese medikus (dokter Semmelweiss, die “Gek van Boedapest”) se stryd om in die negentiende eeu ’n middel teen kraamkoors uit te vind. Hy kom te staan teen die selfvoldaanheid van sy mediese kollegas en die afsydigheid van sy kollegas en raak vervreem van al sy kollegas behalwe die troue Hebra. In sy werkywer word hy geleidelik geestelik en verstandelik afgetakel, totdat hy homself liggaamlik vernietig deur ’n besmette mes in sy arm te druk. Deur sy optrede belig hy die alles opofferende toewyding van baanbrekers wat die grense wil verskuif ten einde verbetering vir die mensdom te bring. Nag het die wind gebring se titel suggereer dat in die donkerte van situasies daar steeds uitkoms kan wees. Dit is die eerste drama wat in 1948 deur die nuut gestigte Nasionale Toneelorganisasie (NTO) op die planke gebring word en geniet ’n suksesvolle reis deur die land. Dit het generasiekonflik as tema, met die selfsugtige vader Just wat sy dogter se lewe beheer. Deur ’n paar gebeurtenisse word die selfgenoegsaamheid in Just se lewe onthul en daaropvolgende gebeure lei eindelik tot selfinsig en selfoorwinning. Hellersee het as hoofkarakter ’n hooggestemde, selfbewuste vrou (Tonia) wat tot vernederende selfinsig kom en geleidelik tot selfmoord gedryf word. Tonia stel geweldig hoë etiese en morele ideale aan haarself, haar man en haar medemens en doog geen kompromie nie. Dit lei tot teleurstelling in haar medemens, veral haar man. In ’n ongeluk val sy van ’n perd af en haar onderlyf word verlam, maar lank nadat sy funksioneel herstel het, duur die neurotiese verlamming steeds. Haar vriendin Mercia begin belangstel in haar man en Tonia waarsku nie vir Mercia om nie in die gevaarlike Hellersee te gaan swem nie. In haar emosionele ongebalanseerdheid glo sy hierna dat sy vir Mercia na haar dood gestuur het. Haar lewenslus word selfs nie herstel deur die latere tyding dat Mercia nie dood is nie. Hierdie is ’n besondere eksperiment in die sielkundige drama, hoewel alle optredes nie genoegsaam sielkundig gemotiveer is nie.
In Vlamme oor La Roche later hersien en grootliks herskryf met ander karakters in Terwyl dit om ons brand) word die fisiese brand ook metafoor van ander dinge, soos die vernietiging van die kulturele en kultuurerfenis en die sielkundige stryd van die karakters. Hannes Muller, eienaar van La Roche, is getroud met Christine. Hannes verkoop die plaas La Roche wat reeds etlike geslagte in die hande van die familie is. Sy houding oor die erfgrond, drankmisbruik en hebsug lei tot vervreemding tussen hom en Christine, waarna ’n verhouding tussen Christine en die plaasbestuurder Louwrens van Aard ontstaan. Teen die agtergrond van die moord op Hannes word die sielkundige invloed van skuldgevoel by die karakters ondersoek. Eindelik gaan al drie die hoofkarakters ten gronde, terwyl die brand ook die eeue-oue opstal van die plaas vernietig.Antonissen, Rob Standpunte. No. 25, Oktober 1952 In Terwyl dit om ons brand betrek die dramaturg ook ’n eietydse politieke aktualiteit om konflik te verhewig.Pretorius, Herman. Die Burger, 7 November 1987Schutte, H.J. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 31, no. 2, Mei 1993