The Crown is 'n historiese TV-dramareeks oor die bewind van koningin Elizabeth II, wat geskep en hoofsaaklik geskryf is deur Peter Morgan en vervaardig is deur Left Bank Pictures en Sony Pictures Television vir Netflix. Morgan het dit ontwikkel van sy dramarolprent The Queen (2006) en veral sy verhoogproduksie The Audience (2013).

Die eerste seisoen dek die tydperk van koningin Elizabeth se troue met prins Philip in 1947 tot die beëindiging van haar suster, prinses Margaret, se verlowing aan Peter Townsend in 1955. Die tweede seisoen handel oor die tydperk van die Suezkrisis in 1956 tot die aftrede van premier Harold Macmillan in 1963 en die geboorte van prins Edward in 1964. Die derde seisoen dek van 1964 tot 1977 en sluit Harold Wilson se twee tydperke as premier in. Dit stel ook Camilla Shand bekend. Die vierde seisoen handel oor die tydperk van 1979 tot die vroeë 1990's en sluit Margaret Thatcher se tyd as premier en prins Charles se troue met lady Diana Spencer in. Die vyfde en sesde seisoen, wat die reeks sal afsluit, gaan oor die koningin se bewind tot in die 21ste eeu.

thumb|links|160px|Claire Foy vertolk in die eerste twee seisoene die rol van koningin Elizaberh II. Vir elke twee seisoene vertolk nuwe akteurs die rolle om op te maak vir die verouderingsproses. Claire Foy speel die rol van die koningin in die eerste twee seisoene, met Matt Smith as prins Philip en Vanessa Kirby as prinses Margaret. Vir die derde en vierde seisoen neem Olivia Colman oor as die koningin, Tobias Menzies as prins Philip en Helena Bonham Carter as prinses Margaret. In seisoen drie sluit Josh O'Connor by die rolverdeling aan as prins Charles. In die vierde seisoen sluit die nuwe akteurs in Emma Corrin as lady Diana Spencer en Gillian Anderson as Margaret Thatcher. Imelda Staunton, Jonathan Pryce en Lesley Manville het by Colman, Menzies en Bonham Carter oorgeneem vir die laaste twee seisoene, terwyl Dominic West en Elizabeth Debicki die rolle van onderskeidelik Charles en Diana vertolk.

Die verfiling vind plaas in Borehamwood, Hertfordshire, asook deur die Verenigde Koninkryk en internasionaal. Netflix het die eerste seisoen op 4 November 2016 uitgereik, die tweede op 8 Desember 2017, die derde op 17 November 2019, die vierde op 15 November 2020 en die vyfde op 9 November 2022. Teen 2020 was die geraamde vervaardigingsbegroting van The Crown na berig word $260 miljoen, wat dit die duurste TV-reeks maak wat nog vervaardig is.

The Crown het lof by resensente ontvang vir die toneelspel, regie, skryfwerk, kinematografie en vervaardiging, hoewel die historiese onakkuraathede soms kritiek ontlok, veral in die vierde seisoen. Dit het al verskeie pryse en benoemings gewen, insluitende altesaam 63 Emmy-benoemings vir die eerste vier seisoene, waarvan dit 21 gewen het. Die reeks het ook die Golden Globe vir beste TV-dramareeks ontvang op die 74ste en 78ste toekenningsaand, met nog pryse vir Foy, Colman, Corrin, O'Connor en Anderson.

Rolverdeling Die hoofkarakters in The Crown, in die volgorde van die erkenningslys van die eerste episodes, is:

Claire Foy (seisoen 1-2), Olivia Colman (seisoen 3-4) en Imelda Staunton (seisoen 5) as Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk Matt Smith (seisoen 1-2), Tobias Menzies (seisoen 3-4) en Jonathan Pryce (seisoen 5) as prins Philip, Hertog van Edinburg Vanessa Kirby (seisoen 1-2), Helena Bonham Carter (seisoen 3-4) en Lesley Manville (seisoen 5) as prinses Margaret, Gravin van Snowdon Eileen Atkins as koningin Mary (seisoen 1) Jeremy Northam as Anthony Eden (seisoen 1-2) Victoria Hamilton (seisoen 1-2), Marion Bailey (seisoen 3-4) en Marcia Warren (seisoen 5) as koningin Elizabeth die koninginmoeder Ben Miles as kolonel Peter Townsend (seisoen 1-2) Greg Wise (seisoen 1-2) en Charles Dance (seisoen 3) as Louis, graaf Mountbatten van Birma Jared Harris as koning George VI (seisoen 1) John Lithgow as Winston Churchill (seisoen 1) Alex Jennings (seisoen 1) en Derek Jacobi (seisoen 3) as prins Edward, Hertog van Windsor Lia Williams (seisoen 1) en Geraldine Chaplin (seisoen 3) as Wallis, Hertogin van Windsor Anton Lesser as Harold Macmillan (seisoen 2) Matthew Goode (seisoen 2) en Ben Daniels (seisoen 3) as Antony Armstrong-Jones, 1ste Graaf van Snowdon Jason Watkins as Harold Wilson (seisoen 3) Erin Doherty (seisoen 3-4) en Claudia Harrison (seisoen 5) as prinses Anne Josh O'Connor (seisoen 3-4) en Dominic West (seisoen 5) as Charles, Prins van Wallis Gillian Anderson as Margaret Thatcher (seisoen 4) Emma Corrin (seisoen 4) en Elizabeth Debicki (seisoen 5) as Diana, Prinses van Wallis Stephen Boxer as Denis Thatcher (seisoen 4) Emerald Fennell as Camilla Parker Bowles (seisoen 4)

Seisoene       Seisoen   Episodes  Uitgereik 1 10 2 10 3 10 4 10 5 10 6 10 /

Vervaardiging Ontwikkeling In November 2014 is aangekondig Netflix gaan die 2013-toneelstuk The Audience in 'n TV-reeks omskep. Peter Morgan, wat die toneelstuk en die draaiboek vir die 2006-rolprent The Queen geskryf het, is die hoofdraaiboekskrywer vir The Crown. Die regisseurs vir die eerste seisoen was Stephen Daldry, Philip Martin, Julian Jarrold en Benjamin Caron.

Die eerste seisoen, wat uit 10 episodes bestaan, was die duurste produksie nog van Netflix en Left Bank Pictures. Dit het minstens £100 miljoen gekos. Opdrag is gegee vir nog 'n seisoen, met nog vier seisoene beplan sodat die reeks oor 60 episodes en ses seisoene sou strek.

In Januarie 2020 het Morgan aangekondig 'n vyfde en finale seisoen word beplan, al sou dit aanvanklik uit ses seisoene bestaan het. Morgan het gesê terwyl hy aan die vyfde seisoen gewerk het, het dit vir hom "duidelik geword dat dit die perfekte tyd en plek is om te stop"; Netflix en Sony het sy besluit ondersteun. In Julie 2020 het Netflix egter aangekondig daar sal ses seisoene wees, soos aanvanklik beplan. Morgan het daarmee saamgestem. Hy het bygevoeg die finale twee seisoene sal dit moontlik maak "om dieselfde tydperk in fyner besonderhede te dek".

Verfilming Sowat 25% van die eerste seisoen is by die Elstree-ateljee in Borehamwood, Hertfordshire, verfilm. Die res is elders geskiet, en die verfilming het altesaam 152 dae geduur. Stelle vir privaat kwartiere, die binnekant van 'n privaat straler, die kabinetskamer en die buitekant van 10 Downing Street is by die Elstree-ateljee gebou, terwyl Lancaster House, Wrotham Park en Wilton House gebruik is vir tonele van Buckingham-paleis. Ely- en Winchester-katedraal het ingestaan vir Westminster-abdy, terwyl terreine in Suid-Afrika ook gebruik is vir tonele in Kenia. Bykomende terreine in die VK sluit in Belvoir-kasteel, Waddesdon Manor, Eltham-paleis, Shoreham-lughawe, Balmoral-kasteel, Loseley Park, Hatfield House, Southwark-katedraal en Wellington-kollege.

Die verfilming van die tweede seisoen het vroeg in Oktober 2016 begin. Daar is in Julie 2018 aan die derde seisoen begin skiet en in Augustus 2019 aan die vierde seisoen. Die verfilimg van die vyfde seisoen het in Julie 2021 begin. Die première was op 9 November 2022.

Die toneel van die verwydering van koning George VI se kankeragtige long is nagevors en beplan deur Pankaj Chandak, 'n spesialis in oorplantingschirurgie by Guy's Hospital, Londen. Chandak en sy chirurgiese span het toe deel van die toneel geword wat vir die reeks geskiet is. Die chirurgiese model van koning King George VI is aan die Gordon-patologiemuseum in Londen geskenk as 'n hulpmiddel vir onderrig.

Historiese akkuraatheid Die reeks is beide veroordeel en gekritiseer oor sy uitbeelding van historiese gebeure.

Seisoen 1 In die reeks word gewys hoe Churchill se vrou, Clementine, toekyk hoe haar man sy portret deur Graham Sutherland verbrand ná Churchill se aftrede. Die skildery is in werklikheid verbrand deur die broer van hulle privaat sekretaris, Grace Hamblin, sonder dat Hamblin self betrokke was.

Die koninklike biograaf Hugo Vickers ontken dat prinses Margaret as monarg waargeneem het terwyl die koningin op toer was. Hy beweer haar toespraak by die ambassadeursontvangs het nooit plaasgevind nie. Die koninginmoeder het die Kasteel van Mey 'n jaar vroeër gekoop as wat uitgebeeld word, en het prins Charles en prinses Anne versorg terwyl die koningin weg was.

Die reeks word vertolk as dat die koningin en Churchill prinses Margaret gedwing het om van haar plan af te sien om met Peter Townsend te trou. Die koningin lig haar in die reeks in dat sy volgens die Royal Marriages Act van 1772 nie meer lid van die familie sal kan wees as hulle trou nie. Daar is egter bewyse dat pogings in werklikheid aangewend is om enige uitstel te voorkom, wat Margaret sou toegelaat het om haar koninklike titel en toelae te behou, in die land te bly en haar koninklike pligte voort te sit.

Seisoen 2 Nadat seisoen 2 uitgereik is, het Peggy Noonan van The Wall Street Journal kommentaar oor die historiese akkuraatheid daarvan gelewer en gevra vir "groter waarheid in kuns en vermaak". Die fotograaf Baron Nahum kom byvoorbeeld dwarsdeur dié seisoen voor, maar het in werklikheid in 1956 al gesterf. Die reeks wys ook hoe die koningin 'n toespraak by 'n Jaguar-fabriek lewer, terwyl daar geen bewyse is dat dit gebeur het nie. En hoewel sy dalk lord Altrincham kon ontmoet het om sy artikel te bespreek is daar geen bewyse daarvan nie.

Vickers het geskryf die koningin het wel die Hertog van Windsor veroordeel nadat sy die Marburg-dokumente gelees het, maar meen die reeks gee die verkeerde indruk dat die hertog uit die koninklike familie verban is nadat dit gepubliseer is. In werklikheid het die hertog in kontak met sy familie gebly en het sy openbare verskynings voortgeduur.

Die uitbeelding van die verhouding tussen die Amerikaanse eerste dame Jackie Kennedy en die koninklike familie het ook kritiek uitgelok as dat dit onakkuraat is. Verslae van destyds dui daarop dat sy prins Philip as "aangenaam, maar senuweeagtig" beskryf het, met geen ware band tussen hulle nie. Resensente het die idee afgeskiet dat die koningin Ghana besoek het om met die Kennedys se gewildheid mee te ding. Volgens berigte het dié episode belangriker feite geïgnoreer, soos dat Kennedy se skoonsuster Lee en haar man, prins Stanislaw Albrecht Radziwill, aanvanklik nie na die banket genooi is nie weens hulle status as geskeidenes. Hulle is eindelik genooi, maar prinses Margaret en prinses Marina, die Hertogin van Kent, het dit nie bygewoon nie, al wou die Kennedys hulle blykbaar ontmoet.

Gordonstoun-skool het gereageer op sy negatiewe uitbeelding en het beweer prins Charles se persoonlike terugvoering aan die skool was oorweldigend positief. Vickers het gesê dieselfde episode beeld die dood van prins Philip se suster in 'n vliegongeluk onakkuraat uit as die gevolg van sy eie wangedrag by Gordonstoun: "Ek kan glad nie verstaan hoe enstige rolprentmakers so 'n vreeslike tragedie sal wil omskep in 'n reeks uitgedinkte gebeurtenisse wat niks met die waarheid te doen het nie".

Phil Owen van The Wrap het droë humor gesien in Northam se vertolking van premier Eden en gesê: "Ek veronderstel die skepper Peter Morgan het dit as komedie bedoel. Daar is regtig geen ander verduideliking vir hoekom Jeremy Northam premier Anthony Eden vertolk asof hy in elke toneel 'n senuweeinstorting het nie."

Seisoen 3 Die koningin het nie Churchill ná sy laaste beroerte besoek nie. Vickers beweer hy was teen daardie tyd seniel en sou nie 'n gesprek kon voer nie. Anthony Blunt se ontbloting as 'n Sowjetspioen het ook kritiek ontlok. Vickers sê die episode noem nie dat Blunt in 1979 ontmasker is en dat sy ridderskap van hom weggeneem is nie. Hy sê ook Blunt het nooit in Buckingham-paleis gewoon nie. Hy meen dis laf om te beweer hy het sy ontmaskering met prins Philip bespreek in 'n poging om die koninklike familie af te pers.