Abraham Hermanus de Vries (9 Februarie 1937- 23 Augustus 2024) was 'n Afrikaanse kortverhaalskrywer. Hy word as een van die voorste eksponente in die Afrikaanse kortprosa beskou, veral in sy generering van nuwe betekenismoontlikhede in die struktuur van sy korter tekste. Sy oeuvre moet gelees word binne die raamwerk van nie alleen 'n postmodernistiese kompleksiteit en dubbelsinnigheid nie, maar ook kultuurhistories as een van die Sestigers.
Hy skryf ook die spanningsverhale onder die skuilnaam Thys van der Vyver.
Lewe en werk
Vroeë lewe en opleiding Abraham Hermanus de Vries is op 9 Februarie 1937NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/3339 op Winkelplaas in die huis Volmoed (Winkelplaas het vyf opstalle) naby Ladismith in die Klein Karoo gebore.De Vries, Abraham H. Skrywers in woord en beeld: Abraham H. de Vries. Perskor Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe 1988 Hy het een suster, Hester. Sy moeder sterf tydens die bevalling en vir die eerste nege maande van sy lewe bly hy op die buurplaas Voorbaat by sy oupa Wynand en ouma Hannie. Sy pa trou later met Hester, ’n jonger suster van sy ma, en hy keer terug na Winkelplaas, waar sy pa die laaste winkelier van die plaas was.
Hy begin sy skoolloopbaan op die plaasskool by Buffelsdrift, waarna hy in 1950 na die hoërskool op Ladismith gaan. Ná matrikulasie in 1954 aan die Hoërskool Ladismith studeer hy in die jare 1955 tot 1958 aan die Universiteit van Stellenbosch. Terwyl hy student is, spandeer hy party naweke by W.A. de Klerk en sy vrou op hulle plaas Saffier in die Klein-Drakenstein naby die Paarl. Hy behaal in 1957 die B.A.-graad en in 1958 die B.A. Honneurs-graad in Afrikaans-Nederlands. Op universiteit is hy redakteur van die studentetydskrif Prisma en is Hennie Aucamp, R.K. Belcher en Wilhelm Knobel van sy studentemaats.
Begin van loopbaan en verdere studie Hy werk na universiteit in die Provinsiale Biblioteek in Kaapstad as hoof van die Afrikaanse boeke-aankope en as redakteur van Die Kaapse Bibliotekaris. In 1961 gaan hy vir verdere studie na die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam, waar hy op 5 Desember 1962 die doktoraal in Afrikaanse Taal- en Letterkunde aflê, met Nederlands en Perswetenskap as hoofvakke. Hierna word hy ’n senior assistentskap in Perswetenskap (Kommunikasiekunde) aan die Gemeentelijke Universiteit aangebied, maar hy wys die aanbod van die hand. Hy onderneem ’n uitgebreide reis deur Europa en besoek onder andere Griekeland en Israel, waarna hy teen die einde van 1963 terugkeer na Suid-Afrika. In 1964 trou hy met Ria van der Merwe en uit die huwelik word twee kinders (Anneke en Andries) gebore – hulle skei egter in 1969.
Werk as joernalis, skrywer en akademikus Hy word in 1963 aangestel as kunsredakteur van Die Vaderland in Johannesburg,Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/devriesa.html ’n posisie wat hy tot die begin van 1965 beklee. Hy dien ook op die redaksie van Sestiger. In hierdie tyd vestig hy hom in ’n woonstel in Hillbrow. Hy bedank sy werk by Die Vaderland as daar van hom verwag word om negatief teen die aanstelling van Jan Rabie as lid van die Akademie te reageer. Daarna reis hy en sy vrou anderhalwe jaar in die buiteland en besoek onder meer Nederland, Griekeland, Duitsland, Oostenryk, Joego-Slawië en Spanje. By sy terugkoms aanvaar hy in 1967 ’n pos as tydelike dosent in Taalkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth en in 1968 is hy tydelike dosent aan die Rhodes Universiteit tydens André P. Brink se verblyf in Parys. Vanaf 1969 is hy as lektor verbonde aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg en vanaf 1970 as senior lektor aan die Universiteit van Natal in Durban. Sy hoofleeropdrag is om hom toe te lê op die drama as genre en die Afrikaanse en Nederlandse drama in die besonder.
Hier trou hy in 1972 met Hannie Pienaar, ’n onderwyseres van Durban, wat ook radio-omroepster was en onder andere die Siembamba-program aangebied het. Hulle het drie kinders, met Daniël Willem die oudste. Hy koop in hierdie tyd die plasie Volmoed naby Ladismith in die Klein Karoo, waarheen hy dikwels gaan om in die stilte te kan skryf. In die sewentigerjare is hy ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde.
In 1975 onderneem hy tydens sy lang sabbatsverlof ’n reis na Noorweë, waar hy in Februarie in Nederlands ’n reeks lesings oor die Afrikaanse letterkunde gee aan die Germaanse Instituut van die Ryksuniversiteit van Oslo. Terwyl hy in Oslo is, gee hy ook saam met die Turkse skrywer Yasar Kemal ’n lesing voor die PEN Club International. Hy aanvaar in Maart 1984 ’n pos as departementshoof van Tale en Kommunikasie by die Skiereiland Technikon in Kaapstad, ’n pos wat hy tot met sy aftrede in 1997 beklee. In Oktober 1985 stig hy die Afdeling vir Joernalistiek, wat in 1991 tot ’n volwaardige departement ontwikkel. Hy het intussen deeltyds verder gestudeer en behaal in 1986 die D.Litt.-graad aan die Universiteit van Stellenbosch onder promotorskap van Merwe Scholtz met ’n tesis oor Tendense in die Afrikaanse kortverhaal 1867–1984. In dieselfde jaar word hy verkies tot voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde, waar hy vir twee termyne in hierdie amp dien. Saam met Patrick Petersen is hy in 1996 instrumenteel met die stigting van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) en hy neem ook leiding met die skryf van hierdie organisasie se grondwet. Vir ’n termyn is hy ook voorsitter van die ASV.Botha, Amanda LitNet: http://www.litnet.co.za/al-die-karakters-in-sy-stories-in-een-amanda-botha-oor-abraham-de-vries/
Hy is betrokke by die vervaardiging van verskeie televisieprogramme. So is hy regisseur van videoportrette van die digters Adam Small en Hendrik Januarie en behartig hy in 1992 die regie, teks en vervaardiging van die dokumentêre program Afrikaans en Nederlands na apartheid. In 1996 gee hy ’n reeks lesings aan die Universiteit van Amsterdam en vanaf 1997 gee hy as buitengewone hoogleraar deeltyds lesings aan die Universiteit van Wes-Kaapland, terwyl hy voltyds skryf. In 2000 lewer hy die openingslesing by die Universiteit van Leipzig se Europese Werksessie oor Afrikaans getiteld “Afrikaans Extra Muros”. In 2002 is hy weer in die buiteland vir ’n lesingreeks in Nederland, Pole en Duitsland.
Skryfwerk
Kortkuns Hy maak veral as kortverhaalskrywer ’n enorme bydrae tot die Afrikaanse literatuur. Sy eerste verhale, getitel Bert die jagter en Die spioene, verskyn op 16-jarige ouderdom in 1953 in Die Huisgenoot. Hierna publiseer hy ander kortverhale in Die Huisgenoot en later ook in letterkundige tydskrifte.
Sy debuut is met die bundel Hoog teen die heuningkrans, waarin hy ’n fyn waarnemingsvermoë en insig in die psige van die enkeling bevestig, hoewel die tegniek realisties en tradisioneel is. Die verhale speel hoofsaaklik af in die Klein Karoo van sy jeug en die aksent val op die persoonlike ervarings van die lokale mens, wat meestal nie uitstyg tot meer universele betekenis nie.Antonissen, Rob. Standpunte. Nuwe reeks 17 en 18, Mei-Desember 1957Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk Eerste uitgawe Eerste druk Elsiesrivier 1963 P.G. du Plessis neem Die rooi vaas uit hierdie bundel op in die versamelbundel Halfeeu, waarin hoogtepunte uit die eerste vyftig jaar van Die Huisgenoot verskyn.
Verlore erwe, bou voort op hierdie platform en is aanduidend van die groei in sy tematiek en vakmanskap. Die verhale speel steeds af teen ’n plattelandse agtergrond en is ook steeds realisties in gees en sfeer. Ingeweef in die gebeure en ervarings van doodeenvoudige mense, slaag hy daarin om die geheimenis van lewe (en dood) raak te vat sodat die leser diep daardeur geraak word.
Vetkers en neonlig is soortgelyk van aard, maar De Vries bundel hierin ’n aantal verhale waarin hy wegbeweeg van gemoedelikheid na ’n soort makabere fantasie.Antonissen, Rob. Standpunte, Nuwe reeks 66, Augustus 1966
De Vries ontvang vir sy eerste drie bundels (Hoog teen die heuningkrans, Verlore erwe en Vetkers en neonlig) in 1962 die Reina Prinsen Geerligs-prys. Hy bundel sy keuse uit verhale uit hierdie periode van sy skrywerskap later in Volmoed se gasie. Die titel verwys na Volmoed, die naam van sy geboortehuis, en “gasie” beteken betaling, sodat hy met hierdie verhale sy dankbaarheid of terugbetaling aan sy jeug maak. Hy het dan ook die boek gepubliseer om geld te verdien om sy geboorteplasie, wat hy terug gekoop het, af te betaal. Twee verhale verskyn hier vir die eerste keer in boekvorm, naamlik die boeiende vertelling Rooikoos Willemse is soek, oor ’n man wat so babbelas word dat hy aan sy identiteit begin te twyfel, en Fisante tussen die rose, die vermaaklike verhaal van ’n predikant se gebabbel nadat hy tydens ’n operasie te veel verdowingsmiddels ingekry het.
Met Dubbeldoor word hy deel van die Sestiger-beweging deur van hierdie stadium in sy skrywerskap verhale te skryf wat André P. Brink “laagverhale” noem waarin “magiese realisme” na vore kom.Brink, André P. Die verhaalkuns van Abraham H. de Vries in De Vries, Abraham H. Soms op ’n reis. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1987 Hierdie beskrywing tipeer die verwikkelde wyse waarop De Vries daarin slaag om deur metafore veelvuldige betekenisse en simbole in sy verhale te impliseer, terwyl hy steeds die fyn waarneming en in-diepte sielkundige blootlegging van sy vroeë verhale behou. In aanvulling by sy gebruik van die plaaslike mense en wêreld bring hy nou ook die Europese omgewing onder woord, soos in die titel van die bundel aangedui word, waar die dubbeldoor verwys na die vermenging van Europa en Afrika. Die titel kan egter ook betrekking hê op die mengsel van tradisioneel-realistiese en magiese tipe verhale.Antonissen, Rob. Spitsberaad. Nasou Beperk Elsiesrivier Eerste uitgawe Eerste druk 1966
Die bundel Vliegoog neem hierdie temas en tegnieke verder. Die titel van die bundel is aanduidend van die verhale daarin, aangesien nie een van die saamgestelde oog van die vlieg se onderlinge gedeeltes die onderwerp van dieselfde hoek sien nie. Net so is die verhale onderling uiteenlopend van aard en volg nie een dieselfde patroon nie, of selfs dieselfde styl en struktuur nie, maar maak die geheel ’n saamgestelde beeld uit van die mensheid.
Dorp in die Klein Karoo bevat sketse oor Ladismith en die lewenswyse, gebruike, vertellings en eienaardighede van die kontrei en die mense,Schutte, R. Standpunte. Nuwe reeks 73, Oktober 1967 voorafgegaan deur die verhaal Op pad Sjina toe. Hierdie verhaal is ’n verbeeldingspel uit die kleintyd, wat treffend gekontrasteer word met die leefwêreld van die grootmens, wat nie toegang het of kan kry tot hierdie verbeeldingswêreld nie. So illustreer die skrywer dat werklikheid en fantasie twee kante van presies dieselfde saak is, afhangend van hoe jy daarna kyk. Dit is oorspronklik geskryf vir opname in die versamelbundel Herinnering se wei. Al sy prosa tot op daardie stadium (die kortverhaalbundels Hoog teen die heuningkrans, Verlore erwe, Vetkers en neonlig, Dubbeldoor en Vliegoog; die reisverhale Die rustelose sjalom en Afspraak met eergister, die streekskuns Dorp in die Klein-Karoo en die novelle Kruispad), word in 1967 met die Eugène Marais-prys bekroon.
Twee maal om die son, ’n titel wat verwys na die periode van twee jaar wat dit geneem het om hierdie verhale te voltooi, bevat kort verhale in die eerste persoon met België en Hillbrow as agtergrond.Aucamp, Hennie. Dagblad. HAUM-Literêr Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe Eerste Druk 1987