Miemie Rothmann (bekend as M.E.R.; 28 Augustus 1875 – 7 September 1975) was ’n bekroonde Afrikaanse skryfster. Sy is een van die eerste vroue in die land om ’n B.A.-graad te behaal, een van die eerste vroulike Afrikaanse joernaliste, ’n vegter vir vrouestemreg en selfs ’n tyd lank ondervoorsitter van die Kaaplandse Nasionale Party. As skrywer verower sy die Hertzogprys en skryf ook kinder- en jeugverhale.
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe duimnael|links|210px|M.E.R. aan die werk. Maria Elizabeth Charlotte Rothmann is op 28 Augustus 1875 op Swellendam gebore. Sy was die jongste van nege kinders. Daar was vyf seuns in die gesin, naamlik Hendrik Sebastiaan (1856, wat baie jonk oorlede is, waarskynlik by geboorte), Gerhardus Johannes (Gert – 1858), Frederik Lindenberg (Fritz – 1860), Hendrik Benninghof (1863) en Jan Carel (1872, wat ook baie jonk oorlede is); en vier dogters, naamlik Martha Louisa (Martjie – 1862), Aletta Amelia (Lettie – 1866), Anna Wilhelmina (Annie – 1868) en sy self.J.C. Steyn se omvattende biografie, Die 100 jaar van MER, is die mees betroubare en volledige bron oor haar lewe en is die primêre bron wat gebruik is vir haar lewensbesonderhede. Sy het ook ’n halfsuster, Christina (Chrissie) Kuhn uit haar pa se eerste huwelik met Maria Christina Kuhn. Maria is in 1854 met die geboorte van Chrissie oorlede en Chrissie word daarna by haar ma se familie groot.
M.E.R. se ouers is Gerhardus Johannes Henricus Rothmann (12 November 1833 – 4 April 1876) en Anna Wilhelmina (Annie) Lindenberg (12 Junie 1837 – 13 Julie 1917) en hulle is op 9 Oktober 1855 getroud. Haar pa, ’n wamaker op Swellendam, ly groot skade wanneer ’n paar geboue van die familie in die 1850’s afbrand en die koms van treine die wamaakbedryf nadelig beïnvloed. Hy speel teen die einde van 1860 bankrot en is daarna afhanklik van allerhande los werkies om sy gesin te onderhou. In 1876 is hy op 42-jarige ouderdom op Montagu, waar hy stukwerk gedoen het, aan maagkoors oorlede en hy laat die gesin in armoede agter. M.E.R. was toe slegs nege maande oud en teen die tyd dat sy vyf jaar oud word, is haar oudste broer Gert en oudste suster Martjie ook reeds oorlede, beide aan maagkoors. Deur kleremaak en ongereelde bydraes van die ouer broers en die dorp se mense moet die moeder dan die gesin versorg.
M.E.R. ontvang haar gehele skoolloopbaan onderrig deur die medium van Engels. Sy begin op vyfjarige ouderdom skoolgaan by ’n klein sendingskooltjie op haar tuisdorp, die Christ Church Mission School. Hier is miss Ella Bramley, dogter van die Engelse predikant, haar eerste onderwyseres. Die opvoeding hier is uiteraard gebrekkig en dit belemmer M.E.R. se vooruitgang. Op tienjarige ouderdom gaan sy dan na die meisieskool op die dorp, die Hugenote-seminarie, waar miss Etta Colby van Amerika eers die hoof was en later opgevolg is deur die Britse miss Ellen Middleton. Die openbare eksamens is destyds afgeneem deur die University of the Cape of Good Hope en sy slaag in April 1889 die eksamens vir die “elementary subjects”. In Januarie 1891 slaag sy die eksamens vir die vyfde en sesde standerds met lof en in Julie 1891 slaag sy die School Higher eksamen (ekwivalent van standerd agt) in die eerste klas, met vakke Engels, Geskiedenis, Nederlands, Rekenkunde, Algebra en Plantkunde. Weens haar puik uitslae verwerf sy ’n beurs en studeer verder aan die Rynse Meisies-Instituut op Stellenbosch, waar sy in die koshuis bly. Hier matrikuleer sy in Junie 1893 in die eerste klas en behaal die tiende beste resultate in die land, en verwerf terselfdertyd die tweedegraadse onderwysdiploma. Twee beurse word op grond van haar goeie resultate aan haar toegeken, naamlik die Queens Scholarship en die Webb Scholarship en sy studeer dan van Julie 1893 tot 1896 aan die South African College in Kaapstad (nou die Universiteit van Kaapstad).
Destyds was graadkursusse verdeel in ’n intermediêre deel vir die eerste jaar, wat deur alle studente geneem is, ongeag of hulle verder sou studeer in ’n geestes- of natuurwetenskaplike rigting. Die vakke was Grieks, Latyn, Letterkunde, Nederlands, Engels, Konstitusionele Geskiedenis, Fisika, Rekenkunde, Driehoeksmeetkunde, Algebra en Meetkunde. In haar eerste jaar verwerf sy die tweede prys vir Nederlands, ’n prys uitgeloof deur Marie Koopmans-de Wet. Hierna begin sy met die studies vir die B.A.-graad in die afdeling lettere en filosofie, met vakke Grieks, Latyn, Engels en Nederlandse letterkunde, Sielkunde en Logika. Sy slaag eindelik in die eerste klas en is een van die eerste vroue in die land om ’n B.A.-graad te behaal. In hierdie tyd neem sy ook vir ’n kort rukkie tekenklasse by die bekende skrywer Melt Brink in Kaapstad.
Loopbaan in die onderwys Hierna gee sy vanaf die tweede deel van 1896 skool by haar alma mater op Swellendam, met miss Ellen Middleton steeds as hoof. Teen die einde van 1897 vertrek sy na Johannesburg, waar sy en haar suster Annie, ’n onderwyseres, eers in ’n huis in Eloffstraat en dan in Fordsburg saam woon. Haar broer Frits werk in hierdie tyd op die myn net buite Johannesburg en die susters sien hom gereeld. M.E.R. het nie van skoolhou gehou nie en soek maar ander werk, wat sy as klerk by ’n prokureursfirma kry. Hier ontmoet sy die prokureur Matthys Roux, aan wie sy later verloof raak. Na slegs sowat ’n maand bedank sy egter die sieldodende werk as klerk en kry ’n aanstelling as onderwyseres by die openbare skool in Fordsburg. Hier is die amptelike onderwystaal Hollands, maar die opvoeding geskied in werklikheid in Afrikaans as die algemene omgangstaal. Later sluit sy haar by haar suster Annie aan as onderwyser by ’n Engelse nie-staatskool van die Simmer & Jack-myn en hulle bly ook op die myn. Na sowat ’n jaar, toe die leerlingtal daal, aanvaar M.E.R. ’n pos by ’n Engelse skool in Boksburg, waar sy die enigste onderwyseres is. Sy ry elke dag per fiets die sowat twintig kilometer skool toe en terug. Nadat Annie ’n pos kry by ’n Joodse skool in Johannesburg, trek die susters weer, Anna na Johannesburg en M.E.R. na Boksburg. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog daal die leerlingtal van die skool waar sy onderwys gee en sluit vroeg in 1900, waarna sy by haar suster Annie in Johannesburg gaan woon.
Anglo-Boereoorlog Teen September 1900, tydens die Anglo-Boereoorlog, keer sy terug Kaap toe en vertoef ’n paar maande op Worcester, waar Annie later by haar aansluit. Hiervandaan keer hulle terug na hulle moeder op Swellendam. Vroeg in 1901 kry sy ’n pos by ’n plaasskooltjie in die Montagu-distrik, maar na ’n kwartaal word sy verplig om te bedank. Die Kaapse regering was nie geneë met die aanstelling van onderwysers met ’n Transvaalse gesindheid in staatskole nie en hoewel sy aanstellings by verskeie skole kry, word toestemming deur die owerhede telkens geweier. Hierdie deur word dan effektief vir haar en haar suster toegemaak. Sy keer dus terug na Swellendam. In 1901 gaan sy na Grahamstad waar sy by haar broer Hendrik en sy familie inwoon. Sy aanvaar ’n pos om skool te hou by ’n Engelse privaatlaerskool, waar Herbert Charles Gordon Oakshott die hoof was. Hulle raak verlief op mekaar en nadat sy haar verlowing verbreek, tree sy op 18 September 1902 in die huwelik met Oakshott. Uit die huwelik word twee kinders gebore. James Rothmann (wat sy later laat verander na Jacobus Rothmann, met noemnaam Koos) word gebore op 14 Augustus 1903 in Grahamstad en Anna Wilhelmina op 11 Julie 1904 in Swellendam. Anna word later ook ’n bekende en bekroonde jeugverhaalskryfster.
Lewe op Swellendam M.E.R. se huwelik vaar vroeg reeds in troebel waters omdat haar man nie in staat is om met geld te werk nie en groot skuld aangaan wat onmoontlik terugbetaal kon word, wat hulle finansieel ruïneer. Reeds aan die einde van 1903 is die skool genoodsaak om te sluit en sy keer terug na Swellendam, met haar man wat veral in Kaapstad as boorman werk en soms Swellendam aandoen om by haar te wees. Die huwelik word informeel in 1905 ontbind, waarna M.E.R. haar nooiensvan vir haar en haar kinders terugneem. Op 4 Julie 1911 skei hulle formeel in die hooggeregshof in Bloemfontein. Na die egskeiding sien sy nooit weer haar gewese man nie. Hy het reeds voor die egskeiding ’n verhouding met ’n ander vrou en aanvaar vaderskap vir die twee kinders wat uit die verhouding gebore is. Op 13 Junie 1925 is hy in Pretoria oorlede. Die impak van die egskeiding op M.E.R. was erg, omdat dit in daardie dae nog as ’n groot skande beskou is. Sy put egter inspirasie uit die voorbeeld van haar eertydse onderwyseres, Etta Colby, wat ook ’n geskeide vrou was maar desnieteenstaande lewensblyheid uitgestraal het en voortgegaan het met waardevolle diens aan die gemeenskap.
M.E.R. hou aanvanklik op Swellendam vir Annie huis en doen vertalings en afskryfwerk, terwyl sy ook op doodkiste die naam, ouderdom en ’n skrifwoord in olieverf skilder. Oom Tommie Ravenscroft, ’n bekende fotograaf, het haar sy kuns geleer en met haar broer Frits se hulp is ’n donkerkamer in die agterplaas gebou en goed toegerus, sodat sy ook hieruit ’n verdienste kon kry. In 1907 was Annie assistente in die groot skool onder prinsipaal Bowes, wat lojaal was teenoor die Engelse regering. Annie en haar kollega Marthinus Siebert reël ’n konsert en koop met die inkomste Nederlandse boeke vir die skool se biblioteek, onder meer dertien van D’Arbez se boeke. Mnr. Bowes het die inspekteur laat kom en dié het beslis dat elf van hierdie dertien onskadelike boeke ongewenste leesstof is. Anna en Marthinus is by die skoolkomitee en Departement aangekla, verhoor en gevonnis, en Annie is ontslaan. Saam met Annie begin M.E.R. dan in 1907 ’n “opposisie skooltjie” op Swellendam om die verengelsingsbeleid teen te werk, wat so suksesvol is dat dit later ’n derde van die dorp se kinders oplei. Hulle kan dit egter nie bekostig om skoolgelde te hoog te maak nie en na drie jaar word hulle in April 1910 weens finansiële druk genoop om, op weliswaar voordelige terme vir hulle, weer met die staatskool saam te smelt. M.E.R. word aangestel op die personeel van die verenigde skool, waar sy voortaan gedwing word om in Nederlands en Engels klas te gee. Haar moeder se gesondheid gaan intussen agteruit en in 1915 neem sy haar intrek by M.E.R. aan huis. In 1917 word deur bemiddeling van haar suster Lettie ’n tak van die Afrikaanse Christen Vrouevereniging (ACVV) op Swellendam gestig, waarvan M.E.R. lid word.
Loopbaan as skrywer Vroeg in 1917 bedank sy haar onderwyspos omdat sy weer trouplanne kry, hierdie keer met die boer Pieter Arnoldus (Nols) Uys van die plaas Bontebokskloof buite Swellendam. Nols is ’n broer van Uys Krige se ma, Sannie Uys. M.E.R. verbreek egter die verlowing en gaan na haar moeder se dood op 13 Julie 1917 na die Laeveld, waar haar broer Frits op die plaas Dzoeaan in die distrik Barberton woon. Hier begin sy vir die eerste keer ernstig skryf en verskyn die gedig Disperis capensis (oor ’n soort orgidee) en artikels oor Die Boland se blomme, Die suikerkane en tolbosse, Die heide en Vroeë somer in die Laeveld in Die Brandwag. Die boerdery sukkel egter met ’n gebrek aan infrastruktuur, tekort aan toepaslike werkers en Frits se kwynende gesondheid, sodat sy weer noodgedwonge ’n ander uitkoms moet soek. In 1919 word sy na Ermelo genooi om private klasse aan kinders te gee en terwyl sy daar is, ontstaan ’n tydelike vakature aan die hoërskool (waar haar seun Koos intussen ook in die koshuis tuisgaan). Sy gee dus hier tydelik tot 1920 klasse in onder meer Latyn en woon in die seunskoshuis in. Rita Hubregtse, wat onder die skuilnaam Eva Walter later ook romans skryf, is een van haar kollegas.