thumb|300px|Uitsig op die tempel vanuit die buitehof van die paleis.

Wat Phra Kaew (Thai: วัดพระแก้ว, ), oor die algemeen in Afrikaans bekend as die Tempel van die Smarag Boeddha en amptelik as Wat Phra Si Rattana Satsadaram (วัดพระศรีรัตนศาสดาราม), word beskou as die heiligste Boeddhistiese tempel in Thailand. Die kompleks bestaan uit 'n paar geboue op die perseel van die Groot Paleis in die historiese middestad van Bangkok. Dit huisves die standbeeld van die Smarag Boeddha, wat beskou word as die land se beskermingsbeeld.

Die bou van die tempel het in 1783 begin op bevel van Rama I, die eerste koning van die Chakri-dinastie. Sedertdien was elke koning persoonlik betrokke by die uitbreiding, restourasie en versiering van die tempel vir goeie karma en om die dinastie te verheerlik. Baie belangrike staats- en koninklike seremonies word elke jaar in die tempel gehou, met die koning en regeringsamptenare wat teenwoordig is. Dit maak die tempel die belangrikste aanbiddingsplek en 'n nasionale heiligdom vir die monargie en die staat. Deur die jare het konings heilige en waardevolle voorwerpe aan die tempel geskenk, en dit is dus ook 'n skatkis.

Die tempelkompleks het verskeie geboue vir spesifieke godsdiensdoeleindes wat in 'n verskeidenheid Thaise argitektoniese style gebou is, terwyl die tradisionele beginsels van Thaise godsdienstige argitektuur steeds gevolg is.

Geskiedenis thumb|160px|Koning Rama I het die Chakri-dinastie in 1782 gestig; hy het 'n jaar later begin met die bou van die tempel.

Toe koning Rama I Bangkok op 6 April 1782 die hoofstad van die huidige Thaise koninkryk maak, was 'n geskikte koninklike paleis en tempel nodig om die nuwe Chakri-dinastie te wettig. Die rede dat die koning 'n nuwe hoofstad gekies het, was om hom te distansieer van koning Taksin, wat hy vervang het as koning van Siam. Die ou paleis in die vorige hoofstad, Thonburi, was klein en tussen twee tempels ingedruk en dit het verdere uitbreiding voorkom.

Rama I het die Groot Paleis aan die oosteroewer van die Chao Phrayarivier laat bou, binne 'n versterkte stadsgebied wat nou as Rattanakosineiland bekend is. 'n Terrein in 'n paleiskompleks is tradisioneel uitgehou vir 'n tempel of kapel vir die koning en sy familie se persoonlike gebruik. Die tempel (of wat) sou aan alle kante deur 'n muur omring wees en dus apart wees van die koning se woonruimte. Dit sou al die eienskappe van 'n gewone Boeddhistetempel hê, buiten woonkwartiere vir monnike. In plaas van sy eie monnike te hê, is monnike van ander tempels genooi om rituele uit te voer, en daarna het hulle weer vertrek.

thumb|links|Die Wat Phra Kaew-kompleks soos gesien van buite die mure van die Groot Paleis. Bouwerk aan die tempel het in 1783 begin. Die tempel het die amptelike naam Wat Phra Si Rattana Satsadaram gekry, wat beteken "die tempel wat die pragtige juweel van die klooster van die goddelike onderwyser bevat". Die tempel se hoofsaal was die eerste gebou in die hele paleiskompleks wat in messelwerk voltooi is, terwyl die koning se woning steeds van hout gemaak was. Die tempelkompleks is in die noordoostelike hoek van die buitehof van die Groot Paleis gebou.

Op 22 Maart 1784 is die Smarag Boeddha met groot seremonie van Thonburi oor die rivier na die Rattanakosin-kant vervoer en in sy huidige posisie geplaas.

Die tempel het verskeie tydperke van groot restourasie deurgemaak. Dit het begin tydens die bewindstydperke van Rama III en Rama IV. Rama III het herbouwerk in 1831 begin vir die 50ste herdenking in 1832 van Bangkok as hoofstad, terwyl Rama IV se restourasies deur Rama V voltooi is vir die honderdjarige herdenking in 1882. Verdere restourasies is deur Rama VII laat doen tydens Bangkok se 150ste herdenking as hoofstad en deur Rama IX vir die 200ste herdenking in 1982.

As koninklike tempel dien die Wat Phra Kaew steeds as terrein vir Boeddhistiese godsdiensrituele deur die koning en sy familie, insluitende gebeure soos kronings van konings en inhuldigings van patriarge. Die koning, of iemand wat hy aanstel, woon ook jaarliks seremonies by om die groot Boeddhistiese vakansiedae en ander feeste in die tempel te vier. Drie keer per jaar word die goue klere van die Boeddha omgeruil vir die seisoene. Op die meeste ander dae is die tempel en ander dele van die Groot Paleis oop vir besoekers. Hulle is van die land se grootste toeriste-attraksies.

Ubosot thumb|Die Ubosot van Wat Phra Kaew word deur 'n lae muur omring.

Die Phra Ubosot (พระอุโบสถ), of inhuldigingsaal, beslaan feitlik die hele suidelike deel van die tempelkompleks. Die Ubosot word deur 'n lae muur omring; dié skeiding lê klem op die gebou se gewyde aard. Die muur bevat agt klein pawiljoene met hoë spitse, elk met 'n dubbele grenssteen wat met bladgoud oortrek is. In Thaise godsdiensargitektuur dui sulke stene tradisioneel op 'n heilige grens waarbinne die inwyding van 'n monnik plaasvind.

Bouwerk aan die Ubosot het in 1783, tydens die bewind van Rama I, begin; as sulks is dit een van die oudste strukture in die tempel. Dit is gebou om die Boeddhabeeld bekend as die Smarag Boeddha te huisves; die koning het in 1779 in Laos daarop beslag gelê. Die beeld is voorheen in Thonburi gehou en is op 22 Junie 1784 in die tempel geplaas. In 1831 het Rama III 'n groot restourasie van die buitekant van die Ubosot gelas.

Buitekant thumb|links|Die sentrale basis van die Ubosot is versier met 'n ry van 112 goudbeelde.

Die enkelverdieping-Ubosot is reghoekig en die hoofingang is aan die oostekant. Die saal word omring deur pilare wat 'n massiewe dak ondersteun. Die dak is bedek met blou, geel en oranje geglasuurde teëls. Aan die kante van die dak word die Hindoegod Narayana (of Vishnu) op die rug van 'n Garuda ('n mitiese halfman, halfvoël) uitgebeeld, terwyl laasgenoemde in albei hande die sterte van twee slange vashou. Die figuur van die god is 'n tradisionele simbool van koningskap en is van die vroegste tye af deur Thaise konings as hulle simbool aanvaar. Die vahana (of voertuig) van die god is die mitiese Garuda. Laasgenoemde is 'n wese van krag en trou en is as 'n nasionale embleem deur Thailand aanvaar. Aan die dakrand is honderde klein, vergulde windklokkies.

Die buitemure van die Ubosot is bedek met tradisionele Thaise versiering van bladgoud en gekleurde glas. Dit is op 'n basis van verskeie lae gebou en staan hoog bo die grond. 'n Trap is nodig om dit binne te gaan. Die laagste van die basislae is versier met geverfde teëls met blompatrone op 'n dofblou agtergrond. Die volgende vlak is 'n lotusontwerp in gekleurde glas. Die volgende vlak is versier met die Garuda. Altesaam 112 Garudas, elk met twee slange in sy kloue, omring al vier kante van die Ubosot. Hulle is verguld en het inlegsels van glasmosaïek. Daar is ses deure, drie aan elke punt van die gebou. Elke deur het bo-op 'n kroonagtige, spitsvormige versiering en kan net deur 'n kort trap bestyg word. Die middelste deur, effens groter as die ander, mag net deur die koning gebruik word. Die deure is versier met pêrelinlegsels wat mitiese diere en blaarontwerpe uitbeeld. Die Ubosot se mure is uiters dik, en binne die binnedeurrame word beskermgode in goud uitgebeeld met óf swaarde óf spiese.

Aan die kante van die trappe wat na die deure van die Ubosot lei, staan 12 bronsleeus. Sommige van hulle is afbeeldings wat moontlik deur Rama III laat maak is.

Binnekant thumb|links|220px|Die onderste deel van die Ubosot is versier met geverfde porselein, met blomme en voëls op ligblou.

Die hele binnekant van die Ubosot is bedek met geverfde muurskilderings wat stories oor die Boeddha uitbeeld. Die houtplafon is geverf met rooi sterre wat van glasmosaïek gemaak is. In die westelike deel van die Ubosot is die voetstuk met veelvuldige lae waarop die Smarag Boeddha sit. Talle ander Boeddhabeelde omring dit.

Teen die oostelike muur word die storie van die Boeddha en die demoon Mara uitgebeeld. Dit vertel hoe Mara en sy leër probeer voorkom het dat die Boeddha verligting bereik. Die Boeddha het die godin Phra Mae Thorani egter gevra om hom te verdedig. Sy word regs bo die middelste deur uitgebeeld – sy druk water uit haar hare en dit veroorsaak 'n groot vloed wat Mara se leër laat verdrink.

Teen die westelike muur agter die Smarag Boeddha word die Traiphum, of Boeddhistiese kosmologie, uitgebeeld.

Teen die noordelike en suidelike muur is die skilderings in horisontale seksies verdeel. In die boonste dele bo die vensters word stories oor die Boeddha se lewe uitgebeeld. Teen die noordelike muur beeld die onderste deel 'n koninklike optog op land uit en teen die suidelike muur 'n koninklike optog op water.

Smarag Boeddha thumb|240px|Die Smarag Boeddha word as die heiligste beeld in Thailand beskou.

Die Smarag Boeddha, of Phra Kaeo Morakot (Thai: พระแก้วมรกต), amptelik Phra Phuttha Maha Mani Rattana Patimakon (พระพุทธมหามณีรัตนปฏิมากร), is die tempel se belangrikste Boeddhafiguur. Die heilige beeld is van 'n mediterende Gautama Boeddha wat in die lotusposisie sit. Dit is gemaak van 'n groen halfedelsteen (wat dikwels as smarag beskryf word, maar die woord verwys na die kleur) en dra goue uitrustings. Dit is sowat 66 cm hoog.

Die voetstuk van verskeie lae (than chukkachee) waarop die Smarag Boeddha sit, is in die vorm van 'n butsabok-troon, 'n oop pawiljoen op 'n piramidebasis met 'n hoë spits. Die hoogs ornamentele voetstuk is tydens die bewind van Rama I gemaak; dit is van hout en met goud oorgetrek. In die tyd van Rama III is dit hoër gemaak toe hy 'n doodsbaar vir Rama II daaronder laat plaas het. Talle Boeddhabeelde kom om die voetstuk voor, sowel as skatte wat die afgelope 200 jaar deur verskeie konings geskenk is. Voorbeelde sluit twee marmervase en 'n marmertroon van Europa in wat in 1908 aan die tempel geskenk is.

Ander Boeddhabeelde Om die voetstuk is ander Boeddhabeelde wat deur verskeie konings aan die tempel geskenk is. Die merkwaardigstes is:

Phra Phuttha Yotfa Chulalok Die beeld staan regs voor die Smarag Boeddha en kyk van die ingang na die voetstuk se noordekant. Die Boeddha staan met albei sy hande na voor gedraai, wat dui op vreesloosheid. Dit word die "stilmaak van die water" genoem. Dit gedenk 'n wonderwerk van Boeddha wat gekeer het dat 'n vloed sy huis bereik. Dit is ook simbolies van die Boeddha se bemeestering van die passies. Die beeld dra 'n kroon, halsband, ringe en ander bykomstighede. Dit is meer as 3 m hoog en is van brons, oorgetrek met goud. Dit is in 1841 op bevel van Rama III laat maak om die bewind van sy oupa Rama I te gedenk.

Phra Phuttha Loetla Naphalai Dié beeld staan links voor die Samarag-Boeddha (aan die suidekant van die voetstuk). Dit lyk nes die eerste een, maar gedenk die bewind van Rama II. Die beelde se name, Phra Phuttha Yotfa Chulalok (พระพุทธยอดฟ้าจุฬาโลก) en Phra Phuttha Loetla Naphalai (พระพุทธเลิศหล้านภาลัย) is die amptelike troonname van dié twee konings.

Boeddhas wat die Chakri-dinastie verteenwoordig Om die sentrale voetstuk van die Smarag Boeddha is nog 10 Boeddhabeelde wat elk die lewe van 'n lid van die vroeë Chakri-dinastie gedenk. Hulle is almal deur verskeie konings laat maak ter ere van 'n afgestorwe voorouer of familielid. Hulle het ook die "stilmaak van die water"-houding. Hulle word deur hulle gewade (klere) onderskei: Dié met hulle gewade uitwaarts gesprei, verteenwoordig koninklike mans; dié met hulle gewade wat om die lyf gevou is, verteenwoordig koninklike vroue. Die beelde staan op drie vlakke, met een op elk van die vier hoeke van die voetsuk op die boonste vlak, vier op die vier hoeke van die middelste vlak en twee aan die voorkant van die voetsuk op die onderste vlak.

Phra Samphuttha Phanni