Anrich Arno Nortje (gebore 16 November 1993) is 'n Suid-Afrikaanse professionele krieketspeler. Hy het sy internasionale buiging vir die Suid-Afrikaanse krieketspan in Maart 2019 gemaak. In Julie 2020 is Nortje aangewys as die nuweling van die jaar by Krieket Suid-Afrika se jaarlikse prysuitdeling.

Plaaslike en T20-loopbaan Hy was in die Oostelike Provinsie se groep vir die 2016 Afrika T20-beker ingesluit. In Oktober 2018 is hy aangewys in Cape Town Blitz se groep vir die eerste uitgawe van die Mzansi Superliga T20-toernooi. Halfpad deur die toernooi moes hy weens 'n enkelbesering uitsit. In Desember 2018 is hy deur die Kolkata Knight Riders op die spelersveiling vir die 2019 Indiese Premierliga gekoop. Hy het egter in Maart 2019 die toernooi weens 'n skouerbesering misgeloop.

Internasionale loopbaan In Februarie 2019 is hy aangewys in Suid-Afrika se Internasionale Eendag (EDI)-groep vir hul reeks teen Sri Lanka. Hy het sy EDI-buiging vir Suid-Afrika teen Sri Lanka op 3 Maart 2019 gemaak. In Maart 2019 is hy aangewys in Suid-Afrika se Twintig20 Internasionale (T20I)-groep ook vir die reeks teen Sri Lanka, maar is weens 'n besering uit die T20I-reeks gesluit. Hy het onder meer tydens die T20I-wêreldbekertoernooie in 2021, 2022, 2024 en 2026 vir Suid-Afrika gespeel en sou ook tydens die krieketwêreldbekertoernooie in 2019 en 2023 verskyn het, maar hy het die twee laasgenoemde toernooie weens beserings misgeloop. Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 kon Suid-Afrika vir die eerste keer die eindstryd van 'n krieket- of T20I-wêreldbekertoernooi vir mans haal, maar hulle het naelskraap met sewe lopies teen Indië verloor.

Verwysings

Eksterne skakels Anrich Nortje by ESPNcricinfo

Kategorie:Geboortes in 1993 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Suid-Afrikaanse krieketspelers