Die Suid-Afrikaanse Weermag het in die laat-1970's 'n Siberiese gryswolfmannetjie met twee Duitse herderstewe gekruis; hul nakomelinge sou by wyse van selektiewe teling tot skerper en sterker wolfkruisings in die Suid-Afrikaanse Weermag vir die Grensoorlog verder ontwikkel word. Die projek is in die vroeë of laat 1980's laat vaar.

Agtergrond Volgens (in sy boek geskryf in 2010) het die teelprogram vroeg in 1971 sy aanvang geneem toe die Suid-Afrikaanse Weermag se Perde- en Hondesentrum 'n jong Siberiese gryswolfmannetjie as skenking ontvang het van mnr. Kevin Wilson van die High Noon-wildplaas naby Villiersdorp. "Big Red", of "Red", is deur sy moederwolf verwerp en deur die Wilsons grootgemaak. Omrede sy liggaamsbou en temperament geskik was, en boonop as 'n pragtige dier beskou is, is wolwekennis van buite deur die Weermag ingeroep.Coetzee, P. 2010. K-9 Honde Soldate: Memoirs van die SAW Honde Sentrum. Noorsekloof: Selfgepubliseer, pp. 110-119

Dr. Istwan Larendler het sy doktorsgraad by die Fakulteit Dierkunde aan die Universiteit van Boedapest verwerf, met wolwe as sy vakgebied. Big Red het egter sersant Dan Howden (die bevelvoerder van die hondesentrum) as sy dresseerder en tropleier aanvaar. Die heimlike gedagte om hierdie wolf na die grens te stuur om daar diens te doen, het dr. Larendler summier afgeskiet: 'n wolf is van nature 'n skugter dier wat net vrees en haat ken as hy in 'n hoek gedryf word. Dr. Larendler het wel die kruising met Duitse herderstewe goedgekeur, met dien verstande dat die geskikte honderas eers teen die vyfde geslag geworp sal word.

Volmaanaande was met die bloedstollende wolwehuil en slapelose nagte sinoniem, getuig Coetzee, want as die "hoofsanger" (by name Red) eers begin huil, het die ander bykans 150 honde ("mede-inwoners") in 'n koor ingeval. Nog 'n probleem was die ligging van die teelafdeling, wes van die hondehokke. Indien die wind die reuk van die wyfies op hitte sou skep en na die reuns sou waai, kon die opleiding van laasgenoemde eenvoudig nie voortgaan nie; 'n mens kon niks met hulle uitgerig kry nie.

Toe die hondeskool omtrent 10 jaar later na Bourke's Luck (Oos-Transvaal) verskuif is, is daar sprake van tot 'n sesde geslag kruisings wat geteel is. Een van die eerste nasate, Zorro, was 'n pragtige dier, maar 'n uiters moeilike en beneukte wolfkruising; slegs twee persone by die opleidingskool kon hom dresseer, by name onderkorporaal Paul Roos en skutter O'Hara. Daar is ook bevind elke afsonderlike werpsel se temperament het verskil.

In 1982 is dr. Larendler se hipotese op die proef gestel toe die wolfkruisings na die grens gestuur is. Al was van die latere kruiswerpsels beduidend vriendeliker as die Zorro-tipe, en al kon hierdie jongste generasies ook uitstekend spoorsny, is die projek summier beëindig. Die pels was te dik en het aan al wat doring is vasgehaak en die hitte was boonop uitputtend.

(medestigter van die South African Friends of Wolves in Oktober 2004 Rudelnachrichten. 2006. Wölfe in Südafrika. Oktober/November. S. 13-15.) stel egter die aanvangsdatum vas op 1978, met twee artikels uit die media, benewens persone met wie sy onderhoud gevoer het, as bewysstukke. Volgens haar is die einde van die kruisingsprogram in 1988 (wat wel strook met hibriede-eienaars wat selfs in die 2000's aanvoer hul kruisings is uit die weermag afkomstig), hoewel haar aanhaling uit Peet Coetzee se boek Dogs of War sê dr. Larendler het sy stelling in 1982 gemaak;Trollope, S. 2014. Wolves in the Army. Pretoria: Selfgepubliseer, pp. 210-241 terwyl Coetzee se Afrikaanse boek sê: "Die stelling van dr. Larendler is 1982 bewys, toe wolfkruisings aan die grens beproef is".

Die eerste bewyse van die aanvangsdatum haal sy aan uit The Pretoria News, geskryf deur die koerant se vaste verslaggewer, van 1978; die aankoms van die wolfwelpie by die weermag skat sy iewers in Augustus 1978 (geen datum word in die artikel vermeld nie).

"Red" was toe maar 7 maande oud toe hy by Voortrekkerhoogte se weermagshondeskool aangekom het. Hy was maar senuagtig en onseker in sy nuwe omgewing, maar het geen geluid gemaak of gegrom nie, want hy het nie soos mak honde geblaf nie. Inteendeel, hy het glad nie van die hondegeblaf en ander geraas gehou nie - hy was nog wild (volgens sy dresseerder, Sersant "Dann"). Die nuweling se aankoms by Voortrekkerhoogte volg twee weke nadat daar 'n beroep op die publiek gedoen is om honde aan die weermag te skenk.

Die tweede bewysstuk is 'n artikel wat in die Maartuitgawe van Paratus in 1980 verskyn het, die mondstuk van die Suid-Afrikaanse Weermag. Trollope skryf sy het die artikel in Engels vir haar Amerikaanse lesers vertaal.

Paratus het met kaptein D. de W. Wessels, die Bevelvoerder van die Verkrygingsvleuel (onder wie se aanvoering hierdie projek volvoer is) die onderhoud gevoer.Paratus. 1980. Wolf druk sy stempel af op SA Weermag se herdershonde. Maart, Jaargang 31 (3): 31

In die oorspronklike artikel in Afrikaans word daar dan ook berig die hondesentrum in Voortrekkerhoogte het 'n jong Europese wolf met 'n Duitse herdershondteef "in wetenskaplike omstandighede" gepaar. 'n Soortgelyke kruisteling is wel voorheen in Duitsland gedoen, maar op Suid-Afrikaanse bodem is dit vir die eerste maal op "streng wetenskaplike wyse" gedoen. Daar staan dan duidelik in die artikel:

Die doel van die projek was om "die positiewe eienskappe van die wilde dier oor te dra op die mak hond". Die uiteindelike voordele word eers vyf tot tien jaar die toekoms in gestel. Van die "veelvuldige" positiewe eienskappe by die wolf sluit in:

"sy ekonomie van beweging" (energie word spaarsaam gebruik vir beweging) die bogemiddelde spierkrag tot spiermassaverhouding is sterker as by 'n hond van soortgelyke massa wat gepaardgaan met taaiheid, gehardheid, uithouvermoë en gesonde beenstruktuur "die wolf is ingestel op oorlewing en het 'n skerper gebruik van sy sintuie as 'n hond".

In dieselfde berig staan ook:

Die welpies uit hierdie werpsel sou dan later met honde geteel word, lui die artikel. Verdere toetse sal volg en by wyse van selektiewe teling sal 'n hond ontwikkel word wat die beste eienskappe van die wolf en die Duitse herdershond openbaar.

Paratus (wat 282 uitgawes vanaf November 1970 tot April 1994 uitgegee het) bevat egter nog twee artikels wat Big Red noem.

Skaars 'n paar maande ná die Maartartikel, verskyn in die bylaag van die Junie 1980-uitgawe van Paratus 'n artikel getiteld: "Tukkies en SAW stal saam uit." Die volgende inligting word vermeld:Paratus (Bylaag). 1980. Tukkies en SAW stal saam uit. Junie, bl. V

Bokant die berig pryk 'n foto met die byskrif, "Twee jong hondjies van die eerste werpsel van die Herdershond/wolfkruising, saam met hul vaar, "Big Red" (in die middel)", gevolg deur die name van die militêre personeel en akademici.

Maar Red se teenwoordigheid is voor 1980 vir die Paratus bekend. In Paratus se Novembermaand-uitgawe van 1978 verskyn die volgende sin in 'n artikel wat handel oor 'n uitstalling by Voortrekkerhoogte:Paratus. 1978. Broadcasters told about the real threats. November. Jaargang 29(11):7.

Verloop (Big) Red is wel in Suid-Afrika geworp, maar sy vaar en moer tel onder die ses wolwe wat in die Johannesburgse Dieretuin aangekom het na 'n ruilooreenkoms wat met 'n dieretuin in Berlyn in Duitsland aangegaan is vir boksoorte. Die wolfpaar is uit die Oeralgebergte (die Oekraïne), die Sowjetunie, deur die Duitse dieretuin aangekoop. Die Johannesburgse Dieretuin het mettertyd besef die ruimte in die dieretuin raak bietjie knap vir die ses. Big Red se moeder- en vaderwolf (3 en 4 jaar oud onderskeidelik) het 'n nuwe tuiste gevind by die High Noon-wildplaas.

Op die High Noon-wildplaas is 'n werpsel van vier gebore: twee wolvinnetjies en twee mannetjies. (Big) Red was een van hulle. Mnr. Kevin (Wilson) moes die werpsel hans grootmaak, omdat die moederwolf (steeds 3 jaar oud) nie die kleintjies kon soog nie. Om Red te onderskei van sy broederwolf, het mev. Wilson die naels van sy voorpote met rooi naellak geverf. Vandaar die naam.

Teen die middel van 1978 het die Weermag tydens die TV-nuus 'n beroep gedoen op die publiek om honde aan die Suid-Afrikaanse Weermag te skenk. Sersant Dann Howden is gelas om die honde en hondjies te keur, en te dresseer. Mnr. Wilson het die weermag kort na die uitsending gekontak, en die 7-maande-oue wolfie is goedgekeur. Sy pelskleur was nogal soortgelyk aan 'n Duitse herdershond s'n. Die angs was nie alleen te sien in die hoekie van die krat waar hy hom probeer kleinmaak het nie, maar ook in die drade van sy kampie wat hy probeer afkou het. Die kampie self was wel ruim genoeg en vir hom alleen.

Aanvanklik is die leiband en ketting gebruik, soos dit destyds maar die algemene gebruik was onder die meeste Duitse hondedresseerders om honde mee op te lei. Die geslaagde Pawlow-metode (die beloningmetode), so het sersant Howden aan Trollope meegedeel, was maar slegs akademies vertaal in 1928 en in Suid-Afrika haas onbekend. Red kon wel met die leiband loop, en sit, soos gevra. Maar by die dierekliniek wou hy nie oor die drumpel trap nie, en hy was 'n sterk wilde dier wat summier vasgesteek het. Algou is besef niks motiveer hom genoeg nie, behalwe kos. Hy is voortaan beloon met stukkies vleis. Ná ses maande onder sy toesig het sersant Howden ook ander dresseerders touwys gemaak hoe om die wolf korrek te hanteer. Gewoonlik kies 'n wolf by die sosialiseringsproses slegs een tropleier met wie hy sy daaglikse roetine deurbring, maar die vleisbeloninkies van vreemdes het ook hier vrugte afgewerp.

Toe Big Red oor die 2 jaar oud was, is 'n Duitse herdershondteef (Cathleen, of Kathleen, ongeveer 3 jaar oud) na sy kampie gebring. Sy was in haar bronstyd, en hieruit is ses wolfkruisings gebore. 'n Tweede Duitse herdershondteef (naam onbekend) het nog 'n werpsel van ses gebaar. Twee werpsels is binne 18 maande gebore. Die eerste geslag kruisings was maar menssku, maar opmerklik minder vrees vir die mens is vanaf die vierde geslag getoon. Die kruisings was oor die algemeen woeliger as 'n gewone Duitse herdershondjie wat ook 3-4 weke oud is.

Hoe ouer Big Red geword het, des te meer onvoorspelbaar het hy begin word.

By die Universiteit van die Witwatersrand was sersant Howden en die wolf (geketting) in die lesingsaal teenwoordig om 'n praatjie van 'n wetenskapstudent af te rond met 'n tentoonstelling van 'n egte wolf, voor die studente. Die wolf het vorentoe gespring en 'n student se middagete uit sy hande gegryp.

By 'n veearts kos dit vier mense om Big Red vas te pen om 'n bloedmonster te neem ('n Duitse herdershond het hoogstens twee mense nodig). Maar toe 'n professor van die Universiteit van Pretoria eendag by Voortrekkerhoogte opdaag en die wolf in sy kampie besoek, staan Red op sy agterpote, en plaas sy een voorpoot op die professor se arm. 'n Bloedmonster kon toe sonder probleme deur 'n mediese personeellid geneem word vir ontleding.

Tydens nog 'n tentoonstelling voor studente verloop alles heel vlot; maar toe weier die wolf botweg om terug te klim in sy reishokkie. Hy moes teruggedwing word.

Teen driejarige ouderdom het Big Red volkome volwassenheid bereik en om dominansie met sy meerderes (die dresseerders) begin meeding en beproef, soos wolwe van nature doen.

Wel onverwags is die voorval waar 'n tuinwerker wat tydens die wolf se oefening verbygeloop het, bevloog en aan die broekspyp beetgekry is. Big Red het geweier om die broekspyp te laat los. Die broek moes met 'n skêr losgeknip word.

Toe 'n dresseerder kort daarna self 'n stelletjie met die wolf afgetrap het, is die wolf van sy pligte onthef en na die Johannesburgse Dieretuin gestuur. Sersant Howden het hom op 1 Augustus 1980 self soontoe geneem; die twee Duitse herdershondtewe het by Voortrekkershoogte by die teelafdeling agtergebly.