Grigori Petrowitsj Grabowoi Russies: Григо́рий Петро́вич Грабово́й, Tseggies: Grigorij Petrovič Grabovoj) (gebore op 14 November 1963 in die omgewing van Sjimkent, Kasakstan, is 'n gekwalifiseerde werktuigkundige en paramedikus, en die stigter en leier van die Russiese sekte Onderrig in universele redding en harmonieuse ontwikkeling (Обучение всеобщему спасению и гармоничному развитию)'. Hy beweer dat hy die wederkoms van Jesus Christus is, dooies weer kan laat lewe, vigs en kanker te eniger tyd kan genees, probleme met elektroniese toestelle op 'n afstand kan diagnoseer en oplos, heldersiende is en die werklikheid kan verander.

In 2008 is hy tot 11 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy aan die moeders van die slagoffers van die Beslan-skoolbeleg in 2004 belowe het dat hy hul kinders uit die dood kan laat opstaan. Hy is vroeg in 2010 vrygelaat en woon nou in Serwië, van waar hy sy pseudowetenskaplike projek Heelal-inbraakkodes bevorder, wat veral gewild is weens die koronavirusepidemie, meestal deur die sosiale netwerk TikTok.

Biografie Grabowoi is op 14 November 1963 op die dorp Kirowo in die Sjimkent-streek van Kasakstan gebore in 'n familie van Oekraïense afkoms. In 1986 studeer hy aan die Fakulteit Toegepaste Wiskunde en Meganika aan die Politegniese Universiteit van Tasjkent, met hoofvak meganika. Na die gradeplegtigheid werk hy in die ontwerpkantoor vir algemene ingenieurswese in Tasjkent.

Oesbekistan In Desember 1991 onderteken die Oesbeekse burgerlugvaartadministrasie (UzUGA) 'n ooreenkoms met die Oesbeeks-Amerikaanse maatskappy Askon waarkragtens die ministerie vir die dienste van Grabowoi betaal vir "die ontwikkeling van metodes vir heuristiese ontleding, diagnose en voorspelling van lugvaartmislukkings". In Julie 1992 het UzUGA 'n verdere ooreenkoms aangegaan vir die ontwikkeling deur Grabowoi van "onkonvensionele metodes vir tegniese ontleding, diagnose en voorspelling van lugvaartfoute".

In Januarie 1993 het UzUGA Grabowoi geborg vir "'n studie van die effek van lugvaartelektroniese toerusting op vlieëniers in vlug om veiligheid te verhoog." In Junie 1994 het die Oesbeekse nasionale lugdiens, Uzbek Havo Yollari, 'n langtermynooreenkoms aangegaan waarin Grabowoi "werk sou verrig oor die niesensoriese diagnose van vliegtuie wat deur die president van die republiek en lede van die regering van Oesbekistan vir vlugte gebruik is". Die resultate van Grabowoi se werk aan buitesensoriese diagnosering van vliegtuie word weerspieël in sy drieledige boek The Practice of Control. The Way of Salvation.

In Januarie 1996 het Grabowoi die laaste kontrak in Oesbekistan aangegaan om "werknemers van die maatskappy te bestuur deur middel van kontaklose sielkundige werk".

Ontmoeting met Baba Vanga Volgens Grabowoi het hy in Oktober 1995 die Bulgaarse "heldersiende" Baba Vanga in die dorp Rupite, Bulgarye, ontmoet en het Valentina Genkova, die redakteur van die Bulgaarse nasionale televisiediens, as vertaler opgetree. Volgens haar is kwessies rakende kern- en ekologiese risiko's vir die planeet, die verlenging van die menslike lewe, die moontlikheid om nie te sterf nie en die vereniging van godsdienste tydens die vergadering bespreek. Vanga het haar mening uitgespreek dat "Grigori Petrowitsj, wat fenomenale eienskappe het, noodwendig moet voortgaan om met mense te werk en die toepassingsgebiede van sy vermoëns uit te brei. Hy moet in Rusland werk, van waar hy sy kennis en kuns sal versprei na alle lande van die wêreld."

Ljoedmila Kim ('n tradisionele geneser van Moskou) het op 13 Oktober 2005 in 'n onderhoud met die koerant Komsomolskaja Prawda gesê dat sy teenwoordig was tydens 'n vergadering tussen Grabowoi en Vanga. Volgens Kim was Vanga se siening oor die vermoëns van Grabowoi skerp, en Grabowoi is van die vergadering geskors. Op 7 April 2006 skryf Komsomolskaja Prawda oor 'n vergadering van "'n jong sesibila van Rusland" in Bulgarye in 1995 waartydens die beroemde heldersiende Vanga vir Grabowoi 'n toets opgelê het, maar sy was ontevrede met die "selfverklaarde geneser" en het Grabowoi letterlik uitgeskop, soos baie Bulgaarse koerante vertel het. In Julie 2006 het die Letse/Russiese redakteur en joernalis Andrei Lefkin aan die koerant Wzgljad gesê dat 'n dokumentêr op die Sentrale televisienetwerk die verfilming van die vergadering van Vanga en Grabowoi toon, wat geëindig het in Vanga se baie emosionele reaksie en uitsetting van Grabowoi.

Die Bulgaarse joernalis Valentina Genkova betoog toe teen die onwettige gebruik deur Russiese televisie van haar outeursregbeskermde materiaal, die verfilming van 'n vergadering tussen Vanga en Grabowoi. Genkova het gesê dat die belang van Vanga se gesprek met Grabowoi heeltemal verdraai is in die fragment van die verfilmde materiaal wat gebruik is.

Rusland In 1995 verhuis Grabowoi na Rusland, waar hy na bewering deur Georgi Rogozin, adjunkhoof van die veiligheidsdiens van die president van die Russiese Federasie, bygestaan ​​word. In dieselfde jaar het Grabowoi 'n niewinsgewende organisasie geregistreer: Фонд Григория Грабового - внедрение и распространение Учения Григория Грабового "О спасении и гармоничном развитии (Grigory Grabowoi-stigting - implementering en verspreiding van die leringe van Grigory Grabowoi "Oor redding en harmonieuse ontwikkeling", wat later as die "DRUGG"-stigting bekend gestaan word. Tot 2006 het dit streekstakke in meer as 50 streke van Rusland gehad.

In 1999 het Grabowoi lesings gegee aan die Sentrum vir Onderwys en Opleiding van Spesialiste in Moderne Tegnologieë vir die Voorkoming en Uitskakeling van Noodgevalle van die Russiese Agentskap vir Noodgevalle - Noodmonitoring en Voorspelling. Die Ministerie van Noodsituasies het ook bevestig dat Grabowoi in 2001 met hulle in verbinding getree het vir verdere samewerking.

In 2000 stel hy die program "Grigori Grabowoi, die formule van gesondheid" aan die Russiese televisiekanaal TV-6 bekend. In dieselfde jaar is die koerant "Variantbestuur - Voorspelling" onder die DRUGG-stigting gestig. Dit het tien uitgawes gedruk en is in 2005 beëindig.

In 2001 publiseer E.P. Kroegljakof van die Russiese Akademie vir Natuurwetenskappe (RANS) 'n verslag op die simposium "Wetenskap, Pseudowetenskap en Paranormale verskynsels", waarin ook die "kristalmodule" wat deur Grabowoi ontwikkel is, genoem word. Volgens Grabowoi, soos Krowgljakof verduidelik, halveer die module die krag van 'n kernontploffing en kan dit in kernkragstasies gebruik word om dit teen rampe te beskerm.

In 'n verslag van 2003 deur die Presidium van die Russiese Akademie vir Wetenskap oor pseudowetenskap, Kroegljakof, word die aktiwiteite van Grabowoi skerp gekritiseer:

In 2002 het die filmfonds van die Russiese Ministerie van Kultuur die film Die sending van Grigori Grabowoi gefinansier. In dieselfde jaar dien Grabowoi as visepresident van die Russiese Finansiële Unie, 'n fonds ter ondersteuning van staatsprogramme.

In 2004 word Grabowoi lid van die Openbare Akademie vir Veiligheid, Verdediging en Wetstoepassing. Hy is later geskors nadat vrae oor sy geloofsbriewe gevra is.

Grabowoi se leerstellings Grabowoi beweer hy het die vermoë om met die dood weg te doen, dooies weer te laat opstaan, kanker en vigs te genees, te teleporteer, en meganiese en elektroniese probleme op vliegtuie, ruimtestasies, elektriese kragstasies en enige ander tegniese konstruksies op 'n afstand reg te maak.

Op 5 Junie 2004 het Grabowoi 'n perskonferensie gehou waartydens hy homself as die wederkoms van Jesus Christus verklaar het:

Grabowoi se leerstelling heet "Oor redding en harmonieuse ontwikkeling" en die doel hiervan is "universele redding en verlossing vir elke persoon, wat ewige kreatiewe harmonieuse ontwikkeling verseker". Die hoofdoel daarvan is om " 'n wêreldwye ramp te voorkom en die geleentheid te bied om oplossings vir persoonlike take en algemene opstanding te bewerkstellig."

Volgens die gevolgtrekking van 'n omvattende sosio-sielkundige forensiese ondersoek wat as deel van strafregtelike verrigtinge uitgevoer is, is Grabowoi se leerstellings soos volg beskryf:

Grabowoi beskryf sy vermoëns in sy driedelige boek Die praktyk van aanpassing. Die weg van redding (Bestuurspraktyk. Die weg tot redding). Daarin skryf hy dat die doel van sy leer is om kennis van God aan sterflinge oor te dra, en sodoende sowel fisieke (onsterflikheid en opstanding van die dooies) sowel as geestelike voordele te bied.

Beslan-skoolmoord en ander ondersoeke na Grabowoi se sekte Grabowoi ontmoet in 2004 die moeders van kinders wat vermoor is tydens die beleg van 'n skool in Beslan, Suid-Rusland, en belowe dat hy hul kinders weer sal laat lewe, teen 'n prys.

Op 16 Julie 2004 verskyn 'n foto van Grabowoi met die destydse president van Kasakstan, Noersoeltan Nazarbajef op Grabowoi se webwerf saam met 'n verklaring wat hom toestemming verleen om sy lesing te versprei. In reaksie hierop het die ambassade van Kasakstan verklaar dat die dokumente wat die lesings van Grabowoi in die republiek ondersteun, tekens van vervalsing het. Na die onderhoud met die moeders van Beslan het 'n korrespondent van die dagblad Izwestia daarin geslaag om Grabowoi te ontmoet, wat toe al na homself verwys het as die wederkoms van Jesus Christus en aangekondig het dat hy in 2008 Russiese president sou word. Hy het probeer om sy probleme met die pers op te los deur omkoopgeld van $25 000 aan te bied.

Die uitgawe van Izwestia na die vergadering het 'n internasionale skandaal ontlok: Grabowoi het Nazarbajef se handtekening vervals op 'n dokument wat getoon het dat die president van Kasakstan 'n lid van sy sekte was en dat Grabowoi se leerstellings as staatsideologieë gekies is. Die staatsaanklaer in Moskou het daarna ondersoek ingestel na hierdie feite. Joernaliste van NTV, die BBC, Radio Liberty, die Triboena-koerant, die Regnoem-nuusagentskap en tientalle ander media in die streke van Rusland en Kasakstan het hierna by die ondersoek na die aktiwiteite van die Grabawoi-sekte aangesluit.

In 'n Maart-April 2007 het Susanna Doedijewa, leier van die "Moeders van Beslan"-komitee, aan verslaggewer Larisa Botsjanof gesê dat Grabowoi die slagoffer geword het van 'n smeerveldtog wat daarop gemik was om die aandag af te lei van die owerhede se swak hantering van die gyselaarsitusie in Breslan. Doedijewa noem 'n paar joernaliste wat volgens haar vals inligting versprei het, dikwels die teenoorgestelde inligting as wat sy aan hulle gerapporteer het. Onder die genoemdes was Wladimir Worsobin van Komsomolskaja Prawda, Dmitri Sokolof van Izwvestia 'en Aleksei Pimanof van die TV-program Man en orde. Doedijewa het egter later haar werk verloor omdat sy by Grabowoi se sekte aangesluit het en belowe het dat kinders uit die dood sou opstaan.

Volgens Jelena Milasjina van Nowaja Gazeta het die owerhede Grabowoi in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog. Milasjina het geskryf dat die Ostankino-afdeling van die Aanklaer-generaal van Rusland gedreig het om die televisieprogram Man en Orde vir aanhitsing van godsdienstige haat te dagvaar. Volgens Milasjina is Ewgeni Saoerof, wat twee jaar tevore klagtes teen Grabowoi ingedien het, op 'n nieverwante aanklag vervolg. Milasjina beweer dat Grabowoi in opdrag van Wladimir Poetin gearresteer is. Grabowoi het die koerant Komsomolskaja Prawda vir 1,2 miljard roebels gedagvaar, maar het die sak in die Sawelofski-hof in Moskou verloor.

Hof en gevangenis