Neil Geoffrey Turok (gebore 16 November 1958) is 'n Suid-Afrikaanse fisikus. Hy was vanaf 2008 tot 2019 die direkteur van die Perimeter Instituut vir Teoretiese Fisika. Hy spesialiseer in wiskundige fisika en vroeë-heelal fisika, insluitende die kosmologiese konstante en die sikliese model van die heelal.
Vroeë lewe en loopbaan duimnael|Turok, omstreeks 1990
Turok is gebore op 16 November 1958 in Johannesburg, Suid-Afrika as die seun van Mary (Butcher) en die Letties-gebore Ben Turok, voormalige Suid-Afrikaanse politikus. Nadat hy gradueer aan Churchill College, Cambridge, behaal hy sy doktoraat aan Imperial College, Londen, onder leiding van David Olive, een van die ontdekkers van snaarteorie. Na 'n post-doktorale pos aan die Universiteit van Kalifornië, Santa Barbara, was hy assosiaat wetenskaplike aan Fermilab, Illinois. In 1992 ontvang hy die Maxwell-medalje van die Instituut vir Fisika vir sy bydrae tot teoretiese fisika. In 1994 is hy aangestel as Professor van Fisika aan Princeton-universiteit, waarna hy die leerstoel vir Wiskundige Fisika aan die Universiteit van Cambridge hou met ingang 1997. In 2008 word hy aangestel as direkteur van die Perimeter Instituut.
Navorsing en ander bydrae Turok het in 'n aantal gebiede van wiskundige fisika en vroeë heelalfisika gewerk, met die fokus op waarnemingstoetse van fundamentele fisika in fisiese kosmologie. In die vroeë negentigerjare het sy groep getoon hoe die polarisasie en temperatuur anisotropie van die kosmiese agtergrondbestraling gekorreleer sou word, 'n voorspelling wat in detail bevestig is deur onlangse presisie-metings deur die WMAP ruimtetuig. Hulle het ook 'n sleuteltoets ontwikkel vir die teenwoordigheid van 'n kosmologiese konstante, wat ook onlangs bevestig is..
Turok en sy medewerkers het die teorie van oop inflasie ontwikkel. Met Stephen Hawking het hy later die sogenaamde Hawking-Turok instanton-oplossings ontwikkel, wat, volgens die geen-grens voorstel van Hawking en James Hartle, die geboorte van 'n inflasionêre heelal kan beskryf.
Saam met Justin Khoury, Burt Ovrut en Paul Steinhardt, stel Turok die idee van die Ekpirotiese heelal bekend, "... 'n kosmologiese model waarin die warm oerknal heelal geproduseer word deur die botsing van 'n membraan in die uitgestrekte ruimte met 'n afgrensende orbivou vlak, voortspruitende uit 'n andersins koue, leë, statiese heelal". Meer onlangs, saam met Paul Steinhardt by Princeton, ontwikkel Turok 'n sikliese model vir die heelal, waarin die oerknal verklaar word as 'n botsing tussen twee "membraan-wêrelde" in M-teorie. Die voorspellings van hierdie model stem ooreen met die huidige kosmologiese gegewens, maar daar is interessante verskille met die voorspellings van kosmologiese inflasie wat ondersoek sal word deur toekomstige eksperimente (waarskynlik deur die Planck ruimtewaarneming). In 2006 toon Steinhardt en Turok hoe die sikliese model natuurlikerwys 'n meganisme kan insluit om die kosmologiese konstante tot baie klein waardes te verslap, in ooreenstemming met die huidige waarnemings. In 2007 was Steinhardt en Turok mede-outeurs van die gewilde wetenskaplike boek getiteld Endless Universe.. In 2012 is Turok se Massey-lesings gepubliseer as The Universe Within: from Quantum to Cosmos.
In 2003 stig Turok die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe in Muizenberg. Die instituut funksioneer as 'n opvoedkundige sentrum wat die ontwikkeling van wiskunde en wetenskap regoor die kontinent van Afrika ondersteun.
Toekennings en eerbewyse In 2008 ontvang hy die TED-prys vir sy werk in wiskundige fisika en die stigting van die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe in Muizenberg. Hy het ook in 2008 die "Mees Vindingryke Mense-toekenning" ontvang vir Maatskaplike Innovasie tydens die Wêreldberaad op Innovasie en Entrepreneurskap (WSIE).
Op 9 Mei 2008 het Mike Lazaridis aangekondig dat Turok die nuwe uitvoerende direkteur van die Perimeter Instituut vir Teoretiese Fisika sou word, met ingang 1 Oktober 2008.
In 2010 ontvang Turok 'n prys van die Wêreldberaad vir Innovasie vir Opvoeding in Katar asook 'n prys van die Suid-Afrikaanse Wiskundige Vereniging. In 2011 ontvang Turok 'n Eredoktoraat van die Universiteit van Ottawa.
Op 3 November 2011 is Turok gekies om die Massey-lesings vir 2012 te lewer. Dit het vyf aparte lesings behels wat gelewer is in verskeie liggings regoor Kanada in Oktober 2012. Dit is kort daarna uitgesaai op CBC se Ideas radioprogram.
Turok ontvang in 2012 'n eredoktoraat van die Heriot-Watt-universiteit.
In 2014 was Turok die ontvanger van die Lane Anderson-toekenning vir sy boek getiteld The Universe Within: From Quantum to Cosmos.
Turok het die eregrade van "Doktor van Wetenskap" honoris causa ontvang van UCLouvain (4 Februarie 2019), Saint Mary's Universiteit (Halifax) (16 Mei 2014), die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (9 April 2014) en Universiteit Stellenbosch (26 Maart 2015).
In 2016 ontvang Turok die 2016 John Torrence Tate-toekenning tydens die 2016 SPS Vierjaarlikse Kongres in San Francisco, wat tot op datum die grootste samekoms van voorgraadse fisikastudente was.
Verwysings
Eksterne skakels Neil Turok se tuisblad Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe Perimeter Instituut vir Teoretiese Fisika http://news.nmmu.ac.za/News/Acclaimed-physicist-to-receive-honorary-doctorate Onderhoud met Tina Kosir op 19 Februarie 2008 (video) Onderhoud met Alan Macfarlane, 27 April 2017 (video)
Kategorie:Geboortes in 1958 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Fisici