Internasionale finansiële verslagdoeningstandaarde, algemeen bekend as IFRS, is rekeningkundige standaarde uitgereik deur die IFRS Foundation en die International Accounting Standards Board (IASB). Dit vorm 'n standaard waarvolgens die finansiële prestasie en finansiële stand van 'n onderneming beskryf word, sodat sy finansiële state verstaanbaar en internasionaal vergelykbaar is. Dit is veral relevant vir maatskappye met aandele of effekte wat op 'n openbare aandelebeurs genoteer is.
Met die aanvaarding van IFRS in baie lande is die eie rekeningkundige standaarde van daardie lande vervang, maar in die Verenigde State van Amerika word grootliks nog hulle eie rekeningkundige standaarde, bekend as US GAAP toegepas.
Geskiedenis Die Internasionale Komitee vir Rekeningkundige Standaarde (International Accounting Standards Committee) (IASC) is in Junie 1973 deur rekenmeesters wat tien verskillende lande verteenwoordig het, gestig. Die IASC was verantwoordelik vir die uitreiking van Internasionale Rekeningkundige Standaarde (IAS), Interpretasies en 'n Konseptuele Raamwerk, wat destyds nie afdwingbaar was nie, maar vrywillig deur sekere lande toegepas is. Baie lande het hulle eie rekeningkundige standaarde in ooreenstemming met die publikasies van die IASC gebring.
In 2001 het die International Accounting Standards Board (IASB) die IASC vervang met die doel om 'n enkele stel rekeningkundige standaarde te ontwikkel wat wêreldwyd toepassing sou geniet. Tydens sy eerste vergadering het die IASB bestaande IAS'e en Vertolkingstandaarde (SIC's) wat deur die IASC uitgereik is, aanvaar. Daarna is onmiddellik begin om nuwe standaarde, "International Financial Reporting Standards" (IFRS) genoem, te ontwikkel.
In 2002 het die Europese Unie (EU) ooreengekom dat IFRS vanaf 1 Januarie 2005 vir die gekonsolideerde state van EU-genoteerde maatskappye sou geld. Dit het tot gevolg gehad dat baie groot ondernemings in die EU IFRS moes toepas. Ander lande het sedertdien die EU se leiding gevolg.
Aanvaarding IFRS-standaarde word in meer as 140 jurisdiksies vereis en word daarbenewens ook toegelaat in verskeie jurisdiksies, insluitend Suid-Korea, Brasilië, die Europese Unie, Indië, Hong Kong, Australië, Maleisië, Pakistan, GCC-lande, Rusland, Chili, Filippyne, Suid-Afrika, Singapoer en Turkye.
Ten einde te bepaal hoe daar gevorder word met die bereiking van die doelwit van 'n enkele stel rekeningkundige standaarde wat wêreldwyd aanvaar word, het die IFRS-stigting die gebruik van IFRS-standaarde in individuele jurisdiksies ondersoek, gebaseer op inligting wat uit verskillende bronne verkry is. As vertrekpunt is 'n opname onder standaardstellingsliggame en ander relevante liggame geloods. Tot Augustus 2019 is die profiele van 166 jurisdiksies reeds afgehandel. In 144 jurisdiksies is die gebruik van IFRS-standaarde verpligtend.Profiles of the IFRS Foundation
Aangesien dit moeilik is om die posisie in die verskillende jurisdiksies op datum te hou, word die volgende drie bronne van inligting oor die huidige wêreldwye aanvaarding van IFRS aanbeveel:
IFRS Stigting profielbladsy (Engels: IFRS Foundation profiles page) Die Wêreldbank Internasionale Federasie van Rekenmeesters
Van die voordele van een stel wêreldwye rekeningkundige standaarde, soos onder meer deur die Europese Unie in die vooruitsig gestel, is dat beleggers baat sou vind uit verlaagde koste by die vergelyking van beleggingsmoontlikhede, asook deur verbeterde inligting waarop die beleggingsbesluite gebaseer word. Maatskappye sal ook voordeel trek omdat beleggers meer geneë sal wees om finansiering te verskaf. Ondernemings met baie internasionale aktiwiteite en dié wat internasionaal belê sal baie baat vind by 'n oorskakeling na IFRS-standaarde omdat een stel rekeningkundige standaarde vergelykbaarheid verhoog.Bradshaw, M., et al (2010). Response to the SEC's Proposed Rule- Roadmap for the Potential Use of Financial Statements Prepared in Accordance with International Financial Reporting Standards (IFRS) by U.S. Issuers. Accounting Horizons(24)1 Ray J. Ball is egter skepties oor die koste wat met die daarstelling van een stel rekeningkundige standaarde gepaard gaan. Hy voer aan dat die standaarde nie oral ewe nougeset toegepas sal word nie en dat streeksverskille deur 'n enkele standaard versluier kan word. Hy is ook bekommerd oor die klem wat IFRS op billike waarde lê sowel as die invloed van rekenmeesters in streke wat nie gemeneregbeginsels toepas nie, aangesien verliese daar nie onmiddellik erken word nie.Ball R. (2006). Accounting and Business Research, 21 Augustus 2010
"GAAP" in die VSA In die VSA word IFRS in die algemeen nie toegepas nie, maar wel "US GAAP" ("United States Generally Accepted Accounting Principles"). US GAAP word deur die Financial Accounting Standards Board (FASB) in die VSA uitgereik. Die Amerikaanse Securities and Exchange Commission (SEC), die liggaam wat finansiële verslagdoening vir maatskappye wat op die Amerikaanse aandelemark genoteer is, voorskryf, vereis US GAAP. US GAAP word ook deur sommige maatskappye in Japan en die res van die wêreld gebruik. Voordat IFRS in Suid-Afrika aanvaar is, het Suid-Afrikaanse AARP ("Algemeen Aanvaarde Rekeningkundige Praktyk") gegeld.
In 2002 het die IASB en die FASB die Norwalk-ooreenkoms gesluit. Hierdie ooreenkoms was daarop gemik om verskille tussen IFRS en US GAAP uit te skakel. In 2012 het die SEC aangekondig dat hy verwag dat US GAAP in die afsienbare toekoms steeds sal voortbestaan, maar daar sal pogings aangewend word om die twee standaarde te belyn. Meer onlangs het die SEC erken dat daar nie meer 'n druk is om meer Amerikaanse maatskappye na IFRS te skuif nie, derhalwe sal die twee stelle standaarde vir die afsienbare toekoms saam voortbestaan.
IFRS word soms as beginselgebaseerd beskryf, in teenstelling met 'n reëlgebaseerde benadering van US GAAP. In US GAAP is daar meer voorskrifte wat vir spesifieke bedryfstakke geld.
Konseptuele Raamwerk vir Finansiële Verslagdoening Die konseptuele raamwerk is die grondslag waarvolgens IASB standaarde ontwikkel word; dit oorheers dus nie die bepalings van individuele IFRS'e nie. IFRS'e is immers in ooreenstemming daarmee opgestel. Waar daar nie spesifiek 'n IFRS oor 'n bepaalde aangeleentheid bestaan nie, word die raamwerk gebruik om die rekeningkunde verantwoording daarvan te bepaal.
Doel van finansiële state Volgens die konseptuele raamwerk is die primêre doel van finansiële inligting dat dit nuttig moet wees vir bestaande en potensiële beleggers, finansieringsinstellings en ander krediteure by die neem van besluite oor die finansiering van die onderneming asook wanneer bestuur se optrede, onder meer oor die wyse waarop die onderneming se ekonomiese hulpbronne aangewend is, beoordeel word.
Gebruikers baseer hul opbrengsverwagtinge op hul beoordeling van:
Die bedrag, tydsberekening en onsekerheid van toekomstige netto kontantinvloei na die entiteit; Die bestuur se rentmeesterskap van die hulpbronne van die onderneming wat aan hulle toevertrou is.
Kwalitatiewe eienskappe van finansiële inligting Volgens die konseptuele raamwerk vir finansiële verslagdoening is die grondliggende kwalitatiewe eienskappe van finansiële inligting die volgende:
Toepaslikheid; en Weergewende getrouheid.
Die raamwerk behandel die kwalitatiewe eienskappe van finansiële inligting onder die volgende opskrifte:
Vergelykbaarheid Verifieerbaarheid Tydigheid Verstaanbaarheid.
Elemente van finansiële state In die Konseptuele Raamwerk word die elemente van finansiële state soos volg gedefinieer:International Accounting Standards Board (2010). Conceptual Framework for Financial Reporting, paragraaf 4
Bate: 'n Huidige ekonomiese hulpbron wat onder die beheer van die entiteit is as gevolg van gebeure in die verlede en wat verwag word om toekomstige ekonomiese voordele te genereer. Las: 'n Huidige verpligting van die entiteit om ekonomiese hulprbronne aan 'n ander oor te dra as gevolg van gebeure wat in die verlede plaasgevind het. Ekwiteit: Die oorblywende belang in die bates van die entiteit nadat al die laste afgetrek is. Inkomste: Toename in ekonomiese voordele gedurende 'n rekeningkundige tydperk in die vorm van invloei of toename van bates of 'n afname in laste wat gepaardgaan met 'n toename in ekwiteit. Dit sluit egter nie bydraes deur ekwiteitsdeelnemers (soos eienaars, vennote en aandeelhouers) in nie Uitgawes: Afname in bates of toename in laste wat gepaardgaan met 'n afname in ekwiteit. Dit sluit egter nie verdelings aan ekwiteitsdeelnemers in nie. Ander veranderinge in ekonomiese hulpbronne en eise:
Bydraes deur houers van ekwiteit en uitkerings aan hulle.
Erkenning van elemente van finansiële state 'n Item word in die finansiële state erken wanneer:Paragraaf 4.38 van die Konseptuele Raamwerk vir IFRS
dit waarskynlik is dat toekomstige ekonomiese hulpbronne na of van 'n entiteit sal vloei, en die hulpbron betroubaar gemeet kan word.
Soms word bykomende voorwaardes vir erkenning in spesifieke standaarde gestel, of word erkenning verbied.
Byvoorbeeld, die erkenning van intern gegenereerde handelsmerke, mashoofde, titels, kliëntelyste en soortgelyke items, word deur IAS 38 verbied.Paragraaf 63 van IAS 38 Daarbenewens kan navorsings- en ontwikkelingskoste slegs as 'n ontasbare bate erken word as dit as 'ontwikkelingskoste' kwalifiseer.Paragrawe 54 en 57 van IAS 38
Alhoewel die standaard vir voorsienings, IAS 37, die erkenning van 'n voorsiening vir voorwaardelike aanspreeklikhede verbied,Paragraaf 27 van IAS 37 is hierdie verbod nie van toepassing op die verantwoording van voorwaardelike aanspreeklikhede in 'n besigheidskombinasie nie. In daardie geval sal die verkryger 'n voorwaardelike aanspreeklikheid erken, selfs al is dit onwaarskynlik dat 'n uitvloei van hulpbronne sal ontstaan.Paragraaf 23 van IFRS 3
Begrippe van kapitaal en kapitaalinstandhouding Begrippe van kapitaalinstandhouding is belangrik, aangesien slegs inkomste verdien wat meer is as wat benodig word om kapitaal in stand te hou, as wins beskou kan word. Die konseptuele raamwerk beskryf die volgende begrippe van kapitaalinstandhouding:
Finansiële kapitaalinstandhouding. Hiervolgens word 'n wins slegs verdien indien die finansiële bedrag van die netto bates aan die einde van die tydperk die finansiële (of geld-) bedrag van die netto bates aan die begin van die tydperk oorskry, na uitsluiting van enige uitkerings aan en bydraes deur eienaars gedurende die tydperk. Instandhouding van finansiële kapitaal kan gemeet word in nominale monetêre eenhede of eenhede van konstante koopkrag; Instandhouding van fisiese kapitaal. Hiervolgens word 'n wins slegs verdien indien die fisiese produktiewe kapasiteit (of bedryfsvermoë) van die entiteit (of die hulpbronne of fondse wat benodig word om die kapasiteit te bereik) aan die einde van die tydperk die fisiese produktiewe kapasiteit aan die begin van die tydperk oorskry, nadat alle uitkerings aan en bydraes deur eienaars gedurende die tydperk uitgesluit is.
Die meeste entiteite aanvaar 'n finansiële kapitaalinstandhoudingsbenadering. Die konseptuele raamwerk skryf geen model van kapitaalinstandhouding voor nie.
Vereistes
Aanbieding van finansiële state IFRS finansiële state bestaan uit:International Accounting Standards Board (2007). IAS1, Presentation of Financial Statements, paragraaf 10
'n staat van finansiële posisie (balansstaat) 'n staat van omvattende inkomste. Dit kan aangebied word as 'n enkele staat of as 'n afsonderlike staat van wins en verlies en 'n staat van ander omvattende inkomste 'n staat van verandering in ekwiteit 'n staat van kontantvloei aantekeninge, insluitend 'n opsomming van beduidende rekeningkundige beleid.
Vergelykende inligting is nodig vir die voorafgaande verslagtydperk.
Algemene kenmerke Die volgende is die algemene kenmerke van IFRS: