duimnael|regs|270px|Die gemeente se vorige kerkgebou is ontwerp deur Carl Otto Hager, maar gesloop om vir die nuwe plek te maak. Ds. B.A. Spies het die hoeksteen van dié kerk op 22 Maart 1913 gelê. Die argitek was William Henry Ford, ’n Australiese immigrant.

Die NG Gemeente Heidelberg, Wes-Kaap, is een van ses gemeentes wat in die jaar 1855 tot stand gekom het. Die ander vyf was Jansenville (4 Februarie), Sutherland (Februarie), Ceres (21 Maart), Aberdeen (16 Oktober) en Simonstad-Kalkbaai (Vishoek, 9 Desember).

Die dorpie Heidelberg is in 1855 as kerkdorp aan die grootpad tussen Kaapstad en Port Elizabeth gestig. Dit het in 1862 ’n munisipaliteit geword. Die spoorlyn van die Moederstad na die Baai het die dorp in 1903 bereik. Dis is geleë op die weswal van die Duiwenhoksrivier, so genoem, volgens oorlewering, omdat ’n sekere persoon deur die vol rivier gery het en sy hok mak duiwe weggedryf het.

In verband met die stigting van die dorp het, volgens oorlewering, sekere onreëlmatighede plaasgevind. Die eienaar van die plaas het nadat hy nugter geword het, vasgestel dat hy ’n deel van sy plaas weggeteken het. Geweldig aangedoen, het hy die plek vervloek. Of die herhaalde oorstromings wat die dorp geteister het en die gruwelike moorde, wat hier al plaasgevind het, daarmee iets te doen het, skryf die gemeente se medewerker in Ons gemeentelike feesalbum (1952), kan niemand bevestig nie. Dit is nietemin ’n mooi dorp, ’n uitstekende distrik met ’n aangename klimaat.

Die gemeente en later die distrik het vroeër dele van Swellendam en Riversdal gevorm. Hierdie twee pleegouers het die lustige dogter so lank moontlik in huis gehou sodat die gewenste ontwikkeling eers in die 20ste eeu aan die gang kon kom.

Gedurende sy eerste eeu het die gemeente etlike geestelike herlewings beleef. Gedurende hierdie honderd jaar is die gemeente deur ses predikante bearbei, di. A.B. Daneel, A.G. van Wyk, A.C. Murray, B.A. Spies, C.R. Kotze en W.N. van der Merwe. ’n Hele aantal predikante, sendelinge en geestelike werkers het gedurende die jare na vore gekom om sendingwerk elders in Afrika te doen.

Die kerklike geboue is van die mooiste en beste in Suid-Afrika, gerieflik saamgegroepeer. Tot verfraaiing van hierdie geboue is die kerkgrond bewerk en beplant. Tydens die Ossewatrek in 1938 het een van die leidsters, mev. J.H. Klopper, verklaar dat sy Suid-Afrika deurkruis het van oos na wes en van noord na suid, maar nêrens so mooi en netjies gesien het as op Heidelberg nie.

Die eerste kerk (1873) duimnael|links|300px|Hierdie skoolkerkie se hoeksteen is gelê op 5 Maart 1856. Dit was die gemeente Heidelberg se kerk tot die inwyding van die tweede kerkgebou op 19 Julie 1873.

Die kerk wat Carl Otto Hager vir Heidelberg ontwerp het, was in gebruik van 1873 tot 1912, toe dit gesloop is om plek maak vir die teenswoordige kerk, ontwerp deur nog ’n buitelander, die gebore Australiër William Henry Ford. In die 1860’s het ’n nuwe kerk op Heidelberg ’n dringende behoefte geword omdat die ou gebou, met sy lae plafon, soms so warm geword het, dat die kerkgangers dit skaars kon uithou. Besoekers aan die dorp was ook verbaas om te sien dat ’n gemeente met so ’n groot sieletal ’n kerkgebou gehad het wat skaars bo die ander geboue op die dorp uitgesteek het. In 1864 het die gemeente besluit om ’n langwerpige gebou op te rig met sitplek vir 800 mense teen ’n beraamde koste van £4 000, maar die droogte van 1865 het die mooi voornemens laat verdwyn, veral omdat die koste ontmoedigend was.

duimnael|regs|180px|Carl Otto Hager, die argitek van Heidelberg se tweede kerkgebou.

In 1871 het boumateriaal goedkoper geword en ds. A.B. Daneel, van 1862 af 37 jaar lank die plaaslike leraar, vader van ds. Marthinus Daneel en grootvader van ds. George Daneel, het tot die gevolgtrekking gekom dat dit onnodig was om so ’n duur kerk op te rig. Onderhandelings met Hager, wie se roem as argitek en kerkbouer destyds reeds in die Kolonie gevestig was, was baie bemoedigend en nadat die gemeen in Februarie ’n basaar vir die boufonds gehou het, is die wenslikheid, moontlikheid en moeilikheid van ’n nuwe kerk op ’n gemeentevergadering op 22 Maart 1871 bespreek. Net meer as die helfte van die aanwesiges het ten gunste van die bouwerk gestem. Agt dae ná die benoeming van die boukommissie het hulle geelhoutbalke van Stephanus Barnardo op Knysna bestel. Op dié kommissie se tweede vergadering het hulle Hager se plan vir ’n kerk van sowat 35 x 15 m aanvaar, in “de gotische styl, met opene timmeratie en een yzeren dak”.

Hager was indertyd nog op Somerset-Oos waar hy 18 maande lank toesig gehou het oor die bouwerk aan die nuwe kerk van die plaaslike NG gemeente. In sy afwesigheid is die fondament op 19 Februarie 1872 afgesteek en op 13 Maart kon die hoeksteen in die teenwoordigheid van ’n groot skare deur die magistraat van Swellendam, W.B. Chalmers, gelê word.

duimnael|links|320px|Die tweede kerk op Heidelberg wat tydens ds. Daneel se tyd ingewy is.

Die werk is met buitengewone voorspoed voortgesit en in November 1872 was die bou- en pleisterwerk so ver voltooi dat die hoofmesselaar, Michiel Weis, na die Paarl kon terugkeer. Hager sy gesin het Heidelberg op 16 Januarie 1873 verlaat om na Ladismith te gaan, waar hy op versoek van ds. Van Velden ’n kerk moes bou wat presies soos die een op Heidelberg moes lyk. Ook op Ceres is so ’n kerk gebou, maar daar was die frontgewel van klip, nie soos die ander twee van pleisterwerk nie. In ’n vererende adres wat Hager by sy vertrek aangebied is, is beaam wat ander reeds van hom verklaar het, naamlik “dat gy als Architect thans in eene groote behoefte van der Nederd. Geref. Kerk in ons vaderland voorziet”. In die herinneringe wat Hager op ’n hoë leeftyd geskryf het, meld hy die besonderse gasvryheid wat hy en sy gesin op Heidelberg geniet het, asook die aangename samewerking met ds. Daneel en die boukommissie.

Hager se oudste seun, Johann, het blykbaar vir eers op Heidelberg agtergebly, want hy het die daktimmerasie en die galery in Februarie voltooi. Die kerk is op 19 Julie 1873 ingewy. Die kansel van mahoniehout wat ooreenkomste toon met dié van Caledon en Somerset-Oos, was die werk van die timmerman A.W. Erxleben van Kaapstad. In dié kerk het die gemeente net mooi vier dekades aanbid tot ds. A.J. van Wijk op 1 Desember 1912 op versoek van die kerkraad ’n afskeidswoord daarin gespreek het. Hierna is dit gesloop om plek te maak vir die derde kerk van die gemeente.

Die Hager-kerk het enkele jare vantevore vir die gemeente hoofbrekens begin besorg. Die moeilikheid het begin met die groot venster in die frontgewel. Boumeester Joubert van Kuilsrivier het dit teen 250 herstel, van ’n nuwe venster en deur voorsien en die gewelmuur met ankers verseker. Nie lank daarna nie het die frontgewel weer “vrees gewek” en op 17 Augustus 1907 het die kerkraad op ’n buitengewone vergadering besluit om die argitek Wynand Louw van die Paarl te laat kom om veral die frontgewel te kom ondersoek wat “uitgeweken” (waarskynlik bedoelende “uitgesak”) het. Tydens die herstel werk wat dié keer £200 gekos het, het die ou kerk sy frontgewel en kantspitse, soos eie aan die gotiese boustyl, verloor en is die hele bobou ligter gemaak.

Ds. Daneel se bediening duimnael|regs|180px|Ds. Daneel teen die aand van sy lewe.

Nadat hulle sedert die gemeente se stigting in 1855 so lank gesukkel het om ‘n eie leraar te kry, was die gemeente geseënd om die man te kry wat bestem was om die eerste leraar van Heidelberg te word. In die fleur van sy lewe het prop. Alexander Berthin Daneel na die jong gemeente gekom om byna 37 jaar later die pelgrimstaf neer te lê toe hy nog onvermoeid besig was om sy rype kragte aan die gemeente van sy eerste liefde te wy. Vir die gemeente Heidelberg was dit ‘n blye dag toe hulle prop. Daneel kon verwelkom en die “temporaire kerkgebouw” was by geleentheid van sy intreerede “opgepropt vol”. Volgens oorlewering is die jong proponent langs die eertydse pad na Swellendam, tussen Heidelberg en Karnmelksrivier, verwelkom op die plek wat in later jare nog as Daneelshoogte bekendgestaan het. Die reis met die poskar uit Kaapstad kon bepaald nie baie gerieflik gewees het nie, want uit sy eerste brief uit Heidelberg aan sy verloofde, gedateer 17 September 1862, verneem ’n mens dat die vyf passasiers wat om vyfuur in die oggend van 8 September uit die stad vertrek het, op die twee bankies van die poskar reeds “als pekelharing zaten”. By Eersterivierstasie moes Pieter Krige, ‘n Heidelbergse diaken wat by sy familiebetrekkinge op Stellenbosch gekuier het, ook nog bykom, en “toen hadden wy het vooruitzicht van twee dagen achtereen zoo naauw op elkander te zitten dat wy ons byna niet bewegen konden. De Pasagiers waren echter zoo vriendelyk om my een van de gemakkelykste plaatsen af te staan”.

Die dienste van die feesnaweek het Donderdagaand 18 September begin toe die ernstige prediker dr. Servaas Hofmeyr van Montagu, die woord gevoer het oor Neh. 4:3 en 2:20: “Ik doen een groot werk. . . . De God van den hemel Die zal het ons doen gelukken, en wy, Zyne knechten, zullen ons opmaken en bouwen.” Die diens is afgesluit met ‘n paar aanmerkings deur dr. William Robertson en ‘n ernstige gebed vir die jong leraar. Die Vrydagoggend was daar ‘n vroeë biduur onder leiding van ds. Petrus Borcherds (Riversdal, 1843–1880). Die voormiddagdiens het aangevang met Skriflesing en gebed deur ds. A.G.M. Kuys (Napier), gevolg deur ‘n toepaslike bevestigingsrede deur dr. Robertson oor 1 Kor. 11:3. “En ik was by ulieden in zwakheid en in vele beving.”

Nadat ds. Borcherds die formulier gelees het, het die jong leraar neergekniel vir die plegtige handoplegging waaraan die vier besoekende leraars deelgeneem het. Hierna het ds. Borcherds die bevestigde en die gemeente toegespreek en afskeid geneem van die gemeente waaroor hy gedurende byna sewe jaar as konsulent die herderstaf gevoer het. Vrydagmiddag het die nuwe leraar sy intreerede gehou oor Markus 4:26-29, die gelykenis van die opskietende saad. Ná die diens het die leraars, saam met die magistraat van Riversdal, eerw. W.F. Taylor van die Episkopaalse kerk aldaar, die heer Thomas Barry van Port Beaufort en talle ander vriende aan by “eene weltoebereide tafel” wat die kerkraad in die pastorie voorberei het. Hierop het meeste van die besoekers huis toe vertrek.

duimnael|links|300px|Die ou NG kerk Heidelberg, Kaap, wat in 1873 ingewy en in 1913 gesloop is.

Ds. Borcherds is Saterdagoggend deur 22 rytuie met agt perderuiters vooraan tot buitekant die dorpie uitgeleide gedoen waar groot waardering vir sy werk in die vroeër herderlose gemeente betuig is. Vrydagaand het enige vriende van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap saamgekom en dié blye dag met die stigting van ‘n tak van die genootskap afgesluit. Ds. Daneel is dadelik as voorsitter van die plaaslike komitee gekies en tot aan die einde van sy lewe het hy ‘n sterk ondersteuner van die genootskap met sy geseënde werk gebly. Joseph James Barry was die eerste sekretaris-penningmeester en (eerw.) Henry Charles Helm die boekebewaarder. ‘n Aantal persone het gereelde jaarlikse bydraes aangebied.

Twee opwekkings (1860 en 1868) duimnael|regs|300px|Ds. Daneel en sy gesin met vakansie aan die strand by Witsand in 1880. Die naam White Sands word reeds in 1867 aangetref, maar ds. Daneel en sy gesin het eers omstreeks 1880 hul vakansies hier begin deurbring. Tussen die ou riethuisies en tente van die "strand gasten" het ds. Daneel die eerste huis gebou en baie dekades daarna het dit nog as die Ou Pastorie bekendgestaan.