Velenkosini Fiki Hlabisa (gebore op 4 Januarie 1965) is 'n Suid-Afrikaanse politikus en oud-onderwyser. Hy is sedert 1 Julie 2024 die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Aangeleenthede. Hlabisa word in Augustus 2019 as die nuwe nasionale leier van die Inkatha-Vryheidsparty, die vierde grootste party in Suid-Afrika, verkies. Sedert Mei 2019 dien Hlabisa as die leier van die opposisie in die KwaZulu-Natalse Provinsiale Wetgewer. Hy was voorheen die IVP se sekretaris-generaal en die burgemeester van die Groot Vyf Hlabisa Plaaslike Munisipaliteit.

Lewensloop Velenkosini Fiki Hlabisa is op 4 Januarie 1965 in Hlabisa in die destydse Natal gebore. Hy het in 1978 'n lid van die IVP se jeugtak geword. Hlabisa het in 1983 gematrikueer, waarna hy aan beide die Universiteit van Suid-Afrika en die Universiteit van Zoeloeland gestudeer het. Sy pa het in 1990 gesterf terwyl hy nog besig was om te studeer. Velenkosini Hlabisa: Qualifications, CV and work history of the new IFP president . The South African. 25 Augustus 2019. Besoek op 25 Mei 2020.

Hlabisa is na sy studies in 1991 as 'n onderwyser aangestel. Hy het vir vyf jaar by Hoërskool Ngebeza skoolgehou, voordat hy die pos as skoolhoof van Hoërskool Somfula aanvaar het. Hy was die skool se skoolhoof vir twee dekades.

In die munisipale verkiesing van 1995-96 is hy verkies as 'n raadslid van die Hlabisa Plaaslike Munisipaliteit. In 2011 is Hlabisa tot die pos van sekretaris-generaal van die IVP verkies. Na die munisipale verkiesing van 2016 het die raad van die nuutgestigte Groot Vyf Hlabisa Plaaslike Munisipaliteit hom as die burgemeester verkies. Velenkosini Hlabisa takes the helm at IFP after Buthelezi's 44-year rule. IOL. Besoek op 25 Mei 2020.

In 2017 het die uitgebreide nasionale raad van die IVP hom eenparig gesteun om die volgende partyleier in 2019 te word. Hy is toe as die party se KwaZulu-Natalse premierskandidaat vir die algemene verkiesing van 2019 benoem. In die verkiesing het die IVP weer die amptelike opposisie in die provinsie geword, nadat hulle die Demokratiese Alliansie uitgestof het. By die party se kongres in Augustus 2019 is Hlabisa uiteindelik as die nuwe president van die party verkies.Buthelezi gee IVP-vaandel oor ná 44 jaar. Maroela Media, 25 Augustus 2019. Besoek op 25 Mei 2020.

Persoonlike lewe Hlabisa is getroud met Thandeka Nxumalo, en hulle het drie kinders.

Verwysings

Eksterne skakels Velenkosini Fiki Hlabisa – People's Assembly Hon. VF Hlabisa Inkatha Vryheidsparty

Kategorie:Geboortes in 1965 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Politici van die Inkatha-Vryheidsparty Kategorie:Suid-Afrikaanse burgemeesters Kategorie:Zoeloes