duimnael|340x340px| Die plaag van Athene, Michiel Sweerts, c. 1652-1654 Die plaag van Athene (Antieke Grieks: Loimos tôn Athênôn) was 'n epidemie wat verwoesting in die stadstaat Athene, in antieke Griekeland, gesaai het. Dit het tydens die tweede jaar van die Peloponnesiese oorlog (430 vC), toe dit gelyk het of 'n Atheense oorwinning nog binne bereik was, plaasgevind. Die plaag het na raming 75,000 tot 100,000 mense laat sterf. Daar word vermoed dat die plaag die hoofstad van Athene deur Piraeus, die stad se hawe en die enigste bron van voedsel en voorrade, bereik het. Die siekte het ook by 'n groot gedeelte van die oostelike Middellandse See-area uitgebreek, maar met minder skadelike impak.Thucydides, History of the Peloponnesian War 2.48.1 Die plaag het ernstige gevolge vir die samelewing van Athene gehad. Dit het tot wetteloosheid en 'n verlies van geloof gelei. Dit het daartoe aanleiding gegee dat nie-burgers, wat beweer het dat hulle Atheners was, swaarder gestraf is. Die plaag het weer twee keer teruggekeer, in 429 v.C. en in die winter van 427/426 v.C. Daar word beweer dat ongeveer 30 patogene die plaag veroorsaak het.Manolis J. Papagrigorakis, Christos Yapijakis, and Philippos N.Synodinos, ‘Typhoid Fever Epidemic in Ancient Athens,’ in Didier Raoult, Michel Drancourt, Paleomicrobiology: Past Human Infections, Springer Science & Business Media, 2008 pp. 161–173.

Agtergrond Sparta en sy bondgenote, met die uitsondering van Korinte, was byna uitsluitlik landgebaseerde magte, wat groot, bykans onoorwinbare landleërs, kon oproep. Te midde van 'n gekombineerde landveldtog van Sparta en sy bondgenote, wat in 431 vC begin het, het die Atheners, onder leiding van Perikles, 'n beleid van terugwyking binne die stadsmure van Athene gevoer. Daar is op die Atheense maritieme oppergesag vir voorraadvoorsieng staatgemaak, terwyl die bekwame Atheense vloot die Spartaanse troepebewegings getrotseer het. Ongelukkig het die strategie ook tot massiewe migrasie van die Attiese platteland na 'n reeds digbevolkte stad gelei, wat oorbevolking en 'n tekort aan hulpbronne veroorsaak het. Die beknopte ruimtes en swak higiëne het Athene 'n teelaarde vir siektes gemaak. Baie burgers, waaronder Perikles, sy vrou en sy seuns Paralus en Xanthippus, is dood. In die geskiedenis van epidemies is die 'plaag' van Athene uitsonderlik weens die eensydigheid van die ramp, sowel as vir die invloed daarvan op die uiteindelike uitslag van die oorlog.

In sy Geskiedenis van die Peloponnesiese oorlog, beskryf die historikus Thukydides, wat self tydens die epidemie teenwoordig was, en die siekte opgedoen en oorleef het,History of the Peloponnesian War 1.117 die epidemie. Hy skryf van 'n siekte wat vanaf Ethiopië gekom het, deur Egipte en Libië na die Griekse wêreld versprei het, en ook na die hele Middellandse See. Dit was 'n plaag wat so ernstig en dodelik was, dat niemand bewus was van iets soortgelyks nie. Dokters, wat onkundig was oor die aard van die siekte, was nie net hulpeloos nie, maar het self die vinnigste gesterf, omdat hulle die meeste kontak met die siekes gehad het. In die oorbevolkte Athene het nagenoeg 25% van die bevolking aan die siekte gesterf. Toe die Spartane die rook van die brandstapels van die Atheense begrafnisse gesien het, het hulle hul troepe onttrek, omdat hulle nie bereid was om met die siek vyand kontak te maak nie. Baie van Athene se infanterielede en kundige seelui, sowel as hulle generaal Perikles, het gesterf. Na die dood van Perikles is Athene gelei deur 'n opeenvolging van leiers wat deur Thukydides as onbevoeg of swak beskryf is. Volgens Thukydides het Athene eers in 415 v.C. voldoende herstel om 'n groot offensief, die rampspoedige Siciliaanse ekspedisie, te loods.

Die plaag is die eerste keer tydens opgrawings in 1994-95 bevestig, toe 'n massagraf gevind is. Na hierdie ontdekking is Thucydides se weergawe van die gebeurtenis, sowel as die ontleding van die oorskot, gebruik om die oorsaak van die epidemie te probeer identifiseer.

Sosiale implikasies Weergawes van die Atheense plaag beskryf die sosiale gevolge van 'n epidemie grafies. In Thukydides se verslag word die totale verdwyning van sosiale sedes in die tyd van die plaag duidelik beskryf.

Die waargenome impak van die Atheense plaag op kollektiewe sosiale en godsdienstige gedrag is in ooreenstemming met weergawes van die Middeleeuse pandemie, wat oor die algemeen as die Swart Dood bekend staan. Wetenskaplikes het egter in beide gevalle die objektiewe geloofwaardigheid daarvan betwis deur te verwys na 'n historiese verband tussen epidemiese siektes en ongegronde morele paniek.

Vrees vir die gereg Volgens Thukydides het mense opgehou om respek vir die gereg te hê, omdat hulle van mening was dat hulle reeds onder 'n doodsvonnis geleef het. Op dieselfde manier het mense onoordeelkundig geld begin spandeer. Baie mense was van mening dat hulle nie lank genoeg sou leef om die vrugte van oordeelkundige beleggings te geniet nie, terwyl sommige van die armes onverwags ryk geword het nadat hulle die erfgename van familielede se eiendom geword het. Daar is ook aangeteken dat mense geweier het om eerbiedig op te tree omdat die meeste nie verwag het om lank genoeg te leef om 'n goeie reputasie as gevolg daarvan te verkry nie.Thucydides, History of the Peloponnesian War 2.53

Sorg vir siekes en dooies duimnael|239x239px| 'n Gekonstrueerde voorkoms van Myrtis, 'n 11-jarige meisie wat tydens die plaag van Athene gesterf het. Haar geraamte is in die Kerameikos-massagraf gevind. Nasionale Argeologiese Museum van Athene. Nog 'n rede vir die gebrek aan eervolle gedrag was die vlak van aansteeklikheid van die siekte. Diegene wat siekes versorg het, was die mees kwesbaarste om self die siekte op te doen. Dit het beteken dat baie mense alleen gesterf het omdat niemand bereid was om hulle te versorg nie. Die dooies is opmekaar gestapel, gelaat om te verrot, of in massagrafte geslinger. Diegene wat die dooies gedra het, het soms by 'n brandstapel verbygestap, 'n nuwe liggaam daarop gegooi en weggestap. Ander mense het op reeds bestaande brandstapels beslag gelê sodat hulle voorbereid sou wees om hulle eie dooies te veras. Diegene wat gelukkig genoeg was om die plaag te oorleef, het 'n immuniteit ontwikkel en het dus die belangrikste versorgers van diegene wat later siek geraak het, geword.Thucydides, History of the Peloponnesian War 2.51

Net buite Athene se antieke Kerameikos-begraafplaas is 'n massagraf en byna 1 000 grafte, wat uit die tydperk 430 en 426 v.C. dateer, gevind. Die massagraf word deur 'n lae muur, wat die begraafplaas blykbaar teen 'n vleiland beskerm het, begrens. Die skagvomrige graf, waarin daar in totaal sowat 240 individue was, en waarvan minstens tien kinders was, is in 1994–1995 opgegrawe. Skelette in die grafte is lukraak geplaas, sonder dat daar lae grond tussenin was.

Efi Baziotopoulou-Valavani, 'n opgrawer van die Derde Ephoreia (Direktoraat) van Oudhede, het berig dat "die massagraf nie 'n monumentale karakter het nie. Die offerandes wat ons gevind het, was gewone, selfs goedkoop, grafkruike, byvoorbeeld swart-afgewerkte kruike, 'n paar met klein rooi figure, sowel as wit lekythoi (olieflesse) van die tweede helfte van die 5de eeu v.C. Die lyke is binne 'n dag of twee in die kuil geplaas. Hierdie faktore dui op 'n massabegrafnis, gekenmerk deur 'n toestand van paniek, heel moontlik as gevolg van 'n plaag."

Gedurende hierdie tyd het vlugtelinge van die Peloponnesiese oorlog na die binnekant van die mure van Athene geïmmigreer. Dit het die bevolkings van sowel die stad van Athene as die hawe van Piraeus opgejaag. Die bevolking het verdriedubbel, wat tesame met swak higiëne, die kanse op infeksie verhoog het.

Godsdienstige twis Die plaag het ook godsdienstige onsekerheid en twyfel veroorsaak. Die siekte het sonder inagneming van mense se godsdiensvroomheid toegeslaan. Mense het gevoel dat hulle deur die gode in die steek gelaat is, en was van mening dat dit vir hulle geen voordele ingehou het om aan te hou om die gode te aanbid nie.Thuc. 2.53 Die tempels self was plekke van groot ellende, omdat vlugtelinge uit die Atheense platteland gedwing is om in die tempels verblyf te vind. Die heilige geboue was kort voor lank vol sterwendes en dooies. Die Atheners het die plaag beskou as 'n bewys dat die gode Sparta bevoordeel het; dit is deur 'n orakel dat Apollo(die god van siekte en medisyne) self vir Sparta sou veg as hulle met alle mag veg, bevestig. 'n Vroeëre orakel het gewaarsku dat "'n Doriese [Spartaanse] oorlog sal kom en 'n pes daarmee saam bring".For both oracles, see Thuc. 2.54

Thukydides was skepties oor hierdie gevolgtrekkings en was van mening dat mense bloot bygelowig was. Hy het op die heersende mediese teorie van die tyd, die Hippokratiese-teorie staatgemaak, en daarna gestreef om bewyse deur direkte waarneming te verkry. Hy het opgemerk dat aasvretende voëls en diere as gevolg van die plaag verdwyn het; hy laat dit egter as 'n ope vraag of hulle gesterf het nadat hulle die lyke geëet het, of geweier het om dit te eet en wegverdryf is.

Nadraai Die plaag was 'n onvoorsiene gebeurtenis wat gelei het tot een van die grootste lewensverliese in antieke Griekeland en 'n ineenstorting van die Atheense samelewing. Die magsewewig tussen burgers het verander omdat baie van die rykes gesterf het en hul fortuine deur oorblywende familielede van die laer klasse geërf is. Volgens Thukydides was diegene wat siek geword het en oorleef het, die simpatiekste teenoor diegene wat gely het, omdat hulle van mening was dat hulle self nie meer vir siektes vatbaar was nie. Sommige van hulle het ook aangebied om die oorblywende siekes te verpleeg. Dit het ook tot Athene se algehele verlies aan mag en die vermoë om uit te brei, gelei. Daar is ook gevind dat baie van die oorblywende Atheners in werklikheid onwettige buitelanders was wat hul dokumentasie vervals het of amptenare omgekoop het om hul oorspronklike status te verdoesel. 'n Aantal van hierdie mense se status is tot dié van slawe verlaag nadat hulle uitgevang is. Dit het gelei tot strenger wette rakende wie 'n Atheense burger kon word, wat die hoeveelheid potensiële soldate en die hoeveelheid politieke mag verlaag het. Dit het ook tot 'n verlaging van die regte en behandeling van buitelanders in Athene gelei.

Die plaag het Athene twee jaar na die uitbreek van die Peloponnesiese oorlog groot skade, waarvan dit nooit herstel het nie, berokken. Hul politieke krag het verswak en die moraal onder hul leërs sowel as die burgers het aansienlik gedaal. Athene is as gevolg daarvan deur Sparta verslaan, en was nie meer 'n belangrike supermoondheid van die antieke Griekse wêreld nie.

Simptome Volgens Thukydides het die plaag van Athene met kopsimptome begin, waarna dit na die res van die liggaam versprei het. Hy het ook die volgende simptome, wat slagoffers van die plaag ervaar het, breedvoerig beskryf:

koors rooiheid en ontsteking van die oë seerkeel wat tot bloeding en slegte asem lei nies verlies van stem hoes braking puisies en ulkusse op die liggaam uiterste dors slaaploosheid diarree

Moontlike oorsake