Die Suid-Koreaanse nasionale rugbyspan (Koreaans: 대한민국 럭비 유니언 국가대표팀, Daehan Min'guk Reogbi Yunieon Gukga Daepyo Tim), deur Wêreldrugby erken as Korea, is die nasionale rugbyspan wat Suid-Korea in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Suid-Korea geadministreer deur die Koreaanse Rugbyunie (Engels: Korea Rugby Union, afgekort KRU; Koreaans: 대한럭비협회) wat in 1946 gestig is. Hulle dra die bynaam “Mugunghwas”, ontleen aan die alteaboompie (Hibiscus syriacus), die nasionale blom van dié Asiatiese land. Suid-Korea word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Suid-Koreaanse rugbyspan is tans (Junie 2026) 38ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Saam met Hongkong is Suid-Korea tradisioneel een van die sterker Asiatiese nasionale rugbyspanne ná Japan.
Rugby in Korea dateer uit die Japannese besetting en word sedertdien sterk deur die voormalige koloniale mag beïnvloed. In 1969 het Suid-Korea sy eerste toetswedstryd tydens die eerste Asiatiese Kampioenskap teen Taiwan gespeel. Die Suid-Koreaanse span het hul hoogtepunt in die 1980’s bereik, toe hulle drie opeenvolgende Asiatiese Rugbykampioenskaptoernooie kon wen (en ook ’n volstoom Japan verslaan het). Hulle het tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap vyf titels ingepalm, 18-keer as naaswenner en nege keer in die vierde plek geëindig. Suid-Korea het gereeld na die uitspeelwedstryde van die rugbywêreldbekerkwalifisering deurgedring, maar hulle kon nog nie vir dié toernooi kwalifiseer nie. Die Koreaanse span speel tradisioneel in donkerblou truie met rooi kleuraksente, wit broeke en donkerblou sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Suid-Korea ontleen is.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Suid-Korea is die Koreaanse Rugbyunie (Engels: Korea Rugby Union, afgekort KRU; Koreaans: 대한럭비협회). Die KRU is in 1946 gestig en het in 1988 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die KRU in 1968 ’n stigterslid van die Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Asian Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby, AR).
Die hoogste rugbyliga in Suid-Korea is die in 2003 gestigte Koreaanse Superrugbyliga, waaraan vier spanne deelneem. Die meeste spelers van die Koreaanse nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Japan aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die KRU ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Suid-Korea oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Korea Sevens is die Suid-Koreaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Noord-Korea, wat net soos Suid-Korea op dieselfde skiereiland geleë is, beskik nie oor sy eie nasionale rugbyspan nie en is ook nie ’n lid van die wêreldbeheerliggaam Wêreldrugby nie. Wêreldrugby erken Suid-Korea onder die amptelike naam Korea as verteenwoordiger van die hele Koreaanse Skiereiland.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby Dit is onbekend wanneer rugby vir die eerste keer in Korea gespeel is. Gedurende die middel-19de eeu het Europese seemanne van die vroegste rugbywedstryde in Noordoos-Asiatiese hawestede soos Shanghai en Jokohama in die buurlande China en Japan gespeel, maar dit is onbekend wanneer dit in die destydse Koreaanse Keiserryk begin het. In 1905 is Korea deur Japan beset en in 1910 geannekseer, die vernaamste rugbyland in Asië, en rugby is glo daarna deur Japanners na Korea gebring. Suid-Korea handhaaf tot vandag toe ’n sterk rugbymededinging met Japan. Ná die Tweede Wêreldoorlog, en later, gedurende die Korea-oorlog, het die groot teenwoordigheid van troepe uit die Britse Statebondlande die sport se teenwoordigheid versterk. Sedertdien word rugby in Suid-Korea veral by die weermag beoefen. Die Koreaanse Rugbyunie (KRU; 대한럭비협회) is in 1946 gestig.
In dié tyd het die Suid-Koreaanse rugby ’n tweede hupstoot gekry. Die sterk groei van dié land se ekonomie sedert die 1960’s as een van die Vier Asiatiese Tiere het tot ’n sterk samewerking tussen Japannese en Suid-Koreaanse maatskappye gelei, wat die weermag se voormalige rugby-oorheersing beëindig het. In Desember 1968 was Suid-Korea in Bangkok een van die Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Asian Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby, AR) se stigterslede; die ander was Hongkong, Japan, Maleisië, die Republiek China, Singapoer, Sri Lanka en Thailand. Van dié vastelandse beheerliggaam se stigtingsdoelwitte was om die spel deur ’n jaarlikse Asiatiese Rugbykampioenskap te bevorder en sodoende vriendskaplike bande tussen die lidlande te versterk. Gevolglik is reeds in Maart die volgende jaar die eerste Asiatiese Rugbykampioenskap in Japan beslis, waartydens die Suid-Koreaners in hulle eerste toetswedstryde ooit gespeel het, maar nederlae teen die Republiek China, Hongkong en Japan gely het, terwyl die wedstryd teen Thailand weens sterk sneeuval afgelas moes word. Een jaar later het die span die uitspeelwedstryd om die vyfde plek teen Ceylon gewen.
Eerste Asiatiese Rugbykampioenskappe Gedurende die 1970’s het Suid-Korea wedstryde teen die meeste Asiatiese buurlande met ’n rugbytradisie begin speel, insluitende Hongkong, Japan, Maleisië, die Republiek China, Singapoer, Sri Lanka en Thailand. Suid-Korea het gemengde resultate teen sy bure aangeteken en tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap 1972 weereens vyfde eindig, dié keer het hulle Sri Lanka oorrompel. Van 1974 af het die span ’n opwaartse neiging begin toon en vir die eerste keer in die derde plek geëindig, nadat hulle Maleisië in die uitspeelwedstryd verneder het. Een jaar later het die Suid-Koreaners die tweede plek ná die Japanners behaal. In 1978 en 1980 het hulle die eindstryd gehaal, maar hulle is telkens deur Japan geklop.
Gedurende die 1980’s het Suid-Korea volgens sy mededingingvermoeë Japan ingehaal en by Hongkong verbygesteek. In 1982 het die span eindelik deurgebreek en kon Japan in die eindstryd naelskraap klop, gelyk aan hul eerste Asiatiese titel. In die vierde agtereenvolgende eindstryd tussen Japan en Suid-Korea was die telling ná afloop van die gereelde speeltyd op 14–14. In ekstra tyd het die Koreaanse losskakel Moon Yuang-chan die beslissende skepdoel aangeteken en Suid-Korea die eindstryd met 12–9 laat beklink. In 1984 moes hulle met die tweede plek ná Japan tevrede wees, terwyl hulle in 1986, 1988 en 1990 drie agtereenvolgende eindstrydoorwinnings oor Japan kon aanteken. Daarmee het Suid-Korea homself naas Japan en Hongkong as ’n vername rugbyland in Asië gevestig. Die sport was destyds veral onder die militêre personeel stewig gevestig wat ook die plaaslike rugbyliga weerspieël het: Slegs een van die 14 spanne was ’n maatskaplike span. Die Koreane kon veral voordeel trek uit hul groter en sterker liggaamsbou in vergelyking met die meeste ander Asiatiese spanne asook die dril by talle militêre klubs. Van die destydse noemenswaardige spelers sluit in Lee Ken-yok, kaptein Kim Yeon-ki en die speelmaker Sung Hae-kyoung.
Gemengde prestasies In 1985 het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Suid-Korea het geen uitnodiging ontvang nie. Suid-Korea het probeer om van rugby weer ’n Olimpiese sport te maak, toe hulle die Olimpiese Somerspele 1988 in Seoel aangebied het. Roh Tae-woo, die destydse Suid-Koreaanse president en voormalige rugbyspeler, was ’n voorstander van dié idee. Die voorstel is egter naelskraap verwerp. In dieselfde jaar het Suid-Korea ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword en aan die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering deelgeneem, maar drie nederlae teen Wes-Samoa, Japan en Tonga gely.
Van die 1990’s af het Japan tydens die Asiatiese Rugbykampioenskappe in ’n onoorwinlike teenstander ontpop en daarmee ook in die rugbywêreldbekerkwalifiserings. In 1992 het die gasheer in Seoel hulle hoogste oorwinning in dié tyd aangeteken, toe hulle Maleisië met 135–3 verneder het, waarop nog ’n maklike oorwinning oor Thailand gevolg het. In die derde groepwedstryd is die span egter deur Hongkong geklop, waarna hulle slegs die uitspeelwedstryd om die derde plek kon haal, wat hulle teen Taiwan beklink het. Tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap 1994, wat deel was van die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering, het Suid-Korea die eindstryd gehaal, maar hulle is deur Japan geklop, wat vir die hooftoernooi in Suid-Afrika kon kwalifiseer.
Die Asiatiese Rugbykampioenskappe in 1996, 1998 en 2000 het Suid-Korea telkens as naaswenner ná Japan afgesluit. Die 1998-toernooi is in ag geneem vir die Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering en die Suid-Koreaners het as naaswenner die uitspeelrondte gehaal, waar hulle teen Nederland te staan gekom het. Hulle het met ’n algehele telling van 108–45 geseëvier en in die daaropvolgende rondte teen Tonga te staan gekom. Suid-Korea het egter met ’n algehele telling van 41–140 vasgeval. Daarteenoor kon die Suid-Koreaners tydens beide die Asiatiese Spele in 1998 in Bangkok en in 2002 in Busan met die goue medalje voor die Japanners wegstap.
In die nuwe millennium In 2002 het Suid-Korea tydens die Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering ná twee nederlae teen Japan en twee oorwinnings oor Taiwan die uitspeelrondte gehaal, maar hulle het dié keer teen Tonga met ’n algehele telling van 0–194 vasgeval. Die Koreane se wegnederlaag in Nukuʻalofa was met 0–119 hulle ergste in dié tyd. Tydens die daaropvolgende Asiatiese Rugbykampioenskap het hulle ná maklike oorwinnings oor Taiwan en Hongkong, asook ’n naelskraapse oorwinning oor Japan hul vyfde Asiatiese titel ingepalm. Hoewel Suid-Korea homself met hierdie suksesse oor die Japannese mededinger vir die eerste keer bo-aan die Asiatiese rugby kon vestig, was die spelbedryf in die land in vergelyking met die buurland steeds baie klein. Die KRU het slegs oor drie korporatiewe klubs teenoor die Japannese Rugbyvoetbalunie (JPRU) se 300 beskik en 1 000 gelisensieerde spelers teenoor die 120 000 in Japan. Nadat die Korea Electric Power Corporation aangekondig het, sy rugbyspan te ontbind, het die Koreaanse beheerliggaam aangekondig om die maatskappy- en universiteitstoernooie in een liga te verenig en die Koreaanse Rugbyliga (KRL; nou Koreaanse Superrugbyliga, KSRL) te stig. In sy stigtingsjaar het sewe spanne aan dié liga deelgeneem.
Tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap 2004 het die span ná ’n maklike oorwinning oor Taiwan die eindstryd gehaal, maar hulle is eweneens deur Japan geklop. Die Asiatiese Rugbykampioenskap 2006/07 was gelyktydig die vastelandse Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering en die Suid-Koreaners het ná ’n oorwinning oor Hongkong en ’n nederlaag teen Japan die uitspeelrondte gehaal, maar hulle is weereens deur Tonga met 3–85 geklop. In dieselfde jaar het die Japannese Top League quotas ingestel vir Asiatiese spelers, waarna baie Koreaanse spelers na dié liga oorgeskakel het. Dit het ’n regstreekse invloed gehad op die Koreaanse s’n wat sy aantal spanne op ses moes verminder. Een jaar later het die Koreaanse Rugbyliga met die Nasionale Lenteliga tot die Koreaanse Lenteliga verenig, waaraan vyf spanne deelgeneem het.
Verdere ontwikkeling duimnael|Japan teen Korea tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap in 2016