Hierdie artikel handel oor die Hongkongse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Hongkongse nasionale vrouerugbyspan.
Die Hongkongse nasionale rugbyspan (Engels: Hong Kong national rugby union team; Chinees: Tradisionele karakters: 香港欖球代表隊, Vereenvoudigde karakters: 香港榄球代表队, Pinyin: Xiānggǎng Lǎnqiú Dàibiǎoduì, Jyutping: Hoeng1gong2 Laam5kau4 Doi6biu2deoi6) is die nasionale rugbyspan wat die spesiale administratiewe streek van die Volksrepubliek China Hongkong in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Hongkong geadministreer deur die Hongkongse Rugbyunie (Engels: Hong Kong Rugby Union, HKRU; Chinees: 中國香港欖球總會) wat in 1952 gestig is. Hulle dra die bynaam “die drake”, ontleen aan die Chinese draak. Hongkong word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Hongkongse rugbyspan is tans (Junie 2026) 23ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Saam met Korea is Hongkong tradisioneel een van die sterker Asiatiese nasionale rugbyspanne ná Japan.
Hongkong beskik oor een van die oudste rugbytradisies in Asië, en hul rugbygeskiedenis streek terug na die 19de eeu, toe Britse koloniste hulle in Hongkong gevestig en die sport saamgebring het. Oor ’n lang tydperk was rugby in Hongkong tradisioneel met die Engelstalige burgers van Britse herkoms geassosieer, maar sedert die 1990’s is die sport ook deur die Kantoneestalige gemeenskap oorgeneem. In 1969 het Hongkong sy eerste toetswedstryd tydens die eerste Asiatiese Kampioenskap teen Japan gespeel. Hulle het tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap sewe titels ingepalm, agt keer as naaswenner en 15 keer in die derde plek geëindig. In 2025 het Hongkong vir die eerste keer vir ’n rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer en daarmee die tweede Asiatiese land geword wat daarin geslaag het. Hongkong speel tradisioneel in donkerblou truie met wit broeke en donkerblou sokkies.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Hongkong is die Hongkongse Rugbyunie (Engels: Hong Kong Rugby Union, HKRU; Chinees: 中國香港欖球總會). Die HKRU is in 1952 gestig en het in 1988 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die HKRU in 1968 ’n stigterslid van die Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Asian Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby, AR).
Die hoogste rugbyliga in Hongkong is die Hongkong Premiership, waaraan agt spanne deelneem. Die meeste spelers van die Hongkongse nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral in Engeland aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die HKRU ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Hongkong oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Hongkong Sevens is die Hongkongse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Ten einde hiervan word jeugligas met twee ouderdomsvlakke en oefenprogramme in meer as 200 skole beslis.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby Enkele dekades ná die Britse oorname van Hongkong het ook die rugbyspel in dié kroonkolonie gevestig. Volgens ou koerantberigte het dit in die laat 1870’s gebeur, waarmee Hongkong die oudste rugbyspelende land in Asië sou wees. Die spelers van hierdie tydperk was almal Britse seemanne, maar ook polisiemanne en handelaars. Die eerste sekretaris van rugby in Hongkong was Jock McGregor. Die oudste klub is die op 12 Februarie 1886 gestigte Hongkong FC, waarvan die rugby-afdeling vier dae later die eerste wedstryd teen ’n Britse garnisoen gereël het.
’n Formele ligabedryf is van die 1910/11-seisoen af van stapel gestuur met aanvanklik vyf spanne. Van 1924 tot 1949 het ’n nieamptelike Hongkonse keurspan gereeld teen ’n span uit Shanghai gespeel. Albei spanne het uitsluitlik uit Britse emigrante bestaan wat hulle hulle in die hawestede gevestig het. In 1934 het ’n ander Hongkongse span teen ’n Australiese universiteitspan te staan gekom en met 11–5 gewen. Die wedstryde teen Shanghai is ná die stigting van die Volksrepubliek China, wat ’n uitbreiding van rugby na die Chinese vasteland vir eers gekniehalter het, gestaak. Die Hongkongse Rugbyunie (HKRU; 中國香港欖球總會) is in 1952 gestig. Die voortgesette Britse heerskap in Hongkong, maar ook die toestroom van Britse immigrante en vastelandse kapital, saam met die vestiging van Hongkong as ’n belangrike hawestad en een van die Vier Asiatiese Tiere het die rugbysport laat bloei, alhoewel dit eers op die Britse gemeenskap beperk was.
Die HKRU het die eerste amptelike wedstryde begin reël. In 1958 het Hongkong ’n Nieu-Seelandse universiteitspan gehuisves, maar dié wedstryd met 0–47 verloor. In dieselfde jaar het Larry Abel, een van Hongkong se vroeë rugbypioniere, kleiner rugbytoernooie van stapel gestuur, wat sedertdien jaarliks beslis is. In Desember 1968 was Hongkong in Bangkok een van die Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Asian Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby, AR) se stigterslede; die ander was Japan, Maleisië, die Republiek China, Singapoer, Sri Lanka, Suid-Korea en Thailand. Van dié vastelandse beheerliggaam se stigtingsdoelwitte was om die spel deur ’n jaarlikse Asiatiese Rugbykampioenskap te bevorder en sodoende vriendskaplike bande tussen die lidlande te versterk. Gevolglik is reeds in Maart die volgende jaar die eerste Asiatiese Rugbykampioenskap in Japan beslis, waartydens die Hongkongers in hulle eerste toetswedstryd ooit ’n naelskraap deur die gasheer verslaan is, waarna hulle die Republiek China, Suid-Korea en Thailand geklop het. Een jaar later het die span die uitspeelwedstryd teen Singapoer beklink.
Eerste Asiatiese Rugbykampioenskappe Gedurende die 1970’s het Hongkong wedstryde teen die meeste Asiatiese buurlande met ’n rugbytradisie begin speel, insluitende Japan, Maleisië, die Republiek China, Singapoer, Sri Lanka, Suid-Korea en Thailand. Hongkong kon gemengde resultate teen sy bure aanteken en het tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap 1972 tweede eindig, nadat hulle teen Japan tuis met 0–16 verloor het. In 1974 en 1978 kon die span nie die uitklopfase haal nie, terwyl hulle nie aan die 1976-toernooi deelgeneem het nie.
In 1976 is die Hongkong Sewes vir die eerste keer beslis, wat deurslaggewend in die vestiging van die variant sewesrugby was en gevolglik ook ’n positiewe uitwerking gehad het op die nou verwante unie-variant. Die konsep is deur die handelsvennote Ian Gow en Tokkie Smith, wat ’n haalbare rugbytoernooi in Asië wou vestig, bedink. Die eerste borge van die toernooi was Cathay Pacific en Rothmans International, later vervang met die HSBC. Die eerste spanne wat aan hierdie toernooi deelgeneem het, was Asiaties, maar ook twee verteenwoordigende spanne van beide Australië en Nieu-Seeland. Die toernooi het vinnig gegroei met deelnemende spanne van die hele wêreld, voordat dit ’n amptelike toernooi van die jaarlikse sewesrugbykalender geword het.
Gemengde prestasies Gedurende die 1980’s het Hongkong volgens sy mededingingvermoeë agter Japan en Suid-Korea teruggeval. Hoewel Hongkong ander Asiatiese spanne gereeld kon klop, het hulle in 1980, 1982, 1988 en 1990 slegs in die derde plek geëindig, terwyl Japan en Suid-Korea teen mekaar om die kroon meegeding het. In 1985 het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Hongkong het geen uitnodiging ontvang nie. Hongkong het in 1988 ’n volle lid van die IRVR geword, maar hulle het nie aan die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering deelgeneem nie.
Die 1990’s het ’n meer suksesvolle dekade vir Hongkong geword. Van die noemenswaardige spelers was Ashley Billington, David Lewis, Leung Yeung Kit en Chan Fuk Ping. Hongkong het in 1992 sy eerste toets teen ’n nie-Asiatiese span gespeel, toe hulle met 16–23 teen die Verenigde State in San Francisco se Boxer-stadion verloor het. In dieselfde jaar het Hongkong uiteindelik die eindstryd van die Asiatiese Rugbykampioenskap gehaal, nadat hulle Suid-Korea met 20–13 kon klop, maar hulle het met 9–37 teen Japan vasgeval. Tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap 1994, wat deel was van die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering, het Hongkong sy openingswedstryd teen Suid-Korea met 17–28 verloor, maar kon sy ander teenstanders klop en het die derde plek behaal; hulle kon egter nie vir die toernooi in Suid-Afrika kwalifiseer nie. Ashley Billington het ’n indrukwekkende prestasie behaal, toe hy op 10 November 1994 tien drieë teen Singapoer kon druk; dit is die meeste drieë wat ’n enkele speler tydens ’n rugbywêreldbekerkwalifisering kon druk. Hongkong het in dié wedstryd met 164–13 hulle hoogste oorwinning in dié tyd aangeteken.
Tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap 1996 se uitspeelwedstryd om die derde plek het Hongkong Taiwan afgeransel en met 114—12 geseëvier. Die Britte het die kroonkolonie Hongkong in 1997 aan die Volksrepubliek China oorhandig, waarna die belangstelling in die spel ook op die vasteland begin groei het, terwyl die nasionale span se internasionale deelname nie aangetas is nie. Die Volksrepubliek China het in dieselfde jaar op sy beurt ’n volle lid van die IRVR geword. Sedertdien is drie beheerliggame uit die Chinese taal- en kultuurgebied volle lede van die wêreldbeheerliggaam. Gedurende die 1990’s het Hongkong toetse teen nie-Asiatiese spanne begin speel. Die Drake het onder andere teen Namibië, Papoea-Nieu-Guinee, die Verenigde State en Kanada gespeel. Hongkong kon verskeie noemenswaardige oorwinnings aanteken, insluitende drie oorwinnings oor die Arende, waaronder een in San Francisco, en ’n oorwinning oor Kanada in 1998. Ondanks ’n goeie vordering in die 1990’s kon Hongkong tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap 1998, wat in ag geneem is vir die Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering, slegs Suid-Korea verslaan, maar hulle het teen Japan verloor en ook ’n verrassende nederlaag teen Taiwan gely, waardeur hulle vierde geëindig het.
In die nuwe Millennium duimnael|Hongkong teen Japan tydens die Asiatiese Vyfnasies-toernooi in 2014 duimnael|Hongkong teen Japan tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap in 2015 duimnael|Hongkong teen Japan tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap in 2017 Die Asiatiese Rugbykampioenskap 2000 het nog erger as die vorige toernooi verloop met nederlae teen Japan, Suid-Korea en Taiwan. In dieselfde jaar het Hongkong geskiedenis gemaak toe hulle teen die Volksrepubliek China te staan gekom het; dit was die eerste toets wat Hongkong teen ’n span van die Chinese vasteland gespeel het. Dié wedstryd is in Shanghai ter herinnering aan die ou rugbywedstryde tussen die keurspanne uit Hongkong en Shanghai gespeel. Die Volksrepubliek China kon met 17–15 ’n verrassende oorwinning oor Hongkong aanteken. Een Jaar later is Hongkong weereens verras deur die Volksrepubliek China wat in Guangzhou ’n 25-elk-gelykop kon behaal. Die Asiatiese Rugbykampioenskap 2002 het Hongkong in die derde groepplek afgesluit. Tydens die Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering is Hongkong ook deur Taiwan verrassend met 20–15 geklop, hoewel Hongkong die Volksrepubliek China vir die eerste keer tydens dieselfde kwalifisering kon klop.
Tydens die Asiatiese Rugbykampioenskap 2004 het Hongkong die derde plek behaal. Asiatiese Rugbykampioenskap 2006/07 was gelyktydig die vastelandse Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering, maar Hongkong is in al sy wedstryde geklop en het sodoende die uitspeelwedstryd misgeloop.