Die Chileense nasionale rugbyspan (Spaans: Selección de rugby de Chile) is die nasionale rugbyspan wat Chili in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle dra die bynaam Los Cóndores (Spaans vir: “die kondors”), ontleen aan die Andiese kondor (Vultur gryphus), die nasionale voël van dié Suid-Amerikaanse land. Rugby word in Chili geadministreer deur die Nasionale Rugbysportfederasie (Federación Deportiva Nacional de Rugby, FDNR) wat in 1953 gestig is. Chili word as die vyfde beste rugbyspan in die Amerikas beskou (ná Argentinië, die Verenigde State, Kanada en Uruguay) en deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Chileense rugbyspan is tans (September 2025) 17de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Twee voormalige Chileense rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.
Chili het in 1936 sy eerste toetswedstryd teen Argentinië gespeel. In 2022 het Chili vir die eerste keer vir die rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer en daarmee die derde Suid-Amerikaanse land geword wat daarin kon slaag; hulle het egter tydens die 2023-toernooi al hul groepwedstryde verloor. Die span het tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap een titel ingepalm, twaalf keer tweede en 28-keer in die derde plek geëindig. Sedert 2016 neem Chili ook aan die jaarlikse Amerikaanse Rugbykampioenskap deel, saam met die tweede Argentynse span, Brasilië, Kanada, Uruguay en die Verenigde State. Chili speel tradisioneel in rooi truie met blou kleuraksente, blou broeke en blou-rooi-gestreepte sokkies.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Chili is die Nasionale Rugbysportfederasie (Spaans: Federación Deportiva Nacional de Rugby, FDNR). Die beheerliggaam is in 1953 onder die naam Chileense Rugbyfederasie (Federación Chilena de Rugby, FCR) gestig en het in 1991 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Chileense beheerliggaam in 1988 ’n stigterslid van CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR).
Die hoogste rugbyliga in die land is die Primera Nacional TOP 10 wat in 1948 gestig is en tans deur tien spanne beslis word, waarvan die meeste uit die hoofstad Santiago de Chile of die metropolitaanse gebied. In die verlede was die meeste spelers van die Chileense nasionale span uit dié amateurliga afkomstig. Sedert 2020 draf die meeste Chileense spelers egter uit vir die keurspan Selknam wat aan die professionele Superrugby Amerikas deelneem. Hieraan neem ook spanne uit Argentinië, Brasilië, Paraguay en Uruguay deel. Van die ander spelers is veral op professionele vlak in Frankryk of die Noord-Amerikaanse Major League Rugby aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die Nasionale Rugbysportfederasie ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Chili oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Chile Sevens is die Chileense sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby Die inheemse volk Huilliche in die Los Lagos-streek en veral in die Chiloé-argipel, wat tot die Mapuche behoort, beoefen sedert eeue ’n spel genaamd Linao, wat sekere ooreenkomste met rugby toon. By dié spel probeer tussen 15 en 30 spelers elk, ’n met wol of lappe toegedraaide bal uit seewier te beweeg na die oorkantse doel wat sowat twee meter wyd is en deur ’n doelwagter verdedig word. Die baldraende spelers moet oor genoeg vaardighede en uithouvermoë beskik om alle vorme van aanvalle te keer en te trotseer.
Net soos in ander Suid-Amerikaanse lande is rugby aan die einde van die laat 19de eeu deur Britse immigrante na Chileense hawestede saamgebring. Dekades lank is dit as ’n feit beskou dat die eerste bekende rugbywedstryd op Chileense bodem in 1894 in Iquique in die verre noorde van die land gespeel is. Dié wedstryd is deur die bemanning van ’n Britse vragskip teen Salpetermynwerkers gespeel. Daarna het die spel glo na die suide na Santiago de Chile en Valparaíso versprei. Volgens onlangse navorsings is die eerste wedstryd reeds op 16 Junie 1892 in Coronel gespeel. Die bemanning van die Britse oorlogskip HMS Warspite het teen plaaslike seelui uit die buurdorp Concepción gespeel. Tot in die 1930’s is rugby in Chili veral deur afstammelinge van die Britse immigrante gespeel en ook daarna is dit veral deur die hoërklas beoefen.
Eerste internasionale ontmoetings duimnael|Chili teen Uruguay tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1951 Die Chilene se eerste toetswedstryd was op 20 September 1936 teen Argentinië, wat hulle met 0–29 verloor het; dit was die eerste toetswedstryd tussen twee Suid-Amerikaanse spanne. ’n Week later het die tweede toetswedstryd gevolg, waarin hulle met 31–3 geklop is. In 1938 het die Chilene hul eerste toer na die buurland onderneem en die Argentynse nasionale span twee keer ontmoet, maar albei wedstryde is nie as toetswedstryde geag nie. Teen Uruguay het hulle eers op 5 Augustus 1948 te staan gekom. Dié toetswedstryd is op neutrale bodem in Buenos Aires gespeel en het in die eerste Chileense oorwinning geëindig. Die organisasievlak het toegeneem, toe in 1948 die plaaslike beheerliggame in Santiago de Chile en Valparaíso gestig is; in dieselfde jaar het hulle saam die eerste Chileense kampioenskap Primera Nacional TOP 10 van stapel gestuur. In 1953 is die nasionale beheerliggaam Chileense Rugbyfederasie (Federación Chilena de Rugby, FCR) gestig, wat in 2015 in Nasionale Rugbysportfederasie (Federación Deportiva Nacional de Rugby, FDNR) hernoem is.
In Februarie 1951 sou die Condores aan die eerste Pan-Amerikaanse Spele in Buenos Aires deelneem, maar die rugbytoernooi is om organisatoriese redes nie beslis nie. Dit moes tot in September uitgestel word en is onder die naam ABCU-toernooi aangebied (genoem na die vier deelnemende lande). Tydens die eerste Suid-Amerikaanse vastelandse rugbytoernooi het die Chilene in die derde plek geëindig. Hulle het maklik teen Brasilië gewen, maar naelskraap teen Uruguay en Argentinië verloor. Sewe jaar later is dié toernooi terugwerkend erken as eerste Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap. In 1952 het die Ierse nasionale span tydens hul Suid-Amerikaanse toer ook Santiago de Chile besoek en die gasheer met 30–0 geklop. In 1954 het met Frankryk nog ’n Vyfnasiesspan Suid-Amerika besoek en met 34–3 teen die Condores geseëvier; vanweë die klasverskil het albei Europese beheerliggame aan dié wedstryde nie amptelike toetsstatus toegeken nie. In 1958 het Chili tydens die eerste amptelike Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap in die tweede plek geëindig ná oorwinnings oor Peru en Uruguay, asook ’n nederlaag teen Argentinië.
In 1959 het die Junior Bokke, die Suid-Afrikaanse o/20-span, ’n Suid-Amerika-toer onderneem, waartydens hulle ook Santiago de Chile besoek het. Soos verwag was die Condores sonder enige kans en hulle is met 73–0 verneder. In die volgende jaar het ’n tuiswedstryd teen die Franse op ’n soortgelyke manier verloop. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1961 het Chile naelskraap teen die Argentynse span verloor, waarop maklike oorwinnings oor Uruguay en Brasilië gevolg het. Daarteenoor het die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1964 teleurstellend verloop ná ’n gelykop teen Brasilië, maar ook nederlae teen Uruguay en Argentinië, waarvolgens hulle in die vierde en daarmee laaste plek geëindig het. In 1966 het hulle die Gaselle gehuisves, ’n Suid-Afrikaanse o/23-keurspan van spelers wat nie in opmerking gekom het vir die amptelike nasionale span nie. Maar ook dié reserwespan het die Condores oorheers en hulle is met 73–3 oorrompel. Aan die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1967 het slegs drie spanne deelgeneem, waarby Chili Uruguay kon klop en soos gewoon deur Argentinië verslaan is. Die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1969 het op ’n soortgelyke manier verloop.
Popularisering van die rugbyspel Met uitsondering van die Junior Bokke se besoek in 1975 het Chili in die 1970’s slegs Suid-Amerikaanse spanne ontmoet. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1971, waaraan vir die eerste keer vyf spanne deelgeneem het, is Chili deur Argentinië geklop en het Uruguay verslaan, waarna hulle vir die eerste keer teen Paraguay te staan gekom en met 40–0 geseëvier het; daarop het ’n maklike oorwinning oor Brasilië gevolg. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1973 het Chili naelskraap teen Uruguay en swak teen Argentinië verloor, waarna hulle ná oorwinnings oor Brasilië en Paraguay met die derde plek tevrede moes wees. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1975 het die Condores ná oorwinnings oor Brasilië, Paraguay en Uruguay, asook ’n nederlaag teen Argentinië in die tweede plek geëindig. Ná oorwinnings oor Paraguay en Brasilië, maar ook nederlae teen Argentinië en Uruguay het die Chilene die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1977 in die derde plek afgesluit. Tydens die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1979 was hulle ná oorwinnings oor Brasilië en Paraguay, asook ’n gelykop teen Uruguay gelyk op punte met laasgenoemde span ná Argentinië, maar hulle het ’n swakker punteverskil gehad.
In 1978 het die Fransman Jean-Pierre Juanchich die leisels van die nasionale span oorgeneem. Daarbenewens het hy die missie gehad om met baie entoesiasme die rugbyspel in Chili tot meer gewildheid te verhef en dit van sy sosiale nisbestaan te ontneem. Ten einde hiervan het hy deur die hele land gereis, rugby aan baie mense bekend gestel en hulle ook oor die gepaardgaande waardes ingelig. Tydens sy termyn van ses jaar het die aantal klubs van 14 na 120 gegroei. Die nasionale span se destydse kaptein, Fernando Paulsen, het oor Juanchich gesê: “Hy was ’n nuwe ou wat die parameters verander het; hy het na Chili gekom met ’n heel ander spelstelsel; al die afrigters het aangepas by sy spelstyl.”
Tydens die militêre diktatuur onder Augusto Pinochet het Chili noue bande met die Suid-Afrikaanse apartheidsregering aangeknoop – maar nie vanweë ideologiese oorwegings nie, eerder weens hul gemeensame status as ’n internasionaal verworpe Pariastaat. Nadat die buurland Argentinië ’n verbod op alle sportiewe ontmoetings met Suid-Afrika geplaas het, is in 1980 die “skaduspan” Sudamérica XV (ook Jaguares Sudamericanos genoem) gestig. Hoewel die meeste van die spelers Argentyne was, het ook ’n aantal Chilene vir die span uitgedraf. Die altesaam vyf betrokke beheerliggame het die span nie amptelik erken nie, maar in die geheim geduld. Gedurende die volgende vier jaar het die Sudamérica XV agt keer teen die Springbokke gespeel, maar hulle kon slegs een wedstryd wen (op 3 April 1982 in Bloemfontein). Toe die Condores in Maart en April 1983 hul eerste toer buite Suid-Amerika aangepak het, het hulle die op sportiewe vlak geïsoleerde Suid-Afrika besoek. Hulle het tien wedstryde teen verskeie keurspanne gespeel, waarvan hulle drie kon wen; toetswedstryde was egter nie op die program nie. ’n Halwe jaar later het die Suidwes-Afrikaanse span (nou Namibië) se teenbesoek in Santiago de Chile gevolg; dié wedstryd is ook nie as ’n toetswedstryd geag nie.