Die Keniaanse nasionale rugbyspan (Engels: Kenya national rugby union team; Swahili: Timu ya raga ya Kenya) is die nasionale rugbyspan wat Kenia in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle dra die bynaam Simbas (“die leeus”), genoem na die leeu (Panthera leo), Kenia se wapendier. Rugby word in Kenia geadministreer deur die Keniaanse Rugbyunie (Kenya Rugby Union, KRU; Swahili: Shirikisho la Raga Kenya) wat in 1970 gestig is. Kenia word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Keniaanse rugbyspan is tans (November 2025) 36ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Saam met Ivoorkus en Zimbabwe is Kenia tradisioneel een van die sterker nasionale Afrikarugbyspanne na die Suid-Afrikaanse Springbokke en die Namibiese Welwitschias.
Rugby in Kenia dateer uit die Britse koloniale tydperk en word sedertdien sterk deur die voormalige koloniale mag beïnvloed. Kenia het in 1954 sy eerste toetswedstryd teen Tanganjika (nou Tanzanië) gespeel. Hulle tuisveld is die RFUEA-veld in Nairobi wat in 1955 vir ’n Oos-Afrika-span teen die Britse Leeus voorberei is. Die span het tydens die Afrikabeker twee titels ingepalm, vier keer in die derde en vier keer in die vierde plek geëindig. Hulle kon nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie. Die Keniaanse span speel tradisioneel in rooi truie met swart broeke en groen sokkies – wat aan die kleure van die vlag van Kenia ontleen is. Een voormalige Keniaanse rugbyspeler is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Kenia is die Keniaanse Rugbyunie (Engels: Kenya Rugby Union, KRU; Swahili: Shirikisho la Raga Kenya). Die KRU is in 1970 gestig en het in 1990 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Keniaanse Rugbyunie ’n stigterslid van die Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération africaine de rugby; nou Rugby Afrika, RA) wat in 1986 in Tunis deur agt beheerliggame gestig is.
Die hoogste rugbyliga in Kenia is die Keniaanse Beker met elf spanne. Die meeste spelers van die Keniaanse nasionale span speel in dié liga. Van die ander spelers is veral in veral in Suid-Afrika of Europa op professionele vlak aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die Keniaanse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Net soos ander rugbylande beskik Kenia oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-trofee deelneem. Die Kenia Sevens is die Keniaanse sewesrugbyspan. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby Aan die begin van die 20ste eeu het Britse setlaars rugby na die destydse kolonie Brits-Oos-Afrika saamgebring; in 1909 is die eerste gedokumenteerde wedstryd gespeel. Aan die begin is slegs “wit” setlaars toegelaat om rugby te speel, terwyl inheemses verbied is om dié sport te beoefen. Die Rugbyvoetbalunie van Kenia (Engels: Rugby Football Union of Kenia, “RFUK”) is in Augustus 1921 gestig en het teen 1923 operasioneel geword, nadat die eerste klub in Kenia, Nairobi-distrik, weens sy oorvleuelende sterkte in Nondescripts RFC en Harlequins verdeel is (moenie verwar word met die Kenia Harlequin FC nie). Van die vroeë toernooie sluit in die Nairobi-distrikkampioenskap van 1925 af, die Enterprise-beker sedert 1930 en ’n Koninklike Gewapende Magte-toernooi sedert 1937.
Van die 1920’s tot die 1950’s het verskeie noemenswaardige spanne toere na Kenia onderneem, waaronder keurspanne van die Universiteit van Kaapstad, Universiteit Stellenbosch en in 1951 ’n saamgestelde Universiteitspan (Oxford en Cambridge). Hierdie wedstryde is op die Mitchell Park-stadion gehuisves, voordat een jaar later die RFUEA-veld in Nairobi opgerig is. In 1950 is die Oos-Afrikaanse nasionale rugbyspan gestig as keurspan vir die beste spelers uit die kolonies Kenia, Tanganjika (nou Tanzanië) en Uganda na aanleiding van die Britse Leeus. Dié span is ook Tuskers genoem, ’n term wat na Savanne-olifante met baie groot slagtande verwys. Die Tuskers het gedurende die drie daaropvolgende dekades verskeie toere onderneem, onder andere na Engeland (in 1966) en Ierland (in 1972). Net só het hulle ook in Nairobi teen besoekende spanne te staan gekom, waaronder die Britse Leeus (in 1955 en 1962), die Barbarians (in 1958), die Suid-Afrikaanse Springbokke (in 1961) en die Walliese span (in 1964).
In 1953 het Tanganjika en Uganda as subunies by die RFUK aangesluit om die Rugbyvoetbalunie van Oos-Afrika (Engels: Rugby Football Union of East Africa, “RFUEA”) te vorm. In 1954 het ’n Keniaanse span in Arusha vir die eerste keer teen ’n Tanganjikaanse span gespeel en hierdie ontmoeting gewen. Dit het gedien as ’n seleksieproef vir die Tuskers se toer na die Koperstreek in Noord-Rhodesië later dieselfde jaar. In 1955 is die wedstryd weer gespeel en dié keer het Tanganjika met 11–3 geseëvier. In 1956 is in Arusha die derde wedstryd tussen albei spanne gereël wat Kenia met 13–0 gewen het. In 1956 is die RFUK, wat nog slegs formeel bestaan het, ontbind, aangesien die subunies reeds op hul eie lede van die RFUEA was. In 1958 het ’n Keniaanse span die Ugandese s’n met 21–11 geklop. Vir beide die Keniaanse span en die Tuskers is dikwels spelers van ander Oos-Afrikaanse lande gekeur en ook spelers met ’n Europese afkoms opgeroep. Hoewel die uitslae soms eensydig was, het hierdie wedstryde rugby in Kenia gewild gemaak.
Onafhanklikheid en integrasie In 1963 het Kenia sy onafhanklikheid verkry. Ná die gepaardgaande einde van die rassesegregasie in die skoolstelsel is die inheemse bevolking (of ten minste die hoër klas) toegelaat om eliteskole soos Duke of York en Prince of Wales te besoek wat tradisionele rugbyvestings was. Spelers soos Chris Onsotti, John Gichinga, Dennis Awori, George Kariuki, Jackson “Jacko” Omaido en Jim Owino was deel die eerste generasie van inheemse Keniaanse rugbyspelers. Hierdie eerste spelergenerasie het ’n belangrike grondslag geleë vir die daaropvolgende spelergenerasie wat die Keniaanse rugby verder laat opbloei het. In 1970 is daar besluit om die bestaande plaaslike subunies in die Keniaanse Rugbyunie (Engels: Kenya Rugby Union, KRU; Swahili: Shirikisho la Raga Kenya) met sy setel in Nairobi te verenig. In dieselfde jaar is die Keniaanse Beker vir die eerste keer beslis. In 1972 het Ted Kabetu die eerste inheemse speler geword wat vir die Tuskers uitgedraf het.
’n Toestroom van Tanzaniese spelers het aan die Keniaanse span ’n hupstoot besorg. Gedurende die vroeë 1970’s het verskeie Engelse klubs na Kenia begin toer vir nieamptelike toetse teen die Oos-Afrikaners. Dit sluit ’n byna-oorwinning oor Harlequins in, nadat hulle naelskraap met 15–20 geklop is. Ná uitnodigings in plaaslike dagblaaie aan Afrikarugbyspelers is Miro RFC as ’n uitnodigingspan soortgelyk aan die Britse Barbarians, of meer plaaslik, die Scorpions RFC, gestig. Miro was ’n span vir “swart” spelers en het twee “wit” spelers (Doug Hamilton en Pat Orr) ingesluit; dié span het ’n belangrike rol gespeel om rugby onder Afrikane in Kenia te vestig. In 1976 het die span teen Rugby Roma Olimpic gespeel en met 20–12 gewen. Die span is egter ontbind oor vrae rakende die rasseseleksie van spelers. Die Oos-Afrikaanse keurspan, wat teen die middel-1970’s uit beide “swart” en “wit” spelers bestaan het, het teen Zambië te staan gekom; hulle kon vier van hul vyf toetswedstryde wen. Teen dié tyd het sommige klubs begin vou weens die migrasie van “wit” spelers. Ondanks die vordering het daar konflik ontstaan tussen die Keniaanse spelers en die talle klubs wat steeds deur uitgewekenes bestuur is; in 1979 het die Miro RFC weer begin speel en kon teen Blackheath FC met 32–19 seëvier wat aan die “swart” rugbyspelers nuwe hoop besorg het.
In 1977 is beide Mean Machine RFC en Mwamba RFC as aparte spanne vir inheemse spelers gestig. Mean Machine, ’n verteenwoordigende span van die Nairobi-universiteit bestaande uit spelers soos Absalom “Bimbo” Mutere, Tom Oketch en Joe “JJ” Masiga, het die Keniaanse beker in die eerste seisoen ingepalm. Dit was veral ’n noemenswaardige prestasie omdat rugby in Kenia destyds steeds ’n “wit” oorheersde sport was met klubs soos Kenya Harlequins, Nondescripts, Impala en Western Kenya/Oribis. Volgens die historikus Michael Mundia Kamau het met die stigting van Mean Machine by die Universiteit van Nairobi die transformasie in Keniaanse rugby afgeskop. Sedertdien beoefen in Kenia veral inheemse studente rugby. Black Blad RFC van die Kenyatta Universiteitskollege het in die volgende jaar die beker ingepalm. Dit was veral spelers van die tweede generasie wat ’n leidende rol gespeel het by die stigtings van albei klubs. As gevolg van die mislukte staatsgreeppoging teen president Daniel arap Moi in Augustus 1982 en die daaropvolgende sluiting van die Nairobi-universiteit moes die Mean Machine RFC sy speelprogram vir een jaar staak.
Die beheerliggame van Kenia, Uganda en Tanzanië het toenemend uitmekaar gespat en hul belangstelling in die Oos-Afrikaanse keurspan het aansienlik verdwyn. In 1982 het die Tuskers hul laaste toer onderneem. Aan die ander kant het die Keniaanse Rugbyunie van 1979 af aktief daarop gefokus dat die voorheen verwaarloosde nasionale span elke jaar minstens een toetswedstryd teen ander Afrikaspanne speel. Gedurende die 1980’s het hulle veral teen Zimbabwe, Zambië, Madagaskar en Nigerië te staan gekom. Veral Zimbabwe en ná 1990 se onafhanklikwording het Namibië groot mededingers vir Kenia in die Afrikabeker en die rugbywêreldbekerkwalifiserings geword. In Januarie 1986 was die Keniaanse beheerliggaam in Tunis een van die stigterslede van die vastelandse beheerliggaam Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération africaine de rugby; nou Rugby Afrika, RA). Die ander stigterslede was Ivoorkus, Madagaskar, Marokko, Senegal, Seychelle, Tanzanië en Tunisië. In 1985 het die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby), wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Kenia het geen uitnodiging ontvang nie.
Langdurige krisis In 1990 het die Keniaanse Rugbyunie by die Internasionale Rugbyvoetbalraad aangesluit en in dieselfde jaar is rugby as ’n skoolsport by hoërskole ingevoer. Die Keniane het egter nie aan die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering deelgeneem nie. Oor die algemeen het die Keniaanse rugbysport gedurende die 1990’s in ’n krisis verkeer. Een van die redes was die tragiese dood van Ken Kanyi in 1992, wie as een van die land se beste spelers beskou is. Hy is tydens ’n toernooi van die Impala RFC onder ongelukkige omstandighede dood, waarna byna ’n hele spelergenerasie die sport laat vaar het. Die nasionale span moes opnuut opgebou word en kon slegs op ’n sporadiese vlak toetswedstryde speel. Daarbenewens het die variant sewesrugby ’n toenemende mededinger geword, wat veral danksy internasionale suksesse in gewildheid gegroei het. Tydens die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering is Kenia deur beide Zimbabwe en Namibië geklop, terwyl hulle teen Arabië ’n naelskraapse oorwinning kon behaal, waarmee hulle die hooftoernooi misgeloop het. Tydens die Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering kon die Keniane Arabië verslaan, terwyl hulle teen Tunisië verloor het, waarmee hulle met ’n swakker punteverskil weer uitgeskakel is.
duimnael|Kenia teen die Weermag se nasionale wag in 2009