Die Argentynse nasionale rugbyspan (Spaans: Selección de rugby de Argentina) is die nasionale rugbyspan wat Argentinië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Die span wat in hemelblou en wit truie speel, dra die bynaam los Pumas (Spaans vir: “die Poemas”) en hulle word as die beste rugbyspan in die Amerikas beskou. Rugby word in Argentinië geadministreer deur die Argentynse Rugbyunie (UAR, van Spaans: Unión Argentina de Rugby).
Aan die einde van die 19de eeu het emigrante van die Britse Eilande die rugbyspel na Argentinië gebring. Argentinië se eerste internasionale rugbywedstryd was in 1910 teen die Britse keurspan Britse Leeus. Sy belangrikste internasionale verskyning het Argentinië tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 gehou word. Sedert die Rugbywêreldbeker in 1987 ingevoer is, het die span aan al tien toernooie deelgeneem. Hul beste prestasie was die derde plek tydens die Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk.
Argentinië is onoorwonne ten opsigte van die meeste ander nasionale rugbyspanne van die Amerikaanse vasteland met uitsondering van Kanada, deur wie Argentinië drie keer verslaan is (die laaste keer was in 2005). Vervolgens het hulle ook die Suid-Amerikaanse en die Pan-Amerikaanse rugbykampioenskappe oorheers. Vir ’n lang tydperk was Argentinië die enigste vlak-een-span wat nie aan ’n jaarlikse toernooi deelgeneem het nie. Dit het in 2012 verander, toe die Drienasiesreeks met die opname van die Poemas die Rugbykampioenskap geword het. Sedertdien speel hulle jaarliks teen die All Blacks van Nieu-Seeland, die Springbokke van Suid-Afrika en die Wallabies van Australië om die titel as beste span van die Suidelike Halfrond. Die beheerliggaam Wêreldrugby ag Argentinië saam met tien ander as ’n vlak-een-span. Die Argentynse rugbyspan is tans (Oktober 2025) sesde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Vier voormalige Argentynse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Argentinië speel tradisioneel in gestreepte hemelblou en wit truie, wit broeke en sokkies in hemelblou en wit – wat aan die kleure van die vlag van Argentinië ontleen is.
Beheerliggaam
duimnael|’n Kaart van die Argentynse plaaslike beheerliggame Die beheerliggaam vir rugby in Argentinië is die Argentynse Rugbyunie (Unión Argentina de Rugby, UAR). Die UAR is op 10 April 1899 as River Plate Rugby Union gestig en het in 1987 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Argentynse beheerliggaam in 1988 ’n stigterslid van CONSUR (Confederación Sudamericana de Rugby, “Suid-Amerikaanse Rugbykonfederasie”; nou Suid-Amerika Rugby, SAR). Die Argentynse Rugbyunie bestaan uit 25 plaaslike beheerliggame, wat grotendeels met die Argentynse provinsies ooreenstem. Die belangrikste rugbyliga in Argentinië is die Nacional de Clubes, waar die helfte van die spanne uit Buenos Aires en die ander helfte uit die provinsies afkomstig is. Van 2016 tot 2020 het met die Jaguares ’n Argentynse span deelgeneem aan die Superrugbytoernooi, die Suidelike Halfrond se internasionale rugbyliga. Sedert 2026 neem die vier Argentynse keurspanne Capibaras, Dogos, Pampas en Tarucas deel aan die professionele Superrugby Amerikas. Hieraan neem ook spanne uit Brasilië, Chili, Paraguay en Uruguay deel. Die meeste nasionale spelers is veral aktief by Europese klubs in Engeland of Frankryk.
Naas die amptelike nasionale span roep die Argentynse Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Die Pumitas is die o/20-nasionale span en hulle neem aan die o/20-Rugbykampioenskap en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deel. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Die Argentina XV (XV verwys na die aantal spelers in rugby) is die tweede nasionale span van Argentinië. Vanaf 2010 het die keurspan Pampas XV bestaan, wat slegs uit Argentynse spelers saamgestel is, maar aan die Suid-Afrikaanse Vodacombeker (en aansluitend tot hul ontbinding aan Wêreldrugby se Stille Oseaan-uitdaagtoernooi) deelgeneem het.
Geskiedenis Beginjare duimnael|Die eerste Argentynse nasionale rugbyspan voor hul wedstryd teen die Britse Leeus in 1910 Soos in die geval van sokker het Britse emigrante, wat vir banke en spoorwegmaatskappye onder Britse beheer gewerk het, die rugbyspel na Argentinië gebring. Die eerste rugbyspanne is ook deur Britte gestig en hulle het oor die eerste dekades heen veral onder mekaar verkeer. Die meeste klubs het inheemse spelers nie toegelaat nie en enkele Argentyne is net stadigaan en op uitsondering opgeneem. In 1873 is die eerste wedstryd op die Buenos Aires Krieket- en Rugbyklub met ’n mengsel aan rugby en sokker gespeel. Op 14 Mei 1874 het die eerste wedstryd volgens die Engelse Rugbyvoetbalunie (RFU) se reëls gevolg. In 1899 het ses spanne uit Buenos Aires en Rosario die beheerliggaam River Plate Rugby Union, die latere Argentynse Rugbyunie (UAR), gestig. Tot die ontstaan van die eerste suiwer Argentynse span sou dit ’n verdere vyf jaar neem. Onder sy lede was die lugvaartpionier Jorge Newbery.
duimnael|links|upright|R. Cooper, spankaptein in 1928 Ter geleentheid van die Meirewolusie se eeufees in 1910 het ’n aantal Engelse en Skotse spelers na Argentinië vertrek. Die Argentynse koerante het na die besoekende span as Combinado Británico (“Gekombineerde Britte”) verwys; vandag word dit beskou as ’n reserwespan van die Britse Leeus wat op dieselfde tydstip deur Suid-Afrika getoer het. Die span het al die ses wedstryde gewen, waaronder die eerste toetswedstryd teen ’n keurspan van die Argentynse beheerliggaam, wat op 12 Junie 1910 op die Sociedad Sportiva Argentina se grond plaasgevind en met ’n 28–3-oorwinning vir die besoekers geëindig het. Die Argentynse span het amper net uit nasate van Britse emigrante bestaan. Die enigste uitsondering was Barry Heatlie, wat voorheen vir Suid-Afrika uitgedraf en tydens die verderverspreiding van die rugbyspel in Argentinië ’n leidende rol beklee het.
Op uitnodiging deur die River Plate Rugby Union het die Britse Leeus in Julie en Augustus 1927 vir die tweede keer Argentinië besoek. Die besoekers is deur James Baxter, die destydse RFU-president, aangevoer. Die Britte het in Buenos Aires nege wedstryde gespeel en onoorwonne gebly. Dit het vier toetswedstryde ingesluit wat Argentinië almal met meer as 30 punte verloor het. Ondanks die maklike oorheersing deur die gaste was die toer ’n groot finansiële sukses. Die Junior Bokke, die Suid-Afrikaanse jeugspan, het Argentinië in Julie 1932 besoek; hulle het in twee nieamptelike toetswedstryde gespeel en albei maklik gewen. In Augustus 1936 het die Britse Leeus Argentinië vir die derde (en tot dusver laaste) keer besoek en al tien die wedstryde gewen, insluitende ’n wedstryd teen die Argentynse nasionale span, wat ondanks dié toer se goedkeuring deur die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) nie as ’n toetswedstryd erken is nie. ’n Maand later het die nasionale span sy eerste oorsese toer aangepak. Tydens dié toer het hulle in Valparaíso albei toetswedstryde teen Chili maklik gewen. In Augustus 1938 het die Chileense teenbesoek plaasgevind, waartydens Argentinië sy eerste tuisoorwinning aangeteken het.
Naoorlogse tydperk duimnael|links|Die Argentynse span wat die eerste Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap 1951 gewen het duimnael|upright|Wedstryd tussen Argentinië en Frankryk se rugbyspanne in 1954, voorblad van El grafico As gevolg van die Tweede Wêreldoorlog is die internasionale spelbedryf vir elf jaar onderbreek. In Augustus en September 1949 was Frankryk die eerste Europese nasionale span wat Argentinië besoek het. Hulle het die twee toetswedstryde teen die Franse aan die einde van die nege wedstryde omvattende toer verloor, maar elkeen minder maklik as verwag. Die verdere ontwikkeling van die Argentynse rugby is veral deur sy geografiese isolasie teen opsigte van ander vername rugbyland gekniehalter. Hoewel daar ook in Brasilië, Chili, Paraguay en Uruguay rugby gespeel word, is die gehalte in Argentinië sedert die begin aansienlik hoër, waarvolgens die nasionale span in Suid-Amerika heeltemal oorheersend is. ’n Goeie voorbeeld is die Suid-Amerikaanse Rugbykampioenskap wat in 1951 vir die eerste keer aangebied is, waartydens die Argentyne al die ander deelnemers heeltemal oorheers het. Tot hul laaste deelname in 2013 het hulle nie ’n enkele wedstryd verloor nie.
In Augustus en September 1952 het Ierland na Suid-Amerika getoer, maar dié toer het aanvanklik onseker gelyk. Kort ná die Iere se vertrek is die Argentynse presidentsvrou Eva Perón oorlede, waarvolgens Argentinië in nasionale rou verkeer het. Al die nege in Buenos Aires beplande wedstryde het nogtans plaasgevind, insluitende die twee wedstryde teen die Argentynse nasionale span. Hulle het in ’n gelykop en ’n oorwinning vir Ierland geëindig, maar aan hierdie wedstryde is geen toetsstatus toegeken nie. Nogtans het die Argentyne gewys dat hulle in staat is om met die Europese spanne mee te ding, wat die beheerliggaam bemoedig het. Twee jaar later het die Franse hul tweede besoek in Argentinië afgelê en albei toetswedstryde in Buenos Aires redelik maklik gewen.
Nadat ’n aantal mislukte pogings om die universiteite van Oxford en Cambridge vir ’n gesogte besoek aan Argentinië uit te nooi, het hulle in 1956 eindelik daarin geslaag. Die gemeensame keurspan van albei universiteite, wat ook verskeie Engelse nasionale spelers ingesluit het, het albei wedstryde teen die Argentynse nasionale span gewen en ook die ander wedstryde beklink. In September 1959 kon die Argentyne nog beter met die internasionale teenstanders meeding, toe die Junior Bokke ná ’n kwarteeu weer na Suid-Amerika getoer het. In albei wedstryde teen die Suid-Afrikaanse jeugspan het Argentinië slegs naelskraapse nederlae gely. In Julie en Augustus 1960 het die Franse nasionale span vir die derde keer Argentinië besoek. Tydens hul Suid-Amerikaanse toer het die gaste al die 13 wedstryde gewen, insluitende drie toetswedstryde. Nogtans was hulle van die gasheer se prestasies baie beïndruk.
Toenemende internasionale kontak duimnael|links|Die Argentynse span wat in 1965 na Rhodesië en Suid-Afrika getoer het duimnael|upright|Die voorry van 1970: García Yáñez, Handley en Foster duimnael|links|Marcelo Pascual se drie teen die Junior Springbokke in 1965 duimnael|upright|Die voormalige speler Angel Guastella was die Argentynse afrigter gedurende die 1965-toer duimnael|links|Die Poemas wat in 1979 Australië tuis in Buenos Aires geklop het