Hierdie artikel handel oor die Japannese nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Japannese nasionale vrouerugbyspan.
Die Japannese nasionale rugbyspan (Japannees: ラグビー日本代表, Ragubī Nihon Daihyō; ook bekend as Kersiebloeisels, Sakura of die Dapper Bloeisels) is die nasionale rugbyspan wat Japan in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle word as die beste rugbyspan in Asië beskou en sedert Mei 2020 deur Wêreldrugby as ’n vlak een-span erken. Rugby word in Japan geadministreer deur die Japannese Rugbyvoetbalunie (Engels: Japan Rugby Football Union, JRFU; Japannees: 日本ラグビーフットボール協会, Nihon ragubī futtobōru kyōkai), wat in 1926 gestig is. Japan het tot dusver aan elke rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem en in 2019 op eie bodem vir die eerste keer die kwarteindrondte gehaal.
Japannese rugby dateer terug na 1866, toe dit deur Britse matrose in die verdragshawens gespeel is. Die eerste plaaslike universiteitsspanne is in 1899 gestig en Japan het sy eerste toetswedstryd in 1932 teen Kanada gespeel. Die span neem aan die jaarlikse Stille Oseaan-nasiesbeker deel, saam met Fidji, Samoa en Tonga. Tot in 2017 het Japan ook aan die Asiatiese Rugbykampioenskap deelgeneem en dié toernooi 25 keer gewen, by verre meer as enige ander span; net vyf keer het Suid-Korea met die titel weggestap. Twee voormalige Japannese rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Japan is tans (September 2025) 13de op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys. Japan speel tradisioneel in rooi-wit-gestreepte truie wit broeke en wit sokkies met rooi strepe.
Beheerliggaam
Die beheerliggaam vir rugby in Japan is die Japannese Rugbyvoetbalunie (Engels: Japan Rugby Football Union, JRFU; Japannees: 日本ラグビーフットボール協会, Nihon ragubī futtobōru kyōkai). Die JRFU is op 30 November 1926 gestig en het in 1987 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarmee het die JRFU gelyktydig ’n setel by die wêreldbeheerligaam se uitvoerende raad ingeneem. Daarbenewens was die JRFU in 1968 ’n stigterslid van die Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Asian Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby, AR).
Die Japan Rugby League One, waaraan twaalf professionele spanne deelneem, is die belangrikste rugbyliga in Japan. Dit is in 2003 ten einde van die Japannese rugby se verdere ontwikkeling gestig. Sedertdien is die meeste spelers van die Japannese nasionale span uit dié liga afkomstig. Van 2016 tot 2020 het met die Sunwolves ’n Japannese span deelgeneem aan die Superrugbytoernooi, die Suidelike Halfrond se internasionale rugbyliga.
Naas die amptelike nasionale span roep die Japannese Rugbyvoetbalunie ook ander keurspanne byeen. Junior Japan is die tweede nasionale span van Japan. Sedert 2013 neem hulle aan Wêreldrugby se Stille Oseaan-uitdaagtoernooi deel, saam met die tweede spanne uit Fidji, Samoa en Tonga. Die Japan Sevens is die Japannese sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel. Net soos ander rugbylande beskik Japan oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Geskiedenis Invoering en vestiging van rugby duimnael|links|Afbeelding van ’n rugbywedstryd in Japan in Harpers Magazine in 1874 duimnael|upright|Ginnosuke Tanaka, een van Japannese rugby se baanbrekers duimnael|links|upright|Prins Chichibu, die jonger broer van keiser Hirohito, was ’n ywerige sportman en het gehelp om rugby in Japan te bevorder Die voorheen in Japan wydverspreide balspel Kemari, wat op die Chinese Cuju gebaseer was, het sekere ooreenkomste met die huidige sokker en in ’n mindere mate met rugby gehad. Die eerste verwysing dateer uit die jaar 644 tydens die Asuka-tydperk. Gedurende die 13de eeu het ’n stel reëls gevestig. Die doelwit van die speel was om ’n uit hertleer gemaakte bal so lank as moontlik in die lug te hou, waarby die spelers saamgewerk het.
Soos baie ander Westerse gewoontes het ook die rugbysport na Japan gekom, nadat in 1854 die Verenigde State en Europese magte se Geweerbootbeleid die selfopgelegde isolasie van Japan beëindig het. In 1866 is met die Jokohama Voetbalklub die eerste rugbyklub gestig. Die reëlkommissie het uit gegradueerdes van die Rugby-skool, die Radley-kollege en die Winchester-kollege bestaan. Die bemanning van verskillende skepe wat in Jokohama voor anker geleë het, het hoofsaaklik teen mekaar gespeel, waarvoor hulle die terrein van die Britse garnisoen in die Yamate-distrik gebruik het. In 1874 is die eerste amptelik gedokumenteerde wedstryd gespeel. In ander verdragshawens soos Kobe is ook rugbywedstryde tussen langtermyn-buitelandse inwoners en besoekende seevaarders en garnisoene gespeel, maar Japannese deelname was skaars.
1899 word as die jaar van Japanners se eerste bekende deelname aan rugbywedstryde beskou. Die in Jokohama gebore letterkundeprofessor Edward Bramwell Clarke het saam met Ginnosuke Tanaka – albei gegradueerdes van die Universiteit van Cambridge – die sportsoort aan sy studente by die Kei-universiteit bekend gestel, sodat hulle iets nuttigs in hul vrye tyd kon doen en nie „deur lekker rondsit die mooi herfsweer“ mors nie. Vanaf Keio het rugby vinnig na ander universiteite versprei, wat almal tot vandag toe as vestings beskou word. Die rugbysport het op die hoogtepunt van die Anglo-Japannese alliansie spoedig gegroei; gedurende die 1920’s was daar amper 1 500 rugbyklubs en meer as 60 000 geregistreerde spelers. Ondanks hierdie indrukwekkende syfers was die Japannese rugby veral vir geografiese redes grootliks geïsoleer. Organisatories het die land ook agter geraak met internasionale verwikkelinge. Die nasionale beheerliggaam Japannese Rugbyvoetbalunie (日本ラグビーフットボール協会, Nihon Ragubi- Futtobo-ru Kyo-kai) is eers op 30 November 1926 gestig. Nogtans is die beheerliggaam vanaf sy stigting deur die keiserlike gesin, waaronder veral prins Chichibu, ondersteun. Hy het hom aktief vir die verspreiding van rugby beywer en was van 1947 tot en met sy dood erepresident van die beheerliggaam.
Die nasionale span se eerste jare Vier jaar ná sy stigting het die beheerliggaam die eerste nasionale span saamgestel wat in September 1930 ’n aantal wedstryde teen klubs en keurspanne in die Kanadese provinsie Brits-Columbië gespeel het. Skaars een en ’n halwe jaar later het die Kanadese teenbesoek as deel van ’n regeringsbefondsde handelsafvaardiging gevolg. Op 31 Januarie 1932 is in Higashiōsaka die eerste amptelike toetswedstryd gespeel en het in ’n naelskraapse 9–8-oorwinning vir Japan geëindig. Elf dae later het die gasheer in Tokio met 38–5 geseëvier. Die Kanadese het hul nederlae toegeskryf aan ’n „oormatige vermaak, te veel wedstryde in ’n kort tydperk en die geïnspireerde speelstyl van die Japanners voor die hoë adel“. Vir die volgende meer as drie en ’n halwe dekades sou dit die enigste Japannese toetswedstryde wees. In 1934 en 1936 het keurspanne van Australiese en Nieu-Seelandse universiteite die eilandstaat besoek.
Ná die uitbreek van die Stille Oseaan-oorlog het die fascistiese regime ten spyte van die voortgesette ondersteuning deur die keiserlike gesin ’n toenemend vyandelike houding jeens rugby ingeneem en dit as baie vreemd en „onjapannees“ beskou. Vervolgens is dit in tokyu herdoop, wat as „vegbal“ vertaal kan woord. Ondanks die oorlog se ontberinge kon die speelbedryf tot in 1943 aangaan, voordat militêre beheer van die speelvelde en die gebrek aan beskikbare spelers hul tol geëis het. Die rugbysport het tydens die naoorloogse tydperk, ten spyte van massiewe skade aan die infrastruktuur en die dood van baie spelers, spoedig herstel. Aan die einde van 1945 het die staal- en masjineriemaatskappy Kobe Steel van sy werknemers aangemoedig om rugby te speel en sodoende ’n presedent geskep vir die groot toewyding van Japannese maatskappye aan die rugbysport.
In 1952 het die internasionale speelbedryf weer begin, nadat vername universiteitsspanne na Japan begin reis het, waaronder die Engelse universiteite Oxford en Cambridge. Ander lande se nasionale spanne het egter steeds weggeskram van die lang reis, waardeur die Japanners in 1958 met die Junior All Blacks (die tweede Nieu-Seelandse span) se besoek tevrede moes wees. Dié situasie het tot in die 1960’s aangehou. Die eerste Japannese oorsese toer ná meer as drie dekades was in 1963 na Brits-Columbië. Die belangrikste sukses gedurende hierdie tydperk, wat deur universiteitsspanne gekenmerk is, was op 3 Junie 1968 ’n 23–19-wegoorwinning oor die Junior All Blacks in Wellington, wat ook ’n opskudding in die Britse media veroorsaak het.
Leidende posisie in Asië In Desember 1968 is op inisiatief van die Japannese Rugbyvoetbalunie in Bangkok die vastelandse beheerliggaam Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Asian Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby, AR) gestig; die ander stigterslede was Hongkong, Maleisië, die Republiek China, Singapoer, Sri Lanka, Suid-Korea en Thailand. Van dié vastelandse beheerliggaam se stigtingsdoelwitte was om die spel deur ’n jaarlikse Asiatiese Rugbykampioenskap te bevorder en sodoende vriendskaplike bande tussen die lidlande te versterk. Hulle het ook gehoop dat ’n meer mededingende omgewing die geografiese isolasie ten opsigte van ander groot rugbylande sou kon breek. Gevolglik het Japan reeds in Maart die volgende jaar as gasheer van die eerste Asiatiese Rugbykampioenskap opgetree. Met oorwinnings in hul eerste vier toetswedstryde sedert 1932 het hulle die toernooi oorheers en die titel gewen. Gedurende die eerste sewe toernooie tot in 1980 het Japan onoorwonne gebly en hul toenemende verskyning op internasionale vlak het tot ’n toenemende belangstelling van ander nasionale spanne gelei om teen Japan te speel (hoewel die meeste van hierdie wedstryde nie as toetswedstryde erken is nie). Onder andere het Japan in September 1971 Engeland vir twee wedstryde verwelkom en albei net naelskraap verloor. Volgens die invloedryke rugbyborg Shigeru „Shiggy“ Konno was die Japanners se kleiner liggaamsgrootte ’n probleem; andersins was dit glo ook ’n voordeel, aangesien dit „makliker is om die bal op te tel, dieper in ’n skrum in te gaan en oor die algemeen vinniger te beweeg. Dit is ons krag en ons moet dit uitspeel.“
Gedurende herfs 1973 het die Japanners vir elf wedstryde na Europa getoer. Ná nieamptelike wedstryde teen Wallis en die Engelse o/23-span het op 27 Oktober 1973 in Bordeaux die eerste toetswedstryd teen ’n vername Europese span gevolg, waarby die Japanners deur Frankryk met 30–18 geklop is. In Augustus 1975 het Japan tydens sy Australiese toer in sy eerste twee wedstryde teen die Wallabies gespeel, wat ook as toetswedstryde erken is. Die wedstryde in 1975 tuis teen Wallis, asook in 1976 weg en in 1977 tuis teen Skotland het nie hierdie status geniet nie. Op 13 Mei 1979 was die Japanners in Higashiōsaka op die punt van ’n sensasie, nadat hulle teen Engeland net voor die eindfluitjie voorgeloop het, maar toe met 21–19 verslaan is. Gedurende die 1980’s het die nasionale span gesukkel en hul leidende posisie in Asië tydelik kwytgeraak. Tydens die Asiatiese Rugbykampioenskappe in 1982, 1986, 1988 en 1990 is hulle in die eindstryd deur Suid-Korea verslaan. ’n Aantal vriendskaplike wedstryde sonder toetsstatus teen alle destydse Vyfnasies-spanne het almal in nederlae geëindig. Nogtans was die Japanners in sekere van hierdie wedstryde in staat om mee te ding; onder andere is hulle op 22 Oktober 1983 in Cardiff deur Wallis net naelskraap met 29–24 verslaan. Die Trans-Stille-Oseaan-ontmoetings het ook toegeneem: In April 1982 het hulle ná 50 jaar weer teen Kanada te staan gekom en drie jaar later het die eerste wedstryd teen die Verenigde State gevolg.