duimnael|Piktogram wat Tennis aandui Tennis is 'n spel wat deur 2 spelers (enkels) of 2 spanne met 2 lede elk (dubbels) gespeel word. Spelers gebruik 'n gesnaarde raket om 'n hol rubberbal wat met vilt oortrek is oor die net na die opponente te slaan. Die doel is om die bal so te manipuleer dat die teenstander dit nie geldig kan terugslaan nie; as 'n speler nie daarin slaag om die bal suksesvol terug te slaan nie, verower die teenstander 'n punt.
duimnael|links|Maria Sharapova slaan af by die 2007 VSA Ope Tennis het in die laat 19de eeu in Birmingham in Engeland ontstaan. Tennis het eers deur die Engelssprekende wêreld versprei, veral onder dié van hoër klas. Tennis is deesdae 'n Olimpiese sport en word deur alle klasse en alle ouderdomsgroepe dwarsoor die wêreld gespeel.
Die reëls van moderne tennis het sedert die 1890's min verander. Die twee uitsonderings is dat die afslaner tot 1961 altyd een voet op die grond moes hou, en die aanneming van die valbylpot (tie-breaker) in die 1970's. In 2006 het professionele tennis elektroniese hersieningstegnologie aanvaar, gekoppel aan 'n puntuitdaagstelsel wat as Hawk-Eye bekend staan, wat toenemend deur volledig outomatiese stelsels vir elektroniese lynbeslissings opgevolg is. Saam met die miljoene spelers, volg miljoene mense ook die spel as toeskouers, veral die vier Grand Slam toernooie: Australiese Ope, Roland Garros, Wimbledon, en die VSA Ope, wat as die toppunt van mededingende tennis beskou word. Die Australiese Ope en die VSA Ope word op hardebane gespeel, die Franse Ope op rooi kleibane en Wimbledon op grasbane.
Tennis kan deur enigeen gespeel word wat 'n raket kan vashou, insluitend rolstoelgebruikers en mense wat blind of swaksiende is, en dit word deur mense op elke vlak van die samelewing en van alle ouderdomme gespeel. Die oorspronklike vorme van tennis het gedurende die laat Middeleeue in Frankryk ontwikkel, terwyl die moderne vorm in die laat 19de eeu in Birmingham, Engeland, as lawn tennis ontstaan het. Dit het nou verband gehou met verskeie veldspele soos kroukie en rolbal, sowel as met die ouer raketsport wat vandag real tennis genoem word.William J. Baker (1988). Sports in the Western World. University of Illinois Press, bl. 182.
Geskiedenis Voorlopers duimnael|200px|Skildery uit Cremona, laat 16de eeu duimnael|Jeu de paume in die 17de eeu 'n Aantal balspele wat vermoedelik uit die Grieks-Romeinse Oudheid dateer, is sedert die Middeleeue deur die Wes-Europese adellikes beoefen. 'n Bal wat met hare gevul was, is met die handpalm (Frans: paume), 'n raket of 'n kolf (Arabies: rahat = "handpalm") wat gesnaar was, oor 'n net geslaan. Dit het aanleiding gegee tot die Franse benaming jeu de paume.
Geskiedkundiges meen dat die spel se antieke oorsprong in die 12de-eeuse Noord-Frankryk lê, waar 'n bal met die palm van die hand geslaan is. Lodewyk X van Frankryk was 'n ywerige speler van die jeu de paume ("spel van die palm"), wat tot real tennis ontwikkel het, en hy het bekend geword as die eerste persoon wat binnenshuise tennisbane in die moderne styl laat bou het. Lodewyk was ontevrede daarmee om buite tennis te speel en het gevolglik "teen die einde van die 13de eeu" toegeboude binnebane in Parys laat maak. Met verloop van tyd het dié ontwerp na koninklike paleise oor die hele Europa versprei. In Junie 1316 by Vincennes, ná 'n besonder afmattende spel, het Lodewyk 'n groot hoeveelheid gekoelde wyn gedrink en daarna aan óf longontsteking óf pleuritis gesterf, hoewel daar ook vermoedens van vergiftiging was. Weens die tydgenootlike berigte oor sy dood is Lodewyk X die geskiedenis se eerste tennisspeler wat by naam bekend is. Nog een van die vroeë entoesiaste van die spel was koning Karel V van Frankryk, wat 'n baan by die Louvre-paleis laat oprig het.
Die naam wat die Engelse aan hulle variasie van die spel gegee het, naamlik real tennis, dui waarskynlik op die Franse uitroep tenez ("daar kom dit"), wat as "hou!", "ontvang!" of "vat!" vertaal kan word – 'n tussenwerpsel wat as 'n roep van die afslaner na sy teenstander gebruik is. Dit was gewild in Engeland en Frankryk, hoewel die spel slegs binnenshuis gespeel is, waar die bal van die muur af geslaan kon word. Hendrik VIII van Engeland was 'n groot aanhanger van dié spel, wat vandag as real tennis bekend staan.
'n Grafskrif in die St. Michaelskerk in Coventry, omstreeks 1705 geskryf, lui deels:
Die vorm van tennis is binnenshuis gespeel totdat 'n rubberbal omstreeks die middel van die 19de eeu vir die spel begin gebruik is. Hierdeur is die spelmoontlikhede uitgebrei en daar is toe ook begin om tennis as 'n buitemuurse sport te beoefen.
Gedurende die 18de en vroeë 19de eeu, terwyl real tennis agteruitgegaan het, het nuwe raketsporte in Engeland ontstaan. Die uitvinding van die eerste grasperksnyer in Brittanje in 1830 word beskou as 'n katalisator vir die voorbereiding van grasbane in die moderne styl, sowel as sportvelde en speelblaaie. Dit het op sy beurt gelei tot die kodifisering van moderne reëls vir baie sportsoorte, waaronder lawn tennis.J. Perris (2000). Grass Tennis Courts: How to Construct and Maintain Them. The Sports Turf Research Institute.
Ontstaan van die moderne spel duimnael|regs|Augurio Perera se huis in Edgbaston, Birmingham, Engeland, waar hy en Harry Gem die moderne spel lawn tennis die eerste keer gespeel het Tussen 1859 en 1865 het Harry Gem, 'n prokureur, en sy vriend Augurio Perera 'n spel ontwikkel wat elemente van racquets en die Baskiese balspel pelota gekombineer het, wat hulle op Perera se kroukieblad in Birmingham, Engeland, gespeel het. In 1872 het hulle, saam met twee plaaslike dokters, die wêreld se eerste tennisklub in Avenue Road, Leamington Spa, gestig. Dit is waar "lawn tennis" die eerste keer as die naam van 'n bedrywigheid deur 'n klub gebruik is.Tyzack, Anna, "The True Home of Tennis", Country Life, 22 Junie 2005.
Tennis was tot na die Tweede Wêreldoorlog net rykmansvermaak, maar het daarna as 'n binnenshuise sowel as buitelugsport gewild geraak. Die grondlegger van moderne tennis ("lawn tennis" genoem omdat dit op grasbane gespeel is) was die Brit maj. Walter Wingfield, wat in 1874 die patent verkry het op die spel wat hy sphairistikè genoem het (Grieks sphaira = "bal"). Reeds in die vorige jaar het hy 'n boek met reëls vir die spel gepubliseer, maar aanvanklik het dit geen eenvormigheid in die beoefening van die spel meegebring nie.
In Tennis: A Cultural History wys Heiner Gillmeister daarop dat die Britse leëroffisier Walter Clopton Wingfield op 8 Desember 1874 aan Harry Gem geskryf het dat hy (Wingfield) reeds "vir 'n jaar en 'n half" met sy weergawe van lawn tennis geëksperimenteer het. In Desember 1873 het Wingfield 'n spel ontwerp en gepatenteer wat hy sphairistikè genoem het (Grieks σφαιριστική, "balspel"), en wat gou eenvoudig as "sticky" bekend gestaan het, ter vermaak van gaste by 'n tuinparty op sy vriend se landgoed Nantclwyd Hall in Wallis. Volgens die grasagronoom R.D.C. Evans "stem alle sportgeskiedkundiges saam dat [Wingfield] veel van die krediet vir die ontwikkeling van moderne tennis verdien". Volgens Honor Godfrey, museumkurator by Wimbledon, het Wingfield "hierdie spel enorm gepopulariseer. Hy het 'n stel in 'n houer vervaardig wat 'n net, pale, rakette en balle ingesluit het – en die belangrikste van alles, jy het sy reëls gekry. Hy was heeltemal briljant met bemarking en hy het sy spel oor die hele wêreld gestuur. Hy het baie goeie verbindings met die geestelikes, die regsberoep en die aristokrasie gehad en het duisende stelle in die eerste jaar of wat uitgestuur, in 1874.""Major Walter Clopton Wingfield", International Tennis Hall of Fame. "125 years of Wimbledon: From birth of lawn tennis to modern marvels", CNN, 2011. Die wêreld se oudste jaarlikse tennistoernooi het in 1874 by die Leamington Lawn Tennis Club in Birmingham plaasgevind – drie jaar voordat die All England Lawn Tennis and Croquet Club sy eerste kampioenskappe in 1877 by Wimbledon sou hou. Die eerste Kampioenskappe het op 'n belangrike debat oor die standaardisering van die reëls uitgeloop.
links|duimnael|Lawn tennis in die VSA, 1887 Vaste reëls is eers in 1880 deur die Marylebone Cricket Club en die All-England Croquet Club (in 1869 gestig) opgestel. Laasgenoemde het in 1875 een van sy kroukiebane (houtballe word in die spel met 'n hamer deur hoepels geslaan) vir tennis laat inrig en 2 jaar later die eerste tenniskampioenskap in die Londense voorstad Wimbledon georganiseer. In die stadium het die klub die woorde and Lawn Tennis by sy naam gevoeg. Die jaarlikse All-England Championships by Wimbledon is in 1884 ook vir vroue oopgestel en het sedertdien sinoniem met tennis geword.
In die VSA het Mary Ewing Outerbridge, 'n jong sosialiteit, in 1874 met 'n sphairistikè-stel uit Bermuda teruggekeer. Sy het deur die spel gefassineer geraak nadat sy Britse leëroffisiers sien speel het, en het 'n tennisbaan by die Staten Island Cricket Club op Staten Island, New York, uitgelê. Die eerste Amerikaanse nasionale kampioenskap is daar in September 1880 gespeel. 'n Engelsman met die naam O.E. Woodhouse het die enkelstitel en 'n silwerbeker ter waarde van $100 gewen deur die Kanadees I.F. Hellmuth te verslaan. Daar was ook 'n dubbelswedstryd wat deur 'n plaaslike paar gewen is. Elke klub het verskillende reëls gehad; die bal in Boston was groter as dié wat gewoonlik in New York gebruik is.
Op 21 Mei 1881 is die oudste landwye tennisorganisasie in die wêreld gestig, die United States National Lawn Tennis Association (nou die United States Tennis Association), om die reëls te standaardiseer en kompetisies te organiseer. Die Amerikaanse nasionale manse-enkelskampioenskap, nou die VSA Ope, is die eerste keer in 1881 by die Newport Casino in Newport, Rhode Island, gehou. Die Amerikaanse nasionale vroue-enkelskampioenskappe is die eerste keer in 1887 in Philadelphia gehou.
Tennis het ook in Frankryk gewild geraak, waar die Franse kampioenskappe tot 1891 terugdateer, hoewel hulle tot 1925 net vir tennisspelers oop was wat lede van Franse klubs was. So het Wimbledon, die VSA Ope, die Franse Ope en die Australiese Ope (wat tot 1905 terugdateer) die aansienlikste geleenthede in tennis geword en gebly. Saam word dié vier geleenthede die Majors of Slams genoem, 'n term wat uit die kaartspel brug geleen is.
Die spel het gou ook buite Groot-Brittanje gewild geraak, eers in die VSA en Australië en later op die Wes-Europese vasteland.
In 1913 is die International Lawn Tennis Federation (ILTF), nou die Internasionale Tennisfederasie (ITF), gestig en het dit drie amptelike toernooie as die belangrikste kampioenskappe van die dag ingestel. Die Wêreldgrasbaankampioenskappe is aan Groot-Brittanje toegeken en die Wêreldhardebaankampioenskappe aan Frankryk – die term "hardebaan" is destyds vir kleibane gebruik. Party toernooie is in België gehou. Die Wêreldkampioenskappe vir Toegeboude Bane is jaarliks toegeken, met Swede, Frankryk, Groot-Brittanje, Denemarke, Switserland en Spanje wat elk die toernooi aangebied het. By 'n vergadering op 16 Maart 1923 in Parys is die titel "Wêreldkampioenskap" laat vaar en 'n nuwe kategorie "Amptelike Kampioenskap" geskep vir geleenthede in Groot-Brittanje, Frankryk, die VSA en Australië – vandag se Grand Slam-geleenthede. Elk van die vier ontvangerlande het 'n hoofland van die federasie met versterkte stemreg geword en het nou elk 'n groot geleentheid bedryf."Tennis Federation Bans World Titles", The New York Times, 17 Maart 1923, bl. 10.