Hierdie artikel handel oor die Nieu-Seelandse nasionale mansrugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouerugbyspan, sien Black Ferns.

Die All Blacks is die nasionale rugbyspan wat Nieu-Seeland in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby is Nieu-Seeland se nasionale sport en die All Blacks is ’n gedugte mag in internasionale rugby met ’n wenrekord teen al die ander lande. Nieu-Seeland is een van die min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Samoa, Tonga en Wallis kan soortgelyke bewerings maak.

Sy belangrikste internasionale verskyning het die All Blacks tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi. In 1987 was Nieu-Seeland saam met Australië die gasheer vir die eerste Rugbywêreldbeker wat die All Blacks gewen het. Tydens die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika het die All Blacks die eindstryd gehaal, maar is deur die gasheer in ekstra tyd met 15–12 verslaan. Die volgende verskyning in die eindstryd het die All Blacks tydens die Rugbywêreldbeker 2011 tuis gemaak, toe hulle Frankryk naelskraap met 8–7 verslaan het. Tydens die Rugbywêreldbeker 2015 het Nieu-Seeland as eerste span daarin geslaag om die Webb Ellis-beker te verdedig, toe hulle die Wallabies geklop het. Daarmee het die All Blacks die eerste nasionale rugbyspan geword om die trofee drie keer omhoog te hou, ’n prestasie wat later deur die Springbokke geëwenaar is. Tydens die Rugbywêreldbeker 2023 het die All Blacks die eindstryd vir ’n vyfde keer gehaal, maar teen die Springbokke naelskraap met 12–11 vasgeval. Die All Blacks speel jaarliks teen die Australiese Wallabies, die Suid-Afrikaanse Springbokke en die Argentynse Poemas in die Rugbykampioenskap, voorheen die Drienasiesreeks, waartydens hulle ook om die Bledisloebeker teen Australië en die Vryheidsbeker teen Suid-Afrika meeding. Die All Blacks het die Drienasiesreeks en die Rugbykampioenskap reeds 20 keer in die toernooi se 27 jaar bestaan gewen en is die huidige Bledisloebeker- asook Vryheidsbekerhouer.

Die span het vir die eerste keer in 1882 ’n internasionale wedstryd gespeel teen die Nieu-Suid-Walliese Waratahs, en het hulle eerste toetswedstryd in 1903 gespeel: ’n oorwinning oor Australië. Dit is gevolg deur ’n toer na die Noordelike Halfrond in 1905 waartydens die span slegs teen Wallis in Cardiff verloor het. Tydens hulle 1905-toer het die All Blacks slegs swart gedra, behalwe vir die silwervaring; die “All Black”-naam dateer uit dié tydperk. Die All Blacks het hulle eerste reeksoorwinning oor hul “aartsvyande Suid-Afrika” (die Springbokke) in Nieu-Seeland in 1956 behaal. ’n Dekade later het hulle hul langste segetog behaal deur sewentien toetse tussen 1965 en 1970 te wen. Die Britse en Ierse Leeus het hulle enigste reeksoorwinning oor die All Blacks in 1971 behaal, maar sewe jaar later sou die All Blacks hulle eerste Grand Slam behaal (oorwinnings oor Engeland, Ierland, Skotland en Wallis tydens dieselfde toer). Die All Blacks sou nog drie ander keer ’n Grand Slam behaal (in 2005, 2008 en 2010). Die 1981-Springboktoer na Nieu-Seeland het grootskaalse burgerlike onrus veroorsaak as gevolg van proteste teen die Suid-Afrikaanse apartheidsbeleid. Nieu-Seeland het in 1996 in post-apartheid Suid-Afrika vir die eerste keer daarin geslaag om ’n reeksoorwinning oor die Springbokke in Suid-Afrika te behaal.

Die vroeë Nieu-Seelandse nasionale rugbydrag het bestaan uit ’n swart trui met ’n silwervaring en wit broeke. Rugby het ’n belangrike rol gespeel in die integrasie van die Maori's in die Brits-beïnvloede Nieu-Seelandse samelewing, aangesien die sport geskik was vir die fisieke vermoëns van die inheemse mense van Nieu-Seeland en hulle is spoedig as gelykwaardige spelers aanvaar. Om die teenstander te intimideer en hulleself te motiveer voer die All Blacks tradisioneel ’n haka (’n Maori-oorlogsdans) voor elke wedstryd uit. Tradisioneel word Te Rauparaha se Ka Mate haka uitgevoer, maar sedert 2005 word Kapa o Pango, ’n aangepaste weergawe van die All Blacks se 1924-haka, Kia Whaka-ngawari, soms ook gebruik. Hulle is tans (September 2026) tweede op Wêreldrugby se wêreldranglys en is in 2005, 2006, 2008, 2010, 2011, 2012, 2013, 2014, 2015 en 2016 deur Wêreldrugby as “span van die jaar” aangewys. 21 voormalige All Blacks is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.

Beheerliggaam

duimnael|’n Kaart van die Nieu-Seelandse plaaslike beheerliggame en hul spanne Die beheerliggaam vir rugby in Nieu-Seeland is Nieu-Seeland Rugby (New Zealand Rugby, NZR), tot in 2013 die Nieu-Seelandse Rugbyvoetbalunie (NSRVU; New Zealand Rugby Football Union, NZRFU) genoem. Nieu-Seeland Rugby is op 16 April 1892 gestig. In 1949 het dit ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword. Daarbenewens was die Nieu-Seelandse beheerliggaam in 2000 ’n stigterslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby, OR).

Naas die amptelike nasionale span roep NZR ook ander keurspanne byeen. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Die talentvolste spelers op skoolvlak word vir die skoolspan NZ Schools gekeur. Die volgende vlak op pad na die nasionale span All Blacks is die o/20-nasionale span wat aan die o/20-Rugbykampioenskap en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem. Naas hierdie span vir ’n bepaalde ouderdomsgroep hou NZR ook toesig oor spanne wat volgens spesiale kriteria saamgestel word. Die Junior All Blacks is, ten spyte van hul naam, geen nasionale span vir jongmense nie, maar die tweede span vir opkomende (toekomstige) All Blacks. Tydens toere van ander spanne deur Nieu-Seeland speel die besoekers gewoonlik ook teen die Nieu-Seeland Māori. ’n Speler moet oor ’n Māori-afkoms beskik om vir hierdie span in aanmerking te kan kom. Die span Heartland XV bestaan uit amateurspelers. Die All Blacks Sevens is die Nieu-Seelandse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker, Olimpiese Somerspele en Statebondspele deel.

Op ’n nasionale vlak is klubs slegs in ’n plaaslike opsig belangrik. Die 26 plaaslike beheerliggame (17 op die Noordeiland en nege op die Suideiland), wat elkeen met ’n keurspan aan die professionele liga, die Mitre 10-beker, of die semi-professionele Heartland-kampioenskap deelneem, is belangriker. Bo die nasionale kampioenskap word jaarliks saam met spanne uit Australië en een elk uit beide Fidji en die Stille Oseaan-eilande (feitlik die Cookeilande, Fidji, Samoa en Tonga) die internasionale Superrugbytoernooi beslis. Aangesien die seisoene min oorvleuel word talle spelers in al drie ligas gebruik.

Volgens NZR se beginsels moet ’n speler vir ’n plaaslike span in die ITM-beker of Superrugby speel om in aanmerking vir die All Blacks te kan kom. Indien ’n speler in die buiteland speel, mag hy nie vir die All Blacks uitdraf nie. As gevolg van hierdie regulasie, wat ander vername rugbylande nie het nie, bly die beste spelers vir enkele jare in Nieu-Seeland en hulle kondig dan hul uittrede uit die nasionale span aan, om aansluitend in die finansieel sterkste rugbyligas ter wêreld (die Engelse Premierskap of die Franse Top 14) te gaan speel.

Geskiedenis Invoer van rugby na Nieu-Seeland duimnael|Die Nieu-Seelandse span wat in 1884 na Nieu-Suid-Wallis getoer het Rugbyvoetbal is deur Charles Monro in 1870 in Nieu-Seeland ingevoer. Die seun van die destydse speaker van die Nieu-Seelandse huis van verteenwoordigers het die sport ontdek terwyl hy sy studies by Christ’s College Finchley, Engeland, voltooi het. Die eerste bekende wedstryd in Nieu-Seeland het op 14 Mei 1870 in Nelson tussen die Nelsonklub en Nelson Kollege plaasgevind. Die eerste unie, die Canterbury Rugbyvoetbalunie, is in 1879 gestig. In 1882 is Nieu-Seeland se eerste internasionale wedstryde gespeel toe die Australiese Southern Rugby Union (later die New South Wales Rugby Union) die land besoek het. Die besoekers het twee keer teen Aucklandse provinsiale klubs gespeel, twee keer teen Wellington en eenkeer teen Canterbury, Otago en West Coast, Noord-Eiland, waarvan hulle vier wedstryde gewen en drie verloor het; hulle het nie teen ’n nasionale span gespeel nie. Twee jaar later het die eerste Nieu-Seelandse span na oorsee getoer. Hulle het teen verskeie spanne uit Nieu-Suid-Wallis te staan gekom en al die wedstryde gewen. Die eerste besoek deur ’n Britse span het in 1888 plaasgevind toe ’n privaat georganiseerde Britse Eilande-span (vandag bekend as die Britse en Ierse Leeus) Australië en Nieu-Seeland besoek het; geen toetswedstryde (internasionale wedstryd) is egter gespeel nie. Die spelers was meestal afkomstig uit Engeland en die Scottish Borders, alhoewel daar verteenwoordigers uit al vier die Tuisunies was.

’n Internasionale kompetisie begin duimnael|links|Die 1905-All Blacks, bekend as die Originals duimnael|Die Nieu-Seelandse katjie oorwen die Engelse leeu (spotprent in Punch) duimnael|links|’n Lynstaan tydens die 1905-wedstryd teen Wallis – die enigste wat die All Blacks tydens die toer verloor het In 1888 en 1889 het die New Zealand Natives, ’n deur privaatpersone geborgde, nieamptelike en amper slegs uit Māori bestaande span, die eerste keurspan uit ’n Britse kolonie geword om in die Verenigde Koninkryk wedstryde te speel. In 1892 is die Nieu-Seelandse Rugbyvoetbalunie (NSRVU; New Zealand Rugby Football Union, NZRFU; nou Nieu-Seeland Rugby, New Zealand Rugby, NZR) gestig wat aanvanklik sewe provinsies verteenwoordig het. Canterbury, Otago en Southland het beswaar aangeteken teen die vereiste dat NSRVU se uitvoerende komiteelede in Wellington moes bly. Hulle het uiteindelik almal by die NSRVU aangesluit, al is die woonplekreël eers in 1986 verander. Die eerste deur die NSRVU goedgekeurde amptelike Nieu-Seelandse span het in Julie 1893 deur Nieu-Suid-Wallis en Queensland getoer. Die span se eerste regte toetswedstryd was op 15 Augustus 1903 voor ’n skare van 30 000 op die Sydney-krieketveld, wat hulle met 22–3 teen die Australiërs gewen het. ’n Jaar later het die Nieu-Seelanders in die eerste toetswedstryd teen die Britse keurspan, die latere Britse Leeus, geseëvier.

In 1905 het die eerste amptelike Nieu-Seeland-verteenwoordigende span na Groot-Brittanje, Ierland, Frankryk en Kalifornië getoer. Tydens hierdie toer het die bynaam All Blacks (Afrikaans: “die geheel en al in swart geklede”) ontstaan, en na dié span is later as Original All Blacks (“Oorspronklike All Blacks”) verwys. Hulle het 35 wedstryde gespeel, waaronder vyf toetswedstryde. Die Originals se enigste nederlaag tydens die toer was ’n 0–3 teen Wallis in Cardiff; in al die ander wedstryde het hulle slegs oorwinnings aangeteken. Dié wedstryd is as gevolg van die omstredenheid aangaande ’n betwiste drie deur die All Black-speler Bob Deans in die volksgeskiedenis van beide lande opgeneem. As die drie nie toegelaat sou gewees het nie, sou die wedstryd in ’n 3–3 gelykopuitslag geëindig het. Met hierdie toer het die Nieu-Seelanders hul posisie as een van die vorste nasionale rugbyspanne onderstreep. In 1908 het ’n die Britse Eilande verteenwoordigende span, genoem die Anglo-Welsh aangesien dit slegs uit Engelse en Walliese spelers bestaan het, Nieu-Seeland besoek en is met 2–0 deur die All Blacks verslaan, nadat die derde wedstryd in ’n gelykop geëindig het. Behalwe vir ’n tweemaandse toer in 1913 na die westelike Verenigde State en Brits-Columbië het die All Blacks tot ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog slegs teen Australië en verskeie provinsiale spanne te staan gekom. Tussen 1915 en 1919 het geen toetswedstryde plaasgevind nie.

Ontstaan van ’n legende duimnael|The Invincibles All Blacks wat in 1924–25 na die Britse Eilande en Frankryk getoer het duimnael|Die All Blacks op die hoogtepunt van hul haka voor ’n toets teen Australië in 1932