Peacock (ook bekend as Alpha Pavonis of α Pav) is ’n dubbelster in die suidelike sterrebeeld Pou (Pavo), naby sy grens met die Teleskoop.
Naam Die ster se Bayer-naam is "Alpha Pavonis". Die historiese naam, "Peacock" is in die laat 1930's deur Her Majesty's Nautical Almanac Office daaraan gegee tydens die samestelling van die Air Almanac, ’n navigasie-almanak vir die Britse lugmag (RAF). Van die 57 sterre wat in die nuwe almanak ingesluit is, het twee geen klassieke name gehad nie: Alpha Pavonis en Epsilon Carinae. Die RAF het daarop aangedring dat al die sterre name moet hê en nuwe name is dus geskep. Alpha Pavonis is "Peacock" genoem (pavo is Latyn en peacock Engels vir "pou") en Epsilon Carinae is "Avior" genoem. In Julie 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die amptelike naam "Peacock" vir die ster goedgekeur.
Eienskappe Met ’n skynbare magnitude van 1,94 is Peacock die helderste ster in die Pou. Volgens parallaksmetings is dit sowat 179 ligjare van die Son af. Sy massa en radius is sowat ses keer dié van die Son, maar sy ligsterkte is 2 200 keer die Son s'n. Die effektiewe temperatuur van sy fotosfeer is 17 700 K, wat die ster die tipiese blouwit kleur van B-tipe sterre gee. Dit is van spektraaltipe B3 V, dus ’n hoofreeksster, hoewel ouer studies dikwels daaraan die ligsterkteklas van ’n subreus gegee het. Dit word as B2,5 IV geklassifiseer in die Bright Star Catalogue.
Die stelsel is moontlik lid van die Tucana-Horologium-assosiasie van sterre wat saam deur die ruimte beweeg. Die geraamde ouderdom van die assosiasie is 45 miljoen jaar. Peacock het ’n uitsonderlike snelheid van relatief tot sy buursterre.
Metgesel Drie sterre word genoem as metgeselle vir Alpha Pavonis: twee van die 9de magnitude by sowat 4 boogminute; en ’n F5-hoofreeksster van die 12de magnitude by sowat 1 boogminuut. Die twee metgeselle van die 9de magnitude is net 17 boogsekondes van mekaar af.
Alpha Pavonis A is ’n spektroskopiese dubbelster wat bestaan uit twee sterre wat elke 11,753 dae om mekaar wentel. Die twee sterre is nog nie individueel waargeneem nie en daarom is min van die metgesel bekend, behalwe dat sy massa minstens 0,26 sonmassas is.
Verwysings
Eksterne skakels Peacock - Jim Kaler's Stars 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:B-tipe hoofreekssterre Kategorie:B-tipe subreuse Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:Pou (sterrebeeld)