Gamma Microscopii (afgekort as γ Mic) is die helderste ster in die sterrebeeld Mikroskoop (Microscopium). Dit het ’n skynbare magnitude van 4,68, wat te dof is om uit stadsgebiede te sien. Volgens parallaksmetings is dit sowat 223 ligjare van die Son af.

Eienskappe Die ster se sterreklassifikasie is G6 III, wat beteken dit is ’n G-tipe reusester. Dit verbrand helium in sy kern en is deel van die rooiklonttak, hoewel sy metaalinhoud (die elemente swaarder as waterstof en helium) laag is vir ’n lid van dié groep sterre. Sy effektiewe temperatuur is 5 050 K, wat dit die tipiese geel kleur van ’n G-tipe ster gee.

Dit is al ’n moontlike lid van die Ursa Major-groep sterre genoem wat ’n oorsprong en beweging deur die ruimte deel. Die ster was omtrent 3,8 miljoen jaar gelede sowat 6 ligjare van die Son af. Dit sou toe ’n skynbare magnitude van -3 gehad het en helderder gewees het as wat Sirius nou is. Sowat 3,9 miljoen jaar gelede het dit waarskynlik binne 1,14 tot 3,45 ligjare van die Son verbybeweeg – moontlik naby en groot genoeg om die Oortwolk te versteur.

Gamma Microscopii het ’n visuele dubbelstermetgesel, CCDM J21013-3215B, teen ’n hoekskeiding van 26 boogsekondes. Dié ster het ’n skynbare magnitude van sowat 13,7.

Naam Johann Bayer het nie self die Bayer-naam γ Microscopii aan die ster gegee nie – dit het die Flamsteed-naam 1 Piscis Austrini gehad voordat Nicolas-Louis de Lacaille die sterrebeeld Mikroskoop in 1756 geskep het.

Verwysings

Bronne 15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:G-tipe reusesterre Kategorie:Mikroskoop (sterrebeeld)