Alpha Mensae (afgekort as α Men) is die helderste ster in die sterrebeeld Tafel (Mensa). Met ’n skynbare magnitude van 5,09 is dit die dofste luside (die helderste ster in ’n sterrebeeld) aan die naghemel. Vanweë sy deklinasie is dit die beste te sien in die Suidelike Halfrond, maar dit is ook net noord van die ewenaar laag in die lug te sien wanneer dit op sy hoogste punt is.

Eienskappe Die ster het ’n sterreklassifikasie van G7 V, wat aandui dit is ’n geel hoofreeksster wat nog waterstof in sy kern in helium omskakel. Dit is omtrent so groot soos die Son, maar koeler: Sy massa is omtrent 110% van dié van die Son, sy radius sowat 99% en sy ligsterkte 83% van die Son s’n. Sy effektiewe temperatuur is 5 587 K en hy het ietwat meer metale (elemente swaarder as waterstof en helium) as die Son (112%). Die ster se geraamde ouderdom is 5,4 miljard jaar en dit roteer met ’n taamlike stadige spoed van 1,7 km/s.

Alpha Mensae is sowat 33 ligjare van die Son af en het ’n relatief hoë eiebeweging deur die lug. Dit het sowat 250 000 jaar gelede op sy naaste aan die Son gekom (omtrent 10 ligjare). ’n Oormaat infrarooistraling is om die ster bespeur, wat dui op die teenwoordigheid van ’n sirkumstellêre skyf met ’n radius van meer as 147 AE. Die Herschel-ruimtesterrewag kon dit egter nie bevestig nie.

Die ster het ’n rooidwergmetgesel teen ’n hoekskeiding van 3,05 boogsekondes, of ’n afstand van sowat 30 AE.

Verwysings

Eksterne skakels

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:G-tipe hoofreekssterre Kategorie:Tafel (sterrebeeld)