Omgewingsbeheer omvat alle aspekte wat te doen het met die beheer van die menslike omgewing, waarvan die vemaamstes die beheer oor natuurlike hulpbronne en die beheer oor besoedeling is. Alle beheer berus of behoort te berus op ekologiese beginsels, maar omdat omgewingsbeskadiging so geïntegreer is met die ekonomie en die politiek, is daar nog 'n groot leemte in veral internasionale omgewingsbeheer.
Die groot skade wat die omgewing tot dusver berokken is, is die resultaat van die geweldige ekonomiese en tegnologiese ontwikkeling wat veral na die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind het.
Die omgewingsprobleem Hoewel dit dikwels nie besef word nie, was en is die mens altyd deel van die natuur. Met die ontwikkeling van sy tegnologie het hy geleidelik meer beheer oor die natuur begin kry, hoewel hy nie voldoende kennis vir die beheer gehad het nie. Die fenomenale groei van die Westerse tegnologie en ekonomie was moontlik as gevolg van die beskikbaarheid van goedkoop, maklik bekombare hulpbronne.
Baie van hierdie hulpbronne was uit die Derde Wêreld afkomstig. Een van die resultate van hierdie groei was egter die produksie van groot hoeveelhede afvalstowwe. Vandag berus die wêreldekonomie nog steeds op die konsep van voortdurende groei, hoewel die natuurlike hulpbronne geleidelik begin uitgeput raak en besoedeling toeneem. In die Derde Wêreld het die geleidelike indringing van Westerse tegnologie en filosofie tot ʼn toenemende bevolkingsgroei gelei.
In daardie wêrelddele word die omgewingsprobleem gekenmerk deur 'n oormatige benutting van natuurlike hulpbronne soos plantegroei, grond en water. Die oorsaak daarvan is deels die gevolg van die plaaslike bevolking se behoefte aan voedsel en energie, asook verdere hulpbronuitputting deur die Weste, byvoorbeeld die afkap van groot woude. Die grootskaalse verstedeliking, die meganisasie van die landbou en die besoedeling in die Weste, asook die vernietiging van die plantegroei en grond in die Derde Wêreld, het gelei tot onder meer die uitsterwing van minstens 112 soogdierspesies en 94 voëlspesies.
Talle ander dier- en plantspesies word tans deur uitwissing bedreig. In Suid-Afrika is die omgewingsprobleme 'n kombinasie van die van die Weste en die van die Derde Wêreld. Die land is verder ontwikkel as die meeste Derde Wêreld-lande, maar het nog nie die stadium van ontwikkeling van die Westerse lande bereik nie. Omgewingsprobleme vorm ʼn geheel met sosiale, politieke en ekonomiese probleme en dit is die groot rede waarom omgewingsbeheer op 'n wêreldwye grondslag nog grotendeels ontbreek.
Omgewingsbeheer omvat 'n wye veld van bedrywighede wat beheer probeer uitoefen oor die menslike omgewing en daarvoor grotendeels op 'n relatief nuwe wetenskap rigting, die ekologie, staatmaak. Die ekologie is die studie van die interaksie tussen alle lewende organismes (insluitende die mens) onderling en tussen die organismes en hul fisiese omgewing. 'n Belangrike eienskap van die wetenskap is sy beskouing van sy onderwerp as ʼn geheel in plaas van die tradisionele reduksie van 'n ingewikkelde probleem tot eenvoudiger komponente.
Natuurlike hulpbronne en hul beheer Die mens het voedsel en water vir homself nodig, en vir tegnologiese ontwikkeling is grondstowwe en energie nodig. Vir alles is die mens van sy omgewing afhanklik en daarom behels een van die aspekte van omgewingsbeheer die rasionele beheer van natuurlike hulpbronne met die minimum versteuring van natuurlike kringlope en selfreguleringsmeganismes. Alle natuurlike hulpbronne (materie en energie) kan in twee tipes verdeel word: nie-hernieubare hulpbronne en hernieubare hulpbronne.
Die nie-hernieubare hulpbronne sluit byvoorbeeld in ru-olie, steenkool, alle metale en fosfaat, wat ontgin kan word totdat alles op is en dus nie meer beskikbaar is nie. Vanweë die politieke belangrikheid van hierdie bronne is daar tans nog 'n byna algehele gebrek aan beheer oor hulle. Voorts is die maklikste ontginbare bronne reeds ontgin en raak verdere ontginning al hoe moeiliker en duurder. Kernenergie is ook van 'n nie-hernieubare hulpbron, uraan, afhanklik.
Hernieubare hulpbronne sluit plante (voedselplante, katoen en bome wat vir hout gekweek word) en diere (vis, wild en beeste wat as voedsel benut word) in. Beheer oor die meeste hernieubare hulpbronne is baie belangrik omdat hierdie bronne oorbenut en so vernietig kan word. Die twee tipes hulpbronne kan met kapitaal en rente in die ekonomie vergelyk word. Wanneer 'n persoon of 'n firma gedurigdeur van sy kapitaal gebruik maak, sal dit uiteindelik opgebruik raak. Wanneer kapitaal egter belê word en slegs van die rente gebruik gemaak word, sal geld teoreties permanent beskikbaar wees.
Besoedeling Besoedeling is een van die onvermydelike newe-effekte van die tegnologie. Dit kan onder meer die vorm aanneem van chemiese afvalstowwe van die nywerheid en landbou, gifstowwe en fisiese afvalstowwe, soos rommel, motorwrakke, ensovoorts. Verskillende tipes besoedeling kan onderskei word. Die afvalstowwe kan natuurlike stowwe wees, soos nitrate, fosfate en sulfate, wat bloot in oormaat in die omgewing afgegee word.
Die natuurlike meganismes vir die verwerking of afbraak daarvan kan dan nie by die produksie daarvan byhou nie. Wanneer sulke stowwe in water afgegee word, kan dit lei tot eutrofikasie, met ander woorde ʼn oormaat voedingstowwe in die water. Die geweldige groei van waterhiasinte (Pontederia crassipes) in die Hartbeespoortdam naby Pretoria was byvoorbeeld die gevolg van die eutrofikasie van die dam. In 1981 is dit onder beheer gebring deur middel van 'n onkruiddoder genaamd terbutryn. Natuurlik is dit nie ideaal nie, want sulke maatreëls kan self 'n bron van besoedeling wees.
Brandstowwe soos olie, gas en steenkool kan as semi-natuurlike afvalstowwe beskou word. Hierdie materiale is miljoene jare gelede deur die onvolledige verrotting van plantemateriaal gevorm. Tydens die vorming daarvan is groot hoeveelhede koolsuurgas, swaelverbindings, ensovoorts, vasgelê en dus aan die biosfeer onttrek. Vandag word al hierdie verbindings deur die verbranding van die brandstowwe weer in die biosfeer afgegee. Daar is verskeie vorme van die negatiewe uitwerking wat hierdie verbranding het, byvoorbeeld ʼn moontlike verandering in klimaat.
'n Gevaarlike vorm van besoedeling is seker die deur sinteties vervaardigde stowwe. Deur sy tegnologie het die mens die vermoë ontwikkel om 'n groot aantal verbindings wat nie natuurlik voorkom nie, sinteties te vervaardig. Daar bestaan gevolglik dikwels ook nie meganismes in die natuur om hierdie verbindings af te breek nie. Veral 'n groot verskeidenheid plastieksoorte, maar ook gifstowwe, val onder hierdie groep. Die groot hoeveelhede plastiek wat jaarliks weggegooi word en nie ontbind nie, of baie moeilik ontbind, is meer onooglik as wat dit skadelik is.
Gifstowwe kan egter baie groot skade aanrig. Sommige gifstowwe is giftig vir 'n klein rukkie en word dan afgebreek, maar ander word baie moeilik afgebreek en kan jare lank in biologiese sisteme bly. DDT is seker die bekendste voorbeeld van laasgenoemde tipe. Hierdie gifstof word nie afgebreek nie en hoe hoër dit in ekologiese piramides opgeneem word, hoe meer gekonsentreerd raak dit. Dit het daartoe gelei dat groot getalle roofvoëls en ander diere al aan hierdie gifstof dood is hoewel hulle dit self nooit geëet het nie. Die gifstof is, dikwels deur middel van ander diere, na hulle oorgedra vanaf die insekte wat oorspronklik daarmee bespuit is.
Voorbeelde van omgewingsversteurings Talle voorbeelde van besoedeling kan genoem word, en dit is nog steeds 'n kenmerk van die Westerse omgewing. Namate meer navorsing gedoen word, kom al hoe meer skadelike effekte van besoedeling ook na vore. Daar is byvoorbeeld gevind dat baie van die besoedelstowwe karsinogene is, dit wil sê stowwe wat kanker kan veroorsaak. Voorts is daar aanduidings dat van die verbindings wat in spuitkannetjies gebruik word, asook stikstofoksied wat vrykom na die toediening van kunsmis, na die osoonlaag van die stratosfeer kan opbeweeg en daar met die osoonmolekules verbind.
Daardeur kan die osoonkonsentrasie moontlik minder word, en omdat hierdie laag verantwoordelik is vir die weerkaatsing van meer as 99 % van die skadelike sonstrale, kan beskadiging daarvan lei tot ʼn oormaat skadelike sonstrale op die aarde. Die weinige skadelike strale wat reeds deur hierdie laag dring, is bekend daarvoor dat hulle velkanker veroorsaak, en 'n toename in sulke straling kan dus 'n toe name in siekte soos velkanker beteken.
Die onoordeelkundige toediening van gifstowwe het reeds die dood van duisende onskadelike diere tot gevolg gehad. Hierdie uitroeiing van dierelewe kan weer ander newe-effekte hê. Dit het byvoorbeeld al gebeur dat die bespuiting van lemoenbome om luise te bestry, tot nog groter luisplae gelei het. Die rede hiervoor was dat die natuurlike vyande van die luise, die lieweheersbesies, ook deur die gifstowwe uitgeroei is, en die oorblywende luise dus onverhinderd kon aanteel na die toediening van die gif. In die moderne landbou speel monokulture, met ander woorde die grootskaalse aanplanting van ʼn enkel soort gewas, 'n al hoe groter wordende rol.
Die natuurlike stofkringloop kan in so 'n stelsel glad nie meer funksioneer nie. Om voedingstowwe in die stelsel te kry, moet kunsmis voortdurend toegedien word, en deur die verwydering van gewasse word voedingstowwe voortdurend uit die stelsel gehaal. Aan die ander kant word soveel mis geproduseer waar groot getalle beeste, hoenders, ensovoorts aangehou word dat dit ʼn afvalprobleem skep. In 'n natuurlike ekostelsel sou hierdie mis weer in die stelsel opgeneem word en so die stofkringloop voltooi het.
In ʼn monokultuur is daar ook baie min biologiese (natuurlike) beheer oor plae en moet gifstowwe voortdurend toegedien word. In die Sahel-gebied in Noord-Afrika, tussen die tropiese woude en die Sahara-woestyn, het die bevolking van mense en vee so toegeneem dat die gebied drasties oorbewei is. Voorts is die inheemse bome in die grootste deer van die gebied die enigste bron van energie en is 'n groot persentasie daarvan al uitgekap. Vandag is die Sahelgebied prakties gesproke ʼn woestyn.
Grootskaalse hulp van die Westerse lande het nie gehelp nie omdat dit slegs tydelike verligting gebring het. Die groot tropiese woude van Afrika, Asië en Suid-Amerika was tot relatief onlangs nog redelik ongeskonde, maar word tans in ʼn tempo van ongeveer 6 ha per minuut afgekap. As die vernietiging in hierdie tempo voortgaan, sal daar in Maleisië oor ongeveer 20 jaar en in Indonesië oor ongeveer 30 jaar geen woude oor wees nie. Die groot maatskappye wat in die Weste gesetel is, vind die meeste baat by hierdie ontginning en is ook grotendeels daarvoor verantwoordelik.
Daar word dikwels gesê dat die grond wat op die wyse herwin word, vir nedersetting benodig word, hoewel die grond vir die landbou van geen waarde is nie. In die tropiese woude lê die meeste voedingstowwe in die plantegroei self opgesluit. Wanneer die blare van die bome afval, ontbind hulle baie vinnig en die voedingstowwe word dadelik deur die wortels van die plante opgeneem. Wanneer die woude gekap word, word die meeste van die voedingstowwe gevolglik uit die ekostelsel geneem en 'n arm grond agtergelaat. Na 'n paar jaar kan sulke grond nie meer gebruik word sonder die toediening van groot hoeveelhede kunsmis nie, maar in die meeste gevalle kan die plaaslike bevolking juis nie kunsmis bekostig nie.
Soos in die geval van baie ander omgewingsprobleme word 'n groot aantal mense hier die slag offers van besluite waarby eenvoudige ekologiese beginsels nie in ag geneem is nie. Paaie, damme en ander strukture is veral in die verlede dikwels opgerig sonder enige inagneming van die omgewingseffekte wat dit kan hê. Die grootste deel van Egipte is woestyn en feitlik alle landbouproduksie het op die alluviale vlaktes van die Nylrivier plaasgevind.