Hierdie artikel behandel die politieke en maatskaplike ontwikkeling. Vir militêre gebeure, sien Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog duimnael|300px|John Trumbull se skildery Onafhanklikheidsverklaring (Declaration of Independence) wys die vyf lede van die ontwerpskomitee, wat in 1776 die teks van die Onafhanklikheidsverklaring aan die Tweede Kontinentale Kongres in Philadelphia voorlê duimnael|300px|Oostelike Noord-Amerika in 1775, met die Britse Provinsie van Quebec, die Dertien Kolonies langs die Atlantiese kus en die Indiane-reservaat soos bepaal deur die Koninklike Proklamasie van 1763. Die "Proklamasie-grenslyn" van 1763 vorm die grens tussen die gebiede wat op die kaart in rooi en pienk aangedui word, terwyl gebiede, waarop Spanje aanspraak gemaak het, oranje gekleur is.
Die Amerikaanse Rewolusie was 'n tydperk tussen 1765 en 1783 toe die Dertien Kolonies – Britse besittings in Noord-Amerika wat later as die Verenigde State van Amerika sou bekend staan – in opstand gekom het teen die Britse koloniale gesag en uiteindelik hulle onafhanklikheid van die Britse Ryk verkry het.
In hierdie periode het die Kolonies hulle onderlinge geskille ter syde gestel en gesamentlik in opstand teen die Britse heerskappy gekom. Een van die hoofredes hiervoor was die Britse ekonomiese beleid ten opsigte van die Noord-Amerikaanse kolonies. Die koloniste se eie Puriteinse erfenis en die vryheidsteorieë van die Verligting het ook 'n groot rol gespeel. Die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog het gevolglik vanaf 1775 tot 1783 geduur. Die oorlog het 'n hoogtepunt met die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring in 1776 en die Kolonies se militêre oorwinning in 1781 bereik.
Frankryk het 'n beduidende rol in die oorlog gespeel, onder meer as die organiseerder van 'n anti-Britse koalisie. Die Franse het die Amerikaners van geld en ammunisie voorsien en 'n vloot en troepe na Amerika gestuur wat 'n beslissende rol in die Slag en Beleg van Yorktown gespeel het. Met hulle nederlaag naby Yorktown was die stryd vir die Britte verlore. Die alliansie met Frankryk het meegebring dat ook Spanje en die Nederlandse Republiek later tot die oorlog toegetree het, ter ondersteuning van die Amerikaners.
Die Amerikaanse Rewolusie het met 'n aantal verreikende intellektuele en sosiale veranderings in die Amerikaanse samelewing gepaard gegaan en onder meer die ideale van republikanisme onder die koloniale bevolking laat posvat. In 'n aantal deelstate is vurige debatte oor die rol van demokrasie in die regeringstelsel gevoer. Die republikeinse en demokratiese gedagtes het die ou tradisionele sosiale hiërargie omvergewerp en aanleiding gegee tot 'n nuwe etiek wat die grondbeginsel van Amerika se politieke waardes sou vorm.Wood (1992); Greene & Pole (1994), hoofstuk 70
Die rewolusionêre periode het in 1763 begin, toe die Franse militêre bedreiging aan die Brits-Noord-Amerikaanse kolonies beëindig is. Groot-Brittanje was vasbeslote om die koste van die oorlog teen Frankryk ten minste gedeeltelik deur die kolonies te laat dra en het 'n aantal nuwe belastings begin hef. Hierdie maatreëls was baie ongewild en is deur die setlaars selfs as onwettig beskou, aangesien hulle nie oor 'n verkose politieke verteenwoordiging in die Britse parlement beskik het nie.
Nadat onluste in Boston uitgebreek het, is Britse troepe teen die opstandelinge uitgestuur, terwyl die setlaars hulle burgermag gemobiliseer het. In 1775 het die eerste gevegte tussen Britte en Amerikaners plaasgevind. Sowat 'n sesde of vyfde van die Amerikaanse bevolking was nog steeds lojaal gesind teenoor die Britse gesag, maar die Amerikaanse Patriotte het steeds tussen 80 en 90 persent van die koloniale gebied beheer, terwyl die Britse magsgebied tot 'n aantal nedersettings langs die Atlantiese kus beperk was.
In 1776 het die afgevaardigdes van die dertien kolonies die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring eenstemmig aanvaar en die Verenigde State van Amerika gestig. Dié Onafhanklikheidsverklaring sou later die basis vorm van die Grondwet wat in 1787 opgestel is. Danksy hulle politieke en militêre verbond met Frankryk het die Kolonies uiteindelik 'n oorwinning oor die Britte behaal en in die Vrede van Parys is die Amerikaanse onafhanklikheid in 1783 amptelik deur Groot-Brittanje erken.
Die nuwe grondwet het voorsiening gemaak vir 'n groot mate van outonomiteit vir elk van die nuwe state. Alhoewel die rewolusie politieke veranderings meegebring het, het die land weinig verskil in sy sosiale en ekonomiese groei gesien. Die werklike politiese gesag sou egter steeds by die hoër middelklas en groot grondbesitters lê.
Oorsake
Belasting sonder verteenwoordiging Tussen 1607 en 1763 het Groot-Brittanje 13 uitgestrekte kolonies in Noord-Amerika gestig. Die kolonies het in baie opsigte verskil, veral aard en oorsprong: die enigste wat hulle in gemeen gehad het, was hulle onderdanigheid aan Brittanje. Naas die dertien kolonies was daar sestien kleiner gebiede, wat regstreeks deur koninklike goewerneurs geregeer is. Die goewerneur het opgetree as 'n verteenwoordiger van die Britse regering en is bygestaan deur 'n raad wat as die "Kroon" bekend gestaan het.
Die Amerikaanse setlaars het hulself in 1765 nog as lojale onderdane van die Britse Kroon beskou, met dieselfde historiese regte en pligte as onderdane in Brittanje.Greene & Pole (1994), hoofstuk 11 Alhoewel Brittanje die kolonies se handel streng beheer het, het die swak uitvoerende gesag en die afstand tussen Brittanje en die kolonies daartoe gelei dat min mense hulle daaraan gesteur het.
Tydens die Sewejarige Oorlog was Frankryk Brittanje se grootste vyand en, na Brittanje se oorwinning, was die land verplig om sy besittings in Noord-Amerika, Nieu-Frankryk (Kanada) en die Indiaanse gebiede oos van die Mississippirivier, aan Brittanje af te staan. Brittanje het ook die gebied Spaans-Florida van die Spanjaarde gewen. Enige gevaar wat Frankryk vir die dertien kolonies ingehou het, is hiermee uit die weg geruim.
Ná die Sewejarige Oorlog het die moederland meer aandag aan haar kolonies begin skenk: om te vergoed vir haar finansiële laste in Noord-Amerika tydens die oorlog was Groot-Brittanje van plan om belastings in die kolonies te hef en handelswette (wette rakende die handel) in te stel. Dit was verreweg die duurste oorlog wat Brittanje tot die tyd toe gevoer het en, siende dat die oorlog om die kolonies se onthalwe gevoer is, is daar besluit dat hulle 'n gedeelte van die koste moes herhaal. Alhoewel hierdie nuwe belasting relatief laag was, het die setlaars nogtans beswaar aangeteken. Hulle was immers vooraf nie geraadpleeg nie, aangesien hulle nie in die Britse parlement verteenwoordig was nie. Die leuse "Geen belasting sonder verteenwoordiging nie" het dus in die kolonies in baie Amerikaanse kringe gewild geraak.
Londen het aangevoer dat die setlaars ten minste op 'n "virtuele" manier verteenwoordig was, maar die meeste Amerikaners het dié teorie – dat mans in Londen wat niks van hulle behoeftes en lewensomstandighede af geweet het nie hulle sou kon verteenwoordig – verwerp.William S. Carpenter, "Taxation Without Representation" in Dictionary of American History, Volume 7 (1976); Miller (1943)
Teoreties gesproke het Groot-Brittanje die ekonomieë van sy kolonies reeds deur die Navigation Acts volgens die merkantilistiese leerstellings gereguleer, dus was enige beleid waaruit die Britse Ryk voordeel getrek het (en wat ander ryke in ekonomiese opsig seer gemaak het) van voordeel. Nogtans het die owerhede oor 'n lang tydperk geduld dat die bepalings van hierdie wette deur die setlaars dikwels geïgnoreer of omseil is. Die bepalings van die wette is nou skielik algemeen afgedwing deur onder meer die uitreiking van onbeperkte lasbriewe tot huissoekings. Die Massachusetts-gebaseerde advokaat James Otis het in 1761 geredeneer dat hierdie lasbriewe die koloniste se konstitusionele regte sou aantas. Alhoewel Otis sy saak verloor het, het John Adams later geskryf: "Amerikaanse onafhanklikheid is terstond gebore".
Die Seëlwet (1765) duimnael|regs|200px|Benjamin Franklin (1706–1790) In 1764 het die Britse parlement nuwe wetgewing verorden, waardeur die Amerikaanse setlaars onder meer belasting op suikerprodukte opgelê is. Die protesbeweging wat daarop gevolg het, het veral die boikot van Britse goedere as 'n nuwe magtige wapen gebruik. Die Seëlwet van 1765 het voorsiening gemaak vir die eerste regstreekse belasting wat die Amerikaanse kolonies ooit deur die Britse parlement opgelê is. Die setlaars was verplig om die belastingseëls op alle amptelike dokumente soos testamente en kollegediplomas, skeepsdokumente, lisensies, polisse en selfs dobbelkaarte, dagblaaie, almanakke en pamflette aan te bring.
Alle dertien kolonies het dadelik teen hierdie belasting geprotesteer en volksleiers soos Patrick Henry in Virginië en James Otis in Massachusetts het massabyeenkomste en betogings georganiseer. 'n Geheime groep, die Sons of Liberty, is gestig en het kopers van die seëls met geweld gedreig. Lede van die groep het die rekords, wat deur die hof van die viseadmiraal in Boston gehou is, verbrand en die hoofregter Thomas Hutchinson se praghuis geplunder.
Verskeie wetgewende vergaderings het 'n oproep aan alle burgers gedoen om gesamentlik teen die nuwe belastingwette op te tree en afgevaardigdes uit nege kolonies het aan die New Yorkse Seëlwet-kongres van Oktober 1765 deelgeneem. Gematigdes onder die leiding van John Dickinson het 'n Verklaring van Regte en Besware opgestel, waarin hulle vasgestel het dat belasting sonder verteenwoordiging ou regte sou skend. Met hul ekonomiese boikot van Britse goedere het die setlaars hulle vasberadenheid om weerstand teen die belasting te bied onderstreep. Britse uitvoere na die Amerikaanse kolonies het van £2 250 000 in 1764 tot £1 944 000 in 1765 gedaal.
In Londen het die nuwe regering onder die eerste minister Rockingham aan die bewind gekom en in die parlement is daar beraadslaag of die wette herroep of eerder deur troepe afgedwing sou moet word. Benjamin Franklin het die Amerikaanse saak gestel en verduidelik dat die kolonies in 'n reeks oorloë teen die Franse en Indiane reeds soldate, geld en bloed opgeoffer het om die Britse Ryk te verdedig en dat verdere belastings as gevolg van hierdie oorloë ongeregverdig was en tot rebellie sou kon lei. Die parlement het saamgestem en die wette herroep, maar in 'n "Verklaring van Regte" in Maart 1766 duidelik gestel dat die parlement die volle reg sou hê om enige wet met betrekking tot die kolonies te verorden.Miller (1943) Dié verklaring was vir die Amerikaanse koloniste onaanvaarbaar en hulle het dit beskou as 'n inbreuk op hulle konstitusionele regte.
Die Townshend-wette (1767) Nadat die belastings op eiendomme in Engeland in 1767 deur die parlement verlaag was, het Charles Townshend, die destydse Minister van Finansies, 'n wetsontwerp ingedien waarvolgens die belastinginkomste in die Amerikaanse kolonies verhoog sou word. Met die sogenaamde Townshend-wette is nuwe invoerbelasting op lood, glas, verf, tee en papier gehef. Die belastinginkomste sou gebruik word vir die administrasie van die kolonies en om die salarisse van Britse amptenare in die kolonies te betaal. Daarnaas het die wette ook bepaal dat die wetgewende vergadering van New York ontbind moes word, aangesien die afgevaardigdes steeds geweier het om 'n ander wet uit die jaar 1765 te aanvaar.
Die Townshend-wette het weer aanleiding tot onluste in die kolonies gegee en die Britse owerhede het troepe gestuur om wet en orde te herstel. Weens die voortgesette boikot-aksies teen Britse goedere het handelaars in die moederland groot verliese gely en uiteindelik was die parlement gedwing om die wette in 1770 te herroep. Om te toon dat hulle nog steeds die reg sou hê om belastings in die kolonies te hef, het die Britse afgevaardigdes die belasting op tee bekragtig.
Die Boston-slagting (1770)