Meyerton is 'n dorp in Gauteng wat 15 km noord van Vereeniging lê. Dit vorm deel van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit en die Sedibeng-distriksmunisipaliteit. Meyerton is in 1891 gestig en is genoem na J.P. Meyer, 'n veldkornet, lid van die Transvaalse Volksraad en eienaar van die plaas Klipriviersberg, waarop Johannesburg se suidoostelike voorstede aangelê is. Die dorp het in 1961 munisipale status verkry. Kortgolf- uitsaaigeriewe van die SAUK word in Meyerton gehuisves.
In 1958 het dr. Hendrik Verwoerd die parlementêre verkiesing as LV vir Heidelberg gewen. Meyerton was deel van dié kiesafdeling. In Januarie 1960 het hy as eerste minister van Suid-Afrika tydens die parlementsopening 'n volkstemming oor republiekwording uitroep. Die eerste openbare geleentheid wat Verwoerd ná dié aankondiging gehad het is in Meyerton deur sowat 80 000 mense bygewoon.Verwoerd-naamsverandering gekritiseer, Maroela Media, 1 Februarie 2013
'n Borsbeeld van Verwoerd voor die Midvaal Munisipaliteit is in Mei 2011 deur die DA-beheerde stadsraad verwyder. Dit was die laaste standbeeld van Verwoerd in 'n openbare ruimte buite die Afrikanerdorpie Orania, waar verskeie van sy standbeelde en borsbeelde tans gehuisves word.DA verwyder Verwoerd-standbeeld , PRAAG, besoek op 7 Mei 2015
Meyerton word dikwels genoem as die tuiste van die skool wat deur die kletskoningin Oprah Winfrey begin is (die Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls), maar dit is in Henley-on-Klip. Dit is 'n idilliese dorpie buite Meyerton langs die Kliprivier.
Sien ook Gereformeerde kerk Meyerton Lys van dorpe in Suid-Afrika Johan le Roux
Verwysings
Kategorie:Nedersettings in Gauteng