duimnael|regs|Die hoofkantoor van die Amerikaanse Instituut in Taiwan in Taipei Die Amerikaanse Instituut in Taiwan (AIT) (Engels: American Institute in Taiwan) funksioneer as die Verenigde State se de facto-ambassade in die Republiek China (dikwels ook Taiwan genoem). Die AIT is gestig nadat die Verenigde State in 1979 diplomatieke betrekkinge met die Volksrepubliek China gesluit het. As gevolg van hulle Een-China-beleid erken die VSA nie meer die Republiek China amptelik nie, sodat geen werklike ambassade in die hoofstad Taipei geopen kan word nie.

Die Republiek China word in die VSA op 'n vergelykbare manier deur die Ekonomiese en Kulturele Verteenwoordigende Kantoor van Taipei verteenwoordig.

Die Amerikaanse Instituut in Taiwan is as 'n nominaal private organisasie gestig, maar word nogtans toegelaat om dieselfde funksies soos 'n amptelike ambassade te vervul, waaronder die uitreiking van visums en paspoorte. Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake (United States Department of State) verskaf volgens 'n kontrak met die AIT die grootste deel van sy begroting en vervul ook 'n raadgewende funksie.

Die AIT beskik oor 'n klein kantoor in Arlington (Virginia), wat as sy hoofkwartier dien. Sy grootste kantoor lê in Taipei (Republiek China). Daarnaas beskik die AIT ook oor 'n klein takkantoor in die suidelike hawestad Kaohsiung. Na hierdie kantore word verwys as die AIT/Washington (AIT/W), AIT/Taipei (AIT/T) en AIT/Kaohsiung (AIT/K). Die direkteur van AIT/T neem die funksies van 'n ambassadeur waar. Die direkteur van AIT/T is Brent Christensen (sedert 2018), die besturende direkteur van AIT/W is John J. Norris jr., en die voorsitter van AIT is James F. Moriarty.

Lys van direkteure Charles T. Cross 1979 - 1981 James R. Lilley 1981 - 1984 Harry E.T. Thayer 1984 - 1986 David Dean 1987 - 1989 Thomas Brooks 1990 - 1993 B. Lynn Pascoe 1993 - 1996 Darryl Norman Johnson 1996 - 1999 Raymond Burghardt 1999 - 2001 Douglas H. Paal 2002 - 2006 Stephen M. Young 2006 - 2009 William A. Stanton 2009 - 2012 Christopher J. Marut 2012 - 2015 Kin W. Moy 2015 - 2018 Brent Christensen 2018 -

Lys van voorsitters David Dean 1979 - 1986 David N. Laux 1986 - 1990 Natale H. Bellocchi 1990 - 1995 James C. Wood, Jr. 1996 - 1997 Richard C. Bush 1997 - 2002 Therese Shaheen 2002 - 2004 David G. Brown 2004 - 2006 (wnd.) Raymond Burghardt 2006 - 2016 James F. Moriarty 2016 -

Verwysings "Voorstelling van die Amerikaanse Instituut in Taiwan" van die AIT se amptelike webwerf "Direkteure van die AIT/Taipei" van die AIT se amptelike webwerf "Voorsitters van AIT/Washington" van die AIT se amptelike webwerf Eksterne skakels Amptelike webwerf

Kategorie:Politiek van die Verenigde State van Amerika Kategorie:Republiek China