Umbries is 'n uitgestorwe taal uit Oskies-Umbriese groep van die Italiese taalfamilie, wat in die laaste eeue voor Christus in die antieke Italiaanse gewes Umbria gepraat is. Dit was nou verwant aan Oskies en Volskies en – alhoewel in 'n mindere mate – ook aan Latyn. Sy sprekers, die Umbri, het oorspronklik 'n groot gebied bewoon, wat tot by die Porivier gestrek het. Hulle is later egter deur die Etruskers tot hulle latere tuisland in die Apennyne-bergreeks teruggedring. Die taal het in die loop van die Romeinse geskiedenis volledig verdwyn en is deur Latyn as omgangstaal vervang.
Umbriese inskripsies, wat tot dusver gevind is, word in twee hoofgroepe verdeel: Oud-Umbriese tekste dateer uit die tydperk van die 7de tot 1ste eeu v.C., en hulle is in variante van die Oud-Italiese alfabet geskryf, wat uit die Etruskiese skrif ontwikkel is. Die Tabulae Iguvinae is die belangrikste van die sowat dertig bekende dokumente van Oud-Umbries, waaroor taalhistorici tans beskik. Hierdie sewe bronstafels, wat dikwels ook die "Ritueel van Iguvium" genoem word en waarskynlik tussen 300 en 90 v.C. saamgestel is, is in die huidige stad Gubbio gevind en bevat notas oor sakrale seremonies en statute vir priesters.
Laat-Umbriese tekste dateer uit die 1ste eeu v.C., en vir hulle is reeds van die Latynse alfabet gebruik gemaak is. Daarna het Umbries vinnig uitgesterf.
'n Vergelyking tussen Umbries en Latyn – die eerste tafel van die Tabulae Iguvinae
Umbries Latyn Dei Grabouie orer ose persei ocre fisie pir orto est toteme Iouine arsmor dersecor subator sent pusei neip heritu.
Dei Grabouie persei tuer perscler uaseto est pesetomest peretomest frosetomest daetomest tuer perscler uirseto auirseto uas est. . . Deus Grabovie si in monte Fisiano ignis accensum est aut si in populo apparationes debitae omissae sunt fac ut sit perinde ac si factae essent
Deus Grabovie si in sacrificio tuo aliquis error fuit aliqua defectio, aliqua violatio adolendi aliquis dolus, aliqua culpa si in sacrificio tuo aliquis, aut visus aut invisus, error est...
Eksterne skakels Die Umbriese alfabet Voorbeelde van die Umbriese woordeskat
Kategorie:Geskiedenis van Italië Kategorie:Italiese taal Kategorie:Uitgestorwe tale van Europa