Die Makuleke-vleiland of Pafuri-driehoek is die noordelikste deel van die Krugerwildtuin wat mettertyd die kern van die oorgrenspark sal vorm. Hierdie gebied van 'n 7 800 ha is sedert 2007 'n verklaarde Ramsar-vleiland. Zimbabwe grens in die noorde en Mosambiek in die ooste aan hierdie streek. Pafuri (Tsonga) is afgelei van Mphaphuli, die dinastiese naam van die Venda-stamhoofde wat plaaslik regeer het, terwyl die Levuburivier na 'n boswilg-spesie (Venda: muvuvhu, Tsonga: rivubye) vernoem is wat op sy oewers groei.

Die gebied beslaan die min of meer driehoekige vloedvlakte wat by die samevloeiing van die Limpopo- en Levuburiviere gevorm word, met Crook’s Corner en die Pafuri-grenspos aan die oostepunt daarvan, by die samevloeiing. Weens die lae ligging ontvang die area die laagste gemiddelde jaarlikse neerslag in die wildtuin, maar is weens die voorgenoemde riviere met hul groot opvangsgebiede die meeste geneig tot oorstromings. Suid van die Levubu vloei ook die Hapistroom, wat by hoogwater deel van die vloedvlakte vorm. Tydens groot vloede kan water ook via die Levubu tot in die Mutalerivier opdam, wat dan sy walle oorstroom.

Opvallende flora in die omgewing is die rivierbos langs die strome en gras en rietbeddings op die vloedvlakte. Daar is 31 panne wat van sowel neerslag as vloede water kry en tot diep in die droë wintermaande water hou. Die vloedvlakte verhoed dat vloede stroomaf in Mosambiek skade aanrig. Danksy die vloedgebied het die water ook kans om die grond binne te dring en die watertafel op peil te hou. Dit kom weer die plantegroei ten goede, en gevolglik is hier baie diere en veral watervoëls. Kuddes seekoeie en buffels is aanwesig.

Hoë vloedvlakke is aanvanklik deur Harold Mockford by die TEBA-pomphuis afgemerk, wat vir die destydse TEBA (The Employment Buro of Africa) opgerig is. Dit is by 'n waterput sowat 'n myl suid van Crook's Corner aan die rand van die vloedvlakte geleë. In volgorde van toenemende vloedhoogtes is die vloede van 28 Februarie 1988, 11 Februarie 1996, 22 Februarie 1975, 13 Januarie 2026 (weens die Levuburivier), 7 Maart 1977, 4 Februarie 1981, 22 Januarie 1958, 27 Januarie 1972 en 9 Februarie 1977 hier afgemerk, terwyl die hoogste waters, weens sikloon Leon–Eline, in Februarie 2000 reg oor die pomphuis gespoel het.Pafuri flooding, Kruger National Park History, Joep Stevens (17 Januarie 2026), Facebook

Lees ook Shingwedzi Ramsar-konvensie Ramsar-vleilande in Suid-Afrika

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Natuurreservate in Limpopo