Kommandant Gideon Scheepers (*4 April 1878 – †18 Januarie 1902) was ʼn Boere- militêre leier, verkenner en heliografis tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Hy het bekendheid verwerf as een van die jongste kommandante in die Boeremagte en vir sy deelname aan die Kaapse rebelleveldtog onder generaals soos Christiaan de Wet en Jan Christiaan Smuts. As bevelvoerder van mobiele kommando's het hy 'n belangrike rol gespeel in guerrilla-operasies in die Kaapkolonie.
Nadat hy in Oktober 1901 ernstig siek gevange geneem is, is hy deur 'n Britse militêre hof op verskeie aanklagte verhoor en ter dood veroordeel. Sy fusillering op Graaff-Reinet op 18 Januarie 1902 het groot omstredenheid en internasionale aandag ontlok. Die daaropvolgende verdwyning van sy stoflike oorskot het bygedra tot sy status as een van die bekendste en mees omstrede figure van die oorlog. In die Afrikanergeskiedskrywing word hy dikwels as 'n martelaar van die Boeresaak beskou.
Vroeë lewe Gideon Jacobus Scheepers is op 4 April 1878 op die plaas Grootlaagte, naby Middelburg, Transvaal, in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gebore as die seun van Jacobus Johannes Scheepers en Sophia Charlotte (née Van der Merwe).
Volgens oorlewering het president Paul Kruger jong mans aangemoedig om by die Staatsartillerie aan te sluit omdat dit goeie loopbaanvooruitsigte gebied het en verdere studie moontlik gemaak het. Dit het Scheepers daartoe beweeg om by die Staatsartillerie aan te sluit, waar hy opleiding in veldtelegrafie ontvang het. Hy het in 1894, op sestienjarige ouderdom, tot die militêre diens van die ZAR toegetree nadat hy 'n weerbare burger geword het.
Benewens sy militêre opleiding het Scheepers, soos die ander artilleriste, algemene skoolonderrig van die latere majoor Thomas Kroon ontvang. Hoewel hy aanvanklik met Nederlandse grammatika gesukkel het, het hy dit mettertyd goed bemeester.
Teen 1898 was Scheepers reeds 'n bekwame heliografis. Hy is toe versoek om by die Vrystaatse Artillerie aan te sluit ten einde die veldtelegrafiediens daar te vestig. Hy is tydelik aan die Vrystaatse Artillerie afgestaan met die verstandhouding dat hy ná voltooiing van sy opdrag na sy oorspronklike korps sou terugkeer.
Vir meer as 'n jaar, tot ongeveer September 1899, het Scheepers jong veldtelegrafiste van die Vrystaatse Artillerie in Bloemfontein opgelei. Toe die Tweede Vryheidsoorlog in Oktober 1899 uitbreek, kon bykans elke Vrystaatse kommando-eenheid van jong heliografiste voorsien word. Hoewel hulle nog nie volledig gekwalifiseerd was nie, was hulle reeds vertroud met Morsekode en die gebruik van heliograwe. Verskeie van hierdie manne het later tydens die oorlog uitnemende diens gelewer.
In Augustus 1899, sowat ses weke voor die uitbreek van die oorlog, was Scheepers, toe reeds 'n sersant, besig met die oprigting van 'n heliograafverbinding tussen Bloemfontein en Pretoria. Die inisiatief vir dié verbinding het uit Pretoria gekom. Hoewel hy in Augustus 1899 na Pretoria teruggeroep is, het president M.T. Steyn hom versoek om voorlopig in die Vrystaat aan te bly. Gevolglik het hy nie na Transvaal teruggekeer nie, maar by generaal Piet Cronjé se kommando aangesluit. Hy was onder meer teenwoordig tydens die Slag van Magersfontein.
Tweede Vryheidsoorlog links|duimnael|200px|Kmdt. Gideon Scheepers. Toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek, het Scheepers by generaal Piet Cronjé se kommando aangesluit en was hy teenwoordig tydens die Slag van Magersfontein. Toe Cronjé en sy mag op 27 Februarie 1900, bekend as Amajubadag, by Paardeberg aan die Modderrivier omsingel en tot oorgawe gedwing is, het Scheepers daarin geslaag om te ontsnap. Hy het later aan sy moeder geskryf:
"Juist 'n halfuur voordat de Engelsen het hoofdlager omsingelden, werd ik weggeroepen om 'n kabel te leggen en soedoende ben ik uitgekomen. Ou Cronjé heeft zich zeer zwak gedragen en is nu (2 Maart) krygsgevangen genomen met byna 6 000 Boeren. Wy gevoelen ons allen erg kwaad, dat zóveel Boeren niet instaat waren om 'n pad door te vechten en uit te komen, 'n waarachtige schande!"
Cronjé se mag het uit ongeveer 3 918 burgers bestaan, uitgesluit die vroue en ander nie-vegtende persone wat saam met die kommando gereis het. Kort voor die oorgawe het kaptein Danie Theron deur die Britse linies beweeg met 'n voorstel van generaal Christiaan de Wet dat Cronjé saam met De Wet 'n uitbraakpoging moes onderneem. Die krygsraad het egter die voorstel verwerp, waarna Cronjé die volgende dag oorgegee het.
Ná sy ontsnapping het Scheepers vir 'n tydperk as gewone burger onder generaal De Wet gedien. Omstreeks Mei 1900 is hy tot kaptein bevorder en in bevel van 'n klein verkenningseenheid geplaas.Shearing, supra, bl. 19. Hy was saam met Danie Theron teenwoordig tydens die Britse omsingeling van generaal Marthinus Prinsloo se mag in die Brandwaterkom in Julie 1900, toe sowat 7 000 Boere gevange geneem is.
Nadat Theron se korps na Transvaal teruggekeer het, het Scheepers nog tot die einde van 1900 in die omgewing van De Wet se magte gebly. Generaal Louis Botha het hom daarna as kommandant aangestel met die opdrag om die Kaapkolonie binne te gaan, Britse verbindingslyne te ontwrig, infrastruktuur te saboteer en steun onder Kaapse Rebelle te werf.
Bedrywighede in die Kaapkolonie Op 15 Desember 1900 het Scheepers, met sowat twintig Transvaalse en Vrystaatse burgers, saam met generaal J.B.M. Hertzog langs die Basoetogrens opgetrek en die Oranjerivier naby Rouxville oorgesteek.Shearing, supra, bl. 29. Kort daarna het hy naby Middelburg in die Kaap 'n spoorlyn opgeblaas. Dit was die eerste aanduiding vir die Britse owerhede dat 'n Boeremag die Kaapkolonie binnegedring het. Die Britse reaksie het die bewaking van spoorlyne verskerp, die oprigting van blokhuise versnel en die ontplooiing van addisionele troepe genoodsaak. Scheepers was die eerste Boer-offisier wat ná Desember 1900 die Kaapkolonie binnegedring en voortdurend daar geopereer het. Sy kommando het mettertyd tot ongeveer 150 uitgesoekte burgers gegroei, terwyl hy die rang van kommandant beklee het.
Tydens die Beleg van Kimberley het Scheepers twee gevange swart persone laat teregstel nadat hulle van spioenasie vir die Britse magte beskuldig is.Shearing, supra, bl. 16. Na Scheepers het ander Boere aanvoerders soos Kritzinger, Lötter, Lategan, Malan, Maritz en Smuts hulle verskyning in Noord Kaapland gemaak terwyl Dirk Hertzog en Brand ‘n tyd daar was maar weer na die Vrystaat teruggekeer het. Met die tweede verskyning van Kritzinger en ander kommandante soos Lötter, Fouché en Lategan, wat in oorleg met mekaar opgetree het, het Scheepers homself onder generaal Kritzinger geplaas.
Binne 8 weke in die Kaapkolonie het sy paaie met kommandant Kritzinger geskei.Shearing, supra, bl. 55. Kritzinger was terug in die Vrystaat op 29 April 1901. Hy het weer op 16 Mei die Oranjerivier oorgesteek.Neville Gomm, Commandant P.H. Kritzinger in the Cape,Military History Journal, vol. 1, No. 7)
In Julie 1901 het Kritzinger aan Scheepers geskryf en sy spyt uitgespreek oor Scheepers se afbrand van wonings. Hy vertrou dat Scheepers dit sal staak. Kritzinger was gekant teen die afbrand van private wonings want dit het vyandskap tussen die Boere en “Engelsch gesinde Afrikanders” verwek.Shearing, supra, bl. 109, nota 3. Generaal Wynand Malan het Scheepers ook gewaarsku dat die afbrand van huise nie hul saak bevorder nie.Shearing, supra, bl. 67. Die outeurs maak staat op Oorlogsavonture van genl. Wynand Malan deur Pieterse, bl. 239.
Nadat hy Kaapse Rebelle gewerf het, is hy op 22-jarige leeftyd bevorder tot kommandant van ʼn 150-maneenheid, die Witkoppenkommando (na aanleiding van die wit band op hul hoede), wat die Britse troepe die stryd in die Kaapkolonie moet aansê. Die klein kommando het veral sukses om Britse spoor- en telegraafverbindings in die Oos-Kaap te saboteer, terwyl hinderlae die Britse troepe verliese toedien. Hy het ook nie-blankes tereggestel wat hulle aan spioenasie vir die Engelse skuldig gemaak het. In hierdie skermutselinge word Scheepers se heldhaftigheid ten toon gestel. Dit lei daartoe dat Scheepers se teenwoordigheid in die Kaapkolonie meebring dat baie Kapenaars by die Boeremagte aansluit teen Brittanje. Gedurende 1901 is sy kommando hoofsaaklik in distrikte van Graaff-Reinet, Cradock, Murraysburg en Montagu bedrywig.
Gedurende die eerste helfte van 1901 was Murraysburg ʼn veilige hawe vir die Boerekrygers omdat daar nie genoeg mense uit die dorp bereid was om te help met die beskerming van die dorp nie. Op 27 Junie 1901 het Scheepers vir die burgemeester van Murraysburg gesê dat indien die Britte die dorp nie binne agt dae in garnisoen lê nie, hy alle openbare kantore sou afbrand. Die Britte het nie reageer op die dreigement nie en op 6 Julie is die openbare kantoor, poskantoor, hoofkonstabel se kantoor, die winkel van Herbert Sharwood en Rose-Innes se huis aan die brand gesteek.
Siekte duimnael|270px|regs|Scheepers en sr. Johnson in Beaufort-Wes hospitaal. Scheepers se gesondheid het reeds vroeg in September 1901 begin verswak. Teen die begin van Oktober was hy en sy kommando in die Langberge suid van Ladismith. Hoewel hy te siek was om te perd te ry, het hy steeds die bewegings van sy kommando beheer.
Op 4 Oktober 1901 het die kommando tot by die Witteberge gevorder, maar 'n tekort aan perdevoer het hulle genoop om noordwaarts terug te beweeg in die rigting van Ladismith. By die plase Buffelsfontein en Okkert se Kraal het Britse magte hulle in 'n hinderlaag gelei en tussen die berge vasgekeer. Ná 'n dag van gevegte het Scheepers tien manne deur gevangenskap of verwonding verloor. Die kommando het daarna suidwaarts in die rigting van Riversdal beweeg en op 7 Oktober by die Anysberg gerus. Op Scheepers se versoek het 'n dokter van Ladismith hom daar ondersoek. Teen 9 Oktober was sy toestand ernstig, en terwyl die kommando in die rigting van Prins Albert beweeg het, moes hy gedra word. In die vroeë oggendure van 10 Oktober 1901 het Scheepers probeer om sy reis voort te sit, maar was fisiek nie meer daartoe in staat nie. Hy het later geskryf: "Ik trachtte met al de kracht in myn vermogen om myzelven van het bed te krygen, doch te vergeefs." Die kommando het hom op die plaas Kopjeskraal, naby die huidige Prins Albertweg-stasie, agtergelaat sodat die res kon ontsnap. Britse troepe het hom later dieselfde dag gevind en onmiddellik mediese hulp ontbied.
Dr. Mearns het sy toestand as 'n ernstige ingewandsiekte met moontlike blindedermontsteking gediagnoseer.Shearing, supra, p. 144. Op 8 November 1901 het Scheepers aan sy moeder geskryf dat hy aan ingewandekoors ly. Gedurende die 1930's het sommige van sy voormalige makkers beweer dat hy moontlik vergiftig is.Rodney Constantine, The Poisoning of Gideon Scheepers, Kaapstad, Afrika-instituut, 1998. Die historikus Shearing het egter gespekuleer dat sy simptome moontlik met depressie of posttraumatiese stresversteuring verband kon hou.Shearing, supra, p. 146. Scheepers is aanvanklik in 'n hospitaal op Matjiesfontein behandel voordat hy na Beaufort-Wes oorgeplaas is. Hy is onder streng militêre bewaking aangehou. Hoewel sy toestand aanvanklik swak was en hy dikwels gedra moes word, het sy gesondheid geleidelik verbeter. Later kon hy weer briewe skryf en besoekers ontvang.
Op 14 November 1901 is hy na Naauwpoort vervoer en daarna na Graaff-Reinet, waar hy op 9 Desember aangekom het. Ondanks sy gedeeltelike herstel het sy swak gesondheid die verloop van sy verhoor bemoeilik, en verskeie sittings moes uitgestel word weens siekte.
Verhoor en vonnis Weens sy swak gesondheid is verskeie sittings van Scheepers se verhoor uitgestel. Op 27 Desember 1901 het die verrigtinge hervat, ondanks die feit dat hy volgens berigte aan hoë koors gely het. Die saak is op 28 Desember afgehandel.