duimnael|250px|Voorblad van die eerste Die Transvaler, 1 Oktober 1937.

duimnael|250px|Genls. J.B.M. Hertzog en Jan Smuts omstreeks 1939 buite die parlement in Kaapstad. Hulle samewerking in die Verenigde Party het daartoe gelei dat Die Vaderland en Die Volkstem albei regeringsgesinde dagblaaie in Transvaal geword het, wat die ruimte geskep het vir Die Transvaler as die enigste Nasionaal gesinde dagblad noord van die Vaalrivier.

Die Transvaler was 'n Afrikaanse oggendkoerant in Johannesburg van 1 Oktober 1937World Catalogue tot vroeg in Februarie 1983 toe dit ingevolge 'n skikking tussen Perskor en Naspers ná 'n bittere persstryd wat albei maatskappye dermiljoene rande gekos het, na Pretoria verskuif het, waar dit as 'n middagbladBeeld, 16 September 2009 met moeite voortbestaan het tot sy sluiting in April 1993.

Die koerant is van sy ontstaan af deur Voortrekkerpers Beperk uitgegee tot en met sy uitgewer se samesmelting met die Afrikaanse Pers (1962) Beperk in 1971 om Perskor te vorm. Die Transvaler was die eerste dagblad in die destydse Transvaal wat die Gesuiwerde Nasionale Party van dr. D.F. Malan ondersteun het nadat hy en sy volgelinge op 5 Desember 1934 geweier het om met die Suid-Afrikaanse Party saam te smelt as die Verenigde Party.

Die ander destydse Nasionaalgesinde Afrikaanse dagblad in Transvaal, Die Vaderland, wat in 1936 gestig is, het genl. J.B.M. Hertzog tot in die Verenigde Party gevolg, maar met Hertzog se bedanking uit die V.P. omdat hy nie Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog gesteun het nie, weer die Afrikanerparty en die (Herenigde) Nasionale Party gesteun. In Pretoria was die dagblad Die Volkstem tot en met sy verdwyning in 1951 'n stoere ondersteuner van die Verenigde Party.

Van 1951 tot met die koms 17 jaar later (in 1968) van Hoofstad, 'n gesamentlike poging deur die Afrikaanse Pers (1962) Beperk en Voortrekkerpers Beperk, was daar in die destydse Transvaal net twee Afrikaanse dagblaaie. Sedert 1993 is Beeld die enigste Afrikaanse dagblad vir Gauteng, Noordwes, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal.

Uit die Nasionale Party gebore Met die oog op die naderende verkiesing van 1938 het Nasionaliste in sowel die suide as noorde van die destydse Unie van Suid-Afrika bekommerd geraak oor die gebrek aan 'n Nasionaalgesinde dagblad in Transvaal, waar twee Afrikaanse dagblaaie destyds die Verenigde Party ondersteun het. Die Transvaler het sy eintlike ontstaan in 1935 op 'n trein gehad toe vyf toegewyde manne ernstig gesprek gevoer het oor die noodsaaklikheid van 'n Nasionaalgesinde dagblad in Transvaal. Al wat die vyf kon belowe vir die oprigting van die blad, was altesaam £500.

Dr. D.F. Malan, leier van die Nasionale Party en die Amptelike Opposisie in die Volksraad, volksraadslede Bruckner de Villiers en F.C. Erasmus, senator W.A. Hofmeyr en P.J.H. Hofmeyr was almal op pad terug Kaapstad toe nadat hulle die Kaaplandse kongres van die Nasionale Party op 17 en 18 September op Middelburg in die Noordoos-Kaap bygewoon het.

Verskeie afgevaardigdes op die kongres het op die behoefte aan 'n dagblad gewys om die party se saak in Transvaal te bevorder. Geen praktiese stappe is gedoen nie omdat die party die meeste van sy steun in die verarmde platteland geniet het waar 'n ernstige droogte kort op die Groot Depressie gevolg het. 'n Mate van welvaart het na die stedelike gebiede teruggekeer nadat Suid-Afrika afstand gedoen het van die Goudstandaard, maar hier het die party min steun gehad. Afgevaardigdes het nie veel hoop gehad dat die toestand gou sou verander nie, want die meeste Afrikaanssprekendes het bankvas agter genls. J.B.M. Hertzog en Jan Smuts se Verenigde Party gestaan.

Dr. D.F. Malan, toe minister van binnelandse sake in die Hertzog-kabinet en N.P.-leier in Kaapland, het met die stigting van die V.P. oorgestap om leier van die opposisie te word. 'n Invloedryke deel van die Kaapse Nasionaliste het die party, wat sy naam behou het, gesteun, maar in die ander drie provinsies was die party se steun ylverspreid. In Transvaal het slegs een Volksraadslid, adv. J.G. Strijdom van Waterberg, vir Malan gevolg. Soos sy mede-Nasionaliste het hy, ondanks genl. Hertzog se belofte van die teendeel, gereken dat die samesmelting van die N.P. en Suid-Afrikaanse Party sou lei tot die prysgawe van die republikeinse ideaal, dat Afrikaans onderploeg sou word en Afrikaners hulle aanspraak op nasieskap sou moes laat vaar.

In Kaapstad kon die Nasionale Party reken op die steun van Die Burger en in Bloemfontein op Die Volksblad. In Transvaal was daar hoegenaamd geen perssteun vir die party nie. Dr. Malan en sy kollegas het middele bespreek om dié toestand die hoof te bied toe W.A. Hofmeyr, wat in 1915 baie gedoen het om Die Burger te help oprig, sê: "Maar ons begin sommer hier!" Die vyf manne het daar en dan £500 belowe om die koerant, wat toe nog 'n naam moes kry, in die lewe te roep. Hulle het ander afgevaardigdes op die trein genader en voordat hulle Kaapstad bereik het, was daar beloftes van altesaam meer as £1 000.

Geldinsameling duimnael|230px|links|Bruckner de Villiers, L.V..

duimnael|230px|links|W.A. Hofmeyr.

Die bedrag was hopeloos te min om 'n maatskappy te stig met personeel en 'n rolpers om 'n dagblad uit te bring. Op 30 September 1935 kom 19 mense Kapenaars en Bolanders in die Uitspan-koffiehuis in Van Riebeeckstraat op Stellenbosch byeen om die Transvaalse koerant se stigting te bespreek. W.A. Hofmeyr was die voorsitter. Op die vergadering sê hy daar is "'n noodkreet uit die noorde wat ons toeroep: Kom oor en help ons in ons stryd . . . Die Nasionale Pers is meermale reeds versoek om 'n dagblad in Transvaal in die lewe te roep, maar hy besit nie die nodige middele daartoe nie. Die direksie sal egter alles in sy vermoë doen om die saak te help bevorder."

Die vergadering vaardig 'n komitee af om Pieter Neethling (een van die stigters van Naspers) nog dieselfde dag op die dorp te gaan spreek en sy geldelike bystand te verkry. Hy was 'n vermoënde man en lewenslange Nasionalis wat nooit geskroom het om tot die Afrikanersaak by te dra nie. Neethling neem £5 000 se aandele op en die Nasionale Pers later dieselfde bedrag, wat die begin was van 'n fonds waarmee die stigter gehoop het om £150 000 (by wyse van £1-pond-aandele) in te samel. Op Stellenbosch is 'n komitee gestig met die mag om onderkomitees in ander provinsies te stig, maar aanvanklik het geen Transvaler in die komitees gedien nie. Uit die eerste £13 450 wat vir die fonds beloof is, het ook net £300 uit Transvaal gekom.

Op 22 Oktober 1935 doen Die Burger en Die Volksblad 'n beroep op hulle lesers om ook by te dra. Dr. Malan skryf daardie dag dat daar 'n ernstige behoefte aan 'n Nasionale dagblad in Transvaal bestaan. Daar "kry ons die grootste saamtrek van ons bevolking. Op die Witwatersrand woon daar vermoedelik 'n 120 000 Afrikaanssprekendes in een soliede blok aanmekaar en hul getal groei nog steeds vinnig aan." Hy beskuldig die bestaande pers in die Noorde daarvan dat hulle die Afrikaner se "Nasionale siel" wil verderf. In die nadraai van die depressie was geld skaars en al het Nasionaliste in alle uithoeke van die land gereageer, kon die meeste net 10 £1-aandele opneem in die te stigte maatskappy. Die reaksie was nietemin bemoedigend en daarom is planne beraam vir die registrasie van die maatskappy en die werwing van personeel.

Om veral drie redes kon die Nasionale Pers nie self oorgaan tot die stigting van 'n Transvaalse dagblad nie. "Die Transvalers moes voel dat hulle hul eie dagblad kry en nie 'n verlengstuk van Keeromstraat (soos destyds na die Nasionale Pers verwys is) nie. Om self 'n nuwe dagblad in die Noorde uit te gee, het die Nasionale Pers buitendien destyds as 'n te groot onderneming beskou. Van 1936 af het hy met die mededinging van die Unie-Volkspers te doen gehad: met sy middagblad Die Suiderstem en sy tydskrif Die Naweek. En 'n jaar later het die Nasionale Pers self 'n sprong na Port Elizabeth gewaag met sy halfweeklikse Die Oosterlig".Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die Suide. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Voortrekkerpers Beperk gestig Die sertifikaat om sake te doen is op 23 April 1936 uitgereik en die Voortrekkerpers Beperk geregistreer met 'n nominale kapitaal van £150 000 aan £1-aandele. Sen. W.A. Hofmeyr was die eerste voorsitter met A.J. van Zyl die eerste besturende direkteur. Hy was tot in daardie stadium 'n senior personeellid van die Nasionale Pers in Bloemfontein. Die eerste redakteur was die 36-jarige dr. H.F. Verwoerd, wat van 1933 af professor in sosiologie en maatskaplike werk asook die eerste hoof van die departement aan die Universiteit van Stellenbosch was.

Hy was tydens sy studentejare voorsitter van die U.S. se studenteraad en baie aktief in Nasionale Partykringe. So kom hy onder die aandag van die party se leiers en is hy aangestel as hooforganiseerder van die Volkskongres oor die Armblankevraagstuk in Kimberley in 1934 en later ook voorsitter van die Voortsettingskomitee.

Sy rol in dié bedrywighede en sy akademiese kwalifikasies lei daartoe dat die Nasionale parlementslid Paul Sauer hom aanbeveel as die geskikste redakteur van die nuwe koerant. Verwoerd aanvaar die aanstelling onmiddellik, want, soos hy later sou sê, vir hom "was dit inderdaad my stygende geesdrif by die strewe na 'n republiek, gepaard met my begeerte om meer daadwerklik te help met die oplossing van die destydse vraagstuk van blanke armoede, wat my laat besluit het om in 1937 die professoraat aan die Universiteit van Stellenbosch prys te gee en om . . . redakteur van Die Transvaler en aktiewe deelnemer aan die politiek in Transvaal te word. Toe was daar nog net 'n gat in die grond vir die toekomstige persgebou en geen geld nie". Aangesien hy nie joernalistieke ervaring gehad het nie, het hy opleiding in die Keeromstraatse hoofkantoor van Die Burger ontvang voordat hy na die Rand vertrek het.

Die gat waarna hy verwys het, was die uitgrawing vir die fondament van die Voortrekkergebou wat kort daarna opgerig is op die perseel begrens deur Hoek-, De Villiers- en Noordstraat, naby aan die Johannesburgse stasie. Dit was die eerste tuiste van die Die Transvaler en die setel van die drukwerkafdeling en die Transvaler-Boekhandel, wat later tot 'n reeks boekwinkels sou uitbrei.

P.W. Coetzer en J.H. le Roux beweer in hul geskiedenis van die Nasionale PartyCoetzer, P.W. en Le Roux, J.H. 1980. Die Nasionale Party. Bloemfontein: Instituut vir Eietydse Geskiedenis, Universiteit van die Oranje-Vrystaat. dat dr. D.F. Malan vir Verwoerd aangestel het oor meer as net sy akademiese prestasies. "Dr. Malan het, deur die aanstelling van 'n Kaaplandse hoofredakteur, op 'n heel besondere wyse die republikeinse geesdrif en entoesiasme in die Noorde probeer demp. Malan sou hom egter hierin vergis, want Verwoerd het hom heelhartig met die Transvaalse republikeinse strewe vereenselwig."

Al was daar eers agterdog by Transvaalse Nasionaliste oor dié Kaapse aanstelling, het hy mettertyd alle twyfel uit die weg geruim en "meer Transvaler geword as die Transvaler self". Die republikeinse strewe het by hom byna 'n lewenswyse geword. So is Verwoerd en Strijdom, leier van die Gesuiwerde Nasionale Party in Transvaal, saamgebind in 'n hegte eenheidsfront.

Aanloop tot die eerste uitgawe duimnael|190px|Dr. H.F. Verwoerd as redakteur.