duimnael|Kerkstraat in Bloemfontein met die Tweetoringkerk aan die eindpunt van die straat. Naval Hill op die agtergrond. (Foto vanuit die suide – ongeveer 1900.) duimnael|Uitsig oor Bloemfontein vanaf Naval Hill.
Naval Hill is 'n platoagtige heuwel in die middel van Bloemfontein, die hoofstad van die Vrystaatprovinsie. Naval Hill het sy naam aan twee Britse vlootkanonne te danke wat van Maart 1900 tot die onttrekking van Britse troepe bo-op gestasioneer was. Sy oorspronklike naam was Bloemfonteinberg, maar dit is hernoem toe die Britse vlootpersoneel gedurende die Tweede Vryheidsoorlog hier gestasioneer was. Die oorgrote deel word tans deur die Franklik-natuurreservaat omvat en toegang word via Delville-rylaan, uit Unionlaan verkry.
Naval Hill verskaf mooi panoramiese uitsigte oor Bloemfontein en is die hoogste punt in 'n redelike plat omgewing. Die heuwel beslaan 192,5 hektaar wat ook deel van die 250 hektaar Franklin-natuurreservaat huisves. Die reservaat wat in 1930 geproklameer is, herdenk die voormalige burgemeester sir John Stuart Franklin. Dit is een van die min natuurreservate binne 'n stadskern in Suid-Afrika (ander is Groenkloof in Pretoria en Tafelberg in Kaapstad). Die reservaat huisves volstruise, kameelperde, blouwildebeeste, bontkwaggas, elande en ander wildsbokke. Toegang is gratis en die reservaatpaaie is vir groepwandelings in dagure geskik.
Die Lamont-Hussey-sterrewag is in 1928 aan die noordekant van Naval Hill gebou, wat destyds die verste van stadsligte geleë was. Dit was 'n projek van die Universiteit van Michigan in die VSA, maar het in 1974 gesluit. Dit is later in 'n kleinteater, bekend as die Sterrewagteater, omskep en is sedert November 2013 'n planetarium. Hiervoor is 'n gekantelde projeksiekoepel binne die oorspronklike sterrewagkoepel aangebring.
Teen die suidoostelike hange van Naval Hill is 'n wit perd in klip uitgelê. Dit is deur die troepe van Wiltshire Remount Depot gedurende die Tweede Vryheidsoorlog geskep en het as 'n landmerk vir terugkerende Britse troepe van die slagvelde gedien. Sedert 2012 staan 'n 8 meter hoë bronsstandbeeld van Nelson Mandela aan die suidwestepunt. Die beeld deur beeldhouer Kobus Hattingh kyk uit oor die historiese ligging waar die ANC sy ontstaan gehad het.
Verwysings
Eksterne skakels Die amptelike webwerf van Bloemfontein (Mangaung)
Kategorie:Bloemfontein