Die moderne mens is ’n primaat van die soogdiergenus Homo, die spesie Homo sapiens en die subspesie Homo sapiens sapiens. Homo sapiens is ’n Latynse frase wat beteken "verstandige mens" of "wyse mens".Taksonomie van die lewende primate , Minnesota-staatsuniversiteit Mankato, besoek op 4 April 2005.
Mense is die enigste oorblywende lede van die subtribus Hominina, ’n tak van die tribus Hominini wat tot die familie groot ape behoort. Hulle het ’n hoogs ontwikkelde brein wat tot abstrakte denke, taal, selfondersoek en ’n gemeenskapslewe in staat is. Hierdie vermoë, tesame met ’n regop postuur wat die boonste ledemate vry laat om voorwerpe te kan manipuleer, het die spesie meer as enige ander in staat gestel om gereedskap te gebruik.
Vroeë Hominini – veral die Australopithecina, wie se brein en anatomie in baie opsigte meer ooreenstem met dié van niemenslike voorouer-ape – word minder dikwels "mense" genoem as die Hominini van die genus Homo. Verskeie van laasgenoemde Hominini het vuur gemaak en ’n groot deel van Eurasië beset, en was sowat 315 000 jaar gelede die voorouers van die anatomies moderne Homo sapiens in Afrika. Hulle het sowat 50 000 jaar gelede tekens van moderne gedrag begin toon. In verskeie migrasiegolwe het anatomies moderne mense uit Afrika migreer en die grootste deel van die wêreld bevolk.
links|duimnael|240px|’n Selfie van ’n Zoeloe-man en ’n Ndebele-vrou van Suid-Afrika. Die verspreiding van mense en hul groot en groeiende getalle het wêreldwyd ’n enorme impak op groot dele van die omgewing en miljoene plaaslike spesies gehad. Voordele wat hierdie evolusionêre sukses verduidelik, sluit in hul groter brein, wat ook probleemoplossing, redenasie, sosialisering en ’n sosiale leërvermoë moontlik gemaak het. Benewens die gereedskap wat hulle gebruik het, is hulle sover bekend die enigste bestaande spesie wat vuur maak en hul kos kook, klere dra en verskeie ander tegnologieë en kuns skep.
Mense is besonder goed met die gebruik van simboliese kommunikasiestelsels (soos taal en kuns) om hulself uit te druk en idees uit te ruil, en om hulself in nuttige groepe te organiseer. Hulle skep ingewikkelde sosiale strukture wat uit baie samewerkende en mededingende groepe bestaan, van families tot politieke state. Sosiale interaksie tussen mense het gelei tot die ontstaan van ’n uiters groot verskeidenheid waardes,Marshall T. Poe A History of Communications: Media and Society from the Evolution of Speech to the Internet. Cambridge: Cambridge University Press, 2011. sosiale norme en rituele, wat saam die grondslag van die menslike gemeenskap vorm. Nuuskierigheid en die begeerte om te verstaan en die omgewing te beïnvloed, en om verskynsels (of gebeure) te verduidelik en manipuleer, was die grondslag vir die ontwikkeling van wetenskap, filosofie, mitologie, godsdiens, antropologie en talle ander kennisterreine.
Hoewel die menslike bestaan grootliks bevorder is deur die jag-en-versamel-praktyk in samelewings met noue bande,"Hunting and gathering culture". Encyclopædia Britannica (aanlyn). Encyclopædia Britannica Inc., 2016. het al hoe meer menslike bevolkings hulle sowat 10 000 jaar gelede begin vestig, landbou beoefen"Neolithic." Ancient History Encyclopedia. Ancient History Encyclopedia Limited. 2014. en diere getem, en so het die beskawing begin ontstaan. Hierdie gemeenskappe het algaande gegroei en oor die wêreld heen regeringsvorme, godsdiens en kultuur gevestig. Dit het mense in streke verenig om state en ryke te stig. Die vinnige ontwikkeling van wetenskaplike en mediese tegnieke in die 19de en 20ste eeu het gelei tot die ontwikkeling van brandstofgedrewe tegnologieë en langer lewens, en dit het veroorsaak dat die menslike bevolking eksponensieel gegroei het. Vandag raam die Verenigde Nasies die wêreldwye menslike bevolking op amper 7,6 miljard.
Etimologie en definisie Die algemene gebruik van die woord "mens" is vir die enigste oorlewende spesie van die genus Homo, die moderne Homo sapiens wat anatomie en gedrag betref.
In wetenskaplike terme het die betekenis van "hominied" en "hominien" in die afgelope dekades verander met die toenemende ontdekking en bestudering van die fossiele voorouers van die moderne mens. Die voorheen duidelike onderskeid tussen mens en aap het vervaag, en dit het gelei tot die begrip dat hominiede verskeie spesies insluit, maar dat Homo en nabye verwante sedert die skeiding van die sjimpansee die enigste hominiene is. Daar is ook ’n onderskeid tussen "anatomies moderne" en "argaïese" mense. Laasgenoemde sluit die vroegste fossiele lede van die spesie in.
Die woord "mens" (Nederlands mens, Duits Mensch, Sweeds människa, Deens menneske) is ’n variant van "man" (Duits Mann, Engels man), wat uiteindelik sou teruggaan op ’n Indo-Europese stam *man-: "dink" of *ma-: "meet". Hierdie stam word in Latyn aangetref mens, mentis: "gees, verstand" (vergelyk Engels mind), memoria: "geheue, herinnering", Grieks menos: "gees: "geheue", Sanskrit man-: "dink, gees", Russies mnit''' "meen, dink". In Oudindies bestaan ook Manu: "(oer-)mens", moderne Hindi manusha: "mens, man". Van hier af kom die wetenskaplike naam Homo sapiens (Latyn: "verstandige mens" of "wyse mens").
Die binomiale naam is gevestig deur Carl Linnaeus in sy 18de-eeuse werk Systema Naturae.
Geskiedenis Evolusie en omvang
Die genus Homo het ontwikkel en begin verskil van ander hominiene in Afrika nadat die menslike klade afgesplits het van die sjimpanseelyn van die hominiedtak (groot ape) van die primate. Moderne mense, wat gedefinieer word as die spesie Homo sapiens, of spesifiek die enigste oorlewende subspesie, Homo sapiens sapiens, het mettertyd al die kontinente en groter eilande beset en 125 000 tot 60 000 jaar gelede in Eurasië aangekom,Paul Rincon Humans 'left Africa much earlier' BBC News, 27 Januarie 2011 sowat 40 000 jaar gelede in Australië en 15 000 jaar gelede in die Amerikas, en tussen die jare 300 en 1280 op afgeleë eilande soos Hawaii, Paaseiland, Madagaskar en Nieu-Seeland.
Getuienis van molekulêre biologie duimnael| Die naaste bestaande verwante van die mens is die sjimpansee en gorilla. Met die volgordebepaling van die mens en sjimpansee se genome word tans geraam die ooreenkoms tussen hul DNS is tussen 95% en 99%.Ajit, Varki and David L. Nelson. 2007. Genomic Comparisons of Humans and Chimpanzees. Annu. Rev. Anthropol. 2007. 36:191–209Ken Sayers, Mary Ann Raghanti, and C. Owen Lovejoy. 2012 Human Evolution and the Chimpanzee Referential Doctrine. Annual Review of Anthropology, Vol. 41 Deur ’n metode genaamd molekulêre klok te gebruik, kan die benaderde tyd bereken word toe twee lyne gesplits het. Die gibbons (familie Hylobatidae) en orang-oetangs (genus Pongo) was die eerste groep wat gesplits het van die lyn wat tot die mens gelei het, daarna die gorillas (genus Gorilla), gevolg deur die sjimpansees (genus Pan). Die splitsing tussen die mens en sjimpansee het sowat 4-8 miljoen jaar gelede plaasgevind tydens die epog bekend as die Mioseen.Ruvolo, M. 1997. Genetic Diversity in Hominoid Primates. Annual Review of Anthropology, Vol. 26, (1997), bl. 515–40 Tydens dié splitsing is chromosoom 2 gevorm van twee ander chromosome, en dit het die mens gelaat met net 23 paar chromosome in vergelyking met die 24 paar van die ander ape.Human Chromosome 2 is a fusion of two ancestral chromosomes by Alec MacAndrew; accessed 18 Mei 2006.Evidence of Common Ancestry: Human Chromosome 2 (video) 2007
Getuienis van die fossielrekord Daar is min fossiele getuienis vir die splitsing tussen die gorilla-, sjimpansee- en hominienlyn. Die vroegste fossiele wat na bewering lede van die hominienlyn is, is Sahelanthropus tchadensis van 7 miljoen jaar gelede, Orrorin tugenensis van sowat 5,7 miljoen jaar gelede en Ardipithecus kadabba van sowat 5,6 miljoen jaar gelede. Daar is al gesê elk van hierdie spesies het op twee voete geloop en was voorouers van latere hominiene, maar al dié bewerings word betwis. Dit is ook moontlik dat enigeen van die drie ’n voorouer van ’n ander tak van die Afrika-ape is, of ’n gesamentlike voorouer van hominiene en ander Afrika-ape. Die kwessie is steeds onopgelos. Uit hierdie vroeë spesies het die Australopithecina sowat 4 miljoen jaar gelede gesplits in robuuste en delikate takke, waarvan een (soos Australopithecus garhi, van 2,5 miljoen jaar gelede) waarskynlik ’n direkte voorouer van die genus Homo is.
Die vroegste lede van die genus Homo is Homo habilis, wat sowat 2,8 miljoen jaar gelede ontwikkel het. Homo habilis word beskou as die eerste spesie wat volgens getuienis steengereedskap gebruik het. Onlangs, in 2015, is steengereedskap van voor die tyd van Homo habilis egter in Noordwes-Kenia ontdek wat na raming 3,3 miljoen jaar oud is. Homo habilis se brein was omtrent dieselfde grootte as dié van ’n sjimpansee, en hul grootste aanpassing was om op twee voete te leer loop omdat hulle op die grond gewoon het.
In die volgende miljoen jaar was daar ’n vergroting van die brein se massa in vergelyking met die liggaamsmassa, en met die aankoms van Homo erectus in die fossielrekord was daar ’n verdubbeling in die grootte van die brein. Homo erectus was die eerste hominienspesie wat Afrika verlaat het, en dié spesie het tussen 1,3 en 1,8 miljoen jaar gelede deur Afrika, Asië en Europa versprei. Een deel van Homo erectus, wat ook soms as ’n aparte spesie, Homo ergaster, geklassifiseer word, het in Afrika agtergebly en in Homo sapiens ontwikkel. Daar word geglo hierdie spesie het die eerste keer vuur en ingewikkelde gereedskap gebruik. Die eerste oorgangsfossiele tussen Homo ergaster/erectus en argaïese mense is uit Afrika, soos Homo rhodesiensis, maar oënskynlike oorgangspesies is ook al in Dmanisi, Georgië, ontdek. Hierdie afstammelinge van Afrika se Homo erectus het van sowat 500 000 jaar gelede af deur Eurasië versprei en in Homo antecessor, Homo heidelbergensis en Homo neanderthalensis ontwikkel. Die eerste fossiele van anatomies moderne mense is uit die Middel-Paleolitikum, sowat 200 000 jaar gelede, soos die Omo-oorblyfsels van Ethiopië en die fossiele van Herto, wat soms geklassifiseer word as Homo sapiens idaltu. Latere fossiele van argaïese Homo sapiens van Skhul in Israel en Suid-Europa begin sowat 90 000 jaar gelede.
Anatomiese aanpassings Menslike evolusie word gekenmerk deur ’n aantal morfologiese, ontwikkelings-, fisiologiese en gedragsveranderings wat plaasgevind het sedert die splitsing tussen mense en sjimpansees. Die belangrikste van hierdie aanpassings is tweevoetigheid, ’n groter brein, verlengde swangerskappe en kinderjare en kleiner geslagsdimorfie. Die verhouding tussen al hierdie veranderings word steeds druk bespreek. Ander belangrike morfologiese veranderings sluit in ’n beter greep, ’n verandering wat die eerste keer by Homo erectus voorgekom het.
Tweevoetigheid is die basiese aanpassing van die hominienlyn, en dit word beskou as die belangrikste oorsaak van ’n klomp skeletveranderings wat by alle tweevoetige hominiene voorkom. Die eerste tweevoetige hominien is vermoedelik óf Sahelanthropus óf Orrorin. Ardipithecus, ’n ten volle tweevoetige, het eers later ontstaan. Die kneukellopers, die gorilla en sjimpansee, het min of meer in dieselfde tyd afgesplits, en óf Sahelanthropus óf Orrorin kan die mens se laaste gemeenskaplike voorsaat met dié diere wees. Die vroegste tweevoetiges het eindelik ontwikkel in die Australopithecina en later die genus Homo. Daar is verskeie teorieë vir die ontwikkelingswaarde van tweevoetigheid. Dit is moontlik dat dit ontwikkel het omdat dit die hande vry gelaat het om na kos uit te reik en dit te dra, want dit het bewegingsenergie bespaar omdat dit die spesies toegelaat het om ver te hardloop en te jag, of as ’n strategie om hipertermie te voorkom deur die oppervlak wat direk aan die son blootgestel is, te verklein.